Читать книгу Ena Murray Omnibus 38 - Ena Murray - Страница 6
3
ОглавлениеMiempie voel baie ontevrede met haarself toe sy daardie aand haar kamerlig afskakel. Sy het die hele aand bederf, nie net vir haarself nie, maar ook vir Manie en sonder twyfel ook vir Emile en sy gesellin. Ná haar ongevraagde aanval op Emile het Manie dadelik die gesprek in ’n ander rigting gestuur en sy bes gedoen om die gelaaide atmosfeer te ontlont. Sonder veel sukses. Die meisie aan Emile se sy was openlik ontevrede met die geselskap waarin sy gedwing is. Emile het Manie se moedige poging gerespekteer en oor rugby begin gesels sonder om weer een keer in haar rigting te kyk. Sy self het beskaamd en skuldig daar gesit en besluit sy sê nie weer ’n woord nie. Sy het genoeg gepraat. Te veel. Maar toe hulle tuis kom, het sy Manie om verskoning gevra.
“Ek is jammer, Manie. Ek het my nie goed gedra vanaand nie.” Maar sy het geen verduideliking gegee nie, want ’n verduideliking sou ’n bietjie moeilik wees. Ruda Visser se hooghartige woorde het haar ontsenu en sy het haar gramskap onregverdiglik op Emile de Jongh uitgehaal.
Maar die liewe Manie het net goedig geglimlag. “Jy was ’n bietjie kras met Emile. Hy val nie in die Vissers se kategorie nie. Maar dis nie so erg nie. Dit sal oorwaai.”
Sondagoggend gaan Miempie kerk toe, luister met gemengde gevoelens na die preek wat handel oor die vraag hoe jy kan sê dat die liefde van God in jou is terwyl jy sien dat jou broer gebrek ly en niks daaraan doen nie. Sy voel beslis ’n bietjie terneergedruk toe sy terug is in haar woonstel. Maar dan onthou sy meneer Hough se waarskuwing, en besef die fout wat sy begaan het. Sy wil oral help, alles wat verkeerd is, regdokter. Sy wil nuwe huise vir Grootfontein se werkers bou; sy wil ’n towerstaf swaai sodat daar uit die niet ’n geldskat in haar skoot sal val waarmee Maria volgende jaar medies kan gaan studeer; sy wil ’n wonderwerk bewerkstellig wat Yolande Visser se swangerskap op die een of ander wyse sal laat verdwyn; sy wil al die honger kinders wat sy daagliks sien, skottels vol kos gee en vir al die werkloses wil sy werk optower … Miskien het Emile de Jongh tog reg. Sy het perspektief verloor.
Diepe selfondersoek volg die res van die Sondag. Dis tyd dat sy haar perke besef, anders gaan sy haar elke keer vasloop en haarself benadeel. Sy kan nie vir Grootfontein se werkers huise bou nie. Sy kan geen swangerskap ongedaan maak nie. Dis nie haar verantwoordelikheid nie, dis die Vissers se probleem. Trek ’n streep daardeur en vergeet daarvan. Dis net prakties onmoontlik om elke honger mens in haar omgewing te voed en om werk aan al die werkloses te verskaf. Hou op om jou daaroor te verknies. En Maria … Geld … ’n Klomp geld soos wat Maria nodig het om haar droom te bewaarheid, val nie uit die bloue hemel nie. Dis dalk selfs verkeerd van haar om Maria aan te moedig, want volgens Maria is haar skoolprestasie maar gemiddeld. Sy sal in elk geval nie gekeur word vir die kursus nie. Dus … vergeet van Maria ook.
Dis makliker besluit as gedaan. Maandagoggend betrap sy haar dat sy ’n afspraak met Maria se skoolhoof maak.
Andrew Koopman lyk openlik bekommerd toe hy haar in sy kantoor ontvang. “Suster, jy het gesê jy wil met my oor Maria Benjamin gesels. Ek hoop nie jy het vir my slegte nuus nie.”
Sy snap onmiddellik wat hy impliseer. Sy kan hom dadelik gerusstel. “Inteendeel, meneer Koopman. Ek glo Maria is op negentien nog ’n maagd – ’n ware prestasie in vandag se lewe.”
Hy slaak ’n sug van verligting en knik. “Ja, suster, voorwaar ’n prestasie. En ek wil amper beweer dat sy van die weiniges in hierdie hoërskool is.”
Sy kyk met waardering na die man wat nie huiwer om eerlik te wees nie. “Dit gaan glo nog erger in sommige stadskole, meneer Koopman. Ek het verlede week gruwelike dinge gehoor … Dis asof ’n epidemie van immoraliteit en onsedelikheid uitgebreek het.”
“Ja. En ek vra my dikwels af hoekom dit anders was in my kinderdae … En waar dit alles begin skeefloop het. Een groot oorsaak is vir my duidelik: Daar is nie meer ouerlike gesag nie. Ek het bitter arm grootgeword. Ons was agt kinders. Maar ek het ’n kwaai pa gehad wat geen twak van ’n kind geduld het nie. Op haar eie manier was my ma ook baie streng. Vandag dank ek die Here dat ek sulke ouers gehad het, ouers wat nie toegelaat het dat hul kinders maak en breek soos hulle wil nie, maar toegesien het dat hul kinders doen wat vir hulle gesê word om te doen. Tog onthou ek maar min van al die swaar kry. Maar ek onthou baie goed dat ek altyd veilig gevoel het by Ma en Pa. Hoe swaar dit ook al gaan, en miskien nog kan gaan, Ma en Pa sal sorg. Dit het ek goed geweet.”
Miempie glimlag. “Jy het ’n skoolhoof geword. Wat van jou broers en susters?”
“My een broer is ook ’n onderwyser en die ander een het ’n sendeling geword. Van my vyf susters is drie verpleegsters, een ’n onderwyseres en die ander een het verongeluk terwyl sy nog maatskaplike werk studeer het.”
“En jou ouers?”
“Hulle is reeds albei dood … en ek wonder dikwels wat my pa en ma van my kinders sou gesê het. Maar eintlik hoef ek nie te wonder nie. Ek weet presies wat my pa sou gesê het.”
Miempie luister gefassineerd. “Wat sou hy gesê het?”
Hy glimlag. “Ek kan dit nie in sy presiese woorde sê nie.”
“Asseblief! Ek is nou verskriklik nuuskierig! Sê dit soos hy dit sou gesê het.”
Hy lag verskonend. “My pa … hy was ’n ongeslypte diamant, suster. Hy het altyd verstaanbare taal gebruik. Hy sou vir my gesê het: Andrew, jy het hulle nie genoeg geneuk nie. Dis hoekom hulle nou ronddonner!” Miempie lag vrolik en dan sê hy ernstig: “En hy sou die spyker op die kop geslaan het – al word so iets deesdae as ’n soort skending van menseregte beskou! Maar suster het nie hierheen gekom om oor mý te gesels nie. Wat van Maria?”
“Ek wil graag weet hoe vaar sy in haar eksamen. Ek sal nou my redes gee hoekom ek vra.”
“Ek kan dit uit die vuis verskaf, want ek hou haar dop. Sy is een van my blinkste sterre. Ek het geen vrese dat sy gaan druip nie.”
Miempie voel hoe dankbaarheid haar hart vul. “Dis wonderlik om dit te hoor. Toe ek haar vra, het sy gesê sy vaar maar so-so.”
“Sy behaal ’n gemiddelde van sestig persent.”
Miempie se oë rek in ongeloof, en ’n opgewondenheid pak haar beet. “Sestig persent … en sy kry nooit tyd om te leer nie.”
Hy frons. “Wat bedoel jy, suster? Ek sien haar dikwels pouses met ’n boek sit.”
“Dan is dit die enigste geleentheid wat sy het om te leer. By die huis kry sy nooit tyd nie. Sy het my self gesê dat sy eksamen skryf op grond van wat sy in die klas inneem.”
Hy sit terug en kyk haar stip aan. “Ek glo dit, suster. Maar as Maria die kans gegun word om werklik te kan studeer …”
“Presies!”
Andrew Koopman sug en die hartseer slaan deur in sy stem. “Daar is soveel potensiaal in my leerders … as hulle net die kans gegun word om dit te ontgin.”
“Hulle kan almal vandag skool toe gaan, meneer Koopman,” sê Miempie stil.
“Ja. Maar dis nie vir my leerders so maklik om hierdie voorreg ten volle te benut nie. Maria is ’n voorbeeld. Eintlik ’n briljante kind … maar haar lewensomstandighede is so dat sy nie haar volle potensiaal kan bereik nie. En dit is ook die geval met baie ander. Hul lewensomstandighede maak dit net nie moontlik nie. En daar is nog talle ander negatiewe faktore.”
“Soos?”
“Ontoereikende geriewe. Onderwysers wat staak. Wit kinders se onderwysers is op hulle pos. Hulle het genoeg klaskamers, skoolbanke, boeke en apparaat. Wat gebeur in soveel bruin en swart skole? Onderwysers wat nie wil klas gee nie. Kinders wat nie wil skoolgaan nie. Skole wat afgebrand word. Kinders wat onderwysers intimideer. Daar is nie ’n einde aan die lys van onregte wat gepleeg word teenoor die Marias nie.”
Sy kyk hom bekommerd aan. “Dink jy dat hier plaaslik ook probleme kan opduik?”
“Ek bid dat dit nie sal gebeur nie, maar ek het ’n snuf in die neus gekry daarvan. Die ding is net, ek kan niks doen voordat daar nie letterlik iets gebeur nie. Die vraag is bloot: wanneer gaan dit gebeur en wat gaan gebeur? Maar hier is deesdae ’n gesindheid in die skool waarvan ek nie hou nie. Instink waarsku my dat ons ook moeilikheid kan verwag.”
Dis met gemengde gevoelens dat Miempie ’n rukkie later van die skoolhoof afskeid neem, deels geïnspireer deur die goeie verslag oor Maria, deels swaarmoedig oor dié dinge waarna meneer Koopman met kommer verwys het. As daar nou moeilikheid in hierdie skool moet ontstaan en Maria kan nie haar eksamen aflê nie … Dit mag nie gebeur nie! Maar dit kan. Dit gebeur reeds.
Sy onthou Andrew Koopman se afskeidswoorde aan haar. “Dankie, suster Rust, vir jou besoek. En ’n spesiale dankie dat jy omgee. Dis weer ’n riem onder die hart vir my.”
Toe sy in die hoofstraat afry, sê sy saggies: “Ons weet albei omgee is nie genoeg nie. Maar wat kan ’n mens dóén?”
Toe Miempie na haar voordeur stap, sien sy dat iemand daar op haar wag. Emile de Jongh. Die kroonprins is die laaste mens wat sy nou wil sien, maar hy sal nie om dowe neute hier staan nie. Ná Saterdagaand sal hy beslis nie hierheen kom as daar nie ’n baie goeie rede voor is nie. Daar het iets gebeur … Iets op die plaas miskien … Dalk met Maria …
“Goeiemiddag, meneer De Jongh.”
Hy kyk skrams na sy polshorlosie. “Dis al oor ses. Goeienaand, suster Rust.”
Sy sluit haar voordeur oop. “Ek is jammer as u lank moes wag. Het daar iets gebeur op La Rhône? Het iemand my nodig?”
“Kan ons maar eers binnegaan, asseblief?”
“Ja, natuurlik.”
Hulle gaan sit teenoor mekaar. “Ek wil met jou praat.”
“Oor?”
“Oor Saterdagaand. Oor jou aanval op my.”
Haar gesig verstyf. “Is dit hoekom jy hier is?”
“Ja.”
Sy sê bot: “Ek dink nie ons moet hierdie gesprek verder voer nie.”
“En ek is nie van plan om te loop nie, nie voordat …”
“Nie voordat ek om verskoning gevra het nie? Goed, meneer De Jongh. Ek vra om verskoning. Ek moes my beter gedra het. Ek moes my mond gehou het. Tevrede?”
“Nee. Jy mag jou mond so groot en wyd oopmaak soos jy wil – solank jy die waarheid praat en regverdig is in jou veroordeling van ander mense.”
“En ek was nie?”
“Beslis nie … en jy weet dit baie goed.”
“Ek sien. Ek het gejok toe ek gesê het die Vissers se werkers woon in krotte en …”
“Dis nie waarna ek verwys nie, Miempie, en jy weet dit. Ek praat van jou beskuldiging teen my dat ek nes die Vissers is.”
“Jy ontken dus dat jy nie ’n hart vir jou medemens en ’n gewete ten opsigte van onreg teenoor mense op die grens van die lewe het nie.”
“Selfs Manie het jou gewaarsku dat jy mense soos die Vissers moeilik sal rehabiliteer – nie eens as jy ’n soort plaaslike Moeder Teresa word nie. Ek keur die onetiese behandeling van hulle werkers nie goed nie. Maar ons kan nie vir hulle voorskryf wat hulle waardes moet wees of hulle dwing om dit te verander nie.”
“Wel, as jy so praat dan het jy nie ’n gewete nie. Want dan sal jy nie kan stilbly as jy werklike onreg sien nie. Hoe moet die wêreld ooit ’n beter plek word as almal maar net stilbly?”
“Maar dit is ook ’n feit dat daar mense is wat net nie vatbaar is vir opheffing nie en dié wat hulle wel wil verbeter. Ongeag op wie se plaas jy werk en wie jou werkgewer is. My kragtie, Miempie! Ek verwys nie net na bruin mense nie. Ek praat van wit mense ook! Jy het tog in jou lewe ook al met diesulkes te doen gekry.”
Sy kyk hom moedig aan: “Ek vra om verskoning oor wat ek Saterdagaand gesê het. Ek was onredelik.”
“Ek het nie hierheen gekom om ’n verskoning uit jou te dwing nie. Ek wou net myself verdedig het.” Hy frons, ontwyk haar oë. Om die een of ander duistere rede het haar beskuldiging aan hom bly krap, soseer dat hy later ergerlik met homself was. Wat kan dit hom skeel wat die snip van ’n verpleegster van hom dink? Tog … hy het vanaand sy motor gevat en dorp toe gery en hier sit hy nou. En hy voel nie lus om, noudat sy om verskoning gevra het, sommer weer terug te ry La Rhône toe nie, al is dit duidelik dat sy dit verwag.
Hoe kan hy die gesprek tog voortsit. Die aangeleentheid voel so onafgerond.
“Manie het jou tog ook effens aangevat. En jy het steeds ’n hoë dunk van hom, nie waar nie?” vra hy met nadruk op die naam.
“Natuurlik.”
“En jy vertrou sy oordeel?”
“Ja.”
“Het hy nie aan jou verduidelik wat ons vir jou probeer sê het nie?”
“Ons het nie eintlik daaroor gepraat nie. Hy het net gesê ek was ’n bietjie kras met jou.”
Emile glimlag skeef. “Goeie ou vriend. Ek kan verstaan dat jy baie van hom hou.” Sy antwoord nie en hy vervolg: “Daar is ’n rede hoekom dit so lyk daar op Grootfontein. Dis eenmaal waar dat ’n swak werkgewer swak werknemers het. As jy na jou werkers kyk, kyk hulle na jou. Visser betaal baie minder as die ander boere. ’n Werker met verstand en wat iets beteken, sal tien keer dink voordat hy na Visser toe gaan. Boonop behandel hy sy mense soos skuim. Hy reken die krotte waarin hulle bly, is al wat hulle werd is.”
“Maar dis ’n bose kringloop! Betaal hy darem die minimumloon? Sy werkers kan hom arbeidshof toe vat as hy die wet oortree,” protesteer sy.
“Dit is so. Maar daar is niks wat jý daaraan kan doen nie, Miempie. Hou jou maar uit die Vissers se sake uit. Hulle is nie maklike mense nie.”
Hulle oë ontmoet en dan sug sy, laat haar blik sak. “Ja. Ek het dit reeds agtergekom. Maar daar is so verskriklik baie onreg wat reggestel moet word. Ons het tog ’n gewete!”
“Heeltemal reg, Miempie, maar jy moet onthou jy kan die perd tot by die krip lei en sorg dat daardie krip vol is, maar hy moet self vreet. Opheffing moet van twee kante kom. Die een moet dit moontlik maak, die ander moet dit benut.”
Sy aarsel. Hulle sit nou so ontspanne en gesels oor iets wat haar baie na aan die hart lê. Sy wil nie weer ’n troebel atmosfeer veroorsaak nie. Maar omdat sy Miempie is, kan sy die vraag nie keer nie: “Maar as opheffing nie moontlik gemaak word nie, hoe kan die lydende party dit benut? Dit bestaan doodeenvoudig nie. In die geval van die Vissers maak jou redenasie nie vir my sin nie. En so dikwels weet die een kant nie werklik wat die ander kant nodig het om van hom ’n beter mens te maak nie. Weet jy werklik wat jóú werkers se behoeftes is?”
Hy frons liggies. “Ek is nie skaam vir wat ek vir my werkers doen en gee nie. Jy het self gesien in watter huise hulle bly. Goed. Dis nie luuks nie. Daar kan seker nog op verbeter word, maar dis nie strooise nie. Myns insiens betaal ons ook ’n heel aanvaarbare loon, nog meer as die minimumloon. En aan die einde van die jaar kry almal ’n bonus. Hulle kry goeie rantsoene en siekteverlof ook. Niemand ly honger op La Rhône nie. Saterdagaande kyk hulle televisie in die skuur.” Hy kyk haar fronsend aan. “Maar te oordeel na die uitdrukking in jou oë is dit nog nie goed genoeg nie.”
Sy sluk, bedwing haar. Wat van die kinders en die tieners, so baie ander dinge? Maar dit gaan bars om by haar voornemens te hou. “Nee, dit klink … alles goed.”
“Maar nie goed genoeg vir suster Rust nie.” Hy is terug in die luim waarin hy was toe hy hier aangekom het. “Wat de duiwel wil jy hê moet ek nóg doen? Vir elkeen ’n televisiestel in die huis sit en vir elkeen ’n swembad bou en hulle een keer per jaar see toe stuur met betaalde verlof?”
Die ontspanne atmosfeer lê aan skerwe. Haar oë blits en al haar goeie voornemens is daarmee heen. “Ek kan ’n hele paar dinge opnoem wat jou selfvoldaanheid soos ’n ballon sal laat bars, maar dan moet ek Maandag weer voor meneer Hough verskyn en moontlik my werk verloor.”
Hy is nou regtig kwaad. “Luister nou mooi na my, Miempie Rust! Dis die tweede keer dat jy my met die Vissers vergelyk. Ek kan my man staan. Sê jou sê. Ek kan dit vat.” Toe sy hom net sit en aankyk, bars hy weer los: “Toe! Praat nou! Waar sondig ek teenoor my werkers? Waar kom ek hulle te na en waar veronreg ek hulle?”
Sy kan haar tong afbyt, maar dis te laat. Soos Emile de Jongh nou lyk, gaan hy vanaand hier sit totdat hy gehoor het wat aan haar krap. En sy voel skielik so moeg. Sy het haar al weer in ’n ding ingepraat wat ver buite die bestek van haar werkpligte as verskaffer van primêre gesondheidsorg lê.
Sy kies haar woorde versigtig: “Dis nie dat jy jou mense te na kom of hulle veronreg nie.”
“Maar ek bly in gebreke,” daag hy haar uit.
“Dis … ek wonder maar net hoe goed kén jy die mense met wie jy elke dag saamwerk.”
“Verduidelik, asseblief.”
“Ek bedoel … jy ken hul name, weet dalk hoeveel kinders hulle het. Maar dis al.” Daar kom weer ’n flikkering in haar oë. Hy hoef haar nie te sit en aankyk asof sy twak verkoop nie! “Maar kén jy hulle werklik? Ken jy hulle vrese, hulle bekommernisse, hulle ambisies, hulle drome?” Hy sit haar net en aankyk en sy vervolg heftiger: “Hulle ken jóú drome en hulle weet van jóú ambisies. Trouens, hulle werk saam met jou om jou drome en ambisies te verwesenlik. Hulle weet jy wil daar dit en daar dat plant en jy verwag so en so ’n oes. Maar wat weet jy van húlle af, Emile? Hulle het ook drome.”
“Drome, sê jy?”
“Ja. Of is hulle nie veronderstel om te droom nie?”
“Moenie sarkasties wees nie.”
“Net so min as wat ek teenoor Ruda Visser beledigend en aanmatigend was, net so min was ek nou sarkasties. Soos in haar geval, het ek ook net ’n feit gestel.”
“Watter feit? Jy het van drome gepraat … en drome is nie feite nie!”
“Dan sal ek dit eenvoudiger stel: Jy, Emile de Jongh, ken nie een van die mense op jou plaas nie, selfs nie eens dié wat daar gebore is nie.”
“En hoe staaf jy hierdie feit?”
“Eenvoudig. Ek weet van een groot droom wat een van hulle al jare lank koester, ’n droom waaraan sy vandag nog vasklou ten spyte van die feit dat dit skynbaar ’n onmoontlike droom is. Weet jy daarvan?”
“Nee. Wie se droom is dit?”
“Maria s’n.”
“Maria?”
“Ja. Sy bly al vanaf sy ’n dogtertjie is op La Rhône. Martha Benjamin se Maria.”
“En waaroor droom sy?”
“Om ’n mediese dokter te word.”
“’n … Maar dis tog belaglik! Ek bedoel, dis totaal onmoontlik!”
Haar mond trek wrang. “Ja. Dis seker belaglik en dis seker ook onmoontlik. Maar dis ’n droom in ’n jong hart. Dis maar een droom op jou plaas. Daar sal ander ook wees waarvan jy nie weet nie.”
Sy stem is baie streng. “Miempie, ek hoop nie jy moedig haar aan nie. Om te droom is een ding, maar …”
“Nee. Ek moedig haar net aan om haar bes te doen op skool, al kry sy nie by die huis tyd om te leer nie … en intussen bid ek vir ’n wonderwerk.”
“Soos wat? Dat daar ’n fortuin uit die hemel sal neerreën? Jy weet wat dit kos om medies te studeer. Alle universiteitskursusse kos vandag ’n plaas se geld. En daar is die keuring ook nog.”
Haar meewarige glimlaggie is meer teen haarself gemik. “Ek is maar net so simpel soos Maria. Ek droom ook onmoontlike drome, selfs dat ’n fortuin op ’n dag uit die hemel sal neerreën … of dat ek haar pa sal opspoor. Miskien sal hý iets aan hierdie droom kan doen.”
“Haar pa?” Hy lyk totaal verward.
“Ja. Haar wit pa,” antwoord sy kalm.
Dit neem ’n tydjie voordat haar woorde insink. Dan: “Miempie! Waar kom jy aan …?”
“Ek weet dit net. Afgelei uit Martha se houding. En natuurlik Maria se steil hare.”
Hy is op sy voete en dit lyk asof hy lus voel om haar aan die skouers te gryp en te skud. “Jy is besete, vroumens!”
“My instink sê vir my dit is so. Ek weet net Maria het ’n wit pa. Ek is oortuig daarvan.”
“In hemelsnaam, Miempie, het jy dit vir Maria gesê?”
“Ek mag besete wees, maar ek is nie mal nie.”
Sy vinger word byna teen haar neus gedruk. “Jy moet hierdie ding uitlos. Jy gaan nog in groot moeilikheid beland. Kom tot jou sinne! Maria kan ’n verpleegster word. Dit is binne haar bereik.”
“Verstandelik het sy die potensiaal om ’n dokter te word. Ek was vanmiddag by haar skoolhoof. Sy vaar uitstekend op skool. Sy kan briljant vaar as sy genoeg tyd kry om regtig te leer.”
“Staak dit, Miempie!” bulder hy. “Ek begin wonder of jy werklik ’n opheffingsfanatikus is en of jy nie bloot ’n bemoeisieke vroumens is wat haar neus in ander mense se sake steek nie!”
“Dis my neus en jy het geen seggenskap daaroor nie!” roep sy gefrustreerd uit. “Jy praat nes haar ma. Jy wil haar ook vaskluister aan die strooislewe – net soos Martha.” Sy sien aan sy gespanne kaakspiere sy moet nou vinnig verduidelik. “Ek het met Martha gepraat, oor Maria se skoolganery. En toe sê sy Maria moet die end van die jaar plaas toe kom. Toe ek haar vertel dat haar kind geregtig is op ’n beter lewe, is haar antwoord dat dit beter is as Maria maar liewer net soos hulle bly. Buite die stroois wag daar net hartseer en trane op haar. En jy dink ook so,” beskuldig sy reguit. “Maria moet maar plaas toe kom en haar drome begrawe.”
“Ek het dit nie gesê nie! Ek het gesê sy kan ’n verpleegster word. Sy kan in ’n kantoor gaan werk, in ’n bank, enige plek.”
“Maar in jou hart stem jy saam met Martha. Dis beter vir Maria om liewer haar droom te vergeet.”
“Ja.”
“In daardie geval, Emile de Jongh, het ek en jy niks verder om vir mekaar te sê nie. Ons sal mekaar nooit vind nie. Goeienaand.”
Hy swaai op sy hakke om, kyk by die deur terug. “Jy, Miempie Rust, is self besig met ’n vergeefse droom. My ma het haar darem deeglik met jou misgis.”
“Wat bedoel jy?”
“Dis nie meer van belang nie. Goeienaand, suster. Mag dit met jou en jou drome goed gaan … maar ek twyfel.” En die deur word redelik hard agter hom toegetrek.