Читать книгу Ena Murray Omnibus 38 - Ena Murray - Страница 9

6

Оглавление

Sy is nog in ’n geskokte toestand toe Emile haar woonstel binnestap.

“Dis verskriklik, Emile! Was die polisie al daar?”

“Natuurlik, maar Maria is nie in ’n toestand om ’n verklaring af te lê nie.”

Miempie kom weer stadig tot verhaal. “Sy moet onmiddellik deur ’n dokter ondersoek word sodat hy kan bevestig dat sy wel verkrag is.”

“Ja. So het die polisie gesê, maar ek het gesê ek sal jou maar eers in die hande kry om haar te kalmeer en dan kan ons by ’n dokter uitkom.”

“Dis goed so. Kom ons ry.” Sy skud haar kop verdwaas toe die motor wegtrek. “Maria het vir my gesê die polisie het gewaarsku dat die kinders wat tog skool toe gaan, moeilikheid sal kry. Hulle het natuurlik gesien sy is skool toe en het haar toe voorgelê om haar ’n les te leer.”

“Dis nooit anders nie, die vuilgoed. Die polisie sê dis net ’n handjievol belhamels wat al die moeilikheid veroorsaak het.”

Sy sug. “Dis so sinloos.”

“Ja, hulle maak net staat op intimidasie. Een van die seuns het vir die polisie gesê die opstokers het hom gewaarsku dat sy ouers se huis afgebrand sal word as hy nie saamwerk nie. Hy moet doen wat hom voorgesê word, maar uiteindelik is hy die een wat in die tronk beland en die werklike skuldiges kom ongestraf daarvan af.”

Miempie skud haar kop. “Ja. Die lewe is so onregverdig. En die onskuldiges ly gewoonlik die meeste.”

Die motor kom tot stilstand en sy klim uit. Kinders staan verskrik en woordeloos teen die huis se muur. Hulle weet nog nie wat presies aangaan nie, maar hulle weet iets vreesliks het gebeur. Miempie stap die huis vinnig binne, loop haar vas teen ’n huilende Martha.

“Ag, Here, suster! Dis my meisiekind! Hulle het my meisiekind …”

“Toe nou maar, Martha. Jy moet nou probeer kalm bly ter wille van Maria.”

“Maar die helkinders het haar …”

“Ek weet. Maar daar is darem een troos: Sy sal nie swanger word nie.”

Martha kyk Miempie oorbluf aan.

“Sy wou graag die inspuiting neem. Ek het dit self vir haar gegee. Toe nou. Gaan troos nou jou ander kinders. Hulle staan soos verskrikte hase hier buite. Ek gaan nou na Maria toe.”

Dis met vrees in haar hart dat Miempie deurstap na die ander vertrek. Sy kom tot stilstand langs die bed waar Maria met toe oë ineen gekrimp lê. Haar hele liggaam ruk nog van skok en emosie.

“Maria …”

Die donker oë vlieg oop, staar haar aan asof sy Miempie nie herken nie. Dan ruk sy orent en Miempie sak vinnig op die kant van die bed neer.

“Suster!”

Sy hou die huilende meisie teen haar vas, luister na die rou snikke wat diep vanuit ’n verskeurde hart en liggaam bars, streel oor haar hare terwyl sy voel hoe haar uniform nat raak van die bitter trane. Sy laat haar huil; hou haar net vas. Dit is goed dat sy verligting in trane kry. Dit sal die ergste spanning verlig. Dit het reeds skemer geword toe Maria eindelik uitgeput terugsak en Miempie net verwese lê en aankyk.

“Ek kom nou weer terug. Ek wil net vir jou ma sê sy moet ’n bietjie water warm maak dat ek jou kan skoonmaak.”

In die tweede vertrek is ’n kers reeds aangesteek en Miempie gee haar bevele, stap dan vinnig by die deur uit na waar Emile nog steeds in die motor sit en wag.

“Dit gaan nog ’n ruk duur, Emile. Ons moet nou eers water warm maak dat sy kan was. Daarna sal ek haar probeer oorreed om saam te gaan dorp toe sodat die dokter haar kan ondersoek. Ek sal netnou hier wees.”

Dan stap sy terug na die vertrek waar Martha nou ook ’n kers aangesteek het. Miempie gaan weer op die bed sit.

“Maria, ons gaan jou nou eers skoonmaak en daarna wil ek hê jy moet saam met my dorp toe gaan sodat die dokter jou kan ondersoek.” Sy kyk in die bevreesde oë. “Daar is niks om voor bang te wees nie. Ek sal die hele tyd by jou bly. Maar die dokter moet jou ondersoek, want hy moet getuig dat hulle wel aan jou gedoen het wat hulle gedoen het. Verstaan jy? Ons mag nie toelaat dat hulle met hierdie ding wegkom nie. Kom nou, trek uit daardie geskeurde rok. Hier is die water.”

Soos ’n slaapwandelaar gehoorsaam Maria en Miempie se hart krimp in medelye toe sy sien hoe die jong liggaam verniel is. Sy moes soos ’n besetene teen haar aanvallers baklei het. By party skrape het die bloed al gestol. Met deernis help sy om die grond en stof en bloed van haar af te kry, help haar om ander klere aan te trek. Die klere wat sy aangehad het, word sorgvuldig in ’n plastieksak gesteek om aan die polisie te oorhandig vir forensiese toetse. Dan stap sy weer deur na die voorste vertrek waar die res van die gesin swygsaam om die tafel sit asof almal skielik stom geword het. Klaas kyk nie op toe sy binnekom nie.

“Klaas, Martha, ek neem Maria saam met my dorp toe sodat sy by die dokter kan kom. Dan dink ek sy moet liewer eers by haar ouma en oupa op die dorp bly.”

Martha is dadelik ontevrede. “Daar waar die kwajongens is?”

“Sy sal veilig wees by ouma Ragel en oupa Jafta. Ek sal daar ook beter ’n ogie oor haar kan hou. Sy kan intussen daar leer terwyl die skool gesluit is. Ek het haar boeke gekry. Ons moet nou die beste vir Maria doen, Martha. Is dit dan reg so? Kan ons maar gaan?”

Martha sug, bedek haar oë met een hand. “Suster moet maar maak soos suster goeddink.”

Miempie se oë flits vraend na Klaas en dié gee haar net so ’n skuins kyk en knik.

Miempie klim saam met Maria agter in die motor en Emile sê: “My ma het kos vir julle albei gereed. Wil julle nie eers kom eet nie?”

“Liewer nie, Emile. Sê vir jou ma baie dankie, maar daar is dinge wat nou eers dringend afgehandel moet word.”

Hy laai hulle by die polisiekantoor af en dokter Geertsema word daarheen ontbied. Miempie laat Maria vir geen oomblik alleen nie, ook nie toe die dokter haar ondersoek nie. Sy hou haar hand die hele tyd vas, wetende dat hierdie ondersoek ’n ewe groot beproewing is. Daarna word sy toegelaat om Maria terug te bring na die woonstel.

Miempie besluit dat sy Maria eers môreoggend na haar ouma-hulle sal neem. Dit sal vir die twee ou mense ’n te groot skok wees as hulle hierdie tyd van die aand opgeklop moet word om te hoor wat met hul kleindogter gebeur het. Sy wil Maria self eers bystaan deur hierdie traumatiese tyd en seker maak dat sy kalmer is voordat sy haar in iemand anders se sorg plaas.

“Nou gaan ek vir jou lekker warm badwater intap, lekkerruikgoedjies ingooi en jy kan so lank as wat jy wil daarin lê en ontspan, terwyl ek vir jou ’n bed opmaak en vir ons kos maak.”

Maria sug swaar. “Hoe … hoe kan ek suster ooit bedank vir alles?”

“Probeer jy maar net ontspan en rustig raak. Dis ’n groot tragedie – dit wat nou oor jou pad geval het. Maar saam sal ons hieroor kom en sorg dat jy aangaan met jou lewe, Maria.”

“Ek weet nie of ek kans sien nie, suster …”

“Nou toe, kom bad maar eers net. Moenie verder dink nie. Ek het vir jou ’n nagrok ook. Hier is vir jou ’n handdoek.”

Maria lyk steeds onseker toe Miempie by die badkamerdeur uitstap. Miempie se hart vul met deernis. Arme ding. Het sy al ooit in ’n bad gebad? Haar gedagtes bly maal terwyl sy die slaapbank begin opmaak. So neem ons so baie dinge in die lewe as vanselfsprekend aan … Soos ’n lekker warm bad, ’n gerieflike matras en mooi beddegoed, ’n kussing onder die kop, veiligheid, geleerdheid, werk … Ek het so baie voorregte, besef sy met ’n dankbare hart.

Sy loer by die badkamerdeur in, glimlag toe sy sien hoe Maria agteroor in die bad lê. Sy knik haar bemoedigend toe. “Dis reg. Geniet dit. Ek maak solank vir ons iets om te eet.”

Sy stap aan kombuis toe. O, sy glo daar sal mense soos die Vissers wees wat die stuipe sal kry as hulle moet weet dat Maria op hierdie oomblik in haar bad lê, vanaand onder haar dak gaan slaap, saam met haar aan tafel gaan eet. Maar dit kan haar min skeel. Die kos is al klaar en Maria het nog nie haar opwagting gemaak nie. Miempie stoot die bad­kamerdeur oop. “Waar bly jy so lank? Wat doen jy, Maria?”

“Dit … dit voel asof ek my nooit skoon genoeg sal kan was nie, suster,” sê sy sag.

Met ’n steekpyn in haar hart gee Miempie vir haar die handdoek aan. “Jy is nou skoon genoeg. Die kos word koud. Kom ons gaan.”

Maria neem onseker plaas toe Miempie teenoor haar gaan sit. Sy het nog nooit sulke mooi borde gesien nie.

Miempie moedig haar aan: “Jy moet alles opeet, Maria. Ek is seker jy het nog nie vandag geëet nie.”

“Nee, suster.” Haar toebroodjies het hulle weggeklap toe hulle haar gegryp het.

Miempie sien die verdonkering van die oë en sê sag: “Eet nou eers en dan kan ons gesels. Toe, anders dink ek my kos is sleg.”

Miempie keer haar gou toe sy ná die ete wil begin skottelgoed was: “Ons pak dit net in die wasbak. Dit kan wag tot môre. Dit sal niks oorkom nie. Kom sit nou hier by my op die bank.” Sy neem Maria se hand in hare. “Vertel nou eers vir my hoekom jy dit gewaag het om skool toe te gaan. Jy weet tog daar was moeilikheid en hulle hét jou gewaarsku.”

“Ek weet, suster, maar ek het gedink ek sal maar gaan kyk. Miskien is die skool tog oop. Die kleintjies het saamgestap. Ek het gedink dis veilig.”

“En toe stap julle terug …”

Die kop sak. “Ja. Halfpad terug huis toe spring hulle skielik agter ’n bos uit en skreeu: Jy wil mos nie hoor nie, nou sal jy voel. Die ander kinders het weggehardloop. En toe … toe …”

“Maria, ek het met jou ma-hulle gereël dat jy van môre af by jou ouma-hulle gaan bly. Hierdie heen-en-weer-lopery het te gevaarlik geword. As jou oupa-hulle nie kans sien om jou tot die end van die jaar te huisves nie, gaan ek met meneer Koopman praat en hoor of hy nie weet waar jy vir die res van die jaar kan loseer nie. Maar intussen …” Sy staan op en gaan haal Maria se skoolboeke uit die kas. “Hier is jou boeke. Die feit dat daar nie op die oomblik skool is nie, beteken nie dat jy moet ophou leer nie. Eintlik is dit nou vir jou ’n goeie geleentheid om in te haal waarvoor jy voorheen nie tyd gekry het nie. Jy gaan baie makliker by jou oupa-hulle leer. Daar is nie ander kinders wat jou sal pla nie en hulle het elektrisiteit. Jy kan tot laat saans leer as jy wil. Jy gaan ook nie weer skool toe voordat ek jou kom sê dis veilig genoeg om terug te gaan nie, verstaan jy?” Maria knik en Miempie se oë is sag. “Maria, ek weet dis ’n baie swaar ding wat jou vandag getref het. Maar as jy gaan toelaat dat hierdie ding maak dat jy nie meer wil leer nie, gaan jy presies doen wat daardie kwaaddoeners wil hê jy moet doen. Moenie hulle hulle sin gee nie. Jy moet nou éérs leer, Maria! Asseblief! Moenie dat hierdie ding jou onderkry nie!”

Die donker oë is troebel. “Maar ons sal seker nie eens ek­samen skryf nie.”

“Julle sal. Jý sal, al moet ek hemel en aarde beweeg,” belowe sy sommer blindelings. “Dit kan gereël word, maar ek is seker dinge sal weer rustig wees wanneer die eksamen aanbreek. Hulle sal teen daardie tyd al die belhamels gevang het. Maar jy moet dan gereed wees vir die eksamen. Ek wil hê jy moet ’n A-gemiddelde kry.”

Maria se oë rek. “’n A-gemiddelde, suster?”

“Ja. Veral ’n A in wiskunde en wetenskap. Jy het nou tyd om te leer.”

“Maar hoekom?”

“Vra jy vir mý, Maria? Het jy my dan nie van jou droom vertel nie?” Miempie sluk. Durf sy doen wat sy nou doen? “Of … of wil jy nie meer ’n dokter word nie?”

Maria se blik sak voor hare. “Dis net ’n droom, suster,” sê sy gedemp. “Dit kan tog nooit waar word nie.”

Miempie swyg eers, aarsel: “Drome word soms waar, Maria. ’n Mens moet nooit ophou glo nie. En jy moet hard werk.”

“Nee, suster. Drome word nie waar vir ons nie. Nie vir ons … lemoenmense nie.”

Miempie kyk haar vraend aan. “Wat bedoel jy … lemoenmense?” Dis stil. “Wat is ’n lemoenmens? Wat beteken dit?”

“Ken suster dan nie die grappie nie?”

“Grappie?”

“Ja. Die lemoengrap?”

“Nee. Waaroor gaan die grap?” vra sy.

“Oor die lemoen.”

“Vertel dit vir my.”

Die oë is ontwykend. “Dis sommer net ’n grap.”

“Ek wil dit graag hoor.”

Dis eers stil, dan: “Dis sommer ’n grap van die wit man en sy vrou wat op die plaas gebly het en ou Mieta wat al die jare by hulle gewerk het. Op ’n dag gaan hulle weer stad toe en hulle besluit om vir ou Mieta saam te vat want sy het nog nooit ’n groot stad gesien nie. Natuurlik het Mieta haar doodverwonder aan alles en toe hulle terugry plaas toe, toe vra die vrou vir Mieta: ‘En wat het nou die diepste indruk op jou gemaak, ou Mieta?’” Maria bly ongemaklik stil.

Miempie kyk haar vraend aan. “Ja?” moedig sy aan.

Weer die aarseling, ontwyking: “Ag, dis sommer net ’n grap, suster.”

“Wat antwoord Mieta toe?” dring Miempie egter aan.

“Sy sê toe dat die bruin en swart vroue so mooi aantrek. Waar sou hulle die geld vandaan kry vir al die mooi klere?”

“Ja?”

“En toe … toe sê die vrou hulle kry dit by die wit mans wat so by hulle slaap.” Die oë lig uitdagend. “En ou Mieta sê: ‘Ai! En al die jare kry ek net elke keer ’n lemoen!’”

Die laaste sin tref Miempie soos ’n koeëlskoot. Sy soek na woorde, kyk ontredderd in Maria se donker oë.

Maria gaan sag voort: “My ma het ook net ’n lemoen gekry, suster … en ek is die klein lemoentjie.”

“Maria! O, Maria …” Daar is ’n snik in Miempie se stem en skielik is daar trane in haar oë. “Mariatjie …”

“Ek weet Klaas Benjamin is nie my pa nie. Ek het ’n wit pa. Ma is te bitter om daaroor te praat. Ek weet net dis ’n wit man wat haar hierdie lemoen gegee het,” en sy druk teen haar bors.

Miempie laat sak haar oë skuldig, want sy weet sy kan Maria se skokkende stelling nie weerlê nie. Sy is self so te sê oortuig Martha Benjamin het destyds ook maar net ’n lemoen van die wit man gekry.

“Maria …” Wat kan sy sê? Sy kyk weer op. “Maria, luister. ’n Klein lemoentjie kan tot ’n groot lemoen groei … tot keurgraad … tot ’n uitvoerproduk waarop almal baie trots kan wees. Dit hang alles net van jouself af. Moenie bly vasstaar teen die verlede nie, Maria. Daar is ander dinge wat die Vader jou ook gegee het, behalwe ’n naamlose pa. Hy het jou verstand en ruggraat, ’n sterk karakter gegee. Jy het dit in jou om uit te styg bo al hierdie dinge. Om as mens, as mens uit eie reg, vir jou ’n plek in die lewe oop te skop en vir jou jou eie spesiale plekkie in die son te vind. Hy het jou ’n droom gegee. Hou daaraan vas!”

Die lippe bewe weer. “Dink suster ek wil nie? Dink suster ek wil nie ook uitstyg bo al hierdie … ellende om my nie? Ek wil ook eendag ordentlik lewe, soos suster. Ek wil ook eendag my kop oplig en daar moenie ’n deur wees wat ek nie kan oopsluit nie. Ek is moeg en sat vir die lewe waarin ek en my mense vasgevang is, suster! Ons is ook mense! Ons wil ook trots wees op onsself! Maar ons het nog nooit iets gehád om op trots te wees nie! Ons het nog nooit iets van ons eie besit nie! Hoe … hóé trek ek myself uit hierdie moeras uit? Hoe kan ek my broers en susters uit die modder van armoede en minderwaardigheid kry?”

“Deur te leer, Maria. Deur iets te bereik. Deur jouself in ’n posisie te kry waar jy ’n opheffende hand na jou mense kan uitsteek. Deur van jouself ’n voorbeeld te maak, iemand wat hulle sal inspireer om ook na bo te reik. Bring jouself dáár waar jy kan uitroep: ‘Kyk na my! Ek kon dit regkry, julle kan ook!’ Maar daar is net een pad wat jou daar kan bring, Maria: geleerdheid. Jy kan langs geen ander weg daar kom nie.”

“Ek weet dit, suster, maar ek kan nie daardie pad stap nie. Dit kos baie geld om ’n dokter te word. Ek het dit nie; ek sal dit nooit hê nie.”

“Kom ons leef een dag op ’n slag, Maria … en ons leef in die geloof. Al waaraan jy nou moet dink, is dat jy ’n A-gemiddelde in hierdie eksamen moet behaal. Want dis die vereiste om toegelaat te word tot ’n mediese kursus. Ons sal die hekke oopmaak soos ons by hulle kom. Hierdie een is die eerste hek voor jou. Kyk eers dat jy hom oopkry, want dit help niks om die geldhek daar vér oop te kry en jy het die hek reg voor jou nog nie oop nie. Verstaan jy?”

“Ek verstaan, suster. Maar …”

“Daar is geen maars nie, Maria. Ons het vir eers klaar gepraat. Ek gaan jou nou ’n slaappil gee en jy gaan nou rus. Dis eers genoeg vir een dag. Kom.”

Maria lyk weer half verskrik. Sy kyk na die opgemaakte slaapbank, dan ongelowig terug na Miempie. “Baie, baie dankie, suster. Ek sal jou nooit kan vergoed vir alles nie …!”

’n Brandpyn skiet deur Miempie se hart toe sy vorentoe stap, die beddegoed oopmaak en met die kop wink. “Klim in, Maria. Ek gaan solank die water en die slaappil haal.”

Woordeloos gehoorsaam Maria en met Miempie se sagte druk teen haar skouer sak sy terug teen die kussing. Haar liggaam is nog seer … maar sy voel dit skaars. Daar is iets besig om oop te kelk in haar … ’n dankbaarheid só groot dat dit vir haar voel asof dit uit haar borskas gaan bars; te groot vir die woorde om gestalte op haar lippe aan te neem, maar dit vorm in haar hart, styg omhoog: God seën jou, suster!

In Miempie se hart is ook ’n smeekgebed: Ek weet nie of ek reg of verkeerd gedoen het om haar vanaand te bemoedig nie, Here. Ek weet nie altyd hoe en wat ek moet bid wat regverdig teenoor haar sal wees nie. Tog, liewe Heer … as dit in U raadsbesluit lê, bid ek U vanaand … seën hierdie lemoentjie, maak dit vir haar moontlik om nie net ter wille van haarself nie, maar ook ter wille van haar mense haar droom waar te maak!

Toe daar ’n klop aan haar voordeur kom, is Miempie jammer dat al die ligte nie al afgeskakel is nie. Sy voel tot in haar siel toe moeg, uitgemergel deur skok en wanhoop en drome wat al verder wegskuif ten spyte van haar selfversekerde houding voor Maria. En dis al laat …

Maar sy maak die deur oop en dis Emile wat voor haar staan. Onmiddellik is die kommer terug in haar oë.

Hy hou ’n gerusstellende hand omhoog. “Nee, daar het niks gebeur nie. Ek het net kom kyk of alles reg is, of jy veilig is.”

Sy kyk hom verbaas aan, nooi hom binne. “Hoekom sal ek nie veilig wees nie?”

“Omdat jy Maria na haar ouma-hulle toe sou neem. Dit kan gevaarlik wees om hierdie tyd van die aand daar in te gaan. Ons lewe in ’n deurmekaar wêreld.”

“Nee, ek het haar toe nie geneem nie. Ek hou haar eers vannag by my. Ek sal haar môre na hulle toe neem.”

Hy kyk om hom rond. “Maar waar slaap sy?”

Haar oë is uitdagend. “Sy slaap by my in die kamer. Ek het ’n ekstra slaapbank.” Hy sê niks daarop nie en sy vervolg, steeds op uitdagende toon: “Skok dit jou?”

Hy skud sy kop. “Nee, natuurlik nie. Ek is bly jy help haar.”

“En?”

“En as jy anders opgetree het, sou jy nie Miempie gewees het nie.” Hy glimlag skielik. “Niks wat jy doen, verbaas my meer nie. Ek sal nie eens verbaas wees as jy dit nog gaan regkry om van Maria ’n dokter te maak nie. Vir jou is alles blykbaar moontlik.”

Die moegheid laat dit voel asof haar kop swem. “Is jy nou besig om met my te spot, Emile de Jongh? Of is jy net sarkasties? Want dan wil ek vir jou sê …”

“Nie een van die twee nie. Soos jy eenmaal gesê het, ek stel net ’n feit.” Sy hande lê skielik op haar skouers en sy oë kyk bestuderend af op die moeë gesiggie. Dan word sy teen hom vasgetrek, haar kop ’n oomblik teen sy skouer vasgedruk … en vind sy lippe hare in ’n lang, teer soen.

“Jy is doodmoeg. Gaan slaap nou.” By die deur kyk hy om. “Ek gaan vir ’n week weg na ’n landboukongres toe. Kyk mooi na jouself en onthou om die voordeur te sluit. Nag, Miempie.”

Vroeg die volgende oggend lui die telefoon. Dis Laura de Jongh.

“Ek is jammer om jou so vroeg te pla, Miempie, maar ek was bang ek kry jou nie voordat jy werk toe gaan nie. Hoe gaan dit met Maria? Emile sê my jy het haar verlede nag eers onder jou sorg geneem.”

“Ja. Dit gaan in die omstandighede goed. Natuurlik sal dit lank duur, veral sielkundig, om oor hierdie ding te kom. Maar ek het vertroue in Maria dat sy dit sal verwerk. Ek gaan haar vanoggend voor werk na haar ouma-hulle toe neem. Ek sal nog met haar ma daaroor praat, maar ek dink Maria moet vir die res van die skooljaar daar bly. Sy gaan daar meer kans kry om te leer.”

“Ek stem saam. Dis hoekom ek bel. Ek en oom Giel het gesels. Ons sal gereeld vir hulle voorrade neem as deel van ons bydrae vir haar losies.”

Miempie se hart word week. O, as daar maar meer sulke helpende hande onder die bevoorregtes was!

“Baie dankie, tannie Laura, maar ek weet Manie neem reeds elke week vir hulle groente en vleis en melk. Ek sal die saak met hulle bespreek. Ons moet keer vir oorvleueling.” Sy aarsel, het dan die vrymoedigheid om voort te gaan: “Miskien kan julle in ’n ander opsig ’n bydrae lewer.”

“Natuurlik, kind. Sê net.”

“Ek het vir Maria gesê dat sy nou baie hard by haar ouma-hulle moet leer. Miskien kan julle ’n bydrae maak tot die elektrisiteitsrekening, aangesien Maria seker tot laat in die nag sal studeer.”

“Maar natuurlik, Miempie. Ons doen dit met graagte. Ons sal elke maand die water en elektrisiteit betaal.”

Natuurlik is die twee ou mense geskok toe hulle hoor wat met Maria gebeur het. Tog is daar ook ’n gelatenheid in hulle wat Miempie aangryp. Is dit maar omdat hierdie mense gewoond is om alles wat oor hulle pad kom, te aanvaar as hulle afgemete deel … of is dit bloot geloof in die wete dat God weet wat Hy doen? Sy weet die twee ou mense is ware Christene, en dis met ’n geruste hart dat Miempie die jong meisie in hulle sorg laat.

Die week wat volg, is vol spanning en veral vir Maria bly dit traumaties. Die boosdoeners is gevang en sy moet hulle gaan uitken.

Meer as veertien dae verloop voordat daar weer kalmte en stabiliteit is en die skool heropen. Miempie troos haar daaraan dat Maria baie werk waarvoor sy nooit tyd gekry het nie, in hierdie tyd kon inhaal. Sy gaan lê nou gereeld besoek af by Loopstraat 68 en die ou mense bevestig elke keer dat Maria baie mooi leer.

“Ek weet nie wanneer die kind eintlik slaap nie. As ek in die nag wakker word, brand haar lig maar,” vertel ouma Ragel, en Miempie het ’n vermoede waaroor dit gaan. Maria het aan haar erken dat sy sedert die verkragting soms nagmerries kry. Dan skrik sy wakker, papnat gesweet, en alles wat sy moes deurmaak, staan weer helder voor haar. Aan slaap is dan nie te dink nie. Dan gryp sy maar haar boeke en probeer só haar konsentrasie verplaas. Miempie se bydrae om dit vir Maria moontlik te maak om by haar ouma-hulle te bly, was die slaapbank wat toe in die voorhuis geplaas is. Maria kan dus tot diep in die nag leer sonder om die twee oues te steur. Miempie laat die mense op La Rhône gereeld weet hoe dit op die dorp gaan sodat Martha ook gerus kan wees oor haar kind. Dis altyd Laura wat die telefoon beantwoord, en daar word net oor Maria gesels. Elke keer is daar ’n vae gevoel van teleurstelling in Miempie wanneer sy die gehoorbuis neersit. Laura de Jongh het nie een keer na Emile verwys nie, of hy al terug is van die landboukongres, of hoe dit gaan nie.

Elke keer dat sy dié teleurstelling ervaar, moet sy haarself aanspreek. Hoekom sal Emile de Jongh nou met háár kontak maak nadat hy van die kongres teruggekeer het? Hy het geen rede om dit te doen nie. Een soen … ’n simpatieke soen soos hy dit sekerlik bedoel het … beteken mos nie dat hy haar dadelik moet bel en laat weet hy is weer terug nie. Een soen plaas niemand onder ’n verpligting nie … Sy is verspot om te wonder hoekom hy haar darem nie laat weet het hy is terug, en na haar welstand verneem het nie. Hy hoor natuurlik by sy ma dit gaan goed. Hoekom sal hy dan self navraag doen?

Ook Manie is besonder stil deesdae. Hy het een aand gebel, net om te hoor hoe dit gaan en om te sê dat hy baie besig is met sy en Emile se planne. Hulle het genoeg boere gekry wat belangstel en kan nou hul eie vereniging stig. Die bal is aan die rol en hy het baie tevrede geklink. By die stigtingsvergadering sal ’n vakbondleier hulle ook kom toespreek en riglyne gee.

Met die gevoel dat sy êrens die bal misgeslaan het, verrig Miempie haar take en probeer om nie haar gedagtes vrye teuels te gee nie. Maar dit gaan moeilik in die lang ure wat sy agter die stuurwiel sit soos sy deur die distrik ry. Emile het natuurlik besluit dat sy gelyk gehad het wat haar agtergrond betref, ten spyte van sy mooi woorde daarna. La Rhône se vrou sal iemand moet wees met ’n stamboom wat pas by sy baas s’n. ’n Mens kan nie sommer enige vrou op daardie spogplaas kom neersit nie. En natuurlik moet ’n mens aan die toekoms ook dink. As daar eendag kinders is, moet hulle trots kan wees op waar hulle vandaan kom. Nie dat daar ooit ’n gedagte by hom ontstaan het dat sý ’n moontlike kandidaat vir die gesogte pos is nie, maak sy haarself meewarig wys. Hoekom jou tyd mors met ’n meisie wat jy weet geen rol in jou toekoms kan speel nie, en dit terwyl jy ernstig op die uitkyk is vir ’n vrou?

Sy voel maar bra bekaf deesdae, en hoe sy ook al probeer, sy kry dit nie reg om haar uit hierdie somber put te trek nie. Daar kom darem een ligpunt in hierdie dae – Maria se ek­samenuitslae. Die skoolhoof bel Miempie spesiaal om haar daarvan te vertel. Maria het alle verwagtinge oortref. Sy het aan al die vereistes wat Miempie gestel het, voldoen. Meneer Koopman is vol vertroue dat sy dit ook die res van die jaar sal handhaaf noudat sy by haar ouma-hulle bly.

Maar dit bring, behalwe vreugde en dankbaarheid, ook opnuut kommer en probleme vir Miempie mee. Maria het haar kant gebring. Sy het die eerste hek oopgemaak … en dis haar, Miempie, se taak om die tweede hek oop te kry … Maar waar gaan sy die geld vandaan kry? wonder sy met ’n sinkende hart. Ook die tyd is teen haar. Daar moet nou al aansoek gedoen word by die universiteit en in ’n koshuis as Maria, wonder bo wonder, volgende jaar verder gaan studeer. Maar hoe kan sy dit doen voordat sy die geld het … en wáár moet dit vandaan kom?

Geruime tyd speel sy al met die vergesogte gedagte om self by ’n bank om ’n lening aansoek te doen. Hoe sy dit ooit terugbetaal gaan kry, het sy nie die vaagste benul nie. Honderdduisend rand is ’n fortuin vir ’n verpleegsuster wat net van haar salaris afhanklik is. Want sy is nie van die gelukkige mense wat ryk geërf het nie. Haar aangenome ouers was doodgewone middelklasmense, en hulle siekte het die bietjie spaargeld vinnig weggevreet. Daar was ’n skamele paar duisend rand oor en die paar meubelstukke wat nou in haar woonstel staan, toe die boedel afgehandel is. En daardie paar duisend rand het sy by haar spaargeldjies gesit om vir haar ’n tweedehandse motortjie te koop. Maar as sy haar motor verkoop … Miskien sal die bank tog vir haar die res leen.

Met min hoop, maar klouend aan elke grashalm, gaan spreek Miempie die bankbestuurder, maar hy, hoewel simpatiek, wys haar op die onmoontlikheid van haar plan. Die boekwaarde van haar motortjie is maar dertigduisend rand. Sy het geen sekuriteit om aan te bied nie. Haar salaris en die paar stukkies meubels is beslis nie goed genoeg nie.

Sy voel verleë en hartseer toe sy opstaan. “Dankie, meneer. Ek het net gevoel ek moet darem probeer, maar ek verstaan.”

Die bankbestuurder bly peinsend sit toe die kantoordeur agter haar toegaan. Hoeveel mense sal bereid wees om dít vir ’n minderbevoorregte kind te doen? Hy twyfel. Suster Rust het sy algehele respek. Dan trek hy die lêer voor hom nader en bepaal hom by meneer Wilhelm Visser, die baas van Grootfontein. Wilhelm Visser het baie goed geërf. Maar hy is nie ’n goeie boer nie, nie volgens gerugte nie en ook nie volgens sy bankstaat nie. Nie dat hy nie genoeg in materiële waarde besit nie, maar besittings betaal nie rekeninge nie en gee nie kontant in die sak nie. Hy sal Wilhelm Visser moet aanspreek oor sy oortrokke rekening …

Ena Murray Omnibus 38

Подняться наверх