Читать книгу Ena Murray Omnibus 38 - Ena Murray - Страница 8
5
ОглавлениеToe daar Maandagaand ’n klop aan haar voordeur kom, verwag sy dat dit Manie Bredenkamp kan wees. Maar toe die deur oopswaai, staan Emile de Jongh voor haar. Sy frons spontaan. Wat het sy tog nou weer gedoen waaroor hy haar wil kapittel?
Natuurlik is dit geen goeie begin vir enige besoek as die meisie onmiddellik ’n suur gesig opsit wanneer sy sien wie haar besoeker is nie. Op sy beurt wonder Emile ook skielik fronsend wat hy nou eintlik hier soek. Maar hy weet goed wat hom vanaand hierheen gebring het. Hy wou haar vertel van al die nuwe verwikkelinge wat op La Rhône gaan plaasvind. Dit behoort haar tevrede te stel … die snip.
“Naand, meneer De Jongh. Kan ek help?”
Hy vererg hom bloedig. En hy het sowaar nog met die gedagte gespeel om haar te vra om hom na die skoudans te vergesel. Manie het mos gesê daar is geen vaste verhouding tussen hulle nie, en hy het toe maar gedink … Maar nou … Wie wil so ’n suurpruim dans toe vat? Nie hy nie. “Jammer, suster Rust, ek is by die verkeerde deur. Tot siens.” Hy draai summier om en begin aanstap.
Miempie is ietwat verdwaas. Hardekwas, nè? Sy storm agterna. “Emile! Moenie kinderagtig wees nie.” Sy kry hom aan die mou beet en dwing hom tot stilstand.
Sy word ysig uit die hoogte aangekyk. “Ek? Kinderagtig?”
Sy trek haar asem in. Sy het genoeg bekommernisse dat Emile ook nog moet lol. “Goed dan. Moenie so liggeraak wees nie. Kom binne en vertel my waaraan ek hierdie besoek te danke het.”
“Ek dink nie ek is meer lus vir hierdie besoek nie.”
Dis nou haar beurt om haar te vererg. Sy staan terug. “Nou gaan dan in jou peetjie. Gaan soek geselskap by jou vele meisies. Wat het jy in elk geval hier kom soek?” Sy begin terugstap voordeur toe.
Maar dis nou háár arm wat vasgegryp word en sy word na hom teruggeswaai. “Jy weet, Miempie, jy is nie net snipperig en bemoeisiek nie, jy is nog onbeskof ook.”
“En jý is gedurig aan die fout vind. Wat het ek nou weer gesondig?” vra sy reguit, maar ongerus. Sou hy uitgevind het van haar besoek aan Martha se ouers?
“Het jy ’n skuldige gewete?”
“Nee!”
“Hoekom dan so sterk op die verdediging?”
Sy sluk. Sy is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Hy is nie om dowe neute hier nie. “Dan wil jy my wysmaak jy is hier bloot op ’n sosiale besoekie?”
“Ja.”
Haar oë straal haar ongeloof uit, maar hy bly koel terugkyk, en sy gee skielik bes, wys met die hand dat hy moet inkom en gee ’n stywe glimlaggie. “Goed. Kom in, Emile. Maak jou tuis.”
“Dankie.” Hy gaan sit en skuif hom gemaklik reg in die stoel – klaarblyklik van plan om sommer goed te kuier.
“Waaroor sal ons gesels?” vra sy toe sy ook gaan sit. Sy vou haar hande om haar knieë en kyk hom ondersoekend aan.
“Ek laat die keuse van ’n onderwerp aan jou oor.”
“O.” Sy maak keel skoon. “Gaaf.” Sy soek in haar verstand rond, kry skielik iets beet terwyl sy sy geamuseerde gesig ignoreer. “Kom ons gesels oor boerdery.”
Hy frons. Dan het Manie hom al voorgespring. Dis jammer. Hy sou haar graag eerste wou vertel het … die lig van verbasing en dan vreugde in haar oë wou gesien het. Hy knik. “Goed. Oor boerdery. Wat wil jy weet?”
“O … e … laat ek sien. Hoeveel groot lorries het jy?”
Hy lyk opreg verbaas, maar beantwoord die vraag kalm: “Twee.”
“Vervoer jy self jou goed? Ek bedoel na en van die stasie of die koöperasie of die mark?”
“Ja.”
“En die ander boere? Het hulle ook hul eie vervoer?”
“Party, ander nie. Ek neem aan jy wil weet of Manie ook lorries het?”
“Hoekom dink jy so?”
“Omdat ek weet jy stel baie in hom belang.”
“Jy weet nogal baie. Goed: Het Manie ook lorries?”
“Ja. Ook twee.”
“En so ook Grootfontein?”
“Nee, Wilhelm Visser maak gebruik van kontrakteurs.”
Haar oë trek peinsend saam. Dan kan haar vermoede mos juis wees … “Al die jare maar?”
“Ja.”
“Hoekom? Hoekom het hy nie ook sy eie lorries nie?”
“Omdat ’n lorriebestuurder baie meer verdien as ’n gewone plaaswerker. Hy kon nog nooit een kry nie, want hy betaal te min.” Daar is nou agterdog in sy oë. Hy begin agterkom sy probeer nie doelbewus snaaks wees nie. Iets skuil agter hierdie vrae. “Waarop stuur jy af, Miempie?”
Haar oë is ontwykend. “Nee, ek … vra sommer net. Lorries is tog deel van die boerdery, nie waar nie?”
Hy is sommer weer ergerlik. “Ek is nie ’n aap nie, Miempie! Ek het natuurlik nie die vaagste benul hoekom jy hierdie vrae stel nie, want ek sal nooit verstaan hoe jou verstand werk nie. Maar jy is weer met iets besig, ek kan dit sweer.”
Sy lag hom uit. “Moontlik. Nou is dit jou beurt om ’n onderwerp te kies. Waaroor wil jy gesels?”
“Oor die skoudans.”
“O? Wil jy by my weet watter een van die vele moet jy vra? Dis maklik. Toe ons kinders was, het ons ’n speletjie gehad … Wegkruipertjie het ons dit genoem. Een moet oë toehou terwyl die ander gaan wegkruip. Maar om te besluit wie die eerste sal wees om oë toe te hou, het ons iekel-okkel-blue-bottle gespeel en die een wat uiteindelik oorgebly het, moes oë toehou. Hoekom laat jy nie die klomp in ’n ry staan en dan iekel-okkel-blue-bottle jy hulle ook nie? Die een wat oorbly, vat jy dans toe. Maklik.”
“In hemelsnaam, Miempie! Jy is nog erger as my ma!”
“Maar dis ’n goeie plan, jy kan nie stry nie. En in watter opsig is ek erger as jou ma?”
Hy beteuel hom met moeite. “Ek is ernstig.”
“Waaroor?”
“Ek is besig om jou te vra om saam met my skoudans toe te gaan.”
“Asseblief.”
Hy sug. Hoekom verduur hy hierdie treitering? “Asseblief.”
“Hoekom?”
“Hoekom wat?”
“Hoekom vra jy mý?”
“Hoekom nie?” kap hy terug.
Sy meet hom met die oë. Dan antwoord sy op egalige toon wat die blits in haar oë weerspreek: “Omdat jy die verkeerde meisie soek om jou meisies mee te vermaak of jou te help om van hulle ontslae te raak.”
“Daar bestaan nie so iets nie!” verdedig hy driftig. “Om liefdeswil, daar is geen spesiale meisie of meisies in my lewe nie!”
“Dan is Susan Bankbestuurder nou jou enigste?”
“Nee! Sy is beslis nie my enigste nie.”
“En daar weerspreek jy jou weer.”
Sy oë waarsku saam met sy stem: “Dis nou genoeg, Miempie. Sal jy asseblief saam met my na die dans gaan?”
Sy aarsel, skud dan haar kop. “Dankie vir die uitnodiging, maar nee, dankie.”
“Mag ek vra hoekom nie?”
“Ek sal so onvanpas in jou geselskap wees soos … soos wat Maria volgens jou onvanpas in ’n doktersjas sal wees.”
Sy kake werk. “Jy het Maria op jou brein. Kom ons los haar uit hierdie gesprek uit. Hoekom dink jy jy sal onvanpas wees?”
Sy staan op, keer haar rug op hom en peuter met die boeke op die boekrak. “Ek sal nie inpas in jou soort geselskap nie. Dis al. Ek het nie die agtergrond wat jy en jou groep vriende het nie.”
Sy blik is skerp. “Ek vra jou bloot om saam met my te gaan dans. Dis al. Ek nooi jou nie na ’n geslagsregisteruitstalling toe uit nie.”
Sy draai haar onwillig na hom terug. “Of ons dit nou wil erken of nie, maar agtergrond speel ’n geweldige rol in hierdie lewe. In ’n groot mate beheer dit jou lewe.” Sy glimlag skeef. “Miskien daarom dat ek so ’n aanvoeling vir Maria het. Verskoon my dat ek haar naam weer noem, maar … in baie opsigte is ons lewens so eenders.”
“Ag onsin, Miempie!”
“Dis nie onsin nie. Ek weet ook nie wie my pa was nie. Sy is eintlik beter daaraan toe as ek. Sy ken haar ma. Ek weet ook nie wie my ma was nie. Ek is uit ’n tehuis vir ongehude moeders gegee vir aanneming. Vandag het dinge baie verander, maar destyds het selfs nie eens die ouerpaar wat ’n baba aanneem, geweet wie die kind se biologiese ouers is nie. Ek weet dus nie wie my ouers was of is nie. Ek weet eintlik nie wie ek werklik is nie. Waar ek vandaan kom of waar ek uitgekruip het nie. Die enigste agtergrond wat ek het, is die liefde en sorg wat twee liewe aanneemouers my gegee het. Toe hulle dood is, was daar niks en niemand oor nie. Maria is ook ’n produk van onsekere afkoms. Selfs al is die Ontugwet reeds in 1985 afgeskaf, wou haar biologiese pa nie met Martha getrou en hulle kind ’n naam gegee het nie. Voor 1985 was dit teen die wet. Maar in die meeste gevalle was die mans wat hulle toe in so ’n situasie bevind het, net te dankbaar om agter daardie wet te skuil. Andersyds het ek weer ’n groot voordeel bo Maria gehad – my vel is wit. Maar daar is baie ooreenkomste tussen ons twee voorkinders. Baie ooreenkomste.”
Emile staan op. Hy voel ongemaklik, weet nie heeltemal hoe om die situasie te hanteer nie. Dis die eerste keer in sy lewe dat hy voor so iets te staan kom. Maar sy hart gaan uit na haar. Hy stap nader. “Ek is jammer om dit alles te hoor, Miempie. Ek bedoel, ter wille van jou. Maar …”
Haar oë spot liggies. “Maar noudat jy alles weet, verstaan jy hoekom ek nie kan saamgaan nie.”
Sy hande lê skielik op haar skouers. “Ek verstaan nog steeds glad nie. Jou agtergrond is nie vir my belangrik nie. Wat vir my belangrik is, is die mens wat jy is.”
Haar oë bly spot. “Dan verstaan ek jou uitnodiging nog minder, want ek weet presies wat jy van my dink.”
“Miempie, asseblief …”
Sy draai haar onder sy aanraking uit. “Nee, Emile. Kom ons los dit net daar. Ek sal nie saam met jou gaan nie. Vra die bankbestuurder se dogter. Jy sal die aand baie meer saam met haar geniet as saam met my.”
Dis van teleurstelling dat hy sommer weer kwaad is. “Jy hoef nie vir my ’n maat vir die aand te soek nie. Ek kan dit self doen, dankie.”
“Gaaf. Nou moet jy my asseblief verskoon. Ek het nog ’n paar dingetjies om te doen voordat ek kan gaan slaap.”
“Goed. Maar jy jaag my verniet weg. Ek weet self wanneer ek moet loop. Goeienag.”
Op pad terug plaas toe is hy die een oomblik so kwaad dat hy lus voel om die motor net daar om te swaai en terug te ry na die woonstel en vir haar te sê: Na die duiwel met jou agtergrond en die komplekse en verwronge idees wat jy daaroor het. Jy gaan saam met my dans toe en klaar! Hy het dan nog nie eens vir haar vertel wat hy haar graag wou vertel nie! Die volgende oomblik weer voel hy sy hart saamtrek in simpatie. Dit moet iets afgrysliks wees as jy absoluut niks van jou herkoms weet nie. Elke mens wil weet waar sy wortels lê. Jy wil weet uit watter soort aarde jy voed, goed of sleg. Maar om sommer net ’n suurstofplant te wees, iemand wat in die lug hang … ’n Sensitiewe mens sal dit veral moeilik verwerk. Hy hou voor hulle huis op La Rhône stil, skakel die motor en die ligte af. Sy pa en ma het al gaan slaap. Alles is rustig. En vanaand, in hierdie oomblik, besef Emile de Jongh eers werklik hoe bevoorreg hy is. Weet hoe goed God vir hom is. Tel hy sy seëninge … en staan beskaamd. Hy ken sy eie ouers. Hy het die voorreg gehad om deur hulle grootgemaak te word, om hulle vandag nog te ken en by hom te hê. Hy het ’n ouboet, ander familie, ’n geslagsregister. En daar is La Rhône … sy erfenis. Hy kan eerlik sê sy erfdeel is vir hom mooi. Daar is ander wat niks van die lewe geërf het nie … Baie ander … mense soos Miempie en Maria …
Hy sug saggies, spreek sy ma in sy gedagtes aan: Ek het probeer, Ma – maar hierdie bloudruk-Miempie van ons is baie koppig. Dit sal maar bars gaan om haar in die kraal te kry.
Miempie is die volgende dag op pad terug dorp toe toe sy ’n vurk in die pad nader. Sy kyk stip. Ja, dit is Maria op pad terug plaas toe ná die skooldag. Maar daar skort iets. Iets in haar houding laat Miempie nie by die vurk afdraai dorp toe nie, maar die ander pad kies. Sy hou langs Maria stil, sien dan dat sy wel loop en huil.
“Maria! Wat is dit?” Maria kyk op en Miempie se frons verdiep. Iets ernstigs het gebeur. “Hoekom huil jy?”
Sy kom nader, probeer die tranevloed keer. “Dis die kinders by die skool, suster. Hulle het ook met ’n boikot begin. Die voorbokke het ons huis toe gejaag. Gesê ons moet loop. Daar gaan nie meer skoolgegaan word nie.”
Miempie se hart ruk. Andrew Koopman se vrese is bewaarheid.
“Maar dis dan so naby die eksamen! Wanneer moet julle begin skryf?”
“Oor ietsie meer as ’n maand, suster. Maar hulle sê daar sal ook nie eksamen geskryf word nie. Hulle sê as ons nie luister nie, sal hulle die skool afbrand. Hulle het al van die skoolboeke verbrand. Hulle sê dis gemors. Hulle wil niks daarmee te doen hê nie.”
“Jou boeke ook?” vra Miempie ontsteld.
“Nee, suster. Ek het myne gegryp en gaan wegsteek in die toilet. Maar ek kon dit nie waag om dit saam te bring nie. Hulle sal dit afneem en ook uitbrand.” Die trane begin weer loop.
Miempie sit haar arm om Maria se skouers. Daar is niks wat ’n mens kan doen nie. Sy probeer paai, weet dit is maar ’n skrale troos: “Ek sal probeer om jou boeke in die hande te kry, Maria. Luister, ek mag jou nie met die kombi huis toe neem nie. Stap nou maar so gou jy kan terug La Rhône toe. En moenie jou so ontstel nie. Wie weet, môre het alles dalk oorgewaai.”
“Nee, suster. Hulle het gesê die een wat môre skool toe kom, gaan moeilikheid kry.”
“Ag, dis sommer praatjies,” probeer sy haarself én Maria gerusstel. “Dinge sal weer môre onder beheer wees. Ek sal intussen jou boeke in die hande probeer kry. Toe, loop nou gou.”
Sy ry reguit na die polisiekantoor toe sy op die dorp kom. Daar is die sersant baie gaaf. Miempie verduidelik wat sy wil hê.
“Ek sal kyk wat ek kan doen, suster. Niemand word op die terrein toegelaat nie, want daar is dreigemente van brandstigting.”
“Ek het so gehoor. Maar as julle net vir my die boeke kan kry, asseblief. Dis êrens in die meisies se toilette versteek. Ek sal later weer hier ’n draai kom maak. Baie dankie.” Sy skud haar kop. “Ai, as die kinders net wil besef hulle doen hulleself die meeste skade aan.”
“Dis net belhamels wat die ander opsweep en uiteindelik ly die onskuldiges die meeste daaronder.”
“Kon julle nog nie van die belhamels in die hande kry nie?”
“Ons is op hulle spoor, maar die kinders is bang om te praat. Hulle word natuurlik ook gedreig.”
Toe Miempie ná werk weer ’n draai daar maak, is sy innig dankbaar om Maria se boeke onbeskadig terug te vind, nog net so vasgedraai met die stuk rou riem. Sy bel dadelik La Rhône toe en vertel Laura de Jongh wat gebeur het en dat sy die boeke veilig teruggevind het.
Emile se ma is geskok. “Dis die eerste woord wat ek daarvan hoor. Natuurlik sal ek Maria dadelik laat weet haar boeke is veilig. Baie dankie, Miempie. Jy is darem ’n ou staatmaker. Ek hoop tog net hierdie ding sal gou onder beheer gebring word. Dit sal ’n vreeslike teleurstelling vir Maria wees as sy nie haar matriek kan skryf nie.”
Miempie se stem is vol emosie: “Dít sal nie gebeur nie.”
Maar toe sy wegdraai van die telefoon, weet Miempie dat so iets moontlik is, veral as die dreigement uitgevoer word om die skool ook af te brand. En dit in hierdie kritieke en deurslaggewende tyd in Maria se skoolloopbaan … Die arme kind …
Skoolboikotte en vandalisme wat ook na die platteland versprei, is daardie aand hoofnuus op televisie. ’n Diepe swaarmoedigheid oorval Miempie. Wat … wát moet van hierdie land word? wonder sy. Die enigste oplossing lê in opvoeding en onderwys, dink sy. Sy is dankbaar toe Manie bel.
Hy kan die pessimisme in haar stem hoor toe sy antwoord. Toe hy so na die nuus op die televisie gekyk het, het hy dadelik geweet sy sou haar dit baie aantrek. Miempie gee werklik vir dié mense se welsyn om. “Ek voel nie vanaand lus vir my eie geselskap nie. Ek nooi jou om saam met my te gaan uiteet.”
Sy voel ook nie vanaand lus om alleen met haar bekommerde gedagtes te sit nie en aanvaar die uitnodiging onmiddellik.
Hulle kry ’n lekker hoekie in die restaurant wat hy kies.
“Moenie so verskriklik bekommerd lyk nie! Môre is alles weer normaal,” sê Manie bemoedigend.
Sy glimlag swak. “Ja. Dis wat ek ook vanmiddag vir Maria gesê het. Ek het haar al huilende op pad La Rhône toe gekry.”
Hy knik. “Maria het baie vir haar skoolgaan opgeoffer. Dit moet ’n swaar slag vir haar wees. Ek onthou haar as ’n dogtertjie – hoe sy elke dag kaalvoet dorp toe gehardloop het op pad skool toe. Ek was van die begin af in die koshuis op die dorp. Maandagoggende wanneer Pa my inneem en Vrydagmiddae wanneer hy my kom haal, het ons haar langs die pad gekry. Dan het Pa haar opgelaai. Ek onthou ek was altyd getref deur die intelligente, wakker kyk in haar oë. En sy het altyd so mooi dankie gesê wanneer sy afgelaai word.”
Miempie het ’n knop in die keel, neem eers ’n slukkie wyn. “Ja, Manie. Twaalf jaar lank het daardie kind elke dag in alle weersomstandighede twaalf kilometer skool toe geloop. Ses heen en ses terug. Só ’n kind verdien om gehelp te word in die lewe … en sy verdien nie wat vandag gebeur het nie.”
“Nee, dis waar. Ek voel ook baie jammer vir haar. En die baie ander soos sy. Daar is baie kinders wat verskriklik opoffer vir hulle geleerdheid. Dis nie net Maria wat kilometers ver na die naaste skool moet loop nie. Daar is talle ander. In ’n mate het ek begrip vir hulle opstand. In die meeste wit skole is daar geen tekort nie. Boeke, apparaat, alles wat nodig is, is beskikbaar. Waardeer kinders ooit voorregte wat so maklik in hulle skoot val? Hulle aanvaar dit as vanselfsprekend, of wil selfs nie eens regtig leer en vorder nie.”
Soos Yolande Visser, dink Miempie vlugtig, maar swyg. Sy kyk Manie vraend aan: “Jy sê jy het begrip vir hierdie ding wat vandag gebeur het?”
“Ja. O, ek besef dat daar baie opstokery aangaan. Dit ly geen twyfel nie. Maar aan die ander kant weer … ons dra ook skuld aan dit wat vandag gebeur het.”
“Omdat hulle minderwaardige onderwys gekry het?” sê-vra Miempie.
“Juis. Kinders wat elke dag moet opoffer, het op ’n dag besef die standaard van húlle onderwys is hoegenaamd nie gelykstaande aan dié van die wit kinders nie. Dit móét hulle bitter maak, Miempie.”
“Ek het ook begrip daarvoor, maar om skole af te brand … Nou het hulle regtig niks nie.”
“Ja. Dis ook waar. Maar wanneer ’n grootmens voel hy is verkul, wanneer frustrasie hoog in hom brand, kan hy dit selde nugter hanteer. Wat moet jy dan van kinders verwag? Hier is ons kos. Kom ons gesels nou oor aangenamer dinge.”
Sy tel haar mes en vurk op. “Waaroor?”
“O, daar is baie goeie nuus waaroor ek kan praat.”
“Soos?”
“Soos hoe ek en Emile ’n hele omwenteling in ons boerderye gaan teweegbring. Ons gaan ’n gemeenskapsontwikkelingsvereniging stig wat allerlei projekte gaan begin om die plaaswerkers te bemagtig en …”
“Sowaar?” Haar oë verhelder. “Dis wonderlike nuus, Manie! Dit is iets wat ons plaaswerkers in die distrik al soveel jare lank moes ontbeer.” Sy kyk hom skerp aan. “Jy sê jy en Emile gaan so iets hier begin?”
“Ja. Eintlik het Emile die bal aan die rol gesit.”
“Regtig?” Sy klink skepties, maar hy kom niks agter nie. Opgewonde vertel hy van al die nuwe verwikkelinge en Miempie sit doodstil en luister. “Emile is ’n man wat ver vooruit kan dink, hoor. Ons gaan nou eers die vereniging aan die gang kry. En sodra alles op dreef is, is daar ’n groot projek wat ons gaan aanpak.”
“Wat is dit?”
“Emile voel ons moet iets meer vir ons werkers gee as net ’n televisiestel in ’n skuur op ’n Saterdagaand. Die mense moet in hulle vrye tyd iets meer opbouends doen. Op die dorp is daar geriewe vir gesonde, opbouende ontspanning, maar ons het niks op die plase vir die plaasmense nie. My plaas lê taamlik sentraal en Emile het voorgestel dat ons daar ’n sokker- of rugbyveld aanlê en ’n speelpark vir kinders en miskien selfs ’n netbal- of tennisbaan as daar genoeg belangstelling is. Sulke dinge. Goed wat gesonde ontspanning sal verskaf en hulle sal weghou van allerhande kattekwaad. Wat dink jy?”
Haar oë blink. “Ek dink dis ’n fantastiese idee.”
Hy glimlag breed. “Ek dink ook so.”
“Later kan ’n mens selfs aandag gee aan die gedagte om ’n ontspanningsaal vir hulle te bou. As hulle bereid is om self die meeste van die werk te doen, sê op Saterdagmiddae daaraan te gaan bou, behoort dit nie so uitermate duur te wees nie.”
“Miempie, dis ’n oulike idee!” Hy kyk haar goedkeurend aan. “Emile het ’n punt gehad.”
“Ja?”
“Hy het gesê voordat ons enigiets doen, moet ons twee, ek en hy, eers vrou kry. Hy is reg. Ons het die vroulike kreatiwiteit beslis nodig. Jy moet volgende keer by wees wanneer ek en Emile weer planne bespreek.”
Sy lag afwerend. “Dan sal daar nooit iets tot stand kom nie. Ons baklei gedurig.”
“Regtig? Waaroor?”
“Ek … weet self nie. Oor alles. Ons baklei net. Nee, los my maar uit. Ek sal sommer deur jou met voorstelle kom. Soos byvoorbeeld met die saal. Julle kan speletjies kry waarmee die jonges hulle kan besig hou. Jy kan selfs toelaat dat daar gedans word, natuurlik sonder alkohol. Julle kan van die ouer garde aanstel om toe te sien dat alles ordelik verloop. O, jy het my nou ook op hol met hierdie blink planne van julle!”
Hy glimlag ingenome. “Moenie bekommerd wees nie. Jy sal betrek word. Daarvoor gaan ek sorg.”
Op La Rhône bespreek ouers en seun tydens aandete die aand se televisienuus.
“Dis darem jammer dat so iets nou moes gebeur het,” laat Laura dan hoor.
“Ja.” Emile se frons is diep. “Miempie Rust bekommer haar natuurlik nou mal hieroor.”
“Hoekom bel jy haar nie?”
Hy lyk half onwillig. Sy ma weet nie op watter trant hulle uitmekaar is nie. Hy voel nog altyd ’n bietjie suur daaroor. Maar dan staan hy op. “Miskien moet ek maar.”
Maar daar is nie antwoord by Miempie se woonstel nie.
Die telefoon se gelui word stil net toe Miempie die voordeur oopstoot. “Ag, wie dit ook al is, sal weer bel as dit dringend is. Sit, Manie. Ek gaan maak vir ons koffie. Baie dankie. Dit was ’n heerlike aand en die ete was puik.”
“Plesier. Maar ek wil jou ’n gunsie vra.”
“Sê maar.”
“Sal jy asseblief saam met my na die skoudans gaan?”
Sy hou haar baie doenig met die koffiekoppies. “Dankie, Manie, maar … nee.”
Hy lyk eerlik verbaas. “Hoekom nie? Of het jy al ’n ander …?”
“Nee. Nee. Dis net … ek hou nie eintlik van deftige affêres nie. Ek sal ontuis voel in die plaaslike hoëlui se geselskap.”
Hy lag haar uit. “Twak! Jy sal omtrent al die mense ken. Die hele boeregemeenskap sal daar wees en jy was al op elkeen se plaas. As jy nie reeds iemand anders belowe het nie, gaan ek nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie.”
Sy kyk hom pleitend aan. “Asseblief, Manie. Moet nou nie hierdie wonderlike aand bederf nie. Wees nou gaaf en aanvaar nee. Asseblief.”
“In daardie geval kan ek ook nie gaan nie.”
“Hoekom nie?” vra sy uit die veld geslaan.
“Ek wil geen ander meisie vra nie, en alleen sal ek nie gaan nie. Dis nogal jammer. Ek dink ek gaan die wisseltrofee vir die beste jaaroudbul wen … en dit word op die dans oorhandig.”
Sy kyk hom tussen lag en kwaad wees aan. “Manie! Dis afpersing!”
“Dit is. Maar as dit al manier is om jou te oorreed …” Sy gesig word ernstig. “Ek maak nie grappies, Miempie. Ek gaan nie sonder jou nie.”
“Manie, ek … asseblief …”
Sy weet nie hoe dit gebeur nie, maar toe hy by die voordeur uit is, het sy ingestem om saam te gaan … en sy wonder wat ’n sekere meneer gaan kwytraak as sy saam met Manie by die dans opdaag. Sy probeer haar skuldgevoel onderdruk. Dit is mos nie dat sy onder ’n verpligting was om vir Emile ja te sê nie. ’n Meisie kan mos kies met wie sy dans toe wil gaan …
Die volgende dag bel sy meneer Koopman, maar daar is geen antwoord in sy kantoor by die skool nie. Dan is die skool gesluit. Die boikot duur voort …
Toe sy die laaste plaas vir die dag besoek, kry sy die boodskap: Sy moet dadelik na La Rhône bel. Met ’n gevoel van onheil doen sy dit onmiddellik. Dis Emile wat antwoord.
“Ek het ’n boodskap gekry ek moet La Rhône toe bel. Wat …?”
“Ja. Hoe ver is jy met jou werk vir die dag?”
“Dis my laaste plaas.”
“Goed. Ek sal jou by jou woonstel op die dorp kry.”
“Het daar iets gebeur? Ek kan mos met my eie motor …”
“Nee. Ek wil nie hê jy moet op jou eie uitkom La Rhône toe nie. Dis te gevaarlik. Ek kry jou op die dorp. Jy ry saam met my en ek sal jou weer terugbring.”
“Te gevaarlik? Die ses kilometer La Rhône toe? Emile, wat gaan aan? Wat het gebeur?”
“Maria het vandag teen alle bevele in tog skool toe gegaan.”
“Maar die skool is toe. Die polisie bewaak die geboue. Daar was nie skool vandag nie.”
“Ja, ek weet. Sy het daar rondgedwaal en toe maar weer teruggekom. Op pad hierheen is sy deur kwaaddoeners aangeval.”
“Nee!”
“Die polisie vermoed dis van die belhamels wat agter die opstokery sit. Maria is baie ontsteld en sy wil niemand naby haar toelaat nie. Sy wil net vir jou hê.”
“Het hulle haar baie seergemaak?” Sy voel siek van skok.
“Sy is verkrag, Miempie … deur al vyf.”