Читать книгу Plekkie in die son - Ena Murray - Страница 4
Оглавление1
“A, Karen! Dis goed om jou weer te sien. Kom sit, my kind. Hoe gaan dit met jou?”
Ou dokter Dekker, of liewer, dokter Jan – soos hy binne en buite die grense van Muldersrivier bekend is – kyk die jong, blosende vroutjie voor hom stip aan, maar met ’n vonkeling in sy oë. “Dit kan nie wees dat jy my vandag in my professionele hoedanigheid kom besoek het nie. Jy lyk blakend gesond!”
Karen Viljoen kyk hom glimlaggend aan met ’n teer blik in haar oë. Oom Jan is, vandat sy maar kan onthou, ’n dierbare huisvriend. Ná haar ouers se dood was hy die man na wie sy met haar probleempies en vrae gegaan het. Hy was ook die man wat haar die dag met haar troue die kerk ingelei het. Sy antwoord nou kopskuddend:
“Ek voel blakend gesond, maar ek kom spreek u wel in u professionele hoedanigheid, oom Jan. Maar voordat ons daarby kom, wil ek net eers ’n bietjie baklei. Hoekom sien ek deesdae so min van oom Jan?” laat sy gemaak kwaai hoor.
Jan Dekker maak ’n handgebaar.
“Ag, jy weet hoe dit gaan, Karentjie. Ek is nie meer vandag se kind nie en my praktyk is groot. Daar is net nie meer tyd vir speel en ontspanning nie.”
Karen frons.
“Kon oom nog nie ’n vennoot in die hande kry nie?”
“Ek is weer aan die onderhandel met een, maar of dit op ’n ronde nul soos die voriges gaan uitloop, weet ek nie. Maar terloops, ek het darem al ’n paar keer vinnig daar by jul huis ingedraf, en dan was julle nog elke keer uithuisig. Dus is dit darem nie net my skuld dat jy so min van my sien nie!” lag hy, maar versober toe hy haar ernstige blik gewaar. “Ek het dit nie as ’n verwyt bedoel nie, my kind. Ek sê maar net.”
“Ek weet, oom Jan, maar dis juis …” Sy aarsel en kyk hom vas aan met haar groot, grys oë. “Ons is omtrent nóóit meer by die huis nie. Dis net ’n gejaag …” Sy kyk af na haar hande. “Kan ek regtig met u praat? Het oom Jan tyd om te luister?”
Die dokter frons liggies en skuif terug in sy stoel, sy oë stip op haar.
“Natuurlik, Karen. Praat maar.”
“Ek het vandag hierheen gekom omdat ek vermoed dat ek ’n baba verwag, oom Jan, en …”
Sy gesig verhelder in opregte blydskap.
“Maar dis mos wonderlike nuus, Karen-kind! Julle is mos darem al ’n hele ruk getroud, nie waar nie? Ek het al begin wonder wanneer julle met ’n gesin gaan begin.”
“Ja, ons is al vyf jaar getroud. Maar dis juis die ding, oom Jan. Ek … ek weet nie of dit so verstandig is dat ek en Otto met ’n gesin moet begin nie.”
Jan Dekker leun vooroor, openlik bekommerd.
“Maar, Karen, ek verstaan nie. Jy wil tog seker ’n kindjie hê?”
“Met my hele hart en wese, oom Jan. Daar is niks wat ek méér in die lewe begeer nie, maar …” Sy sien die onuitgesproke vraag in sy oë en vervolg vinnig: “Moenie een oomblik dink dat daar moeilikheid tussen my en Otto is nie. Nee, allermins! Dis net dat daar … net nie meer tyd in ons huwelik is nie. Dis net ’n gedurige gejaag van die een ding na die ander, die een sosiale byeenkoms na die ander. En as ons nie die aand uitgaan nie, dan het Otto mense oorgenooi na ons toe. Ek weet nie wanneer laas het ek ’n stil, rustige aand saam met Otto tuis deurgebring nie. Ons is net nooit meer alleen nie!”
Haar oë kyk hom pleitend aan. “Dit klink so asof ek nou van my man sit en skinder, maar dis nie die geval nie, oom Jan! Dis net dat … dat …”
“Nee, Karen, ek begryp. Ek erken dat ek hierdie ding al ’n hele rukkie gelede opgemerk het, en begin bekommerd raak het daaroor. Ek weet dat dit net ondenkbaar geword het om ’n byeenkoms te reël sonder jou en Otto. Julle is beslis die gewildste paartjie op Muldersrivier. Ek weet ook watter toeloop van mense daar by julle aan huis is. Jy het al vir jou naam verwerf as die sjarmantste en gewildste gasvrou van die dorp en omtrek.”
“Dit mag so wees, oom Jan, maar dit begin nou vir my te veel raak. Ek sien Otto se standpunt heeltemal in. Ek is nie onredelik nie. Ek besef dat dit vir sy werk noodsaaklik is om sosiaal te wees. Maar dis tog nie net die onderneming wat van belang is nie. Ons huwelik en ons lewe saam in een huis het tog ook waarde. Maar dis of daar gedurig iets is wat Otto rondjaag. Hy is so rusteloos van geaardheid. Hy kan nie een oomblik stilsit nie.
“Ek weet dat baie mans hom sy onuitputlike energie beny. Baie van my vriendinne sal wat wil gee dat húl mans ook so aantreklik, energiek en gewild soos my man moet wees. Maar ek kan eenvoudig nie langer in hierdie dolle vaart voortstroom nie.”
“Beslis nie, Karen,” stem die ou dokter saam. “Veral nie noudat jy verwag nie. Ek sal beslis met Otto praat. Jy hoef nie bekommerd te wees nie; ek sal dit baie taktvol doen. Ek dink ook jy is verniet so pessimisties. As Otto eers besef dat dit noodsaaklik geword het vir jou, sowel as die baba, sal hy vanself rem aandraai. Otto het jou baie lief, Karen. Dit is geen geheim nie.”
“Ek weet,” antwoord sy met sagte oë, haar mond teer. “En ek het hom ook baie lief. Otto is vir my alles. Miskien, wie weet, is dit ’n goeie ding dat ek verwag. Miskien sal ’n baba in die huis hom rustiger stem, ’n kalmerende invloed op hom hê. ’n Mens kan tog onmoontlik met ’n baba in die huis elke aand uithuisig wees.”
“Ja, ek dink jy kan die gedagte dat Otto ’n baba as ’n remskoen sal beskou, vergeet. Enige normale man wil ’n kind hê, ’n erfgenaam, ’n seun. Otto is nie anders as ander mans nie.”
Hulle glimlag vir mekaar, en Karen laat sag hoor: “Dankie, oom Jan. Wat sou tog van my geword het sonder u? Wil u my nou ondersoek?”
’n Rukkie later sê Jan Dekker glimlaggend, en met ’n stil geluk in sy oë, want hierdie jong vroutjie is baie na aan sy hart: “Gaan nou huis toe en vertel vir Otto hy sal oor ses maande pa wees. En van nou af moet jy jou oppas, my kind. Nie weer ’n voet op die tennisbaan nie, hoor? Kyk hoe lyk jy al verbrand,” laat hy gemaak streng hoor en vee met sy vinger oor haar boarm, waarteen ’n vlek by haar rok se mousgat uitsteek.
Terwyl Karen op pad terug huis toe is, is daar ’n frons tussen haar donker wenkbroue. Miskien moes sy nie haar hart so teenoor oom Jan uitgepraat het nie. Hy kan miskien onder die indruk kom dat sy en Otto nie meer gelukkig is nie, en dis tog nie die geval nie. Weliswaar moet sy erken dat die ekstase van die eerste huweliksjaar die afgelope tyd taamlik afgeneem het, maar dit is mos maar soos dit met alle huwelike gaan, nie waar nie?
Dis net die boeke oor huweliksvoorligting en dies meer wat beweer dat daardie ekstatiese gevoel van die eerste huweliksmaande ewigdurend behoort te wees. Dit gebeur nie regtig nie. Maar diep in haar hart weet sy sy het Otto Viljoen nog net so lief soos op haar troudag, vyf jaar gelede. Sy weet ook met ’n gelukkige sekerheid dat haar man háár ook nog bemin, en dat daar geen ander vrou in sy lewe is nie ondanks die feit dat die vrouegeslag hom uiters aantreklik vind. Dis maar net hierdie gejaagdheid wat haar hinder, en dit sal ook opgelos word met die koms van hul baba.
Skielik, die eerste keer sedert sy die vermoede gekry het dat daar ’n baba op pad is, voel sy gelukkig oor dié feit. ’n Baba sal hul lewe en hul huwelik bestendiger en rustiger maak. Dis al ’n paar maande lank dat sy worstel met die probleem van wat sy moet doen sodat hierdie gejaagdheid nie ’n wesenlike gevaar vir haar huwelik inhou nie.
Karen glo vas dat elke egpaar tyd moet inruim vir hul huwelik en vir mekaar. Daardie voorbeeld het sy in haar ouers se huwelik gesien, ook met hoeveel sukses dit bekroon was. Haar pa was nie net die besigste prokureur op die dorp nie, maar ook burgemeester van Muldersrivier, en hy en sy vrou het hul plekke vol gestaan in die samelewing. Tog, ondanks die druk sosiale lewe, het hulle altyd genoeg tyd gehad vir hul huislike lewe, vir mekaar en vir hul dogter. Karen het in haar kinderjare nooit die gevoel gekry dat haar ouers te besig was vir haar nie.
Sy onthou nog so goed daardie wonderlike kaggelaande wat hulle saam deurgebring het. Wanneer laas het sy en Otto ’n aand so saam geniet, saam in een ou groot leunstoel soos haar pa en ma, turend in die dansende vlamme van die kaggelvuur – rustig, tevrede, gelukkig om net bymekaar te wees …?
Otto moet altyd aan die gang wees, altyd omring van mense. Sy florerende sakeonderneming getuig van sy dinamiese persoonlikheid, sy knap sakebrein en sy onuitputlike energie. Ook is hy ’n gedugte teenstander op die tennis- en gholfbaan, ’n onverbeterlike gasheer en ’n uiters aantreklike en gawe vriend. Vir haar was hy nog altyd ’n goeie eggenoot en ’n tere minnaar. Hy was en is die spil waarom haar hele wese draai, en op die oog af het sy alles in die lewe ontvang – ’n pragtige huis, ’n aantreklike man; sy self is met ’n besondere uiterlike skoonheid bedeeld; daar is geld genoeg, ’n wye vriendekring … en nou, om die kroon te span, ’n baba aan die kom. Wat meer kan ’n vrou in hierdie lewe verlang? En tog huil sy oor ’n aand voor die kaggel!
Karen glimlag wrang. So is die mens seker maar. Daar sal altyd iets wees wat kortkom, iets waarna hy of sy hunker. Watter mens is ooit werklik tevrede?
Sy swaai haar motor by die rylaan in, wat uitloop op haar pragtige blomtuin met hul dubbelverdiepinghuis daar agter. Dis amper tyd dat Otto ook moet huis toe kom. Sy sal solank die water kook vir koffie. Dan sal sy moet begin kyk na die aandete. Otto het gedurende die dag gebel om te sê die Vissers kom vanaand by hulle eet.
Sy het ook net pas die koffie klaar gemaak toe Otto die tuinpaadjie opgehardloop kom van die motorhuis af. Hy groet haar vinnig in die verbygaan.
“Hallo, skat. Hoe gaan dit?” Hy wag nie op ’n antwoord nie, want hy weet mos dit gaan altyd goed. Waaroor sal sy vrou dan ook kla? Soos altyd beantwoord Karen ook nie die onnodige vraag nie, maar sê:
“Kan ek jou koffie maar skink?”
“Asseblief. Skink solank sodat dit kan afkoel terwyl ek aantrek. Ek en Tommie-hulle wil gou ’n potjie gholf inkry voordat die son onder is.”
“Goed.” Karen draai om en verdwyn in die kombuis. Daar is ’n stilheid, amper ’n strakheid op haar gesig toe sy met die koffie in die leefvertrek verskyn en dit op die tafeltjie neersit. ’n Oomblik later kom haar man die vertrek ingewaai.
“Die Vissers sal seker nie voor sewe-uur kom nie. Dit gee my darem genoeg tyd.” Hy sluk die koffie haastig, neem sy vrou om die middel en druk haar ’n oomblikkie styf teen hom vas. “Hmm,” snuif hy liggies in haar nek en soen haar teen haar oor. “Nog lief vir my?” vra hy soos dikwels.
“Nee, geen druppel meer nie!” is haar gewone antwoord, en hulle glimlag in mekaar se oë. Haar hande gly teen sy bors op om om sy nek te sirkel, asof sy hom nog ’n rukkie langer by haar wil hou. Maar sy arm het reeds losgegly van haar middel af en hy draai weg. Haar hande val terug langs haar sye.
“Tatta, skat. Sien jou netnou.”
“Tot siens, Otto.”
Sy staar hom deur die groot venster agterna terwyl hy op ’n drafstap in die rigting van die motorhuis afsit. Haar grys blik volg hom peinsend totdat die motor in die rylaan af verdwyn. Sy sal hom maar vanaand, wanneer die Vissers weg is, haar nuus vertel. Daar was nie nou tyd nie.
Tyd …
Met ’n ligte suggie buk sy af en tel die leë koppie op.
In die maande wat volg, neem die jong Viljoens se lewens ’n ander patroon aan, tot Karen se grootste vreugde en dokter Dekker se heimlike verligting. Hul lewe raak rustiger, en gedurende die wintermaande van Karen se wagtyd kry sy selfs haar kaggelaande waarna sy so verlang het.
Weliswaar is hulle nie altyd alleen nie en ontvang nog dikwels besoek van belangstellende vriende, maar Otto doen alles in sy vermoë om Karen nie te vermoei nie. Die paar aande wat hulle wel onthaal, vervul Beatrice Horn, Otto se persoonlike sekretaresse, die rol van die gasvrou, en sy doen dit so bekwaam dat Karen haar oor niks hoef te bekommer nie.
Teen Otto en Beatrice se hulpvaardigheid en bederwery moet sy dikwels protesteer: “Maar ek verwag maar net ’n baba; ek is nie verlam nie!” Die paar keer dat Otto noodgedwonge ’n geselligheid van die een of ander aard moet bywoon, vergesel Beatrice hom sodat Karen vroeg in die bed kan kruip en genoeg rus kan kry. Daarvoor is Karen baie dankbaar, want namate haar tyd nader kom, voel sy nog minder lus as gewoonlik vir sulke geleenthede. Sy weet nie wat sy sonder Otto se bekwame sekretaresse sou gedoen het nie.
In hierdie maande kom sy en Otto ook baie nader aan mekaar as ooit tevore. Soms voel dit vir Karen asof sy haar man nou eers werklik leer ken. Sy voel hoe ’n nuwe, hegte band tussen haar en Otto gedurende die wagtyd begin groei, en sy besef met ’n dankbare hart dat haar vrese ongegrond was dat Otto ’n baba as ’n remskoen sal beskou.
Karen was nog altyd ’n mooi vrou met haar donker hare, die groot grys oë en pragtige vel, maar in hierdie maande raak sy werklik beeldskoon.
Toe, eindelik, is die lang wagtyd verby en die nuwe klein Otto Adriaan Viljoen word aan sy trotse pa en hul talryke vriende bekendgestel. Watter woorde sal die gevoel van vreugde, van aanbidding, van dankbaarheid in Karen Viljoen se hart kan beskryf toe sy haar eersteling aan haar hart druk?
Die eerste paar weke ná haar terugkeer uit die kraaminrigting is hemel vir Karen. Tog besef sy dat sy nie vir altyd in die klein sirkel van haar man en kind kan bly lewe nie. Daar wag ook verpligtinge buite, wat sy as Otto se vrou nie mag ontduik nie. Karen begin weer haar man vergesel na sosiale byeenkomste, en nou is dit Beatrice wat met groot gewilligheid aanbied om klein Otto saans op te pas wanneer sy gewilde pa en ma uitgaan.
“Ek voel so skuldig, Beatrice. Dit voel vir my ons maak misbruik van jou. Miskien wou jy ook vanaand uitgegaan het,” sê Karen een aand toe sy en Otto weer gereed is om na ’n dinee te vertrek, en Beatrice reeds haar plek met ’n breidingetjie onder die staanlamp in die Viljoens se smaakvolle sitkamer ingeneem het.
Beatrice glimlag gerusstellend en skud haar kop.
“Glad nie, Karen. Gaan gerus. Dis vir my lekker om klein Otto op te pas. Hy is so ’n dierbare dingetjie.”
Karen kyk die ander meisie ’n oomblik skerp aan. Sy en Beatrice het die afgelope maande groot vriendinne geword, en tog besef sy dat sy baie min van haar af weet. Sy kan ook nie meer so jonk wees nie; sy moet al begin aanstap dertig toe. Hoekom sou sy nooit getrou het nie? Sy is nie juis mooi nie, maar tog baie aantreklik en het ’n besonderse smaak wat klere betref. Sy is ook goed opgevoed, intelligent en baie bekwaam. Skielik voel Karen ’n jammerte in haar opstoot. In elke vrouehart is daar seker die stukkie wat ma is, ook in dié van Beatrice Horn, die knap beroepsvrou. Karen buk spontaan af, soen haar en sê sag:
“Baie dankie, Beatrice. Daar is geen ander mens aan wie ek my kind met soveel vrymoedigheid sal toevertrou as aan jou nie. Ek weet my klein Otto is veilig by jou.”
Beatrice se stem klink half onseker toe sy gedemp antwoord:
“Dankie, Karen. Dis ’n baie mooi kompliment. Ek het hom reeds so lief asof hy my eie is.”
Dis drie maande ná klein Otto se geboorte toe Karen weer by dokter Dekker se spreekkamer instap. Sy kyk hom effens skuldig aan toe sy voor sy lessenaar plaasneem.
“Ek weet ek is baie laat vir my nageboortelike ondersoek, oom Jan, maar ek was tot dusver so aan die gang en ek voel so gesond dat ek eintlik skoon daarvan vergeet het. Ek neem klein Otto darem gereeld kliniek toe. Hy groei soos ’n spons in water!”
“Ek is bly, Karen. Daar skort niks met daardie knaap nie. Maar gaan ontklee jou solank. Ons moet darem net seker maak dat jy ook weer piekfyn is.” Terwyl hy haar ondersoek, sê hy: “Ek doen sommer ’n deeglike ondersoek van kop tot tone, terwyl jy nou hier is.”
“Dis alles reg, oom Jan. Dit kan geen kwaad doen nie.” Sy kyk toe terwyl hy haar bloeddruk neem en vra ongeërg: “Is alles reg met die bloeddruk?”
“Honderd persent. Hoekom?”
“Nee, ek vra maar. Ek het die afgelope tyd agtergekom dat my vingerpunte soms voel of hulle doodgaan; oom weet, so sonder gevoel. Ek het maar gedink dis sommer ’n bietjie moeilikheid met my bloeddruk. Maar as daar niks mee skort nie, is dit seker maar ’n kleinigheidjie wat weer vanself sal regkom.”
“Laat ek jou vingers sien.” Hy voel oor haar vingerpunte. “Voel jy iets?”
Sy frons.
“Nee … e … nie juis nie.”
Hy streel oor haar tone.
“En hier?”
“Nee. Ek het dit nog nie agtergekom nie, maar ek voel beslis niks as u daaraan raak nie.”
“Van wanneer af het jy begin agterkom dat jou vingerpunte gevoelloos is?”
“Ek kan nie presies sê nie. Ek verbeel my nou dit moet al ’n hele rukkie wees, maar ek het nie juis aandag daaraan gegee nie.”
“Hm. Sit maar regop.” Sy blik val op haar rug en hy laat fronsend hoor: “Wanneer het jy jou so verbrand in die son? Jou hele rug is vol vlekke.”
Sy kyk hom verbaas aan.
“My rug was laas in die son voordat ek agtergekom het ek verwag. Dis seker maar die ou sonbrand wat nou so maak.”
Hy buk nader aan haar ontblote rug en druk liggies met sy vingers daarop.
“Hier is ’n plek wat beslis nie na sonbrand lyk nie. Dis effens opgehewe om die rand. Is dit gevoelig as ek so druk?”
Karen frons ook nou.
“Nee, ek voel glad nie dat u druk nie. Wat kan dit wees, oom Jan? ’n Soort omloop? Dit het my nog nooit gehinder nie. Ek was nie eens bewus daarvan dat ek so ’n plek op my rug het nie!”
“Karen, gee jy om as ek my vennoot inroep om net hierna te kom kyk?” vra dokter Dekker, en Karen knik dadelik.
“Maar natuurlik. Ek het gehoor u het toe eindelik ’n vennoot in die hande gekry.”
“Ja, en hy is nogal besonder knap. Ek roep hom net.” Ná ’n oomblik kom hy met ’n jong man binne en hy stel hom voor as dokter Kok. Sy vriendelike glimlag verdwyn toe hy oor Karen se rug buk. Hy draai ’n skerp puntjie van ’n stukkie watte en streel daarmee oor die vlekke, maar dis duidelik dat sy geen gevoel daarop het nie. Toe kielie hy op ’n gesonde stukkie vel en sy kan hom dadelik sê waar dit is. Sy fyn doktershande betas ook haar nek, en sy oë beduie dokter Dekker na die een kant van haar nek, waar ’n opgehewenheid sigbaar is wat lyk soos ’n senuwee wat verdik is.
“Mevrou, gee jy om as ek ’n paar velsmere neem?” vra hy, en sy kyk hom ondersoekend aan, die eerste keer ’n bietjie bekommerd.
“Nee, glad nie, maar hoekom? Skort daar iets?”
Hy glimlag gerusstellend.
“Nie noodwendig nie, maar ek hou daarvan om ’n deeglike ondersoek te doen, en dit sluit smere in.”
Karen en dokter Jan Dekker is stil terwyl die jong dokter ’n oomblik later vyf smere neem: aan haar voorkop, haar oorlel, haar wang, haar voorarm en haar bobeen. Toe glimlag hy weer. “Jy kan jou nou maar aantrek, mevrou. Ek sal jou laat weet sodra ek die uitslag van die smere gekry het. Dit was aangenaam om jou te ontmoet.”
Toe hy uit die vertrek is en Karen weer aangetrek voor Jan Dekker se lessenaar sit, kyk sy hom fronsend aan.
“Daardie dokter vermoed iets, oom Jan. Skort daar iets met my vel?”
Dokter Dekker glimlag gerusstellend en sit sy arm om haar skouers.
“Moet nou nie spoke begin opjaag nie, my kind. Ons moet net sekerheid kry oor wat dit is, en dan kan ons dit dokter, nie waar nie? Ons bel jou sodra ons die uitslag van die laboratorium gekry het. Waarskynlik is daar net ’n buisie salf nodig. Vergeet nou maar eers daarvan. Ek kan jou nou ook iets gee om aan te smeer, maar aangesien jy sê dat dit nie hinderlik is nie, is dit nie nodig nie.”
’n Gerusgestelde Karen stap by die dokter se spreekkamer uit, en op daardie oomblik stap die ouer dokter ongenooi sy jong vennoot se kantoor binne. Hy tref hom by sy boekrak aan, waar hy in ’n dik boek staan en blaai.
“Wat vermoed jy by mevrou Viljoen?” vra hy sommer op die man af.
Die jong dokter kyk op, sy oë ernstig.
“Sê eers vir my wat u diagnose is, dokter. Hoekom het u mý ingeroep?”
Dokter Dekker neem op die kant van die lessenaar plaas.
“Ek was ’n bietjie dronkgeslaan,” erken hy. “Ek weet nou nog nie presies wat om te dink nie.”
Die jong dokter hou die dik doktersboek oop na sy ouer kollega toe.
“Gaan lees hierdie hoofstuk, dokter.”
Jan Dekker neem die boek by hom en staar na die opskrif boaan die bladsy. ’n Lang oomblik is dit doodstil in die vertrek. Toe kyk hy op, ontsetting op sy gesig, en sê onomwonde:
“Dit kan nie wees nie, Kok!”
“Ek hoop u het gelyk, dokter. Ek hoop dit met my hele hart … ter wille van haar.”
Twee dae later kom ’n onthutste Karen en ’n ewe onthutste Otto die spreekkamer binnegestap. Anders as ander dae is daar vanmiddag geen glimlag op die ou dokter se gesig te sien nie toe hy hulle elkeen ’n stoel aanbied. Otto kan nie langer stilbly nie.
“Ek en Karen begryp nie eintlik hierdie dringende versoek dat ons u dadelik moet kom spreek nie, oom Jan. Wat is die moeilikheid?”
Dokter Dekker se lippe pers eers saam voordat hy opkyk en ’n weervraag stel:
“Het Karen jou vertel dat sy ’n gevoelloosheid in haar vingerpunte en tone ondervind, en dat sy vlekke op haar rug het?”
“Wel, ja, maar … dis mos seker nie vreeslik ernstig nie? Ek bedoel, sy voel nie juis siek nie. Sy kla oor niks nie.”
Karen is doodstil. Iets, iets onverklaarbaars binne-in haar het saamgetrek in gespanne afwagting. Haar grys oë blink skielik soos twee vlamme in haar gesig toe sy tussenin praat.
“Die uitslag van die smere wat dokter Kok geneem het, het gekom, nie waar nie, oom Jan?”
Teësinnig dwaal sy blik van Otto se gesig na dié van die jong vroutjie voor hom. Waar hy die moed vandaan haal om in daardie grys oë te kyk, weet hy nie, en tog hou hulle hom soos ’n magneet gevange. Hy knik en dwing sy oë af na die verslag voor hom.
Otto Viljoen frons. Daar is iets in die atmosfeer wat hy nie kan plaas nie, iets wat skielik ingesluip het, iets wat hom eensklaps, die eerste keer in jare, bang laat voel.
“Wel?”
Sy vraag val soos ’n knal in die stilte – bevelend, skielik beangs. Nog kan die ervare ou dokter hom nie sover bring om die geuiterde vraag en die ongeuiterde vrae in die twee paar oë voor hom te beantwoord nie. Daar móét ’n fout wees! sê hy weer vir homself. En tog weet hy daar is geen fout nie. Sulke foute kom net nie voor nie.
Karen se vingers knel die stoelleunings só styf vas dat haar kneukels wit deurskyn, en haar vraag is net ’n fluistering toe sy haar man se vraag opvolg: “Wat makeer ek, oom Jan?”
Jan Dekker kyk op. Die eerste keer in sy loopbaan as dokter moet hy die oordeel vel:
“Jy het leprose, Karen.”
Stilte. ’n Lang, lang stilte. Toe is Otto, ’n wasbleek Otto, op sy voete. Onbeheerste woede straal uit sy oë, maar agter daardie woede kan die ou dokter ook onbeheerste angs raaksien.
“Hoe durf u … hoe durf u beweer dat Karen … dat Káren … my vrou … melaats is!”
Dokter Dekker laat sy kop ’n oomblik in sy hande sak. Toe staan hy op.
“Ek is jammer. Die Here hoor my, ek is innig jammer, maar … dis die waarheid! Karen is melaats!”