Читать книгу Plekkie in die son - Ena Murray - Страница 6
Оглавление3
Dis twee swyende mense wat met die lang rylaan tussen amper bloeiende jakarandas afry tot waar Otto eindelik stilhou. Nog steeds woordeloos sit en kyk hulle na die twee siersteenpilare aan weerskante van die hek met die boog wat bo-oor span. Genadendal.
Die veiligheidsbeampte in ’n netjiese kakie-uniform kom hulpvaardig nader. Otto se stem klink kortaf, amper bot toe hy die nodige verduideliking gee.
“Ons het ’n afspraak met dokter Louw.”
“Meneer kan maar deurgaan,” sê die man dadelik, en lig die knip van die hek op.
“Weet jy miskien waar ons dokter Louw sal kry? Waar is die kliniekgebou?” vra Otto toe hy langs hom verbykom.
“Meneer ry net met hierdie laning bome saam totdat meneer by ’n klein gebou kom. Voor op die deur staan Navrae. Hulle sal daar vir meneer sê waarheen om te gaan.”
Otto knik en trek stadig weg, sy oë strak voor hom gerig, maar intens bewus van die stil mensie langs hom.
En langs hom maak Karen haar oë toe. ’n Veiligheidsbeampte voor die hek! Hier is geen vrye deurgang van binne na buite of van buite na binne nie, want dis Genadendal dié – die woonplek van melaatses! ’n Ligte siddering trek deur haar terwyl sy weer die episode van ’n rukkie gelede beleef. Otto het ’n jong verkeerskonstabel in die middestad nader gewink om die pad verder te vra.
“Ons soek die pad uit na Genadendal. Kan jy my sê …?”
“Genadendal? O, die plek van die melaatses?”
“Ja.”
“Hemel, wat wil jy dáár gaan maak, meneer?” Die seun, want hy was nog maar ’n blote kind, het Otto eers verbaas, toe nuuskierig aangekyk. Sy blik het na Karen gedraai en sy het ineengekrimp in haar hoekie. Dit het vir haar gevoel asof sy hardop kan uitskreeu: Kan jy dan nie sién wat ek dáár wil gaan maak nie?
Otto se stem het bitsig opgeklink:
“Ek dink nie dit gaan jou aan nie, meneer. Ek wil net die pad daarheen weet.”
“O ja, natuurlik, meneer. Ekskuus, meneer.” Hy het sy verbasing bedwing en die pad beduie.
Karen voel nou weer hoe dit in haar saamtrek. Hoe kan sy Otto kwalik neem dat hy skaam is om aan ’n onbekende bloedjong man te erken dat hy sy vróú na Genadendal neem? Hul koms hierheen is tot dusver ’n groot geheim. Selfs Sanna, wat vandag vir klein Otto moet versorg, weet maar net dat haar werkgewers die dag stad toe is. Dis net dokter Jan en sy jong vennoot wat weet dat Otto Viljoen en sy vrou vandag soos twee skelms by die hekke van ’n melaatse-inrigting gaan insluip en in hul harte sal bid dat die wêreld nie so klein moet word dat hulle hier of in die omtrek ’n bekende raakloop nie.
Otto slaak amper hoorbaar ’n sug van verligting toe die man in die navraekantoor hom kalm vra waarmee hy kan help. Hy het half verwag om ook hier die nuuskierigheid en verbasing, en ja, bejammering in die ander se oë te lees. Die man se stem klink egter so doodnormaal dat dit amper as ’n skok tot hom kom, so asof hy elke dag van sy lewe mense van buite in hierdie kantoor sien instap.
’n Rukkie later hou hulle stil op ’n parkeerterrein wat heerlik koel beskadu word deur jakaranda- en ander bome. Nóg man nóg vrou sien egter iets raak van hierdie goed beplande kompleks. Al waarna hul oë soek, is die kliniekgeboutjie, omring deur ’n paar ander losstaande geboue. Hulle is vaag bewus van heelwat voetgangers op en langs die nou teerstraatjies; dat mense in wit jasse en uniforms heen en weer by deure in- en uitbeweeg.
Eers toe hulle voor die toe gaasdeur van die kliniek kom, kyk hulle van die grond af op.
Op daardie oomblik druk ’n Engelssprekende verpleegster die deur van binne oop en vra:
“Kan ek u help?”
“Ons het ’n afspraak met dokter Louw,” herhaal Otto.
“Hy is in sy kantoor. Dis in die gebou langsaan. Die dame daar sal u verder help.”
Otto draai ongeduldig weg, maar swaai weer om toe Karen hom nie volg nie. Sy kyk na hom op met smekende oë.
“Otto … ek kan nie … Ek wil nie … hier … Otto, neem my huis toe!”
Otto slaan sy arm beskermend maar tog ook magteloos om die rukkende skouertjies, en die suster se donker, ervare oë rus vlugtig op die vlek by die mousgat. Haar stem verraai nie die innige simpatie in haar hart nie toe sy sê:
“Ek sal dokter Louw gaan sê u is hier.”
“Karen, Karen, my vroutjie, ons kan nie nou teruggaan nie. Ons sal moet …” Otto praat sag en dringend.
“Ek wil huis toe gaan … na my huis en na my kind toe, Otto!” smeek sy snikkend. “Ek kan nie hier bly nie! Ek sal sterf! Selfs … selfs die lug ruik anders hier … Het jy dit geruik, Otto? Selfs die lug ruik … anders …”
Die lang man in die wit doktersjas kom staan by hulle en Otto voel ’n sterk hand op sy skouer druk.
“Stap binne, meneer Viljoen. Eerste deur regs.”
Otto kyk nie eens op toe hy, met sy arms nog om die snikkende Karen, binnestap en werktuiglik die bevel gehoorsaam nie. Hy laat haar in ’n stoel neersak en neem op die armleuning plaas, sy kop oor hare gebuig terwyl sy hom krampagtig aan die baadjielapelle vasklou. Sy oë is toe, en daar is druppels sweet op sy bleek voorkop. Die drang om sy vrou in sy arms te raap, met haar na die motor te hardloop en van hierdie plek af weg te ry, die wye wêreld in, is byna onweerstaanbaar. Maar hy weet dit sal onvolwasse en baie onverstandig wees.
Die man agter die lessenaar bestudeer hulle met sagte blou oë, ’n wêreld van begrip in die blik wat op hulle rus. Hierdie smart ken hy. Dis geen vreemde toneel wat hom afspeel nie. Die rou hartseer wat die jong man en sy vroutjie op hierdie oomblik ondervind, het die afgelope paar jaar deel van sy daaglikse bestaan geword. Tog gryp dit hom elke keer opnuut aan, maak dit seer.
Toe ’n hand met ’n glas water en ’n pil voor hom gehou word, neem Otto dit en laat Karen dit sluk tussen die snikke deur, sonder dat sy eintlik weet dat sy dit doen. Die dokter neem voor die venster plaas met sy rug na hulle, sy oë somber starend oor die groen grasperke voor hom.
Dis eers ná ’n hele rukkie dat die kalmeerpil sy werk begin doen en Karen haar nat gesig van haar man se bors af oplig. Die eerste wat sy sien, is die groot gestalte in wit voor die venster. Die dokter lyk vir haar soos ’n oordeelsgesant uit ’n ander wêreld.
Sy gesig is net ’n dowwe vlek voor haar toe hy begin praat, maar sy stem dring tot haar deur. Eers luister sy onwillig na hom, omdat sy moet; later omdat die onbekende stem met die teer ondertoon vir haar die eerste ligpunt van hoop skilder in hierdie donker nag van wanhoop waarin sy verdwaal het.
“Mevrou Viljoen, ek sal netnou self weer toetse doen vir my eie bevrediging, maar daar bestaan geen twyfel volgens jou laboratoriumtoetse dat jy wel leprose het nie. Ek is baie jammer dat ons in sulke omstandighede moet ontmoet, en tog is daar geen rede tot wanhoop nie, want leprose kan vandag genees word.”
Otto kyk die man strak aan.
“Jy bedoel dit werklik, dokter? Jy sê nie maar net so om …”
“Nee, meneer Viljoen. Dit is so. Leprose word vandag genees. Weliswaar kan ek nie nou sê hoe lank dit gaan duur om jou vrou weer gesond te maak nie, maar dit sal gebeur. Ek moet jou egter sê dat leprose van pasiënt tot pasiënt verskil en dat dit vir een miskien ’n maand of twee maande of ses maande duur om daarvan te genees. Vir ’n ander duur dit miskien tien jaar of … selfs ’n leeftyd.”
“ ’n … Leeftyd …” sê Karen met ontsetting, en dokter Tertius Louw vervolg vinnig:
“Ja, maar dis die baie gevorderde gevalle. Hoe gouer ’n geval onder ons aandag kom, hoe gouer is daar resultate. Party pasiënte is ook aansteeklik, ander nie, en dié wat aansteeklik is, moet natuurlik in afsondering gehou word ter wille van die mense daar buite. Dit is met elke ander aansteeklike siekte die geval. Ek wil julle asseblief vra om leprose nie as ’n siekte afsonderlik van enige ander siekte te beskou nie. Dis heeltemal verkeerd; soos talle ander siektes word dit deur ’n kiem gedra.
“Baie mense beskou leprose as ’n vloek, ’n soort bonatuurlike ding wat op jou neerdaal. Dis nie so nie. Die grootste vloek aan leprose verbonde, is die vrees wat die mens daarvoor het, ’n buitensporige vrees wat geen grond het nie.”
Karen kyk hom verbysterd aan. Wil hierdie man voorgee dat dit niks is om melaats te wees nie? Hy moet van sy sinne af wees!
Dis of die dokter haar gedagtes lees, want hy vervolg:
“Dis waar, mevrou: die meeste siektes in ’n gevorderde stadium is gewoonlik aanstootlik. Jare gelede, toe die mediese wetenskap nog nie so ver gevorder het soos vandag nie, was alle siektes iets om te vrees, iets om ’n afsku van te hê, nie net melaatsheid nie. Maar intussen het die mediese wetenskap ontwikkel. So het ons vandag inenting teen pokke – ’n afgryslike, walglike siekte wat die afskuwelikste verminking meebring indien dit nie behandel word nie. En jy dra geen buitensporige vrees vir pokke in jou hart om nie, of hoe? En wat van kanker? So oud soos die berge self en seker een van die gedugste siektes waarmee ons te doen het, en een waarvoor daar nog geen onfeilbare geneesmiddel gevind is nie, veral in sy gevorderde stadium … en tog is jy banger vir melaatsheid wat gewoonlik baie min pyn meebring en genees kán word. Kan jy nou sien, mevrou, dat jy geen grond het vir hierdie ontsettende vrees vir die siekte nie?”
Karen sluk swaar. Met haar hele hart wil sy gryp na hierdie dinge wat hy haar vertel het, en tog is sy bang … Die ingewortelde vrees by die mensdom vir melaatsheid is ook in haar hart gewortel.
Otto staar die dokter fronsend aan. Ook hy glo moeilik wat hy hoor.
“Maar die Bybel sê …” begin hy aarselend.
Dokter Louw hou sy hand op om hom tot swye te bring.
“Ek weet. En nou moet jy dit wat ek nou gaan sê, nie as kettery beskou nie. Ek loop my elke keer teen dieselfde muur vas wanneer ek ’n nuwe pasiënt opneem. Min glo my as ek hulle vertel dat melaatsheid nie so buitensporig gevrees hoef te word oor wat ‘die Bybel sê’ nie …
“Jy en die deursneemens se kennis van melaatsheid strek sover as wat julle daarvan in die Bybel lees. Die tragedie van die hele ding is dat jy meestal glad nie van melaatsheid lees nie, al word dit in die Bybel so genoem.
“Sover dit geskiedkundig vasgestel kan word, was daar geen melaatsheid in Israel in die dae van die Ou Testament nie … nie dit wat ons vandag melaatsheid noem nie. In die Hebreeuse skrif is velsiektes van verskillende soorte onder die naam terui Saraath saamgevoeg. Hieronder is velsiektes soos lekkerjeuk (jeuksiekte), omloop, psoriase en ander saamgevat, en ons Bybelvertalers het hierdie terui as melaatsheid vertaal. Die siekte wat ons vandag melaatsheid noem, is nie wat in die Bybel onder hierdie groepering voorkom nie.
“Onder meer word daar gepraat van melaatsheid van huise, van klere … en ons ken die siekte nie só nie. Mirjam is byvoorbeeld uit die laer gestuur, ‘melaats, wit soos sneeu’, en Gehasi, ‘melaats, wit soos sneeu’. Wat ons vandag melaatsheid noem, is nooit wit nie. Jy kan dus sien dat ’n wanindruk gewek is, en so is ’n tradisionele weersin deur die eeue teen hierdie besondere siekte opgebou. Daar het ’n stigma aan melaatsheid begin kleef wat die siekte nie verdien nie. Melaatsheid is afkomstig van ’n kiem waarmee ’n mens in aanraking kom, hoe en waar weet ’n mens gewoonlik nie. En tog wek, om een voorbeeld te noem, sifilis, wat ’n ‘vuil’ oorsprong het, nie die weersin in die mens op soos wat leprose doen nie. Die stigma wat eintlik eersgenoemde toekom, kleef aan laasgenoemde.”
Sy oë gaan beurtelings van die een na die ander. “Dan moet julle ook in ag neem dat leprose baie moeiliker aansteek as baie van die ander siektes waarmee julle daagliks in aanraking kom. Tering is byvoorbeeld baie aansteekliker as melaatsheid, en tog sal julle met groter vrymoedigheid by ’n teringinrigting instap as wat julle vanoggend hier ingery het, nie waar nie?”
Hy sien die erkenning in Otto se oë, en sug saggies. Soos talle kere tevore voel hy weer asof iets binne-in hom wil losbreek.
Die algehele onkunde van die gewone mens in verband met leprose is soos ’n doring in sy vlees. In verband met ander siektes word die mensdom gedurig opgevoed. So word die eerste gevaartekens van kanker byvoorbeeld gereeld onder die openbare aandag gebring, sodat daar gou en vinnig in die beginstadium opgetree kan word. Maar die onderwerp van melaatsheid word soos die pes vermy, amper asof dit iets onbehoorliks is.
As hierdie pragtige jong vroutjie byvoorbeeld kennis gedra het van die eerste tekens van melaatsheid, soos wat sy stellig kennis dra van die eerste tekens van borskanker, sou sy miskien nou al gesond en terug by haar huis gewees het. Maar nou … Hy is nie van plan om dit vir haar te sê nie, maar sy is reeds in ’n redelik gevorderde stadium van leprose. Karen Viljoen het al van ’n jaar tot agt jaar lank leprose volgens die simptome. Tog is hierdie feit eers ’n dag gelede geopenbaar! Ontsettend! En hy is magteloos om iets daaraan te doen.
Hy weet dat die kennis wat deur enkeles opgedoen word, nooit daar buite versprei word wanneer ’n pasiënt terugkeer na die samelewing nie. Geen mens, wat een keer in ’n melaatse-inrigting was, loop daarmee te koop nie. Nee, hy sterf liewer voordat hy aan die mensdom gaan vertel dat hy melaats was. Hulle sal nie glo dat daar genesing vir melaatsheid kan wees nie. Een maal melaats, altyd melaats … al het ’n dokter jou ’n honderd keer gesond verklaar.
Soos so dikwels in die verlede, loop hy hom weer teen die muur van onkunde vas. Hy sug diep en staan op.
“Ek wil jou in elk geval self deeglik ondersoek. Daar is die kleedkamer. Gaan trek jou asseblief solank uit.” Sy stem klink nou saaklik, en Otto verdwyn by die deur uit na buite.
Hy staan rusteloos op die grasperk rond. Binne-in hom maal die woorde van die dokter, maar dis of die feite wat genoem is, nie tot sy gesonde verstand wil deurdring nie. Sy verstand sê hom dat hy tog sekerlik die woord van hierdie man, wat daagliks met leprose werk, kan glo, maar die tradisionele weersin teen hierdie siekte behou die oorhand.
Toe ’n paar pasiënte daar verbykom – die een vrou se verminkte, verwronge hande duidelik sigbaar, die ander se gesig oortrek met ’n afskuwelike swelsel sodat haar uitdrukking satanies en walglik vertoon – maak hy dat hy in sy motor kom, en sonder dat hy dit doelbewus bedink, draai hy die vensterruit op.
’n Lang ruk later kom ’n verpleegster hom sê dat die dokter hom wil spreek. Toe hy binnestap, sit dokter Louw agter sy lessenaar, en ’n bleek Karen wag hom swygend in. Hy stap dadelik na haar toe en lê sy arm om haar skouers. Hy weet dat daar in haar hart nog ’n vae, floue hoop geflikker het dat hierdie man vandag sal vasstel dat die diagnose foutief was en dat sy nie leprose het nie. Die woordelose wanhoop in haar lieflike grys oë vertel hom dat ook daardie vlammetjie finaal uitgedoof is.
Dokter Tertius Louw kyk op.
“Daar is geen twyfel nie, meneer Viljoen, jou vrou het leprose,” val die verdoemende woorde. “Ek is ook bevrees dat sy nie as ’n buitepasiënt behandel sal kan word nie, want die toetse wys dat sy aansteeklik is.” Karen voel hoe Otto se arm om haar skouers met ’n ruk styf trek en stadig weggly. Sy sien, deur ’n waas, hoe hy opstaan en in ’n ander stoel neersak. Ook sý stem klink skielik vir haar vreemd toe hy vra:
“Wat presies beteken dit?”
“Dit beteken dat sy verplig sal wees om hiér behandeling te ontvang tot tyd en wyl sy nie meer aansteeklik is nie. Daarna kan sy as ’n buitepasiënt behandeling ontvang.” Toe nie een van hulle iets te sê het nie, vervolg hy: “Jy kan vandag teruggaan huis toe, mevrou, en reëlings gaan tref. Sal drie dae genoeg wees daarvoor?”
Drie dae … Sy knik. Sy weet nie hoe lank dit duur om afskeid te neem van alles wat vir jou dierbaar op die aarde is nie. Sal dit drie dae duur?
“Net een ding nog. Ter wille van jou kind … ek verstaan jy het ’n baba … moet ek jou waarsku om hom so min moontlik te hanteer. Kinders is baie vatbaar vir leprose.”
Karen staar na die man voor haar, en die eerste keer in haar lewe haat sy ’n mens. Hoe kan hy met so ’n kalm en besadigde stem sê dat sy nie meer aan haar eie kind mag vat nie? Sy sien nie die innige jammerte in die blou oë raak nie. Sy hoor nie die begrypende toon in sy stem nie. Dis of die vreeswekkende kiem wat binne-in haar liggaam gestalte aangeneem het, skielik in hierdie man hier voor haar beliggaam word. Hy is vir haar die simbool van die marteling waarin sy sedert gister gedompel is. Hy is vir haar Satan self wat haar genadeloos en meedoënloos wil wegskeur van alles wat vir haar dierbaar is.
Otto kyk hom strak aan.
“Dokter, ons baba … Daar bestaan nie gevaar dat hy … dat hy …” Hy kan die woorde nie oor sy lippe kry nie, maar dokter Louw stel hom dadelik gerus.
“Dis sterk te betwyfel, maar hy, sowel as jy en almal wat die afgelope jare in noue aanraking met jou vrou was, sal natuurlik deeglik ondersoek en getoets moet word.”
“Die afgelope jare?”
“Ja. Dit sal natuurlik op taktvolle wyse gedoen word met so min publisiteit daaraan moontlik. Veral in so ’n klein gemeenskap soos julle dorp s’n sal dit as ’t ware met die strengste geheimhouding geskied. Maar dit sal gedoen móét word, want jou vrou moes die kiem van iemand gekry het, en daardie bron moet opgespoor word as dit nog bestaan. Dit sal jy tog seker begryp? Die moontlikheid dat mevrou Viljoen al agt jaar gelede by iemand aangesteek het, is nie uitgesluit nie. Dis een van ons grootste probleme met leprose, dat dit so lank duur om sigbare tekens te toon. Jy kan vandag die kiem kry en die tekens van leprose kan eers oor twee of vyf of selfs agt jaar op jou liggaam verskyn!”
“Dokter bedoel dat ek … dat ek al jare lank melaats is?” Daar is ontsetting op Karen se gesig.
“Ek is bevrees dit is so, mevrou. Presies hoe lank gelede jy leprose opgedoen het, kan ek nie sê nie, maar dis nie ’n maand of selfs ’n paar maande nie. Jy loop nie van gister af met daardie vlekke op jou rug nie, nie waar nie? Dis ook mos nie van gister af dat jy voel jou vingerpunte en tone is sonder gevoel nie?”
“Ja, maar …” Sy swyg. Die gedagte dat sy miskien al jare lank met hierdie vreeslike ding in haar rondloop, is te veel vir haar verstand om te verduur. Ook Otto lyk geskok, en hy kan ’n koue rilling nie keer nie.
“Dit sou miskien nog ’n ruk langer geduur het voordat dit by jou vasgestel is, as dit nie vir jou baba was nie. Indien ’n vrou ’n leproselyer is, en sy raak swanger, is dit of die basille aktiewer word, en dan slaan dit kort ná die baba se geboorte uit, soos ook in jou geval. Dit was maar daar, maar dit het skielik opgeflikker ná jou baba se geboorte.”
“Maar dan … dan moet my kind mos ook daardie kiem in hom hê!” sê-vra sy fluisterend, en langs haar laat Otto sy gesig in sy hande sak.
Nee, Here, nie my kind ook nie! pleit hy in sy hart.
“Nee, mevroutjie, leprose is nie oorerflik nie. Geen baba is nog ooit met ’n leprosekiem in hom gebore nie. Dit kan ek jou honderd persent waarborg. Maar jou kind kon dit ná die geboorte by jou gekry het, en daarom moet ons seker maak. Mense se weerstand verskil ook. Daar loop baie mense buite die hekke van Genadendal rond wat leprose onder lede het, maar hulle het ’n natuurlike weerstand teen die siekte, en dié is so sterk dat hul eie liggame die kiem bemeester en tot niet maak. Hulle weet nie eens dat hulle ooit leprose gehad het nie. Dan kry ’n mens ’n tweede groep wie se weerstand nie so sterk is nie, maar daar is tog ’n mate van weerstand. Dit noem ons die tuberkuloïede tipe. Die derde groep is die lepromateuse tipe, waar daar geensins sprake van weerstand is nie. In albei hierdie laaste groepe is daar die aansteeklike en nie-aansteeklike gevalle. Daar is ook nog die grensgevalle waar daar eers weerstand was, maar later word die natuurlike weerstand deur die siekte afgebreek. Die laaste groep is die polineuritiese tipe wat oënskynlik net die senuwees aantas, maar later oorslaan na een van die eersgenoemde twee tipes.
“Ek sou sê jou geval dui op laasgenoemde tipe en het nou begin ontwikkel in die rigting van die tuberkuloïede tipe. Maar dis bloot ’n klomp mediese feite en terme wat nie in hierdie stadium vir jou van belang is nie. Gaan nou huis toe, gaan tref jou reëlings en kom terug hierheen. Onthou, hoe gouer jy na Genadendal kom, hoe gouer kan jy weer hier uitgaan.”
Hy help haar op, en ’n oomblik lank kyk hy in die grys oë af. Dat so ’n lieflike mens weggeruk moet word van haar gesin en haar gemeenskap om hier in afsondering te kom wegkruip … miskien jare lank! Maar Tertius Louw weet ook dat hy hier geen uitsondering durf maak nie, hoewel sy hele hart begeer om haar ’n bottel vol pille te gee en haar terug te stuur na haar man en haar kind en die lewe wat sy geken het.
Hy sug. Plig is soms wreed en genadeloos. As hierdie pragtige jong vrou hom haat, soos die grys oë hom vertel, vanweë die dinge wat hy vir haar móét sê, dan kan hy dit maar net gelate aanvaar. Die beloning vir die wreedheid van vandag sal kom wanneer sy weer eendag by hierdie hekke kan uitry … en help ons, Heer, dat dit gou sal wees! bid hy in sy hart.
Dokter Tertius Louw draai om toe die motor tussen die jakarandabome verdwyn. Hy is al byna by haar toe hy die matrone gewaar.
“O, matrone, ek wou jou spreek. Kyk tog asseblief dat een van ons huisies reggemaak word. Ek verwag oor drie dae ’n nuwe pasiënt – ’n vrou.”
“Goed, dokter. Mevrou Greyling wag op jou.”
“Dankie.”
’n Rukkie later kyk hy na die jong vroutjie voor hom.
“Bettie, jy weet wat jy makeer, nè?”
“Ja.” Haar fluistering is skuldig en sy slaan haar oë neer.
Die hoeveelste keer hierdie middag sug die dokter en vee moeg oor sy voorkop.
“Hoekom … hoekom, in hemelsnaam, skep jy vir jou ekstra smarte?”
’n Oomblik is dit doodstil. Toe begin die tenger skouertjies ruk en die donker oë wat na hom opkyk, swem in trane.
“Ek is al agt maande hier, dokter. Ek is ook ’n mens met gevoel, al is ek melaats! Ek het my man lief en hy vir my. Verwag jy dat ons net gedurig na mekaar moet kyk wanneer hy hier kom? Ek is jonk, net twintig. Ek …” Toe word daar net gebroke snikke gehoor en dokter Louw sê stil, sy een hand op ’n rukkende skouer:
“Ek veroordeel nie, Bettie. Ek begryp. Ek weet …” Hy swyg magteloos. Natuurlik weet hy dat ’n melaatse mens net soveel gevoel het soos elke ander mens. Natuurlik weet hy dat hy teen alle wette van die natuur in verwag dat hierdie jong vroutjie en haar man mekaar nie mag bemin wanneer hy op sy kort besoekies hier kom nie. Agt maande … Dis ’n lang tyd in ’n jong mens se lewe. Dis ’n lang tyd vir ’n man en ’n vrou wat mekaar liefhet, om te wag.
“Maar jy weet tog wat die uiteinde sal wees, Bettie. Jy weet tog dat jy nie jou baba sal kan behou nie, dat die kind dadelik weggevat sal word.”
“Ja, ek weet, maar … dit maak nie saak nie!” Sy kyk hom uitdagend met stromende oë aan. “Tot dan sal ek darem iets hê, iets van Jan wat hier by my sal agterbly wanneer hy elke keer weggaan.”
Hy is weer stil. Wat sal dit help om hierdie vroutjie wat haar eersteling verwag, te vertel dat ander voor haar ook al so gesê het: dat dit geen saak maak nie. Hulle sê almal so totdat die oomblik aanbreek dat hul kind, gebore uit hul liggaam, weggeneem word en hulle maar net weer alleen hier agterbly met ’n nog groter verlange en smart.
Voor sy geestesoog verskyn ’n ander gesig met twee grys oë … Sy het ook ’n baba, ’n eersteling. Ook sy moet oor drie dae afskeid neem … wanneer sy Genadendal toe moet kom, na hierdie dal van genade; hier waar elkeen hom of haar maar net kan beroep op die Groter Genade, omdat daar niks anders oorbly nie.