Читать книгу Plekkie in die son - Ena Murray - Страница 5

Оглавление

2

Melaats!

Die woord bly hang in die grafstilte wat op die dokter se woorde volg.

Karen Viljoen sit roerloos onder die oordeel wat so pas oor haar uitgespreek is. Alles in haar – haar hartklop, haar verstand – het tot stilstand geruk. Dis of sy oomblikke lank in ’n lugleegte verplaas is, ’n vakuum waarin daar geen gevoel, geen gedagtes is nie.

En toe … toe begin die vakuum vul … stadig, onafwendbaar, met iets so afgryslik dat dit haar steeds roerloos laat.

Otto Viljoen staar die man agter die lessenaar aan asof hy ’n vreemde visioen voor hom sien. Sy sonverbruinde vel vertoon skielik goudbleek oor die wange. Toe flits sy oë na sy vrou, terug na die dokter. Hy leun ver vorentoe in sy stoel, maar hy weet dit nie.

“Dis … dis ’n leuen! ’n Infame leuen! Hoe kan Karen … Daar moet ’n fout wees! Ek sê jou, daar het ’n fout ingesluip … êrens moes daar …”

“Dit is geen fout nie, Otto-seun.” Daar is begrip, meegevoel, beslistheid in die stem wat die jonger man in die rede val. ’n Oomblik lank kom rus sy hand swaar op die een breë, jong skouer. Toe kyk hy na Karen … en draai weg. ’n Oomblik lank is hy nie die dokter nie, maar die vertroude vriend, die pa. Sy hele hart gaan uit na hierdie jong vroutjie wat hy in die lewe help bring het, wat voor hom grootgeword en ontluik het tot die pragtige vrou. Daar is ’n begeerte in hom om haar soos ’n pa in sy arms te neem en teen hom vas te druk, maar … net een blik in Karen se rigting weerhou hom. ’n Mens kyk net na ’n standbeeld; jy omhels dit nie.

Hy sak weer agter sy lessenaar neer. Hy weet hy moet verder praat, verduidelik … maar daar is geen woorde in hom nie.

“Otto … Karen …”

Haar oë brand vreemd blink in syne. Tog is dit of daar iets in daardie oë is wat hom vertel dat sy reeds die oordeel wat oor haar uitgespreek is, aanvaar het. Dis Otto wat nog desperaat teen die prikkels bly skop.

“Oom Jan, luister, ek aanvaar nie hierdie diagnose van u nie. Ek gaan Karen onmiddellik stad toe neem en …”

“Jy kan dit doen, Otto, maar besef jy dan nie dat dit hopeloos sal wees nie? Die spesialis sal ook maar presies dieselfde doen as ek en Kok – ’n paar vel­smere neem, wegstuur na die laboratorium en … dieselfde uitslag terugkry. Dis nie my diagnose nie. Dié eer moet ek aan my jong vennoot gee. Hy was die man wat onmiddellik die regte vermoede gekry het. Maar die werklike diagnose lê hier voor my vasgepen op hierdie vorms.”

“Die eer gee?” Otto is weer op sy voete. “Moet ek daardie jong gek eer omdat hy my vrou as melaats gediagnoseer het? Karen as iets … iets onreins … O, Here, nee!”

“Otto, dit help nie, my seun! Hoe kan jy teen Kok uitvaar omdat hy die regte diagnose gedoen het? Sit dat ons kan praat. Ek moet aan julle verduidelik …”

“Nee!” Die eerste keer kom daar ’n woord van Karen se kant af. Die twee mans kyk vinnig na mekaar. “Nee, ek … wil eers huis toe gaan!” Sy staan op. “Asseblief, ek wil eers huis toe gaan. Later … kan ons praat.”

“Karen-kind, ek weet hoe jy voel, maar … miskien is dit beter dat julle eers na my luister …”

“Nee. Ons gaan eers huis toe. Ek … ek het genoeg gehoor vir een dag … Ek …”

Otto neem haar aan die arm. “Kom, my skat.”

Dokter Dekker swyg. Hy sien die deur agter hulle toegaan. Hy staan op en sy voete dra hom werktuiglik na die venster. Hy sien hoe hulle in die motor klim, wegry …

Agter sy rug het die deur weer oopgegaan. Die ontvangsdame se stem klink op.

“Kan ek maar die volgende pasiënt instuur, dokter?”

Dis stil in die motor op pad huis toe, maar nie een van die twee kom dit agter nie. In tye soos hierdie raak die tong van die mens stil, is daar niks te sê nie … nie eens tussen man en vrou nie. Dán raak een van die waardevolste instrumente wat die Skepper aan die mens gegee het – die gesproke woord – sinloos, leeg.

Selfs die onverskilligste, die selfversekerdste onder die mense swyg wanneer God praat …

By die huis aangekom, dra hul voete hulle werktuiglik na die weelderige sitkamer waar hulle doelloos bly staan en oral kyk behalwe in mekaar se oë. Die instinktiewe vrees in die mens om die erkenning van ’n komende vuurproef in die ander se oë te lees, laat hulle mekaar se oë ontwyk.

Hulle kyk rond … na die ougoudkleurige fraiings aan die bank, die Dresden-poppie op die vuurherd, die glimmende rooikoperasbak op die tafeltjie … sonder om iets raak te sien. Want hierdie goed, hierdie weelde wat soveel geld gekos het, wat met soveel sorg bymekaar gemaak is en soveel vreugde tot hiertoe gegee het, is eensklaps waardeloos. Watter waarde kan dooie, siellose aardse besittings dan ook hê wanneer ’n dokter vir jou sê: Jy is melaats!

Binne een enkele oomblik werp drie woordjies jou sin vir waardes so omver dat jy soos ’n vreemdeling teenoor jouself staan. In hierdie oomblik van bitter swye, van totale magteloosheid teen groter magte, ondervind man en vrou dít: dié dinge wat tot hiertoe waarde gehad het, dié dinge waarom hul lewe tot dusver gedraai het, beteken skielik niks nie …

“Karen …” Die eerste keer sedert Otto Viljoen in haar lewe ingestap het, hoor Karen ’n onseker klank in sy stem, en skielik begin dit binne-in haar pyn.

Sy antwoord nie, maar lig haar oë direk na hom op.

“My vroutjie, ek … jy moenie sommer aanvaar wat dokter Jan gesê het nie. Dit sal nie die eerste keer wees dat hulle ’n verkeerde diagnose doen nie. Ek is seker daarvan dit kan nie reg wees nie …”

Sy stem breek af. Dis of die stilte om hulle nou nog intenser is. Haar roerlose oë antwoord hom. Daar lees hy die waarheid soos hy dit ook in sy eie hart lees en hy wéét: Ek praat maar sommer net; ek sê maar net iets omdat ek voel ek moet iets sê … vir Karen, maar ook vir myself.

Ver op die agtergrond skel die telefoon skielik uit ’n ander wêreld, waarvan hulle tot nou toe deel was en wat skielik oneindig ver verwyder van hulle voel. Dit lui weer en weer, en nog staan Otto en Karen in roerlose swye teenoor mekaar.

“Meneer …” Die bejaarde huishulp huiwer in die deur. Hier is iets vreemds aan die gang. Selfs sy kan dit aanvoel. Dit lyk amper asof die meneer en die mevrou kwaad is. Hul gesigte lyk so strak en streng. Toe waag sy dit om by te voeg: “Meneer, die foon lui in die study,” en skuifel vinnig weg.

Otto stap by die beweginglose figuur van sy vrou verby na die studeerkamer. Toe hy ’n rukkie later terugkom, is die sitkamer leeg.

Hy aarsel … Hy is bang om hulle slaapkamer binne te stap. Hy weet Karen is daar, en alles binne-in hom skree om na haar te gaan, maar … die volgende oomblik swaai hy weg en stap by die voordeur uit.

In die slaapkamer lig Karen nie eens haar kop op toe die dreuning van die motor opklink nie. Sy sit op die kant van die dubbelbed, haar oë strak op die mat voor haar gerig.

Melaats …

Haar geskokte verstand probeer onthou … Wat weet sy van melaatsheid af? Ja … die Bybel … Die Bybel is vol daarvan. Dit was die vreeslikste siekte wat ’n mens in die Bybelse tyd kon kry … Dis iets om voor skaam te wees. Dit simboliseer iets vuils. Dit staan tog talle kere in die Bybel: Onrein! Onrein! Die ongelukkiges wat in die ou tyd die siekte opgedoen het, is met afgryse en sonder genade uit familie- en huiskring en meestal vir ewig uit die samelewing verstoot. Hulle is uit die stad verban, uitgedryf na die onherbergsame berge en grotte, en daar was geen kans op terugkeer nie.

Wit soos sneeu, noem hulle dit in die Bybel. Wit, etterende sere wat die hele liggaam en ook die gesig oortrek. Die vlees vrot aan die gebeente, en ’n mens raak vermink … ontsettend, weersinwekkend vermink. ’n Mens raak ’n gedrog sodat jy vir jouself bang word en walg. Dit het sy êrens gelees. ’n Mens raak onherkenbaar vir jouself en dié wat jou ken – ’n karikatuur, ’n spotbeeld van die mens wat jy was …’n banneling, ’n vereensaamde.

’n Siddering ruk deur haar hele liggaam. Is dit wat op haar wag, op háár, Karen Viljoen? Waar, wáár kom hierdie verskriklike ding vandaan wat so plotseling, so onverwags op haar neergedaal het? Sy ken geen mens wat melaatsheid het nie. Of is dit nie iets wat aansteek nie? Is dit maar net ’n vloek wat op jou neerdaal sonder oorsaak, sonder rede, sonder sin?

Melaats! ’n Woord wat selde of nooit deur die gewone mens op sy lippe geneem word; ’n woord wat in geselskap vermy word. ’n Mens praat nie daarvan nie, spreek dit nie hardop uit nie. Agterin jou geheue, daar waar ’n mens selde delf, weet jy dat daar so iets bestaan, al eeue der eeue lank bestaan. ’n Mens weet vaagweg dat êrens in die wye wêreld daar nog sulke mense is en in afsondering en eensaamheid deur barmhartige Samaritane verpleeg word. As jy miskien per toeval aan daardie mense dink of aan hulle herinner word, is jou hart met innige medelye vervul. Maar net vlugtig, en dan vergeet ’n mens weer van hulle, want hulle lewe in ’n ander wêreld as joune, amper asof hulle op ’n ander planeet lewe. Hul paaie en joune sal nooit kruis nie. Jy hoef geen vrees daarvoor te hê nie.

En dan, op ’n dag, onverwags, bots daardie twee wêrelde teen mekaar. Op ’n dag moet jy tot die ontnugtering kom dat daardie ander wêreld, die skaduwêreld, nie so ver was nie. Op ’n dag moet ’n mens uit ’n diep nagmerrie wakker skrik en aanvaar dat jy nie te goed is om melaats, onrein te word nie.

Wat doen jy dan? vra Karen haarself af. Dan sit jy op die kant van jou bed en kyk hoe jou hele wêreld in en om jou intuimel totdat daar nie eens ruïnes bly staan nie. Jy huil nie, want binne-in jou het alles opgedroog – al jou trane, al jou gevoel, alle lewe. Jy sit net en wag … op wát weet jy self nie.

En terwyl Karen soos ’n gegote standbeeld in hul slaapkamer sit, sit Otto agter sy lessenaar in sy kantoor. ’n Paar keer al het sy hand na die telefoon voor hom uitgereik en dan het hy dit weer teruggetrek. Toe, met ’n besliste beweging, skakel hy ’n nommer. ’n Rukkie later klink sy stem gespanne op.

“Dokter Jan, dis Otto.”

“Ek hoor so.”

“Ek … bel net om te hoor … te sê … Ek is jammer oor my gedrag van netnou, dokter. Maar dit was die skok en … en …”

“Ek begryp, ou seun. Ek begryp heeltemal.”

Onwetend van mekaar bal die twee mans se hande krampagtig tot vuiste saam; op albei gesigte is die spanning duidelik sigbaar.

“Oom Jan, ek wou net weer seker maak … Daar is … daar bestaan geen twyfel …?” Otto Viljoen is besig om te pleit, en die ou dokter voel sy hart saamkrimp in medelye en magteloosheid. Maar hy weet daar kan net een antwoord wees.

“Ek is jammer, Otto, maar daar bestaan geen twyfel nie.”

Daar volg ’n kort stilte wat duideliker as woorde spreek. Toe kom die vraag, gedemp, skor:

“Wat nou, dokter?”

“Sy moet so gou moontlik stad toe na die inrigting vir sulke gevalle, sodat sy deegliker getoets kan word.”

Otto se stem klink openlik verbaas.

“Is daar dan … e … sulke mense hier naby ons? Ek bedoel, in die stad? Ek het nie geweet … daardie siekte bestaan nog vandag nie? Ek het gedink dis net iets waarvan ’n mens in die Bybel lees.”

“Ek wens dit was, maar ongelukkig is melaatsheid vandag nog net so ’n werklikheid as eeue gelede. O ja, daar is ’n afsonderingsinrigting vir melaatses naby die stad. Om die waarheid te sê, ek weet nie eens wat die plek se naam is nie, want ek het nog nooit vantevore ’n leprosegeval gehad nie.”

Hy swyg vinnig en albei mans se gedagtes is eenders – ironies dat Karen die eerste geval moet wees. En in albei harte lê die vraag so helder dat dit vir hulle voel asof dit hardop uitgespreek is: Hoekom Karen? Hoekom Káren?

Dokter Jan vervolg:

“Ek sal meer besonderhede van dokter Kok kry. Hy was gedurende sy studietyd daar vir lesings.”

“Is dit absoluut noodsaaklik om haar na daardie plek te neem? Kan die toetse nie op ’n ander plek gedoen word nie?”

“Ek is bevrees ons het geen keuse nie, Otto. Karen word deur die wet verplig om daarheen te gaan, soos dit met elke aansteeklike siekte die geval is.”

“Aansteeklik?” Otto verbleek. “U bedoel … melaatsheid is aansteeklik?”

“In sommige gevalle, ja.”

“Maar … maar dan moes sy dit mos van iemand gekry het?” sê Otto met ontsetting en met ’n koue rilling deur hom.

“Dis al moontlike verklaring wat daar is, nie waar nie? Want melaatsheid word deur ’n kiem versprei net soos talle ander siektes, en ’n mens moet êrens in aanraking met die kiem kom.”

Weer volg ’n stilte. Toe hoor die dokter ’n sidderende sug aan die ander kant.

“Dokter Jan, hierdie ding slaan my dronk … heeltemal dronk! Waar, in hemelsnaam, sou Karen … Káren in aanraking met ’n leprosekiem gekom het?”

“Ek kan net so min daarop ’n antwoord verskaf as jy, ou seun, maar die feit bly: sy het. Hoe gouer die nodige reëlings getref word, hoe beter; nie net ter wille van Karen self nie, maar ook ter wille van die hele gemeenskap. Jy verstaan mos, Otto?”

“Ek begryp.” Otto Viljoen se lippe pers wit saam, sy kake vierkantig geklem, sy oë hard. “Ek verstaan. Kan ek die reëlings in u hande laat?”

“Natuurlik! Ek sal jou so gou moontlik terugbel. Moontlik nog vanaand. Otto …”

“Ja?”

“Bel my dadelik as jy hulp met Karen nodig het.”

“Ek sal.”

’n Rukkie later stap Beatrice Horn sy kantoor binne en kyk bekommerd na hom.

“Voel jy siek, Otto? Jy is baie bleek?”

Hy kyk stadig na haar op. Toe staan hy vinnig op.

“Ek gaan huis toe. As hier iets opduik, kan dit wag tot môre.”

Hy stap sonder ’n groet by die deur uit en sy sek­retaresse staar hom verbaas agterna. Otto is nooit kortaf of onbeskof teenoor haar nie. Dis die eerste keer dat hy haar nie groet nie.

Sy staar fronsend na die lessenaarblad. Daar moet iets vreesliks skort. Sy voel dit aan. Maar wat? Hy is nie siek nie, want hy het vanoggend niks makeer toe hy ingekom het nie. Toe was hy ’n ruk lank uit en sy het hom nie sien terugkom nie.

Dis ’n verwarde en seergemaakte vrou wat omdraai en teruggaan na haar eie kantoor.

Otto gaan egter nie direk huis toe nie. Hy dwaal eers deur Muldersrivier rond voordat hy genoeg moed bymekaarskraap om sy motor in die rigting van sy huis te stuur.

Daar was nog altyd iets wat Otto Viljoen gejaag het – ambisie, ’n sug na status en rykdom, ’n drang na gewildheid en sukses. Maar hierdie keer word hy gejaag deur vrees …

Sy voete neem hom onwillig na die slaapkamer. Natuurlik wil hy na Karen gaan. Natuurlik wil hy haar teen hom vasdruk, haar soen en vertroos, want sy is sy vrou, die ma van sy seun, en tot op hierdie dag het hy met haar die hoogste geluk gesmaak. En tog … met daardie drie woordjies wat dokter Jan Dekker uitgespreek het, is daar reeds ’n sluier tussen man en vrou getrek. Weliswaar is dit nog baie dun, maar hy weet dat dit mettertyd digter en ondeursigtiger sal word.

Die koue vrees klop teen sy slape. Liewe Vader, kan vyf, ses jaar van volmaakte geluk so maklik deur drie woordjies vernietig word? vra hy hom af. Is geluk dan werklik só breekbaar, die band tussen man en vrou so kwesbaar?

Die feit dat hy en hierdie pragtige vrou van hom nie meer een is nie, maar weer twee aparte mense geword het, slaan hom soos ’n hou tussen die oë toe hy die slaapkamer betree. Sy lyk vir hom soos ’n vreemdeling toe hy nader stap en op die bleek, strak gesig afkyk.

“Karen …” Sy hand hang in die lug halfpad tussen hulle. Weg is die ou spontaneïteit wat hy teenoor haar geken het. “Karen, my skat …”

Karen kyk stadig op, en haar uitdrukking vertel hom dat ook hy vir haar ’n vae bekende geword het. Een ding besef Otto terwyl hy in die oë van sy vrou afstaar, en dit is dat hy, Otto, sedert hulle dokter Jan se spreekkamer verlaat het, deur ’n hel gegaan het, maar dat Karen, hierdie dierbare, beeldskone vrou van hom, dit dubbel so swaar gehad het.

’n Oomblik lank voel dit of die sluier tussen hulle wegval. Dit is sý vrou – die vrou wat hy bo alle ander vroue bemin – wat hier voor hom sit. Sy arms reik na haar uit en hy druk haar dwingend, met ’n krag wat seermaak, teen hom vas.

“Karen! Karen! My liefling, my liefling …” prewel hy oor en oor.

Karen sluit haar droë oë wat stram en seer voel van die strak staar, en haar arms gly krampagtig om sy nek. Sedert sy ’n paar uur gelede op hierdie bed kom sit het, het sy nie eens een keer beweeg nie. Alles het ver en vir altyd van haar verwyder gevoel. Maar nou skielik is Otto hier, haar man se arms om haar, en sy voel nie meer so eensaam en verlate nie. Haar man is by haar. Hy hou haar vas. Sy is nie alleen in hierdie afgryslike ding soos sy haar die afgelope ure verbeel het nie. ’n Ruk lank was sy afgesny van alles wat vir haar dierbaar is, maar nou het die dinge weer naby gekom. Sy is bewus van haar man se hartstogtelik gefluisterde liefdeswoorde, en elders in die huis hoor sy die baba huil.

Dis of sy skielik uit ’n vreemde dood ontwaak.

“Klein Otto huil …”

Maar hy hou haar net stywer vas.

“Sanna is by hom, Karen.” Hy skuif haar gesiggie terug teen sy skouer en sy oë brand met ’n gloed wat sy nog nie tevore gesien het nie. “My vroutjie, jy moet jou nie hierdie dinge so sterk aantrek nie. Alles sal regkom. Kyk, jy is nog nie ernstig nie, ek bedoel, dis nog nie ver gevorder nie. Dit kan nog gekeer word, natuurlik,” praat hy vinnig, hoewel hy nie weet of hy hierdie bemoedigende woorde durf uitspreek nie.

Dit tref hom dat hy nie eens weet of Karen gehelp kan word nie, of daar al iets deur die mediese wetenskap gevind is om ’n einde aan dié helse siekte te maak nie. Maar hy gaan dit nie sê nie. Ook aan homself wil hy nie die ontsettende moontlikheid dat Karen miskien ongeneesbaar is, erken nie. Natuurlik moet Karen gesond gemaak kan word, van hierdie monsterding bevry word. Sy kan tog nie die res van haar lewe melaats wees nie! Dis ondenkbaar! Dit … dit kan net nie gebeur nie!

Binne-in hom skrei dit toe hy die flikkerende vlammetjie van hoop en nuwe moed in Karen se oë sien ontbrand.

“O, Otto, my man, ek sien vir alles kans solank ek vir jou en Otto’tjie by my het. Solank julle net by my is, by my bly …”

Sy druk haar gesig hard teen sy keel vas en die eerste keer spoel die warm, vertroostende trane oor haar wange. Otto se een hand druk hard teen haar agterkop vas, en sy adamsappel werk krampagtig toe hy bokant haar kop belowe:

“Jy sal ons altyd by jou hê, my liefling. Ons sal altyd by jou wees.”

Hy besef nie dat hy die belofte in die grootste onkunde aflê nie, en dat dit nie in Otto Viljoen se mag is om hierdie belofte na te kom nie. Gelukkig weet Karen dit ook nie …

Dokter Jan Dekker word daardie aand deur Otto by die voordeur ingewag, en hulle stap dadelik deur sitkamer toe waar Karen wag.

Die kennersoog van die ou geneesheer bestudeer die twee jong gesigte voor hom besorg. Die spore van die afgelope paar uur lê reeds op hul gesigte. Dokter Jan besef nie dat ook hy in die helder elektriese lig ouer en moeër as gewoonlik lyk nie.

Hy val saaklik weg:

“Jul afspraak is môreoggend om elfuur by die kliniekafdeling van die inrigting. Dis in die buitewyke van die stad, en jy behoort die plek maklik te kry, Otto. Dokter Louw, die superintendent, sal julle daar te woord staan. As julle vroeg ry, behoort julle meer as genoeg tyd te hê.”

Hy sit ’n lang, wit koevert op die tafeltjie neer. “Hier is al die besonderhede, asook die verslag van die laboratorium. Gee dit ook aan hom, asseblief. Ek weet nie of daar nog iets is nie.” Hy kyk na Karen, en die saaklikheid verdwyn uit sy stem. “Is daar iets wat jy wil weet, my kind?”

“Wat … wat is die plek se naam … die inrigting se naam, oom Jan?”

“Hulle noem dit … Genadendal.”

Die antieke staanhorlosie in die een hoek voer ’n paar lang, lang oomblikke ’n alleengesprek. Toe herhaal Karen die naam skor:

“Genadendal.” En weer langsaam, uitgerek: “Genadendal …”

Plekkie in die son

Подняться наверх