Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 17
13 Januarie
ОглавлениеMaar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” – 1 Samuel 16:7
Samuel moet uit Isai se seuns ’n koning vir Israel gaan salf. Eliab het hom dadelik opgeval. Hierdie aantreklike oudste seun van Isai sou Samuel se keuse gewees het. Maar God se keuse was Dawid, dié een wat besig was om skape op te pas terwyl sy broers saam met die profeet ’n maaltyd gaan geniet.
Ons word tog so maklik deur uiterlike voorkoms mislei. Alles wat blink, is vir ons goud. ’n Mens met ’n mooi, indrukwekkende uiterlike is vir ons dikwels die belangrikste.
As ons tog maar die vermoë wil aanleer om na die innerlike van die mens en na die kern van dinge te soek, sou ons lewe soveel minder teleurstellings hê.
Jy gaan vandag weer mense ontmoet en met mense in aanraking kom. Probeer om hulle nie op hulle baadjie te takseer nie. Soek dieper, kyk dieper … en jy mag dalk vandag ’n wonderlike vriend of vriendin raakloop waar jy dit nie verwag het nie.
Here, help my dat ek nie so maklik deur uiterlike dinge beïndruk sal word nie, maar dat ek na dié dinge sal soek waarna U kyk. Amen.