Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 19

15 Januarie

Оглавление

Wie nederig is, dien die Here … – Spreuke 22:4

Niks waar “te” bykom, is goed nie. “Te” verraai ’n wanbalans. Dis goed en ook reg om ’n goeie selfbeeld te hê, maar gevaarlik en lelik om ’n té goeie selfbeeld te hê – want dan word jy hoogmoedig, kry jy trotse oë, word jy ’n snob.

Eweneens moet ’n mens waak teen die “te” aan die ander kant. Om jouself té gering te ag is óók verkeerd, want dan begin ly jy aan ’n minderwaardigheidskompleks, is jy geneig om jouself met ander te vergelyk en trek jy altyd aan die kortste ent.

Om nederig te wees beteken nie om jouself af te takel en jou standaarde en norme te verlaag nie. Ware nederigheid is ook die vrug van ’n groot gees. Al die werklik groot geeste wat die wêreld al opgelewer het, het hierdie besondere karaktertrek besit: die vermoë om balans te behou tussen die twee “te’s”. Geen mens sal iets in die lewe bereik as hy te min van homself dink nie. Eweneens sal hy wat te veel van homself dink, êrens vorentoe tot ’n val kom.

Nederigheid is ’n uitvloeisel van die besef dat wat jy is en wat jy bereik het, nie uit jouself is nie, maar dat jy dit uit Gods hand ontvang het. Jy was maar net die bevoorregte wat deur God as instrument gebruik is.

Liewe Here, ek dank U nederig vir die talente wat U my gegee het en vir wat ek deur u genade daarmee kon bereik. Dankie dat ek ’n instrument in u hand kan wees. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх