Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 23

19 Januarie

Оглавление

Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. – 1 Timoteus 4:14

As ons daaraan dink dat ons eendag voor die Regterstoel moet staan, dink ons gewoonlik net dat ons daar verantwoording van ons dade sal moet doen. Baie van ons gaan grootliks verras – of geskok? – wees as ons uitvind ons moet ook verantwoording doen van wat ons nie gedoen het nie.

Daar is nie ’n skepsel aan wie God verstand gegee het, vir wie Hy nie ook vermoëns gegee het nie. Hoe klein en hoe min ook al, elkeen het talente ontvang. Dis nie iets waarop jy kan roem, so asof jy dit deur eie toedoen verkry het nie. Dis nie eens iets wat oorgeërf word nie. Dis genadegawes uit Gods hand. En Hy gee wat Hy wil vir wie Hy wil na wat Hy weet jou vermoëns is.

Gebruik jy joune? Woeker jy daarmee, ontwikkel jy dit tot die hoogste kapasiteit? Of verwaarloos jy dit? Het jy dit selfs gaan begrawe soos daardie man in Jesus se gelykenis wat die een talent ontvang het? Erger nog: Kyk jy nou met afgunstige oë na hulle wat hulle genadegawes gebruik en ontwikkel het? Sê jy vir jouself: Kyk wat het ander gekry, en ek het niks! Dit laat my dink aan die boemelaar wat dood van die honger op ’n straathoek opgetel is, en toe hulle by sy krot kom, kry hulle ’n miljoen rand waarmee sy ou vuil matras opgestop was.

Hou op om jou talente te verwaarloos. Staan op en woeker daarmee, want weet verseker: Hy wat God se genadegawes minag en verwaarloos, sal eendag daarvan rekenskap moet gee.

Dankie, Here, dat U aan elke mens genadegawes gegee het. Wys myne vir my duidelik uit en help my om dit te ontwikkel tot die eer van u Naam. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх