Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 24

20 Januarie

Оглавление

Geld het ek nie, maar wat ek het, gee ek vir jou … – Handelinge 3:6

Die lewe is vandag so gesentreer om geld dat ons ons verbeel as ons nie geld het nie, het ons niks om te gee nie.

Kyk hoe lyk die wêreld om ons van al die geld gee. Biljoene rande word bestee aan wapens en die ontwikkeling en verbetering van oorlogvoering. Miljoene rande word bestee aan kos – en tog bly mense honger en sterf daagliks ’n hongerdood in die wêreld om ons. Dit wil lyk asof hoe meer geld gegee word tot die daarstelling van ’n beter lewe, hoe hagliker word die omstandighede. Hoe meer geld beskikbaar gestel word om menseverhoudinge te verbeter en te bevorder, hoe verder, so lyk dit, beweeg ons van ons doel af weg.

Dit het tyd geword dat ons weer ons betaalmiddels in oënskou neem. Dit het tyd geword dat ons die ander middels tot ons beskikking moet uithaal en in die veld stoot.

Wanneer jy vandag die wêreld instap, vergeet van jou plat beursie en haal uit die skatkamers van die hart en die gees. Die wonderlikste hiervan is dat dit, anders as in die geval van jou geldbeursie, net al voller en voller word, hoe meer jy daarvan uitdeel.

Het jy nie vandag ’n muntstuk om aan die minderbevoorregtes te gee nie? Gee hulle dan jou belangstelling. Het jy nie vandag geld om in die kollektebussie op die straathoek te gooi nie? Gee hulle jou kragte en bereidwilligheid tot diens. Het jy nie vandag geld om aan die sieke te gee nie? Gee hom jou glimlag en bemoediging. Het jy nie vandag brood om aan die hongeriges te gee nie? Gee hulle jou medelye en gebede. Het jy nie vandag geld om by te dra tot sentrums en instansies waar gepoog word om beter menseverhoudinge te skep nie? Gee dan jou liefde en bereidwilligheid om ’n beter wêreld te skep. Ons het altyd iets om te gee, al het ons nie geld nie.

Here, help my om nie suinig te wees nie. Help my dat ek sal gee wat ek het, en dat ek veral myself sal gee. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх