Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 35
31 Januarie
ОглавлениеWie medelye met ’n vriend beskou as ’n las, het die eerbied vir die Almagtige verwerp. – Job 6:14
Vriendskap – een van die mooiste dinge wat God aan die mens gegee het. Salomo het vriendskap só hoog geag dat hy in Spreuke 18 vers 24 sê: “Daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer.”
Op grond waarvan kies jy jou vriende?
Is dit die aansien en status wat jý sal bekom as jy hulle jou vriende kan noem? Is dit die gedagte aan wat jy uit hulle kan haal deur met hulle bevriend te wees? Is dit omdat jy reken jy kan deur hulle ook in die kalklig kom?
Daar word gesê jy word aan jou vriende geken. Maar daar is vriendskappe wat ’n mens stomslaan. Daar is die kind van God wat so dik bevriend is met die man wat God oop en bloot in woord en daad in sy lewe ontken, dat ’n mens moet wonder: Een van die twee is vals. Is dit sy vriendskap of sy belydenis?
En watter soort vriend is jý? Die mooiweersvriend wat net vriend is solank dit goed gaan, maar sodra jou medemens op jou moet steun, op jou wil reken om die kern waarom dit in vriendskap gaan, uit te lewe, dan faal jy? Is jy die soort mens wat dit as ’n las beskou wanneer vriendskap medelye van jou vra?
’n Goeie vriend is nie ’n blinde vriend nie. Pasop vir die vriend wat in alles met jou saamgaan, wat jou net altyd vlei. ’n Vriend wat jou nie met deernis en liefde – ja, dit natuurlik! – keer wanneer jy verkeerd gaan nie, is nie ’n vriend nie. ’n Vriend in wie jy nie die volle vertroue kan stel om jou ook wanneer jy fouteer, met verdraagsaamheid en opregtheid daarop te wys nie, is geen vriend nie.
Here, maak my ’n ware vriend vir my vriende. Amen.