Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 40

3 Februarie

Оглавление

“Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.” Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was. – Markus 15:4, 5

Daar kom tye wanneer ’n mens moet praat. Daar kom ook tye dat jy moet swyg.

Ons val maar almal die een of ander tyd in dié slaggat van te praat wanneer ons moes geswyg het. As ons tog maar die wysheid van ’n Jesus kon besit om te weet wanneer dit tyd vir praat is, en wanneer dit tyd is om te swyg, selfs ook as die onregverdigste beskuldigings na ons geslinger word.

’n Mens het gewoonlik meer spyt oor woorde wat jy gesê het as oor die dinge wat jy nié gesê het nie. Dit is nou maar eenmaal so dat ons haastig met die mond is, veral as ons seergemaak of veronreg voel.

Een van dié kere wanneer ons altyd haastig met die tong is, is wanneer ’n skewe woord na ons gewerp word. Dis dan so menslik om ewe haastig ’n skewe woord terug te sê. Of wanneer iemand jou seermaak en jy boonop voel dit is onverdiend. Dan is ons haastig met die verwyte, haastig om ’n terughou in te kry. Of wanneer valse beskuldigings na ons geslinger word. O, dis ’n bitter ding, en dis so menslik om dan baie woorde van selfverdediging te hê en ook nog woorde van valse beskuldigings by te gooi.

Menslik, ja. Maar ’n kind van God moet elke dag probeer om die menslikheid wat onsself en ander so seermaak en agterna soveel probleme gee, te kruisig. Jesus het ons die voorbeeld gestel. Hy, die Volmaakte, het voor die mens Pilatus geswyg. Wat was die resultaat? Pilatus was verbaas, op sý beurt só stomgeslaan dat hy nie kans gesien het om verder ’n oordeel oor Hom te vel nie. Hy wou liewer sy hande in onskuld was.

Jesus, U wat my deur u voorbeeld getoon het dat dit moontlik is, help my dat ek nie so haastig met my woorde sal wees nie. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх