Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 41
4 Februarie
ОглавлениеLeer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. – Deuteronomium 11:19, 20
Die hedendaagse ouer en kind kommunikeer soveel vryliker oor soveel meer onderwerpe as vroeër. Pa kan soms ure met die seuns gesels oor voetbal, krieket, boks of atletiek. Ma en dogter kan so lekker gesels oor die nuwe modes, oor resepte en so meer.
Hoekom gesels ons so min met ons kinders oor God? Hoekom gesels ons selde met ons kinders oor die belangrikste in die lewe?
Ons dink as ons ons kind kerk toe bring, hom Sondagskool toe laat gaan, vir hom ’n Bybel gee, is dit voldoende. Ons gewete is dan skoon.
Maar dis deur te praat oor ’n onderwerp dat die belangstelling geprikkel word. Hoekom is dit so dat ’n kind dikwels gedwing moet word om kerk toe te gaan? Hoekom is Sondagskool vir hom so ’n straf? Hoekom is die dinge van God vir hom vervelige, afgedwonge pligte wat hy net nakom omdat Pa en Ma dit vereis?
Dis omdat ons nie genoeg met hulle práát oor die dinge van God nie. As Hy ’n deel van ons gesprekke word, sal Hy vir ons kind ’n bekende word. Onbekend maak onbemind. Die teendeel van die spreekwoord is ook waar: Bekend maak bemind. Ek bedoel nie preek nie. Vat jou kind uit in die natuur, wys hom die wonderwerke van God. Soos byvoorbeeld die kleure en strepe op ’n skoenlapper se vlerk. Wys hom die spinneweb – die volmaakte voorbeeld van ingenieurswese. En vra hom dan: Het God dit nie mooi en wonderlik gemaak nie? Glo my, in die toekoms, ook wanneer hy al ’n groot man is, sal hy elke keer onthou wanneer hy ’n skoenlapper of ’n spinneweb sien – en God sal vir hom ’n werklikheid wees.
Help my, Here, dat ek U ’n bekende en geliefde by my kinders sal maak. Amen.