Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 39

2 Februarie

Оглавление

Uit eerbied vir julle God mag julle mekaar nie uitbuit nie. Ek is die Here julle God. – Levitikus 25:17

Ons is almal gretig om ’n winskopie te maak. Veral in vandag se duur tye is ons bedag daarop om iets raak te loop wat ons beursie ten goede sal kom.

Op sigself is daar niks mee verkeerd nie. As die winkel sy pryse afmerk, is dit sekerlik nie verkeerd om van dié geleentheid gebruik te maak en so ’n paar sente te spaar nie.

Maar dan is daar die ander soort winskopie …

Iemand het geld dringend nodig. Hy moet iets verkoop, iets waarvan hy onder normale omstandighede nooit sou afgesien het nie. Maar hy is die verleë persoon, en dis maar te waar dat die man wat verleë is, nie die man is wat die prys maak nie. Jy wéét van dié man se omstandighede, en jy weet hy is in ’n verleentheid. Nou kan jy jou slag slaan. Nou kan jy ’n winskopie duisend bekom – en dit teen jóú prys. En dan spog jy nog daarmee. Jy het dit of dat teen die belaglike prys van soveel in die hande gekry, want sien, die ander ou was in die knyp. Hy móés eenvoudig verkoop. Die een se dood, so sê die spreekwoord mos, is die ander se brood.

Is dit nie hoe ons soms sake doen nie? En glo ons werklik dat God dit ook goedkeurend as ’n winskopie beskou?

Hy waarsku hierteen. En Hy noem dit by ’n ander naam: uitbuiting. Hy sê ook: Uit eerbied vir julle God, dié God wie se Naam julle bely, mag julle nie ’n ander se haglike omstandighede uitbuit nie. Want God weet van hierdie transaksie.

Ag, Here, bewaar my daarvan dat ek my naaste se moeilike omstandighede sal uitbuit omdat ek nie die nodige eerbied vir U het nie. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх