Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 34

30 Januarie

Оглавление

… Waar is die ander nege dan? – Lukas 17:17

Dankie.

Een van die kortste woordjies in enige taal. Een wat so maklik is om uit te spreek. Die een woord wat die minste gebruik word wanneer dit juis gebruik móét word – in enige taal.

Jesus het tien melaatses gesond gemaak. Net één het teruggekom om dankie te sê. Dis hartseerwekkend om Hom te moet hoor vra: Waar is die ander nege dan?

Hoe skuldig staan ons! Hoe vele kere word ons onder daardie nege getel? Hoe baie dankies in my en jou lewe lê ongesê en wag om ééndag geuiter te word … ’n ééndag wat dalk nooit sal aanbreek nie.

Dis ook nie dat ons nie dankbaar is nie. Vir geen oomblik kan ’n mens glo dat die ander nege melaatses nie ook bly en dankbaar was dat hulle genees is nie. Nee. Maar hulle het vergeet of nagelaat om terug te kom en dit te sê!

Moenie jou “dankies” laat wag nie. Jy weet nie of jy vorentoe kans sal kry om dit te sê nie. Sê dit liewer vandag. Sê dit nóú:

Dankie, my man, dat jy vir my so ’n goeie lewensmaat is. Dankie dat jy so ’n vader vir ons kinders is. Dankie, my kind, dat jy so ’n goeie kind vir my is. Dankie, Ma, Pa, dat julle sulke liewe ouers vir my is. Dankie, my vriend, vriendin, vir jou vriendskap. Dankie, Meneer, dat u so ’n goeie werkgewer vir my is. Dankie, Mevrou, dat jy nog altyd so ’n betroubare werknemer was. Dankie! Dankie! Dankie!

Sê dit nóú!

Dankie, my God en Vader, vir wat U vir my oor die span van jare was en is. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх