Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 38

1 Februarie

Оглавление

… en die Engel van die Here sê vir haar: “Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp jou aan haar gesag.” … Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is ’n God wat my sien …” – Genesis 16:9, 13

Dis nie maklik om onregverdige behandeling te moet verduur nie. Onderwerping aan ’n onredelike, onregverdige mens kom nie vanself nie. Die menslike natuur is so dat jy dadelik in opstand daarteen kom.

Ook vir Hagar was dit onmoontlik om langer Sarai se slavin te bly, want Sarai het haar sleg behandel – nie omdat Hagar ’n slegte slavin was nie, maar juis omdat sy haar meesteres se wense gehoorsaam het deur ’n surrogaatmoeder vir Abram se kind te wees aangesien Sarai self nie swanger kon raak nie. En dis nou die dank wat sy daarvoor kry!

Is dit nie bekende woorde nie? Het jy dit nog nooit in jou lewe gebruik nie? Dis nou die dank wat ek daarvoor kry!

Hagar het besluit om weg te loop. Maar God ontmoet haar op haar pad en sê vir haar: “Gaan terug en onderwerp jou!”

As daar iets met jou gebeur wat jou laat voel jy wil jou goed vat en loop, onthou dan: God het ’n doel met alles. Net soos Hagar moet jy ook tot die besef kom: Hy is ’n God wat my sien. En dié besef is vir jou genoeg. God weet van die onreg, van die slegte behandeling, van die onbillikheid en onreg wat teenoor jou gepleeg word. En Gód sal dit regstel. Gód sal dit vergeld. Gód sal jou beloon. Hou net moed en vertrou Hom.

Hoe wonderlik om te weet, Here, U sien alles. U weet van alles. Hoe moeilik my omstandighede ook al is, laat my net altyd u wil soek en doen. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх