Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 9
5 Januarie
ОглавлениеDaar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here!” … Die engel het … gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” – 1 Konings 19:4, 6
Ons kom almal daar – by daardie besembos. Daar is nie ’n mens op aarde wat nie die een of ander tyd daaronder inkruip en sê nie: Nou is dit genoeg, Here!
Soos Elia voel jy jy het die end van die pad, die end van jou uithouvermoë, jou deursettingsvermoë, jou geduld, jou kragte, jou moed, ja, selfs die end van jou geloof bereik. Jy het dáár gekom waar jy soos Elia ten hemele uitroep: Neem my lewe, want dis nou genoeg, Here!
Hoe vreeslik sou dit vir ons wees as God al hierdie smekinge moes verhoor het! Elia smeek om te sterf – in plaas daarvan gee God hom brood! So gaan dit met baie van ons gebede: Ons vra een ding, Hy gee iets heel anders. Elia wil sterf, maar sy Hemelvader wéét wat vir hom die beste is en gee vir hom nie één keer nie, maar twéé keer kos sodat hy sy kragte kan opbou. Ons vra dikwels iets wat vir ons net die dood kan inhou, en Hy gee ons die brood van die lewe, want anders sal die pad vir jou te lank word.
Hy sal ons nooit op die lang pad stuur sonder sy Goddelike versorging nie. En Hy gee mildelik. Twéé keer voed hy Elia voordat Hy hom weer uitstuur. Daarna kon Elia veertig dae en veertig nagte aanmekaar loop. So kan ons ook die onmoontlike regkry as ons sy brood van genade en liefde aanvaar. So kan ons ook die besembos van wanhoop en handdoek-ingooi agterlaat en ons lang pad aandurf met die brood van sy gebreekte liggaam en die kruik van sy gestorte bloed wat ons krag vir die onmoontlike sal gee.
Word wakker en kyk! Kruip uit onder jou besembos: Jou God hét vir jou gesorg, wíl vir jou sorg, sál altyd vir jou sorg.
Hoe skaam ek my dat ek onder ’n besembos wou lê en sterf terwyl U vir my ’n feesmaal wil voorberei. Vergewe my, Vader! Amen.