Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 88

20 Maart

Оглавление

Ek bid vir hulle. – Johannes 17:9

Dis Jesus wat bid.

Wanneer? ’n Rukkie voor sy gevangeneming in die tuin van Getsemane.

Vir wie bid Hy? Vir my en vir jou. Ja, vir jóú wat nou hier lees … as jy ’n kind van God is. Selfs terwyl Hy geweet het wat om die draai vir Hom wag, het Hy vir my en vir jou nie vergeet nie. Hy maak tyd om vir laas vir jóú in te tree by God. Hy weet daar wag vir Hom ’n afspraak met ’n verraaier in die tuin anderkant die Kedronspruit. Hy weet reeds wat daarop sal volg: ’n kruisdood. Maar Hy vlug nie. Hy gebruik nie die tyd wat nog tot sy beskikking is om weg te hardloop en êrens te gaan wegkruip soos ek en jy seker sou gedoen het nie. Nee. Daar is belangriker dinge om te doen met daardie korte tydjie wat nog vir Hom oorbly: Hy moet vir jóú bid, vir mý. Hy moet ons opdra aan sy Vader.

Lees asseblief hierdie gebed. O, dit gryp jou só aan dat dit jou ook op jou knieë móét dwing. Hoor dan hoe pleit Hy: Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort … Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld … Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam … Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar … sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.

O Jesus! Jesus, van Getsemane en Golgota, dat U aan mý kon dink, vir mý kon bid toe die skaduwee van die kruis reeds oor U gehang het. Dankie, Here! Dankie! Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх