Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 90
22 Maart
Оглавление“‘As U iets kan doen’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” – Markus 9:23
Daardie woordjie “as”!
Dit is ’n gifnaald vir menige se geloof. Dit is die verlammingsinspuiting vir baie van ons, wat dit vir ons onmoontlik maak om ’n lewende getuie vir God te wees. “As” is baie dikwels ’n soliede staalhek wat ons afsonder van God se almag en dit vir ons onmoontlik maak om God se volle genade deelagtig te word.
In hierdie gedeelte word ’n seun wat aan stuiptrekkings ly, na Jesus gebring. Trouens, dis Jesus self wat gesê het hulle moet die kind na Hom toe bring toe Hy hoor van sy lyding.
Maar hoor nou net wat sê die pa van die kind – en dit klink nogal baie nederig en verleë ook: “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” En Jesus antwoord hom: “‘As U iets kan doen,’ sê jy!”
Doen ons dit nie ook nie? Gaan ons nie dikwels na Jesus met ons probleme en kommer met daardie woordjie “as” vooraan nie?
Jesus het ons genooi om ons bekommernisse en sondes op Hom te werp, soos Hy die seun se pa genooi het om die kind na Hom te bring om gesond gemaak te word. En dan wanneer ons by Hom kom, kom ons met daardie beledigende, daardie verderflike “as” vooraan ons smeekgebede. Ons lê ons kwellinge en sondes voor sy voete neer, maar met die gesindheid van “as Hy miskien iets daaraan kan doen” in die hart.
Jesus sê vandag vir jou: “Vir die een wat glo, kan alles.” En wanneer Hy sê alles, beteken dit álles.
Here, dis my eie ongeloof en kleingelowigheid wat maak dat ek nie in die volle vreugde van u goedheid kan deel nie. Neem dit van my weg, Here! Amen.