Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 89

21 Maart

Оглавление

… maar julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het. – Lukas 12:30

Veronderstel jy is in sulke geldelike moeilikheid dat jy verplig is om by die bank te gaan aanklop om hulp. Jy is bekommerd. Sal die bankbestuurder jou help? Sê nou maar hy weier … hoe gaan jy dan uit hierdie verknorsing kom? Op pad bank toe loop jy ’n paar vriende raak en jy vertel hulle waarheen jy op pad is en om watter rede. Almal troos jou en praat jou moed in: “Maar natuurlik sal die bankbestuurder jou help!” Maar die twyfel bly in jou hart, én die kommer, tot daardie oomblik dat die bankbestuurder vir jou sê: “Goed. Ek help u graag.” Dán eers weet jy bo alle twyfel jy is gered.

Die belofte in ons teksvers vir vandag kom nie uit die mond van ’n profeet, ’n predikant of jou vriend terwyl jy in jou bankrotskap op pad bank toe is nie. Hierdie woorde word deur niemand anders nie as Jesus Christus self geuiter. Dis Jesus, Seun van ons Hemelse Vader, wat vandag vir jou sê, jy met die groot kommer in die hart, jy met die baie kwellinge, jy wat dink God sit in sy hemel daar vér, verhewe bo die mees alledaagse behoeftes van die mens op aarde: Jy het ’n Vader wat wéét wat jy nodig het. Jy het ’n Vader wat gretig is om vir jou méér te gee as wat jy ooit bereid is om te vra.

Die teks wat volg op ons teks vir vandag, lui: Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. Kom ons maak vir ons minder sorge oor ons tydelike behoeftes. Kom ons werk vir die koninkryk – dán, dit het Hy belowe, sal Hy ook wat die tydelike betref, vir ons voorsien.

Dankie, Here, dat ek kan weet U ken my omstandighede. U weet wat my behoeftes is. Help my dan om al my bekommernisse op U te werp – en dan met ywer te werk vir u koninkryk. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх