Читать книгу Draairivier - Engela Ovies - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

_____________

1971

“A, ek sien ons is al wakker!”

Ek draai my kop in die rigting van die stem. Dis ’n suster wat oor my buk, haar vingers om my pols gevou en haar oë op haar horlosie.

“Hoe gaan dit, het jy nog pyn?” vra sy vriendelik en lê ’n koel hand op my voorkop.

“Hm …”

“Jou koors is af, het jy nog pyn?” probeer sy weer.

“Nee,” fluister ek. “Dis net seer hier.” Ek wys na my bors.

“Jy het dubbele longontsteking gehad, mens, byna bok­veld toe. Maar jy lê net so, ons dokter jou gou gesond.”

’n Beweging by die deur laat ons albei opkyk.

“Môre, môre!” Dis Martha wat blasend en vrolik nader­kom.

Die suster kyk weer op haar horlosie. “My genade, is dit al besoektyd? Ek sal later weer kom.”

Sy skuifel by die deur uit.

“Jy het ons laat skrik, Sanna,” sê Martha, haar vet gesig natgesweet in die koue. “Maar jy lyk klaar beter. Jy kan bly wees suster Anna verpleeg jou. Sy is baie besorg oor haar pasiënte. Tree ook volgende jaar af.”

Soos ’n ervare verpleegster druk sy haar hand op my voor­kop. “Jy kort net rus.”

Ek sluk teen die droogheid in my keel. “Hoe het ek hier gekom?”

“Vra jy nog! Ons het jou bitterbos ingegee ná die pil. En jou afgespons. Dit het gelyk of jy rustig word, maar toe begin jy rondrol. Jy’t heeltyd na Johannes en ’n Agnes ge­roep. Dan wil jy weer van die een of ander lorrie afklim! Toe sê ek vir Lukas, my man, ek vat nie weer kanse nie, hos­pitaal toe met jou. Mietjie wou mos nie hospitaal toe gaan nie, en die hoë koors het haar doodgemaak.”

Ek wonder of Lukas ook gehelp het met die afspons.

“Lukas is na Ronnie toe, en dié het jou met sy bakkie in­gebring. Hy het tot die tronk gebel om te vra hoekom hulle jou so siek afstuur. Hulle kon mos vir jou vervoer gereël het.”

My oë loop vol trane. Hy het natuurlik gebel om te hoor of ek nie ontsnap het nie.

Martha klap haar tong. “Siestog, jy was regtig siek die twee dae.”

“Twéé dae?” vra ek. “Watter dag is dit dan nou?”

“Dis Vrydag, mens. Het suster Anna jou nie gesê hoe lank jy uit was nie?”

“Die joggie het gesê ek moet vandag teen die pad wees.”

“Wie? Moet tog nie sê jy raak al weer deurmekaar nie. Ek roep gou vir suster.”

Ek trek haar aan haar rok terug toe sy opstaan. “Wag, Martha, ek is nie deurmekaar nie. Die petroljoggie het gesê ek sal vandag ’n geleentheid Kliprant toe kan kry.”

“Hoekom sê jy dan nie so nie! Maar jy’s nog nie sterk genoeg om teen die pad te gaan staan nie.”

Sy gaan sit weer swaar op die stoel. “Ek wou nog sê, ek gaan Mietjie se klere uitspoel. Dit behoort vir jou te pas, jy’s nou net so dun soos sy was. Ewe lank ook. Net laas week sê ek vir Lukas ek sal moet van die klere ontslae raak. Dis ook nou al ses maande dat Mietjie weg is. En hier kom jy aan! Die Here het geweet iemand gaan dit nodig kry.”

As besoektyd se einde net wil aanbreek. Lieflik soos Martha is, wil ek nou alleen wees. Dit voel of ek enige tyd in trane gaan uitbars. Hoekom ek vandag so weerloos voel, weet ek nie.

“Sodra Lukas vandag sy geldjie kry, gaan ek vir jou ’n paar ondergoedjies koop,” babbel Martha voort.

Ek lê toe-oë en luister en sug byna hardop van verligting toe die klokkie aankondig besoektyd is verby.

“Ag nee!” sê Martha. “Ek wou jou nog vertel van Mie­tjie se groot begrafnis en wie almal daar was. Maar ek sal vanaand weer kom. Hier, dis vir jou.”

Sy tel die plastieksak langs die stoel op en sit dit op die bedkassie.

Draairivier

Подняться наверх