Читать книгу Draairivier - Engela Ovies - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

_____________

1971

Dit voel of iets my wil versmoor. Ek sit regop en kyk rond.

Die trein spoed nog steeds voort. My nek is stokstyf en dit voel asof ek nie meer voete het nie. Wanneer gaan hier­die koue geskommel tot ’n einde kom?

Asof die vrou langs my gedagtes kan lees, sê sy: “Ons is nou daar.”

“Hoe lank is nou?” vra ek ongeduldig.

Sy kyk net skuins na my, sonder om te antwoord.

Ek ruk soos ek skrik toe die trein skielik fluit.

“Hier’s ons nou,” sê sy vrolik.

Deur die venster kan ek sien die lug bo Kakamas is oop­getrek. Die wind wat die bome so skuins druk, het die reënwolke weggewaai.

Toe die trein ruk-ruk tot stilstand kom, voel dit of elke lit in my lyf wil skeur.

Met die afklim verdwyn almal so vinnig dat ek skaars die vrou se handdoek kan teruggee en dankie sê. My oë voel al weer tranerig toe ek besef ek wou nog vra hoe om by die pad te kom wat Suurvlakte toe gaan.

Miskien moet ek agter hulle aanloop, maar die ruig bosse maak my skrikkerig. Dit moet die dorp wees daar, die dakke wat bokant die bome uitsteek. Ja, ek kan die kerktoring sien. Maar toe ek afkyk, begewe my moed my. My rok is vuil en my voete is die ene droë modder.

Langs die perron staan ’n kleinerige lorrie. ’n Kort man­netjie beur teen die wind op en af langs die trein, boek en pen in die hand. Ek maak die plastieksak in my hand oop, maar knoop dit dadelik weer toe. As ek gedink het om die klere aan te trek, kan ek maar net so wel in die vuil rok bly. Behalwe dat die bloes vol modderkolle is, is die langbroek nog stukkend ook.

“Maar hier sal jy nie kan rondstaan nie, Sanna,” praat ek hardop met myself om nie te huil nie.

Dit help nie, want die trane loop geluidloos oor my wange. In die koue wind voel dit asof die nattigheid my vel laat styf trek. So baie kere het ek gesien hoe mense vrygelaat word, en met hoeveel blydskap hulle buite die tronk ingewag word. Die innige omhelsings, die vreugde om weer tussen hulle geliefdes te wees.

Ek druk my hande oor my gesig. Here, dit is my nie eers gegun nie! Is ek dan ’n soort pes wat deur almal vermy moet word? Was Ma en Pa maar nog hier! Waar is my broer? En Johannes! Lewe hulle nog?

“Hallo!” roep ’n manstem.

Eers toe hy aan my skouer vat, besef ek hy praat met my.

“Waarheen gaan jy?” vra die kort mannetjie, nog steeds met boek en pen in die hand.

“Suurvlakte,” fluister ek moeg.

“Jou gelukkige ding!” Hy klap my tussen die skouers dat ek amper omval.

Ek probeer om nie die pyn op my gesig te wys nie en glim­lag stram. Dis seker maar sy manier om my te troos.

“Ek ry nou Suurvlakte toe, dan kan jy saamry. Sonder om ’n sent te betaal.”

Amper giggel ek hardop. Hy sou nie kon raai dat ek skaars weet hoe ’n sent lyk nie! Toe ek tronk toe is, het almal nog pennies en sjielings gebruik.

Ek knik net. “Dankie.”

“Nou toe, kom wag solank saam met die ander in die skuilte van die stasie.”

Hy lei my behoorlik aan die hand om die gebou na waar ’n vrou en twee opgeskote seuns sit.

“Môre, mevrou,” sê ek toe ek sien sy het ’n ring aan haar vinger, maar sy groet nie terug nie.

Ek loer na die horlosie aan my pols om te kyk hoe laat dit is. Die wysers het op ’n paar minute voor nege gaan staan. Ek haal die horlosie af en sit dit ook in die sak. Toe skuif ek die sak onder my in en gaan sit op die koue sement­vloer om te wag. Die wind is darem nie so sterk hier nie.

Die kleuters sit tussen hul ma se bene, snoesig in ’n wol­kombers. Twee pare donker oë is nuuskierig op my gerig. Die vrou staar in die niet. Ons sit vir seker tien minute so in stilte, tot die een kind wil weet wanneer sy pa klaarmaak.

Sonder om te dink vra ek vir die vrou: “Is dit jou man?”

“Ja,” antwoord sy nors en kyk weer voor haar uit.

Dis vir my vreemd dat die man nie gesê het ek moet saam met sy gesin wag nie. Maar dis hulle probleem, besluit ek. Ek het genoeg van my eie.

“Kom, julle!” roep die man oplaas. “Ons kan maar ry!”

Ons beur teen die wind tot by die lorrie. Die vrou klim voor in en help die kinders op. Sy klap die deur toe. Die man lig sy hand in ’n groet vir die treindrywer en drafstap nader.

“Daarsy, laat ons weg wees.” Hy lig die seil agter op en wys ek moet inklim.

Die lorrie is propvol gelaai, maar ek het seker nie ’n keuse nie.

Ek klouter oor die hoë reling en gly in ’n gleuf teen die agterklap tussen die koring- en mieliesakke in. Dankie tog dat ek nie ’n vet mens is nie, sug ek in my binneste, anders kom ek ’n lyk anderkant uit. Ek sal op my sy moet lê tot by ons bestemming.

Die lorrie se bak is koud en hard onder my. Dit sal war­mer word as ons eers ry, troos ek myself.

Maar as ek al ooit ’n nagmerrierit beleef het, is dit nou. Die oomblik toe ons op die grondpad kom, begin die stof. Dis later so erg dat ek die bloes uithaal en oor my gesig hou.

My God, hoeveel kan ’n mens verduur! Wat het die man gedink om my só te behandel? Hoekom het hy my nie daar op die stasie gelos om te vrek nie?

Toe ek dit nie meer kan uithou nie, dwing ek die seil so ver moontlik oop sodat die ergste stof kan uitwaai. Dan draai ek maar weer my gesig teen die wind om asem te skep, en intussen is my liggaam besig om kliphard te vries.

Miskien moet ek bid, of sing. Ouma sou sê bid, maar ek sing liewer. Bid of sing, wat maak dit saak?

As die seil nie so styf vasgemaak was nie, het ek uitgeleun om hom te stop en liewer afgeklim en Suurvlakte toe gestap. Na wie of wat toe? koggel die stemmetjie in my kop weer.

Dié keer probeer ek nie eers antwoord nie, daarvoor is my krag te min.

Maar die gedagtes laat hulle nie onderdruk nie. Jou ma is dood van skok, tart die stemmetjie. Skaars ’n maand ná jy tronk toe is, want haar swak hart kon dit nie hanteer nie. Vier maande lank het jou pa jou alleen besoek. Tot hy ook besluit het dis beter om te wees waar jou ma is. Want daar was nie altyd geld vir tronk toe ry, of om toiletware, wintersokkies en onderklere vir ’n tronkvoël van ’n kind te koop nie. En jou broer …

Die mynskag het op Gert en Johannes ingetuimel! Pa het gesê hulle het uitgekom, maar hulle het erg seergekry. Dis hoekom hulle my nie kon besoek nie, hulle was heeltyd in en uit die hospitaal.

Pa het vir Gert aangemoedig om die werk te vat, en net twee weke ná Ma se begrafnis toe val die myn in. Al die ellende so te sê op een slag. Oorlede Ouma se huis op Klip­rant is seker ook al teen dié tyd ’n murasie.

Toe ek weer my kop vir vars lug uitsteek, sien ek ’n pad­bord wat wys dis nog veertig kilometer tot by Suurvlakte. Dit sou baie gehelp het as ek regop kon sit, of net kon omdraai. Plaas ek na Agnes se mense toe gegaan het; antie Lyn het my genooi.

Ek het darem nog ’n oom op Kliprant, Ma se broer. Hy is nou my enigste bloedverwant, tot ek dalk iets van Gert hoor.

Maar wil hy jóú sien? pla die stemmetjie weer. O, die skande darem dat sy susterskind in die tronk was! Netnou kies hulle iemand anders in sy plek op die kerkraad. En Gert is seker lankal dood. Wie sou jou kom sê het? Niemand het jou eers besoek nie.

Ag, hou net op! trap ek die stemmetjie plat. Ek sál nie verder na jou luister nie.

Wag … Ry die lorrie stadiger, of verbeel ek my?

Ek loer weer onder die seil uit. Uiteindelik! Ek kan Suur­vlakte se geboue sien!

Pa het altyd vertel die plek kry sy naam van al die suurgras wat hier groei. Net voor die dorpie kry jy eerste die petrolpompe, en dis waar ek moet afklim. Daar draai die pad links, in ’n noordelike rigting, na my geboortedorp en my eindbestemming: Kliprant, waar die Oranjerivier dien as lewensaar vir die boere wat met gewasse boer.

Die lorrie hou stil en die man klim uit. Hy ruk en pluk aan die tou en lig die seil op. “Ons is hier, suster!”

Hy vryf sy hande koulik teen mekaar terwyl ek stokstyf oor die hoë reling sukkel.

“Bietjie stowwerig gewees? Sien, as dit nou gereën het, was die pad nie so droog nie. Dit reën deesdae net hoër op. Ek wou nog sê, my naam is Thomas, suster.” Hy steek sy hand uit.

Geen wonder dat jou vrou so onvergenoeg is nie, wil ek hom toesnou. Hy glo duidelik nie daaraan om ’n vrou soos ’n dame te behandel nie.

Maar ek ignoreer net sy hand en stap na die ruskamers toe sonder om dankie te sê. Vir die eerste keer in my lewe gee ek nie om wat iemand van my maniere dink nie. Wat my betref, kan hy loshande hel toe vlieg!

Ek skrik vir my beeld in die spieël bokant die wasbak. My oë is rooi en my gesig is asvaal van die stof. Die mus sit windskeef op my kop en my rok is smerig. Ek kan sowaar nie so slodderig in Kliprant aankom nie!

Ek skud die mus uit, haal die bloes uit die sak en ge­bruik dit as waslap om my gesig, nek en arms te was. Myne hang nog in die tronksel. Selfs my sandale druk ek onder die water, en vryf dit so droog moontlik met die langbroek.

Met die skoon sandale aan my skoon voete voel ek amper beter. Laaste trek ek die rok oor my kop en sug dankbaar toe die munte oor die vloer spat. Ek het skoon vergeet van die kleingeld wat die kaartjiesman my gegee het.

Ek vryf die rok tussen my hande tot die ergste van die droë modderkolle weg is. Vryf en uitskud, vryf en uitskud. Toe trek ek dit weer aan, en vee die laaste kolle met die klam bloes af.

Nou is my voorkoms darem heel skaflik, soos Agnes sou sê. Ouma het altyd gesê ’n mens hoef nie te lyk soos jy voel nie.

Met die uitstap gooi ek die kleresak in die drom voor die deur. Toe gaan soek ek die petroljoggie.

Dié sit langbeen aan die sonkant van die pomp. As jou baas jou nou sien, jaag hy jou seker weg, dink ek by myself.

Ek hou die geld na hom uit. “Kan ek van die toffies kry?”

“Waffer toffies, suster?” Hy korrel na my, een oog ge­skreef teen die son.

Ek stap na die kafeetjie se glasvenster en druk teen die ruit. “Daai toffies.”

“O! Suster ka mos gesê het suster soekie Sunrise.”

Hy staan lui op en sluit eers oop. Tel die lekkers af en gooi dit in ’n bruin kardoes. Dan gooi hy die geld in ’n laai en kom uitgestap. Nadat hy gesluit het, oorhandig hy die bruinpapierpakkie.

“En waantoe gaat suster op hierie vrekkerige Dinsdag?” Hy gaan sit weer langs die pomp.

“Ek’s op pad Kliprant toe. Kan jy my sê hoe laat dit is?”

“Dis nou al voor drie. Kliprant, sê suster? Jo, jo! Dan sal suster mos stokoud raak hie! Die pad kry eerste liewe hie na Vrydag se kante toe.”

“Ek sal maar daar teen die pad gaan sit. Miskien is ek vandag gelukkig.”

“As suster wil, moet suster ma so maak. Ma ek wietie of suster vadag sal wegkommie.”

“Kan ek maar water kry, in hierdie botteltjie?”

Toe hy knik, vat ek die kleinerige koeldrankbottel wat op die pomp staan, gaan spoel dit uit en maak dit vol water.

Ek stap aan pad toe. Die wind waai nie so sterk nie, maar dis ysig. So ’n droë koue, soos ek die winters van die Suur­vlakte onthou.

By die afdraai na Kliprant gaan ek op die klompie rotse sit. Ek onthou hoe Pa altyd vir meneer Bertus hier laat stop het sodat die kinders hulle blase kon leegmaak agter hierdie einste rotse. Dis nou as die vakansie verby was en ons moes teruggaan na Kliprant se skool toe. Voor ons sak en pak Draairivier toe getrek het.

Ma sou altyd tussen die suurgras en vaal bossies rondloop, en dan terugkom met ’n groen bossie wat sy kal­koen­bos of bitterbos genoem het. Glo baie goed vir griep en verkoues.

Die pad lê asvaal en doodstil voor my. Dit verdwyn oor die bult, waar kokerbome in ’n bondel groei asof hulle daar geplant is. Ek skrik toe iets langs my wegskarrel. Dis ’n erd­mannetjie met sy bruin pels en stert wat alewig in die lug staan.

Die diertjie hardloop ’n ent weg en gaan staan dan op sy agterpootjies. Hy lig sy stert en kyk om hom rond voor hy oor die pad koers kry. Ek voel lus om te skree soos toe ek nog ’n kind was: “Erdman, erdman, jou stert val af!”

Maar my kop begin draai so skielik dat ek aan die rotse moet vashou. Opeens is die styfheid terug in my litte, en my neus brand soos vuur. My lyf rittel en bewe van die koue. En ek weet sonder twyfel: ek is besig om vrek siek te word.

Draairivier

Подняться наверх