Читать книгу Draairivier - Engela Ovies - Страница 9

Hoofstuk 6

Оглавление

_____________

1955

Die meisiekind se gordyne is steeds toe, nes die res van die huis. Miskien moet ek haar saamnooi om na die eendjies te gaan kyk!

Daar is seker niemand anders by die Groothuis nie, want ek het gisteraand gehoor Pa praat dat hy vandag saam met meneer Bertus en Nols aan ’n windpomp gaan werk. Die honde is ook veld toe, lyk dit my.

Ek sit my hoed op en kies koers na die Groothuis. Maak die hekkie oop en stap na die voordeur. Ná die derde klop loop ek om agterdeur toe.

Ek voel aan die deur, maar dis gesluit. Die sleutel, weet ek, lê onder die stoepmatjie waarop ek staan, maar om net oop te sluit en in te gaan, is darem te voorbarig.

Miskien moet ek roep? Nee, ons ken mekaar nie eens nie.

Teleurgesteld draai ek om en stap by die hek uit. Sy is seker weg. Dalk het iemand haar vroeg kom haal, toe ek nog geslaap het.

By die dam haal ek broodkrummels uit my rok se sak en strooi dit oor die water. Dis tog te koddig as die eende so spartel, blaas en duik om eerste die krummels op te pik.

Hoekom was Ma so vaag oor die meisiekind? steek die duiwel weer kop uit. My brein is al moeg gedink oor haar.

Eers toe ek amper by die huis is, dink ek weer aan Johan­nes. Die meisiekind het my skoon laat vergeet van my groot probleem! Sou hy en Gert mekaar vandag al raakgeloop het? Sou hulle oor my gepraat het?

Gert sal darem seker nie iets sê om my in die oë te sit nie. Of sal hy? Hemele behoed my! Laat ek liewer met die stryk­werk begin, dit sal my gedagtes besig hou.

Met die graaf loop ek skerm toe om kole uit die sand te skep. Ons begrawe dié altyd lewendig vir wanneer dit stryk­dag is.

Ek maak die perdehoefvormige strykyster se binnekant vol met die dooie kole. Dan gooi ek paraffien oor en steek dit aan die brand. Terwyl die yster warm word, haal ek die wasgoed af. Ek klam die goed in wat gestryk moet word en kry die tafel gereed.

Dis toe ek die gloeiende yster optel en dit heen en weer swaai sodat al die assies deur die gleufies uitwaai dat ek weer Groothuis se kant toe kyk. Die yster bly net so in die lug hang.

Die son skyn nou direk op die venster en ek kan haar dui­delik sien! Sy sit en borsel haar lang hare.

Genade, is dit ’n spook?

Kom nou, Sanna, kry ek lag vir myself. Waar het jy al gehoor van ’n spook wat sit en hare kam? En Ma sou nie hartseer gelyk het oor ’n spook nie, eerder bang!

Ek versit die strykyster na my linkerhand en waai met mening, want dit lyk of die meisie in my rigting kyk. En sy waai sowaar terug!

Ek sou graag die uitdrukking op haar gesig wou sien. Is sy ongelukkig omdat sy alleen by die huis moes bly?

Dan beweeg sy agteruit en trek die gordyn toe. Ag wat, miskien was sy nie lus vir die basaar nie.

Terwyl ek stryk, loer ek kort-kort na die venster, maar die gordyne bly toe.

Sê nou sy is soos die vrou in die storie wat Ouma altyd vertel het? Dié vrou was in ’n kasteel opgesluit, en soms het sy so vreemd geword dat hulle haar moes vasmaak. Sy was glo ook baie mooi, en haar hare was ook geel!

Wat ’n ryk verbeelding, Sanna! sou Ouma nou sê. Ek glim­lag toe ek haar stem so duidelik in my gedagtes hoor. Dis jammer sy lewe nie meer nie, sy het altyd so lekker by ons gekuier.

Toe ek klaar gestryk het, dra ek Gert se klere na sy kamer langs die afdak en sit dit op sy bed. In Ma-hulle se kamer pak ek haar klere in die laaikas. Pa s’n los ek op die bed; Ma moet dit maar in sy koffer sit. In my kamer langs Ma-hulle s’n pak ek my klere in ’n sak wat ek onder my bed inskuif. Vir die hoeveelste keer wens ek ons het hangkaste gehad. Partymaal moet ’n mens weer ’n rok oor stryk voor jy dit kan aantrek, want dit kreukel in die sak.

Ek kyk op die wekker. Dis al amper twaalfuur. Ma behoort so teen tweeuur terug te wees.

Ek maak soutwater om my voete te was, want hulle is moeg van die staan. Daarna smeer ek hulle met Vaseline in en trek my skoene aan.

Miskien moet ek koppie toe stap. Almal is in die veld, so niemand sal kan sê ek spioeneer nie. Ek voel soos ’n skelm seker moet voel toe ek die voetpad agter die huis vat.

Bo-op die koppie wurm ek my in die skadu van die klippe in. Ek staar oor die veld uit. Dis grafstil. By die buurplaas trek vuurrook die lug in.

Was dit nie so laat nie, het ek vir antie Poppie gaan kuier. Sy werk nie soos Ma in die plaashuis nie. Mevrou Roodt ry elke tweede dag haar huishulp van Suurvlakte af heen en weer. Mevrou Rita sê die mense het seker geld.

Volgens antie Poppie is sy al te oud vir sulke harde werk. Ma lag net as sy dit hoor. “Tussen ons gesê, Poppie is som­mer lui. Sy’s skaars vier jaar ouer as ek.”

Ná ’n ruk staan ek op en stap terug. Die gordyne by die Groothuis bly toe. In Ma se kamer gooi ek my agteroor op die bed.

“Haai, slaapkous!” Ma skud my aan die skouer. “Jy snork lekker!”

Ek sit regop. “Hallo, Ma! Het ek sowaar aan die slaap geraak?”

Sy kom sit langs my op die bed. “Kyk wat het ek gekry.”

Ek vat die sak wat sy op haar skoot hou en haal ’n bruin kardoes uit.

“Nee, sit daai eers neer. Ek wil jou wys waarmee jy jou die vakansie kan besig hou.”

“Wat is dit?” Ek sit die kardoes met die vetkolle langs my neer. “Ek ruik braaivleis en pannekoek!”

“Haal dié ook eers uit.” Sy glimlag geheimsinnig.

In die tweede kardoes, kan ek duidelik sien, is pannekoek. Onder in die sak is nog ’n plastieksak en ek haal dit uit.

Dis vol van die lieflikste stukkies lap! Bontes, gestreep­tes, sommige met kolle, in al die kleure van die reënboog. Daar is ook rooi, wit, geel en groen wol in die sak. Ek voel skielik skuldig oor die geskenk – dit moes ’n klomp geld ge­kos het.

“Haai, Ma, was dit nodig? Dis baie lappies! Hoe het Ma betaal?”

“Mevrou Rita gaan die geld einde van die maand aftrek. Moenie jy jou kop daaroor breek nie.”

“En die kos?”

“Dit, my liewe kind, het sy vir ons gegee, verniet. Ek het met die geldjie wat ek gehad het vir julle toffies gekoop.”

“Dan is mevrou Rita seker nie so aaklig soos wat ek gedink het nie.”

“Genade, Sanna, hoe het ek jou grootgemaak? Mens dink nie so lelik van ander mense nie!”

“Ja, Ma, ek weet. Maar hoekom los sy die meisiekind alleen by die huis?”

“Tog nie al weer daai storie nie! Los dit, dis niks met jou te doen nie.”

“Sy het vandag vir my gewaai.”

“Wie het vir jou … Suzanna Jansen, moet my nou nie kwaad kry nie! Jy bly weg van Inge af, verstaan jy? Ek soek nie moeilikheid nie.”

Ek kyk af na my hande. So daar ís moeilikheid. En haar naam is Inge.

“Reg, Ma, as Ma so sê.”

“Dink jy nie dit sal mooi lyk nie?” Sy hou die lap met rooi strepe en die rooibonte langs die plein rooi lap.

“Hmm, ja, dit lyk goed.”

“Met die wol gaan ons truie brei vir Pa en Gert, en jy kan vir ons kussingslopies maak. Jy’t mos baie tyd in die vakansie.”

Ek weet sy praat eintlik om my aandag weg te kry van Inge af. Dis ’n mooi naam. En net gister het Ma kamtig nie eens van haar bestaan geweet nie!

“Gaan maak vir my ’n bietjie tee, asseblief.” Ma strek haar skuins op die bed uit.

Ek gooi die lappies terug in die sak en bêre dit in die kis by die voetenent van die bed. Net môre gaan ek aan iets begin werk. Ek voel sommer opgewonde by die ge­dagte.

Die water op die paraffienstofie kook gou en ek maak die tee.

“Moet ek vir Ma poeiermelk ingooi?” Ek sit die beker op die tafeltjie langs die bed neer.

“Dankie. Ja, die poeiermelk is nou nie bokmelk nie. Dié is baie lekkerder in die tee, veral met ’n stukkie kruisement in soos in Kliprant se dae. Maar nou ja,” sug sy.

Vir die eerste keer wonder ek of Ma gelukkig is op die plaas. Of is dit net ter wille van Pa dat sy hier is? Sy het tog haar vriende en haar broer in Kliprant agtergelos, sy mis hulle seker ook.

Miskien is dít hoekom sy partykeer net moeg en lêerig is. Ná ons einde verlede jaar hierheen getrek het, was ons nog nie weer huis toe nie. Hoe sy nou gesug het, sê net een ding: sy verlang.

Met Ouma se dood het oom Dries die paar bokkies vir hom gevat. Hy was kwaad oor Ma die huis gekry het, en hy’t net gesê Sara is getroud, haar man moet vir haar sorg. Hier is nie eers ’n koei nie, mevrou Rita koop melk in die dorp. Meneer Bertus sê hy is ’n skaapboer en dis dit.

“Kry vir jou ’n pannekoek.” Ma beduie na die kardoes. “En kom maak my halfvier wakker. Ek moet nog Groot­huis toe.”

“Is Ma nie moeg nie? Hoekom altyd uitvaltyd weer gaan werk?”

Sy drink die beker in stilte leeg, staar lank na die oorkantse muur.

Ek sluk die laaste hap pannekoek. “En nou, Ma? Voel Ma –”

“Dis vyfuur Inge se badtyd. Eers moet ek sorg dat sy eet. Dis hoekom ek uitvaltyd werk toe gaan. En jy kan nou met liefde na jou kamer toe gaan sodat ek bietjie kan rus.”

Sy swaai weer haar voete op die bed en sluit haar oë.

Ek staan verdwaas op en kyk na haar. Wat sê sy nou eintlik? Is die meisiekind dan siek?

Asof sy my gedagtes kan lees, sê sy: “Ja, Sanna, Inge is verlam. Sy het afgeval van daardie wit perd wat heeldag op stal staan.”

Ek trek my asem geskok in. Ma se oë gaan oop.

“Maar hoekom kan mevrou Rita … Ek bedoel, moet Inge heeltyd net in die huis bly?”

Ma sug. “Partymaal moet mens maar Gods water oor Gods akker laat loop, my kind. Onthou om my te kom wakker maak.”

En daarmee draai sy haar rug na my.

In my kamer is ek soos ’n dwalende, vat hier en los daar. Niks maak sin nie. Inge is nog so jonk – en ’n kluisenaar, soos ek van Ma verstaan.

Halfvier gaan ek Ma roep, en toe sy in haar oorrok uit die kamer stap, is ek oorgehaal.

“Kan ek saamgaan, Ma?”

Sy kyk na my en frons kwaai. “Om wat te maak? Ek gaan werk, nie kuier nie. Kry jy solank die vuur aan die gang, Pa-hulle sal nou hier wees. Hulle moet sommer die braai­vleis eet, en daar’s nog brood in die trommel.”

Haar stem is bietjies te ongeduldig. Sou sy pyn hê? won­der ek.

“Ma!” roep ek agter haar aan toe sy vinnig wegstap. Sy gaan staan en kyk terug.

“Dankie vir die lappies, Ma!”

Sy glimlag en knik net voor sy omdraai en verder loop.

Op pad skerm toe onthou ek stukkies uit die gesprekke tussen Ma en antie Mina.

“Al so baie gely, die arme kind …”

“As die nare vrou net wou toelaat dat sy …”

Ek het altyd gewonder vir wie Ma “groete” van antie Mina af moes sê. Het maar aangeneem dis vir mevrou Rita en die tweeling, maar op ’n manier het dit net nie gepas nie. So antie Mina het altyd bedoel sy moet groete sê vir Inge!

Antie Mina het destyds al by mevrou Rita se ouers op die plaas gewerk. Mevrou en meneer Bertus was jonk getroud en het in die Kaap gebly. Eers ná die oumense se dood het hulle hierheen getrek.

Die geblêr van skaap ruk my terug na die hede. O gaats, Pa en Gert is al terug!

Ek lig my hand bo my oë om teen die strale van die ondergaande son te sien. Lyk of daar nog iemand in die stofwolk saam met hulle loop.

Dis Johannes!

My bene is skielik lam en my hart klop in my keel. Wat maak hý hier? Moet hy dan nie ook sy pa met die vee help nie?

Toe hulle klaar die skaap versorg het, kom hulle aangestap huis toe.

“Daar kom Ma ook nou aan,” hoor ek Gert sê.

Die erdebekers staan drie in ’n ry gereed op die tafel en ek skarrel rond op soek na die koffiesif. Die verdomde ding, dit was dan nou net hier! Pa wil nie wag vir sy koffie nie.

“Naand, meisiekind,” groet hy met die inkom.

“Naand, Pa, Gert; naand, Johannes.” Ek hou my besig om die moerkoffie in te gooi, wat ’n gesukkel is sonder ’n sif.

“Jy moenie vir my gooi nie, Sanna,” keer Johannes. “Ek is al weer op pad.”

Amper giggel ek in sy rigting van skone senuwees!

“Ek sal sy beker vat,” praat Ma agter my. “Naand, julle.”

Sy druk met haar een hand teen haar skouer toe sy langs Pa gaan sit. “Gaan dit goed, Johannes? Jy moet vir jou ouers sê ons stuur groete.”

“Naand, antie Sara. Ja, dankie, dit gaan goed. Pa het my net gou na oom Hendrik toe gestuur.”

“O ja!” sê Pa. “Gertman, bring daar my werkblik.”

Hy haal ’n rolletjie skoenriem uit en gee dit vir Johannes. “Jonny sal al twee pare skoene kan klaar werk met dié riem.”

Ek hou onderlangs vir Gert dop. Kan hy nie net sy koffie stadiger drink nie! Sit nie eers sy beker neer elke keer as hy met die werkblik gestuur word nie. Ek kan my net in­dink hoe hy sal te kere gaan as hy nou teen die koffiemoer vasdrink wat bodem toe gesak het.

“Dan is ek eers weer weg,” sê Johannes. “Naand, oom; naand, antie; naand, Gert, Sanna. Dankie, oom!”

Hy loop haastig weg hekkie toe.

“Johannes!” roep ek agter hom aan.

Toe hy gaan staan en terugkyk, stap ek nader.

“Sê tog vir antie Poppie ek sal môre ’n draai daar maak, asseblief.”

Ons kyk mekaar vol in die oë en ek voel hoe my gesig warm word. Jis, maar hy het die twee helderste wyd oop lig­bruin oë in sy kop!

Hy glimlag breed. “Dis reg, Suzanna. Ek sal vir Ma sê. Sy sal bly wees.”

Ek draai kortasem om en stap met lam bene weg. Hoekom sou hy my op my doopnaam aanspreek? En met so ’n ekstra warmte in sy stem …

Moet jou nou nie goed staan en verbeel nie, Sanna, ver­maan ek myself. Ruk jou reg! Dit lyk hoeka of Gert net vir my dophou.

Met die terugloop hoor ek Ma sê: “Dat so ’n goeie seun nou moet weggaan.”

Draairivier

Подняться наверх