Читать книгу Draairivier - Engela Ovies - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

_____________

1955

Een vir een glip die Desemberdae verby. By die huis is daar nie veel om te doen nie. Net ’n knoop wat aan Gert se broek gewerk moet word, en dit gaan ek beslis nie doen nie – Ma kan maar.

Vroegmiddag vat ek ’n sny brood vir die eende en stap af dam toe. Ek kyk in die rigting van die Groothuis. Daar is nog geen teken van Ma wat terugkom van die werk af nie.

Dan merk ek iemand op die boonste verdieping. Sy sit en kyk deur die venster, maar ek kan nie uitmaak of sy vir mý kyk nie. Van hier af kan ek twee goue vlegsels sien, en dat sy baie mooi is.

Ek skreef my oë om beter te sien. Wie sou dit wees? Nie Elsie of Jana nie, hulle het rooi hare soos hulle ma. Ek lig my hand in ’n groet, maar die meisie staar net.

By die dam gaan lê ek plat op my maag en krummel die brood in die water. Die eende, vier grotes en drie kleintjies, dryf rustig nader en pik die krummels op.

Ek strek my op die kweek uit en staar in die bloekom se takke op. Wie sou die meisie met die goue vlegsels wees? Ek kan nie onthou dat Ma al van so iemand gepraat het nie. Dalk is dit ’n kuiergas vir die vakansie. Sy lyk of sy nog op die skoolbanke hoort. Mevrou Rita het ’n ouer suster in die Kaap en dié het groot kinders, so dis seker ’n niggie. Meneer Bertus het nie broers of susters nie.

Daar was iets aan die mooi gesig wat nie gepas het nie, besef ek. Leed?

Ja, ek kan sweer die meisie het hartseer gelyk. Hoekom sou sy so alleen daar sit?

Ag, Sanna, los nou! raas ek met myself. Jy het groter pro­bleme as dit. Soos dat Gert enige tyd vir Johannes kan vertel jy is smoorverlief op hom. Waar gaan jy dán weg­kruip?

Ek knyp my oë toe. Ek spring sowaar van daai hoë wal by die donga af waarteen Ma ons altyd waarsku!

Die wind ruis saggies deur die biesies, en ek kan voel ek raak lomerig. Sou die meisiekind met die geel hare hier­die skuilplek ken? Dis so koel en rustig hier, veral as jy nie gesien wil word nie.

Ek sit met ’n sug regop. Ek moet huis toe gaan, Ma is seker al daar. Die meisiekind en hoe sy hier gekom het, het niks met my te doen nie. Hulle is wit en ons bruin en daar is perke – dis hoe ons grootgemaak is, en ek het al opgehou wonder en vra hoekom.

Op pad verby die Groothuis kan ek nie help om weer na die venster te kyk nie. Maar die gordyne is nou toe en dis doodstil.

By ons huis is dit ook nog stil. Ek skrik toe ek die tyd op die wekker in Ma-hulle se kamer sien. Dis al ná vier.

Nadat ek vuur gemaak en koffiewater opgesit het, gaan ek op die waterdrom sit. Hier langs die huis is dit koel, en ek luister ingedagte na die geluide wat my voete teen die drom maak.

“Ek is bly jy’t al vuur gemaak,” praat Ma skielik agter my.

“Haai! Ek het Ma nie sien aankom nie!” Ek spring van die drom af en vat die sak by haar. “Wat is hierin, Ma?”

“Dis vet, Sanna, wat jy nou gaan uitbraai. Ons gaan va­n­aand kaiings en stywepap eet, wat jy ook gaan maak.” Sy druk haar wysvinger teen my neus en knipoog vir my.

“Lekker! Is Ma moeg?” vra ek, want sy lyk bleek.

“Doodmoeg, kind. Ek gaan bietjie skuinslê tot Pa-hulle hier is.”

Ek sit die vet in ’n skottel, vat die vleismes om dit te kerf en gaan sit op die bankie voor haar deur.

Ná ’n rukkie vra ek: “Slaap Ma?”

“Nee … Hoekom vra jy?”

“Ek wonder sommer of mevrou Rita-hulle enige gaste vir die Kersvakansie het?”

“Hulle kry mos nooit gaste nie. Dis net mevrou dominee wat soms ’n draai op die plaas maak.”

“Nou wie is die meisiekind met die geel hare dan wat ek vandag gesien het?”

Eers maak Ma haar oë oop en dan lig sy stadig haar kop. “Waar het jy haar gesien?”

“Toe ek afstap na die eende toe, het sy in die kamervenster bokant die sitkamer gesit. Sy het so hartseer gelyk.”

Vir ’n lang tyd is Ma stil terwyl sy na die oorkantse muur kyk. Verbeel ek my of lyk sy ook nou hartseer?

“Ek weet nie, Sanna. Wat by die Groothuis aangaan, het niks met ons te doen nie.”

“Maar Ma moet tog weet van haar?”

“Los dit, Suzanna!”

Ek kyk af en kerf verder. As Ma met haar pakgee-stem praat, moet jy eerder stilbly.

“Daai vet is genoeg.” Sy sit met ’n kreun regop. “Jy hoef nie nou als klaar te sny nie. Draai die orige in ’n nat lap toe en sit dit onder die bed. Daar kom Pa-hulle ook nou. Ek moet nog Gert se broek se knoop aanwerk.”

Op pad na Gert se kamer sit sy die draadloos aan wat op die tafel onder die afdak staan.

Gé Korsten sing dat my ore toeslaan terwyl ek haar verbaas agternakyk. Wat gaan by die Groothuis aan?

Die aand in my bed is dit nie aan Johannes wat ek lê en dink nie. My gedagtes bly by die meisiekind met die geel hare in haar groen rok. Sy lyk nie of sy veel ouer as die tweeling kan wees nie. Ek voel skuldig, want ek glo Ma nie. Sy is dan elke dag by die Groothuis, hoe kan sy van niks weet nie?

En die tweeling? Hoekom praat hulle nooit van die mei­siekind wanneer ons skool toe ry nie?

Ek sit regop, wawyd wakker. Die paddas brul in ’n onreëlmatige koor onder by die windpomp. Iewers tjank ’n jakkals. Dit klink of hy al verder weg beweeg.

Ek sak weer teen die kussing terug. Miskien moet ek ’n boek vat en lees. In die donkerte voel ek na die boksie vuur­houtjies en steek die kers op.

Die tas onder die bed het net ’n klompie ou Huisgenote in, nog wat Ma by mevrou Rita gekry het. In my skooltas kry ek ’n potlood en begin ’n blokraaisel invul.

Dit help nie veel nie. Ek moet seker bid, miskien raak ek dan aan die slaap.

Op my knieë voor die bed bid ek, ook vir die meisie wat so alleen gelyk het.

Oormôre is dit Vrydag. Dan gaan help ek gewoonlik vir Ma met die wasgoed by die Groothuis. Miskien sien ek dan weer die meisiekind.

Donderdagoggend word ek wakker met ’n dowwe hoofpyn. Pa en Gert is lankal weg veld toe. Dis nou al die tweede keer wat ek so verslaap!

Ma kom uit haar kamer gestap. “Môre, Sanna! Ek het koffie gemaak, gooi vir jou.”

“Môre, Ma.” Ek gaap. “Koffie sal lekker wees.”

“Hoeveel keer moet ek vir jou sê om die kers uit te blaas voor jy slaap, kind? Jy moet eerder die lantern in ons kamer vat as jy wil lees of iets. Ek moes weer gisteraand jou kers gaan uitblaas. Jy sal dat ons almal uitbrand!”

“Jammer, Ma.” Ek gooi van die koffie uit die ketel.

“Jy gaan anderster jammer wees as jy houtskool is! Net vanaand moet Pa vir jou ’n bliklampie maak, of jy nou kla oor die reuk of nie.”

“Dis reg so, Ma.”

“Jy sal maar vandag alleen ons wasgoed moet was, dis besig om op te hoop.”

Ek kyk fronsend na haar. “Nou hoe is dit dat Ma nie meer ’n dag af kry nie? Ek het gedink ek en Ma gaan saam die wasgoed was.”

“Jy’t seker vergeet mevrou-hulle se kerkbasaar is uitge­stel na vandag. Ek gaan help om te verkoop.”

“Kan ek saamgaan? Ek kan by antie Mina-hulle bly.”

“Jy sal mos nie heeltyd daar wil bly as jy weet ek is by die basaar nie. En ek het nie geld vandag om enigiets te koop nie. Jy gaan die wasgoed was, Suzanna.”

Ma het klaar gepraat, weet ek uit ondervinding. Dis beter om eerder stil te bly.

Ná sy weg is, grawe ek in die naaldwerkmandjie waar sy haar pilletjies en salfies hou. Ek sluk ’n aspirien en klim terug in die bed.

’n Halfuur later, toe die pyn bedaar het, staan ek op.

Terwyl ek die vetplantjies langs die huis natmaak, kom meneer Bertus se bruin Valiant by die motorhek uitgery. In die verbygaan sien ek dis net Ma, mevrou en die twee­ling in die groot kar. Ek lig my hand in ’n groet.

Toe die stof wegtrek, kyk ek na die venster aan die linker­kant van die Groothuis. Die gordyne is toe. Sou die meisie­kind steeds daar wees? Ek sou tog gehoor het as hier nog ’n motor gery het, want die enigste pad na die grootpad loop verby ons huis.

Ek skep van die warm water uit die blikkantien op die vuur en gooi dit by die koue water in die houtbalie waarin ons die wasgoed was. Dan vryf ek die wit goed met die boer­seep in. Terwyl die wasgoed week, kry ek die tyre-hark en hark die werf.

Halfelf hang ek die laaste wasgoed op. Eers eet ek brood en koffie, dan klim ek in ’n sinkbad vol water. Skoongewas en afgedroog, trek ek my ligblou rok aan.

Draairivier

Подняться наверх