Читать книгу Vuvuzela: Skooluitgawe Gr 11 TAT - Engela van Rooyen - Страница 7

Die basiese kenmerke (features) van die novelle/kort roman

Оглавление

Opsomming van die verhaal

Vuvuzela vertel die verhaal van die twaalfjarige Senke en sy ouer broer, Buti, wat in ’n shack in die plakkerskamp, Plastic View, woon. Die agtienjarige Buti werk by ’n bouer en sorg vir Senke wat skoolgaan. Hulle is weeskinders (orphans) vandat hul ma dood is aan vigs. Buti se droom is dat Senke graad twaalf moet slaag (pass). Buti is erg oor sokker, maar kan nie meer speel nie omdat hy van vroeg tot laat werk. Omdat Buti so goed vir hom sorg, wil Senke iets doen om vir hom dankie te sê. Op die dag van die Sokkerbod vir die 2010 Sokker-Wêreldbeker kuier hy en Buti saam met al die township se mense by Sis Kate se shebeen om te wag vir die uitslag (results). Dis hier waar hy besluit om vir Buti ’n kaartjie na een van 2010 se sokkerwedstryde te koop om vir hom dankie te sê. Hy noem die plan Tikiplani. Dit is sy geheime woord sodat Buti nie van sy planne kan uitvind nie. Dit moet ’n verrassing (surprise) wees. Buti het ook ’n vuvuzela opgetel wat hulle goud en swart geverf het om by Kaizer Chiefs se kleure te pas. Senke is baie erg oor die vuvuzela, maar laat die kinders toe om daarop te blaas (bl.34). Tydens Entrepreneursdag maak hy die eerste vyf rand en besluit om dit in ’n spaarrekening (savings account) te belê. Hy is opgewonde (excited) toe hy ’n fiets kry sodat Buti kan geld spaar met die vervoer (transport). Buti word gearresteer omdat dit ’n gesteelde fiets is en die eienaar van die fiets so aangerand is (attacked) dat hy byna dood is. Buti ontmoet sy stiefoupa in die tronk. Hy beloof (promise) die seuns om hulle na sy land toe te neem vir vakansie (holiday) en om van Mama se goed wat hy na die begrafnis (funeral) kom oplaai het, aan hulle terug te gee.

Die novelle is ’n kort prosaverhaal, langer as ’n kortverhaal, maar korter as ’n roman. Dit het al die basiese kenmerke van ’n roman, maar net minder intrige; daar gebeur minder dinge. Kom ons kyk na die eienskappe van die novelle/kort roman:

Titel

Die titel stel die roman aan die leser bekend (introduces) en is ’n belangrike leidraad (clue) om die inhoud te verstaan. Die vuvuzela of sokkerhoring is ’n moderne weergawe van die beeshoring wat tradisioneel in swart gemeenskappe gebruik is om belangrike nuus of boodskappe aan te kondig. Dit is die simbool van alles wat vir Senke die lewe aanmekaar bind: sy voorvaders, sy ma, die township-lewe, sokker en Buti. “Die vuvuzela was mooier as al die musiek van die township” (bl. 32). “Buti het die vuvuzela vir Senke gegee. As Buti graag iets wil hê, dan gee hy dit vir Senke” (bl. 34). “Kleintjies wat huil oor hulle ma’s wat werk of dood is, word gebring om daaraan te vat” (bl. 34). Senke slaap met die vuvuzela onder die kombers by hom (bl. 42).

Agtergrond en Tyd

Dit is die agtergrond (background/setting) waarteen die verhaal afspeel. Dit gee ook die raamwerk (framework) vir die plek en die tyd. Dit is waar die intrige (plot) plaasvind. Die leser moet dit weet om die storie te verstaan, want dit sê meer oor die houding (attitude) en waardes (values) waarin die storie geskryf is. Die leser leer dit ken deur na die direkte inligting (direct information) en die taalgebruik (language usage) te kyk. Dit is ook dikwels die sleutel (key) tot die tema en die karakters.

Buti en Senke bly in Plastic View, in ’n shack van plastiek en karton, met ’n nommer, maar sonder ’n adres. Dit is ’n plek waar daar snags op mense geskiet word, en wat die seuns al heelnag van vrees laat regop sit het. Daar is nie meubels (furniture) in hul shack nie, net ou verfblikke vir sit- en neersitplek, twee sponse op die grond vir beddens, ’n houtkis wat kan toesluit vir hul kos, ’n kombers en ’n primus, en groentekissies van Sis Kate vir hul losgoed. “Die winter is soos ’n hond wat aas tussen die skuilings (shelters)” (bl. 44). Plastic View is die armste deel van die township, maar hier betaal hulle nie belasting (tax) nie. Hulle het net ’n kraan. “Maar ’n shack is tog ook net ’n huis, dink Senke” (bl. 63). Voor hul mama se dood het hulle in Tin View in ’n netjiese sinkhuis met blomme in blikke gebly. Hulle het meubels gehad, ’n yskas, ’n gasstoof, ’n radio en ’n TV. Mama se werksplek was van klei en reg langs die huis (bl. 55).

Die tydsverloop (lapse of time) word in twee dele gemeet: Die vertelde tyd (How many days, months or years it takes to tell the story) en die verteltyd (How many pages in the book to tell the story). Die vertelde tyd dui aan oor hoeveel dae, weke, maande of jare die verhaal vertel word. Die verteltyd is die aantal bladsye van die boek waarin die verhaal vertel word. In Vuvuzela is die verteltyd 70 bladsye en die vertelde tyd ongeveer ses jaar, as die terugflitse (flashbacks) ook ingetel word. Mama het twee jaar siek gelê en is al vier jaar dood (bl. 36). Senke is in 2004, die jaar van die Sokkerbod, in graad ses (bl. 36) en Mama is toe al vier jaar oorlede (bl. 36). Senke het nog ses jaar om vir Buti se sokkerkaartjie te spaar (bl. 33). Die werklike gebeure speel oor ’n paar weke af, van die aand voor Entrepreneursdag totdat Buti vrygelaat word.

Verteller (narrator)

Dit is die persoon wat die verhaal vertel. Dit kan een van die karakters in die verhaal wees wat dit uit sy of haar perspektief (perspective) vertel. Dan noem ons dit ’n eerstepersoonsverteller (first person narrator). Of dit kan vertel word deur iemand wat buite die verhaal staan. Dit word ’n derdepersoonsverteller (third person narrator) genoem. In Vuvuzela word die verhaal vertel uit die perspektief van Senke, die jonger broer, maar in die derde persoon (third person): “Hy wens hy kon vir Buti die droom vertel, want drome is belangrik. Maar dan moet hy ook van gister vertel, en Buti sal worry en hom terug skool toe stuur” (bl. 41).

Karakters (characters) en karakterisering (characterization)

Hoe leer die leser ’n karakter ken?

Deur wat die skrywer oor hulle sê

Deur wat ander karakters oor hulle dink en sê

Deur wat die karakters self dink en sê

Deur hul aksies in en reaksies (reactions) op sekere situasies en met ander karakters.

Die hoofkarakters (main characters) in Vuvuzela is Senke en Buti.

Die leser leer hulle ken deur hul sterk- en swakpunte.

Hierdie karakters deel hul diepste geheime (innermost thoughts) met die leser.

Hierdie karakters kom gewoonlik in konflik (conflict) met ander.

Hoofkarakters ontwikkel (develop) in die verloop van die verhaal en pas by verandering aan (adapt to changing circumstances) en toon groei (show growth).

Daar is ook karakters wat teenoor die hoofkarakter staan. Dit is karakters wat sorg vir konflik. Hierdie soort karakter toon geen ontwikkeling (development) of groei (growth) nie. In Vuvuzela is Gift en die stiefoupa voorbeelde van karakters wat konflik veroorsaak. Gift se karakter toon ook geen groei nie.

Die karakters in Vuvuzela val in twee groepe: Die goeies (good ones) en die slegtes (bad ones). Die goeies is Buti, Senke, Sis Kate, Bra Sam, Jewel, die Teacher, Nandi, Mama, die umkhulu en Buti se voorman. Die slegtes is Gift, Beauty, die umkhulu se mense, die gangsters en die tsotsi’s.

Senke en Buti is die hoofkarakters, maar daar is min karakterontwikkeling (growth) by hulle. Hulle is sommer van die begin af goeie mense. Daar is nooit by een van hulle ’n verwyt (remorse), ’n bitterheid (bitterness) of selfbejammering (self pity) nie. “Ek is bang hulle vat jou weg orphanage toe, broertjie” (bl. 48) . . . Toe het Buti langs die pad begin gras sny en verkoop, tot dertig bondels ’n dag” (bl. 12). Aan die einde van die verhaal is die twee broers steeds goeie mense met hul eie drome. Dit is net die Teacher by wie daar duidelike groei (growth) plaasvind. Dit lyk of hy ’n swakkeling is wat pornografie kyk, maar dit is nie die waarheid nie. Hy besluit dat die skool hom nodig het en dat hy nog baie het om te gee. “Dankie, Daniel. Ek het nog baie werk by Sekolo Sa Rona. Ek wil ’n Gardening Project begin en ’n Fatherhood Project” (bl. 85).

Senke is 12 jaar oud en ’n leerling van Sekolo Sa Rona. Almal noem hom Tso, afgelei van Kgomotso Daniel, wat “troos” beteken. Dis net Buti wat hom, soos Mama, Senke (klein seuntjie) noem. Senke was net twee jaar in die skool toe Mama dood is. Hy is bang vir sy drome, dat Buti sal wegraak en dat hy dan alleen sal wees. Senke is fluks en doen soggens eers al sy werkies in die shack voordat hy skool toe gaan (bl. 52). Smiddae lees hy soms biblioteekboeke (bl. 80). Senke is baie afhanklik (dependent) van Buti. Hy lê “opgekrul op Buti se spons, waar hy Buti se reuk kan kry” (bl. 82). Senke is siek van bekommernis (worry) oor Buti (bl. 83) en hardloop om hom te gaan soek. Hy is bekommerd dat iemand Buti in die selle kan molesteer. Senke se groot droom is om Buti te beloon (reward) met ’n kaartje na ’n sokkerwedstryd, en om self sokker uit te saai (broadcast).

Buti is 18 jaar oud en sorg vir Senke. Hy moes die skool los en by ’n bouer gaan werk om hulle aan die lewe te hou. Die mense noem hom “Rhoo” na Lucas Radebe, want hy is ’n goeie sokkerspeler (bl. 38). Hy maak mageu sodat Senke iets het om op Entrepreneursdag te verkoop (bl. 28). Buti was al by die inisiasie-skool. Die straatkinders het eendag sy klere en skoene by die werk gesteel (bl. 49). Hy kry hulle jammer omdat niemand vir hulle sorg nie. Buti is spaarsamig (thrifty) en kyk mooi na hul goed. Wanneer die geld min is, koop hulle nie “luxuries” soos olie of seep nie (bl. 51). Hy is baie besorg oor Senke en was woedend (very angry) toe Senke die dag in die groot winkel (shop) weggeraak het (bl. 72). Buti is ook ontsteld (upset) oor die fiets en wil eers hê dat Senke dit dadelik moet gaan teruggee (bl. 75). Hy wil nie hê hulle moet met verkeerde dinge te doen hê nie. Buti word later gearresteer omdat hy ’n gesteelde fiets ry. Buti en Gift het ’n ding oor Nandi (bl. 91): “Nandi is tussen ons.” Buti se droom is dat Senke graad twaalf moet slaag, dat hyself weer kan sokker speel en ’n bestuurslisensie (driver’s license) kry.

Mama is Buti en Senke se moeder wat aan vigs oorlede is. Sy was ’n been-sangoma, Sister Zaba, en die mense van LoveLife praat steeds oor haar goeie werk (bl. 31). Mama het ’n “calling”, ’n talent (bl. 58), gehad om mense gesond te maak. Sy het ook konferensies bygewoon en leerling-sangomas opgelei. Sy het graag mooi aangetrek (dressed up) wanneer sy dorp toe gaan en swaaiende oorbelle (earrings) gedra (bl. 57). Sy is dood aan “bad blood”. Sis Kate het vertel dat Mama siek geword het omdat die mense by die plek waar sy gaatjies in haar ore laat maak het, besmette instrumente gebruik het. Mama het net stief-familie wat al haar goed kom vat het.

Teacher is Senke se geliefde onderwyser by die skool en die een wat Entrepreneursdag organiseer. Teacher is ook Senke se mentor by wie hy baie dinge leer. Hy sê ’n mens moet altyd ’n doel in sig hê (a goal in view) (bl. 42). Teacher bring gereeld interessante uitknipsels (cut outs) met inligting klas toe (bl. 45). Sy bynaam is Foureyes omdat sy oë so agter sy bril roer. Beauty Matuga gryp op Entrepreneursdag die Teacher se foon en skree dat daar pornografie op is. Die Teacher moes huis toe gaan en die polisie is ingeroep (bl. 40). Die Teacher help Senke om by die polisie te kom om uit te vind oor Buti (bl. 84). Hy vertel vir Senke dat hy onskuldig (innocent) is oor die pornografie en dat hy weer wil skool toe kom (bl. 85).

Sis Kate is die Shebeen Queen, Block Leader en ’n besigheidsvrou (business woman). Die mense het respek vir haar en tot die Prinsipaal is bang vir haar. Sy noem haarself ’n “righteous woman” (bl. 68) en veg teen misdaad en roofkrag. Sy werk ook vir ’n biblioteek (library) in die township. “Sy is ’n groot vrou wat freedom-rokke dra, maar sy loop so sag soos die olifant . . .” (bl. 67). Sy vertel vir Senke hoe sy ma vigs gekry het.

Bra Sam is Sis Kate se man, maar bangerig (afraid) vir haar. Sam is klein, met ’n effense bles (bald head) en stywe boude. Hy loop altyd vinnig. Hy wou eenkeer nog ’n vrou vat, maar het toe sy plan gelos toe Sis Kate dreig (threaten) om hom uit te gooi. Senke hou van hom omdat hy glo ’n kind kan ook ’n “mission” hê (bl. 65) en dit lyk of hy meer van Senke as van sy eie kinders hou. Sam hou van Ray Charles se musiek en praat flaaitaal, die “taal van voor die riots” (bl. 66). Hy gee die fiets in Sis Kate se stoor vir Senke.

Jewel is Sis Kate se dogter en die wenner van die leuse-kompetisie (slogan competition). Sy deel haar tafel op Entrepreneursdag met Senke en spaar hom geld. Sy leen hom ook ’n beker om sy mageu in te verkoop (bl. 38). Bra Sam wil hê dat Buti vir Jewel moet vat.

Gift is deur die prinsipaal uit die skool gesit omdat hy dagga by die skool gerook het. Hierna het hy weggeraak (disappeared) en sy foto was op Police File se lys vir vermiste (missing) persone. Hy het kos uit ’n kliënt se bord gegryp en geld uit die geldlaai gesteel. Hy is lui en kla net. Gift sê ook dat daar geen wegkruipplek (hide-out) vir die polisie is nie (bl. 44) en dat hulle pepersproei (pepper spray) in die misdadigers (criminals) se oë spuit. Gift het slegte vriende, hulle is dalk lede van ’n misdaad-sindikaat (crime syndicate) (bl. 73).

Beauty Matuga beweer Jewel wen omdat haar ma haar gehelp het. Sy gryp die Teacher se selfoon en gee voor (pretend) dat daar pornografie op is. Sy is kort-kort weg uit die skool en al baie groot, maar nog in graad ses (bl. 39).

Foloman is Buti se voorman by die bouery waar hy werk. Hy is baie gaaf en gee vir Buti al die stukkende stene. Hy bly in ’n steenhuis en “het ’n goeie hart” (bl. 53). Hy het al vir hulle ’n halwe roomkoek gestuur, en sy vrou stuur af en toe hoendervelle of botterbakkies vol vet (bl. 53).

Umkhulu, die halfblinde ou man wat langs die seuns woon, het beeshorings teen sy hut. Die diewe dink dat hy kan toor en los Senke en Buti se shack uit. Hy sit heeldag buite op ’n plankstoel, dra ’n vuil hemp en knoop sy broek met tou. Hy gooi die flenters (leratha) van ’n ou kombers oor sy skouers. Hy praat ook nie. Elke tweede dag sit sy mense vir hom water en ’n stuk droë pap of brood neer. Op pensioendag kom hulle, trek hom netjies aan, gaan haal sy geld en ry weg met die geld en die skoon klere. Die nag toe Buti nie huis toe gekom het nie, het die ou man stil langs Senke op die sponse kom lê sodat hy nie alleen moet voel nie (bl. 82).

Nandi was ’n leerling van Mama wat nie haar studiegeld kon betaal nie, toe werk sy haar skuld (debt) af deur te help om na Mama te kyk toe sy siek word. Nandi en Buti het een dag na mekaar staan en kyk (bl. 58).

Ntatemogolo, hul stiefoupa, die een met die “vet agternek soos een wat lekker eet”, het al Mama se goed ná die begrafnis (funeral) kom oplaai. Hy wou Senke ook saamvat om die “maandgeld” (bl. 61) te kry, maar Buti het gejok oor Senke se ouderdom. Senke sien die oupa ook by Sis Kate se shebeen ingaan (bl. 73). Dis hierdie stiefoupa wat vir Buti in die tronk sorg en wat belowe om hulle na sy land te neem wanneer hy daar uitkom. Hy sal ook van hul mama se goed vir hulle teruggee (bl. 92).

Mama se buurvrou het vir Senke en Buti plek gemaak in haar vol huis toe die stiefoupa al Mama se goed met haar begrafnis kom oplaai het. Al het haar man haar kom rondruk (push around) daaroor, het sy die kinders by haar gehou (bl. 59).

Superintendent Freda van die polisie gee vir die honger Senke ’n toebroodjie (sandwich) en laat hom ’n rukkie by Buti by die polisiestasie gesels.

Intrige (plot/narrative)

Dit is die volgorde (sequence), die storielyn, waarin die skrywer die storie vertel.

Dit kan chronologies (linear) of in terugflitse (flashbacks) vertel word.

Die intrige (plot) bestaan uit verskillende sub-intriges (sub-plots) wat in mekaar gevleg (intertwined) is en na die klimaks (climax) oploop en dan opgelos (resolved) word.

Die ontvouing (unfolding) van die intrige noem ons die afloop of die ontknoping (dénouement).

’n Intrige waarin jy kan glo (credible plot), word verseker deur die skrywer se vermoë (writer’s abililty) om die regte emosies, spanning (suspense), romanse of vriendskap (friendship) en nuuskierigheid (curiousity) weer te gee.

Die intrige in hierdie verhaal gaan oor twee broers wat niks besit nie en in ’n shack woon. Hulle het geen familie wat na hulle kon omsien ná hul ma se dood nie. Senke, die jonger broer, kry ’n plan om Buti, sy ouer broer, te vergoed vir alles wat hy vir hom doen. Hy wil geld bymekaar maak om vir Buti ’n kaartjie na ’n 2010-sokkerwedstryd te koop. Die sub-intriges handel oor vigs, die siekte waaraan hul ma dood is, sangomas, die Sokkerbod, misdaad en die swart smeerdery (labelling) van ’n onderwyser.

Daar is uiterlike konflik (external conflict) tussen Buti en Gift oor Nandi, tussen Sis Kate en Gift, tussen Gift en die prinsipaal, tussen die Teacher en Beauty. Innerlike konflik (internal or emotional conflict) vind plaas by Senke wanneer hy vrees dat hy alleen sonder Buti gaan wees, of sy angs om die Tikiplani te laat werk. Daar is ook die omstandighede waarin die seuns leef wat hulle bekommer. Die suiker is min, daar is net mieliemeel en twee komberse teen die koue. Senke is bang Buti word in die selle gemolesteer en hy voel angstig oor waar sy ma aan die vigsvirus gekom het.

Teen die einde van die verhaal verdwyn die spanning wanneer Senke vir Buti van Tikiplani vertel en Buti tevrede is om net die sokker op die TV saam met Senke te kyk. Of Senke wel ’n kaartjie vir die wedstryd gaan kry, bly ’n ope vraag (open question).

Tema (theme)

Dit is die sentrale idee (central idea) van die boek. Dit is nie die storie nie, maar die universele betekenis (universal meaning) daarvan wat soos ’n goue draad deur die storie loop. Daar kan een of meer temas in ’n verhaal wees. Die temas in Vuvuzela is:

Die sterk liefde tussen die twee broers.

Jy kan oorleef (survive) al is jou omstandighede nie goed nie.

Moenie moed opgee nie. Elke donker wolk het ’n silwer randjie (Every dark cloud has a silver lining).

Hou altyd vas aan jou droom, glo daarin en werk hard daarvoor.

Moenie onder groepsdruk (group pressure) verander nie, behou jou identiteit en waardes.

Geregtigheid (justice) sal wen.

Boodskap (message)

Dikwels sluit skrywers ’n boodskap of ’n lewensles vir die lesers van ’n boek in. Die lesers besluit self watter boodskap die boek vir hulle het. In Vuvuzela sien die leser die goeie waardes van die twee seuns. “Buti glo jy moet so lewe dat die polisie jou nooit soek nie” (bl. 41). Buti is eerlik toe hy die vuvuzela optel en vra eers rond of dit nie aan iemand behoort nie (bl. 34). Senke wil nie die skoolreëls oortree deur bier by die Entrepreneursdag te verkoop nie (bl. 36). Die seuns blameer (blame) nie hul omstandighede (circumstances) vir hul armoede nie en probeer self regkom met die min wat hulle het. Hulle deel wat hulle het met ander deur gereeld vir die umkhulu langsaan kos te gee en ook toe te laat dat die township-kinders met hul vuvuzela speel (bl. 34).

Stemming (atmosphere/mood)

Dit is die atmosfeer wat die leser tydens die lees ervaar. Dit kan opgewonde (exciting) of depressief (depressing), of vol konflik (conflict) en spanning (tension) wees. Die skrywer ontwikkel (develop) dit deur die taal (language) wat hy gebruik en die toon (tone) waarin hy dit skryf. Daar heers ’n vrolike stemming met die dag van die Sokkerbod. Vuvuzelas en toeters is geblaas, die mense het geskree, die musiek was hard en almal het by Sis Kate se shebeen saam gekuier (bl. 31, 32). Senke was opgewonde oor sy verkope by die Entrepreneursdag en die kinders het met “lagstemme” uitgeroep (bl. 30). Senke en Buti se harte was donker oor hoe Mama vigs gekry het en oor hul verlange na haar (bl. 33). Senke was baie opgewonde oor sy Tikiplani, die geld wat hy gemaak het en die fiets wat hy by Bra Sam gekry het. Die stemming verander toe Senke die nare droom kry en dit ’n werklikheid (reality) word wanneer Buti die nag nie huis toe kom nie. Aan die einde van die verhaal lees Senke sy pryslied vir Buti, het hy geen geheime (secrets) meer vir hom nie en sien hulle saam uit na die 2010-sokkerwedstryde.

Styl (style)

Dit is die manier (manner) waarop die verhaal geskryf word. Skrywers ontwikkel hul individuele style. Dit kan formeel (formal) of informeel (informal) wees, letterlik (literal) of figuurlik (figurative), eenvoudig (simple) of ingewikkeld (verbase). Vuvuzela se styl pas by die informele township-storie en die leser ervaar die gebeure deur die oë van die twaalfjarige Senke. Hy dink en praat soos die mense daar. “Aowa, Sis Kate, hy sal nie die barbecue mahala bou nie, want hy het nie meer die baesekele nie,” antwoord Senke eerlik (bl. 93).

Register en Taal (language)

Dit kan in formele of informele taal geskryf wees. Die woordkeuse (word choice) en die taalgebruik (language usage) van verskillende karakters kan verskil. In Vuvuzela word township-Afrikaans gepraat, ’n taal wat uit verskeie ander tale bestaan. “Die criminals wat hom gekidnap het, het hom bad manners geleer,” sê Sis Kate van Gift (bl. 29). “Vandat Mama dood is, praat hy en Buti al hoe meer Scamto, die township-taal. Mama het haar eie taal, maar ook Sekgoa, dit is Afrikaans en Engels, gepraat. Sy het dit Seburu en Seesemane genoem” (bl. 28). Daar is flaaitaal . . . “Dit is net die rural people en die moegoes en ou mense en teachers wat strictly die inside taal praat” (bl. 28). “Tikiplani” is Fanakalo vir ticket en plan (bl. 33). Dit is die taal wat almal op die goudmyne en by groot werksplekke praat (bl. 46). “As Buti vir Senke wil laat lag, praat hy vinnige Fanakalo (bl. 46). Die skrywer gebruik baie woorde uit die swarttaal wat die verhaal baie toeganklik maak vir dié sprekers.

Die skrywer se bedoeling (author’s intention)

Dit is die doel waarvoor die verhaal geskryf is. Dit kan wees om te vermaak (entertain), om in te lig (inform) of om op te voed (educate) Die skrywer kan ook ’n kombinasie van al drie gebruik. Die sukses van ’n literêre werk hang af (depends) van hoe goed die leser sy bedoeling (intention) kan aflei. In Vuvuzela kry die leser die boodskap van empatie (empathy) wat die skrywer vir kinders in sulke omstandighede het, ook hoe dankbaar kinders wat in beter omstandighede grootword, moet wees.

Vuvuzela: Skooluitgawe Gr 11 TAT

Подняться наверх