Читать книгу Vroue van die Bybel 2 - Esté Geldenhuys - Страница 5
Ontmoet mevrou Noag
ОглавлениеEenheid het gelei tot nuwe lewe
Lees Genesis 5–9
Die uitdagings van Noag en sy gesin hou vir ons belangrike betekenis in. Om dit te verstaan moet ons as vertrekpunt daarna kyk uit die mond van ons Messias in Matteus 24:27-39. Die waarskuwing is onomwonde: Net soos in die tyd van Noag, sal dit ook by die koms van die Seun van die mens wees. In die dae voor die sondvloed het die mense sorgeloos voortgeleef – geëet, gedrink en getrou – tot op daardie dag dat Noag die ark binnegegaan het. Eers toe die sondvloed almal meesleur, het hulle dit (helaas, te laat) verstaan. So sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Dit is so maklik om elke oggend op te staan met geesdrif … of vir sommige mense dalk eerder dankbaarheid vir nog ’n nuwe dag met nuwe geleenthede. Vir baie is dit dalk moeilik om soggens op te staan om net wéér watter kwessie ook al aan te pak in die hoop op ’n oplossing. Hoe ook al, ons leef maklik in die wete dat dae sal kom en gaan en aanhou kom en gaan … asof dit nooit gaan ophou nie. Maar dit is nie waar nie. Niemand leef vir altyd nie. Vir elke mens kom daar ’n dag wat sy of haar laaste dag is.
Nou hoe nou? Moet ons leef met ’n soort vrees dat vandag ons laaste dag kan wees? Vir seker nie. Maar ons moet vir onsself uitklaar wat ons glo ten opsigte van hierdie lewe en ’n lewe ná hierdie aardse bestaan. As ek weet waar ek staan, moet ek ook weet hoe om te leef in elke volgende dag wat my nog gegun word.
Jesus het gewaarsku dat mense verstaan wat dit beteken as sekere winde waai, maar die tekens van die tye is vir ons duister. Hierdie waarskuwing dui op sy tweede koms. Ons moet leef met ’n bewustheid daarvan dat Jesus se tweede koms ’n werklikheid is waarvoor elke mens hom- of haarself gereed moet maak.
Leef ons met ’n verwagting dat die Messias weer kom? Is ons werklik gereed om Hom te ontmoet? Die werklikheid van die vloed hou hierdie boodskap in. Selfs terwyl Noag en die diere in die ark ingegaan het, het die mense nie verstaan nie. Solank ons nie verstaan wat ons Skepper-God bedoel met die verlossingswerk van sy Seun en sy wederkoms nie, is ons ’n teiken vir die vader van die leuen. En sý doel is juis dat ons Jesus se verlossingswerk misloop.
Noag se opdrag en die omstandighede waarin hy dit moes uitvoer, was ontsaglik groot. Dit het hom 100 jaar geneem om die ark te bou – manalleen! Die enigste hulp wat hy gehad het, was waarskynlik dié van sy vrou en later sy seuns en dalk hul vroue. Niemand anders nie. As daar nie eensgesindheid en begrip tussen Noag en sy vrou was nie, sou die gesin Noag nooit hierdie reusetaak kon afhandel nie. Sy gesin moes saam met hom in die opdrag geglo het. Hul eenheid in geloof het eensgesindheid geword wat die sleutel was tot die suksesvolle afhandeling van die projek.
En wat ’n opdrag was hierdie ark nie! Die geraamde afmetings van die ark was 137 m x 23 m x 14 m. Dit was langer as ’n rugbyveld, in breedte smaller as ’n rugbyveld en met ’n hoogte van omtrent vyf verdiepings. Noag moes die binneruim in drie dele verdeel en op elke vlak afskortings bou waarin die diere kon bly. Dink net aan al die lere en stellasies. Hoeveel balke en planke moes gesaag en gelas word! Die plan het van die HERE af gekom, maar Noag moes dit steeds sekuur uitvoer. Die konstruksie moes sterk genoeg wees om sy vrag te hou en op water te kan dryf sonder om om te slaan. Alles moes met pik bedek word! Daar moes genoeg kos aan boord gaan sodat mens en dier kon eet. Is dit moontlik dat daar ook iets soos die vermeerdering van kos plaasgevind het? Die hele klomp was immers presies een jaar en tien dae in die ark!
Tot op die dag van die vloed het daar nooit ’n druppel reën uit die hemel geval nie. Met die vloed het emmersvol water uit die hemel gestroom en ook soos fonteine uit die aardkors uitgebreek. Water het vir 70 dae net bly styg – en elke mens, dier, voël en kruipende dier wat nie in die ark was nie, het gesterf.
Maar wat het dan in die wêreld aangegaan wat so erg was dat dit ons Vader-God genoop het om tot hierdie drastiese optrede oor te gaan?
Genesis 6 vertel dat die boosheid van die mens op aarde groot was. Die versinsels wat die mens in sy hart bedink het, was altyddeur sleg. Dit was so sleg dat dit God berou het dat Hy die mens gemaak het. Daar was smart in sy hart. Ons dien ’n God wat emosies beleef. Hierdie God van emosies het besef dat daar vir Hom geen ander uitweg was as om die mense van die aarde af te verdelg nie. Sterk woorde. God het Hom berou en Hy sou die mense verdelg.
In Hebreërs 11:7 word verslag gelewer van Noag se eerbied en Godvresenheid wat bepaal het dat hy in geloof en vanuit eerbiedige vrees die ark gebou het. Petrus het Noag ’n prediker van geregtigheid genoem. Noag het dus gelyktydig twee dinge gedoen: Hy het ander gewaarsku terwyl hy in gehoorsaamheid “die reddingsvoertuig” gebou het waarmee hy en sy gesin en soveel diere uit een wêreld sou ontsnap sodat hulle in ’n ontsaglike nuwe landskap ’n nuwe lewe kon begin … in ’n wêreld verlos van al die gemors wat om hulle was.
Noag se opdrag in ag genome, moet ’n mens aanvaar dat hy ’n vrou sou gekies het met wie hy sy geloof kon deel. Hoewel ons niks weet van mevrou Noag nie, moet ons aanvaar dat sy nie onverskillig teenoor God gestaan het nie. Sy móés darem ook ’n Godvresende vrou gewees het wat haar man ondersteun het in sy Goddelike roeping. En sy móés tog hul seuns grootgemaak het om te glo soos hul pa glo.
Wat is die boodskap dan wat ons vandag van mevrou Noag moet leer? Hierdie God van Abraham, Isak en Jakob is tot alles in staat. Hy is die enigste God wat leef. Kies om in Hom te glo en leer dan om met Hom in ’n intieme verhouding te staan en te leef. Solank ons nie eerlik is oor wat in ons binneste aangaan nie, kan ons Skepper-God ons nie bedien nie.
Bob Sorge het geskryf: Die groot vraag is nie of ek God ken nie, maar ken God mý? Hy kan my slegs ken sover ek Hom inlaat om saam met my te verken wat binne-in my aangaan. Om intimiteit met jou Skepper te beleef, vra dat ons sal oefen om in algehele eerlikheid met Hom in gesprek te leef, te bid, te leer … In alles volkome oop en eerlik oor wat ons doen, dink en ervaar. Bring alles heel eerste na God toe. Soek jou vrede in Hom voordat jy dit in mense of boeke probeer kry.
Vanuit hierdie intieme verhouding met ons Skepper moet elkeen as vrou ook leer om met haar man in dieselfde trant van oop en eerlike intimiteit te leef. Geskoei op die grond van eerlikheid tussen ons en ons Skepper wat ook in die huwelik ingedra word, sal ons nie goed vir mekaar wegsteek nie. Ons sal dit makliker vind om vrae te vra en ons maat se behoeftes te verstaan selfs nog voordat hy dit uitspreek. Gebrek aan eenheid met ’n huweliksmaat veroorsaak te dikwels slaggate wat die vyand misbruik.
En as jou man nie in God glo nie? Of as sy belewenis van God op ’n totaal ander vlak as joune lê? Dan is daar net een pad – jy moet hom liefhê presies net soos hy is, sonder enige vorm van oordeel. Jy preek of skimp nie, haal nie Skrif aan nie, maar lééf Woord-waarheid sonder ophou! Elke dag weer. Jy wip jou nie, skinder nie agter sy rug nie. Jy word nie kwaad omdat jy dit as jou reg beskou om ’n man te hê wat glo soos jý glo nie. En jy seën jou man daagliks – nie uit selfsug of eintlik met die doel om hom te sien verander soos jý wil hê hy moet nie. Nee, seën soos jou Vader jou dit op die hart lê.
In ons omstandighede moet ons soek na eenheid, ’n eenheid wat ook na ons kinders en kleinkinders sal oorspoel. Leer jou kinders om hul pa te respekteer. Onthou, hulle sal ons hierin volg dermate óns hom respekteer. En as kinders kom kla oor dinge waarin hul pa regtig verkeerd optree of dinge wat hy nalaat, bid vir Goddelike wysheid. Ons kan nie mekaar se foute goedpraat nie. Elke mens maak egter wel foute. As gesin moet ons mekaar met foute en al verdra, maar binne die begeerte om mekaar daarin te ondersteun om daardie flaters te oorkom. Ons mág ons Vader in die hemel vra vir sy genade en guns – dat elkeen van ons gesinslede Hom sal ken en dien. Leef met die stille verwagting en in blydskap dat daardie dag ook vir jou sal aanbreek.
Nog iets wat ons van mevrou Noag kan leer, is om ons woorde te tel. As hierdie vrou aanhoudend loop en kla en kerm het, sou dit Noag beslis nie gehelp het nie. Om enigiets na buite te praat wat die projek skade kon aandoen, sou ook hul saak voor God verswak het.
Ons woorde is regtig soos saad wat elke dag uitgestrooi word. Ons pluk voortdurend in ons lewe die vrugte van woorde wat ons in die verlede gesê het. Dit is so maklik om woorde oor ’n kind uit te spreek, soos dat hy of sy stout en onhebbelik is. Wanneer hierdie kind dan as tiener in ’n volslae rebel ontaard, sê ons weer: Ons weet nie waar ons aan dié kind kom nie! Intussen sit ons dan dalk net met die vrug van ons eie woorde. Of dalk praat ek met ’n vriendin en vertel hoe kwaad ek vir my man word. Dan voeg ek boonop daarby ek kan nie dink dat ons mekaar ooit regtig sal verstaan nie. En my aarde, dan gebeur dit net so en ons neem ons mans kwalik omdat hulle regkom nie! Mag ons asseblief leer om ons woorde te tel.
Die God van Abraham, Isak en Jakob lééf. Hy is steeds in beheer van alle dinge. Ontdek wie Hy werklik is en Hy sal jou lewe op sy beste baan plaas.
Daarna het Job vir die Here gesê: Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My. Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou in sak en as (Job 42:1-6, 1983-vertaling).
Vader! My Vader, help my, asseblief! Is dit dalk ook my probleem dat ek U nog nooit leer ken het vir wie U werklik is nie? In die Naam van Jesus bid ek, leer my asseblief wat dit beteken om Godvresend voor U te leef. Gee my asseblief uit U perspektief ’n wederkomsverwagting. Amen.