Читать книгу Vroue van die Bybel 2 - Esté Geldenhuys - Страница 9

Sifra en Pua

Оглавление

Die vroedvroue wie se vrees op die regte plek was (en toe sit Satan se turf)

Lees Eksodus 1:15-22

Hoewel ’n mens nie weet hoe bekend die name van die twee vroue, Sifra en Pua, nou eintlik is nie, sal elkeen wat hul verhaal hoor heel moontlik êrens met die bene in die son op ’n bank wil sit – sommer net om ’n bietjie te dink.

Die boek Eksodus vertel die verhaal van Moses wat wonderbaarlik as prins in die paleis van die farao beland, 40 jaar lank, tot hy ’n man doodslaan, vlug en nog 40 jaar in die woestyn deurbring. Ná sy ontmoeting met die Almagtige EK IS, moes hy terug Egipte toe om deur tien ontsaglike plae soos ’n bastion teen ’n geweldige storm te bly staan voordat hy uiteindelik met drie miljoen mense 40 jaar deur die woestyn sou trek. Wat ’n verhaal! Dit is so oorweldigend dat ’n mens die juweel van twee vroue reg aan die begin van hierdie verhaal skoon miskyk!

Dit is ook wonderbaar om te onthou dat hierdie hele verhaal lank, lank tevore reeds aan die stamvader Abraham geopenbaar is. Dit het gebeur toe Abraham nog Abram was – voordat sy naamsverandering met die belangrike verbondsluiting ingetree het.

Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ’n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed (Gen 15:13-14).

As hierdie nageslag van Abraham maar geweet het van hierdie belofte, sou die lewe in Egipte vir hulle draagliker gewees het. Daar word immers ’n tyd gekoppel aan die duur van die verdrukking. Altesaam 400 jaar. Of hét hulle geweet daarvan? Was dit juis hierdie belofte wat vir die mense van God se volk moed gegee het om aan te hou en uit te hou?

Ons weet wel van een baie belangrike rolspeler wat nie van hierdie aankondiging geweet het nie. Die farao (Egiptiese koning) self. Hierdie farao het nie geweet van Josef nie, nog minder van sy broers en sy pa. Al wat hy geweet het, was dat hierdie klomp vreemdelinge, wat nie Egiptenaars was of wou wees nie, op sy drumpel geleef het … en daar was so baie van hulle dat dit die farao vreesagtig gemaak het.

Talm ’n rukkie by die woord vrees. Die farao het gevrees. Wat as hierdie klomp mense op ’n dag opstaan teen hom? Nog erger, wat as hulle saamspan met vreemde magte uit Asië en teen hom oorlog voer? Hy sou ’n plan moes maak – ’n slim plan wat uiteindelik meer van ’n slu plan blyk te gewees het.

Dwangarbeid om met die farao se reusebouwerk te help, was die volwassenes se lot. Hierdie dwangarbeid is onder die ritme van swepe aangevoer. Dit word bereken dat 10% van hierdie werkers onder swepe gesterf het. Maar dit was nie sy enigste plan nie, die farao het iets in die trant van ’n volksmoord in die kleine beplan toe hy besluit het om alle babaseuntjies te laat doodmaak, sommer by geboorte. En dit is hier waar die twee heldinne in hierdie mooi verhaal verskyn.

Sifra en Pua was vroedvroue. Juis met die skryf van hierdie hoofstuk is daar in ons gesin ’n baba gebore. Watter vreugde! Wat ’n ongelooflike wonderwerk van God Almagtig. ’n Nuwe lewe wat deur membrane bars en deur ’n geboortekanaal beur om uiteindelik self daardie eerste asemteug te neem! Dit bly ’n wonderwerk wat elkeen wat geen benul het wat die geboorteproses behels nie heeltemal senuweeagtig laat voel. Sifra en Pua het van hierdie dinge geweet. Niks kon dié twee ontstel nie. Selfs nie die koning van Egipte nie.

Dit is interessant om vir jouself uit te klaar of hulle Egiptiese vroue was of uit die Hebreeuse volk gekom het. Ons lees dat die farao vir Sifra en Pua laat haal het en hulle opdrag gegee het om alle seuntjies wat gebore word, dood te maak. Met hierdie opdrag het hy laksmanne van die twee vroue gemaak. Hulle moes die lewe neem van weerlose babas wat hulle veronderstel was om veilig in die lewe in te bring. Sou die farao regtig van vroue uit die volk van die Hebreërs verwag het om so ’n afskuwelike daad teenoor hul eie mense te pleeg? Sou hulle bereid wees om so iets te doen? Sou hy sy demoniese planne so oop en bloot teenoor Hebreeuse vroue openbaar gemaak het?

Sifra en Pua moes vroue van Egipte gewees het. Dit was waarskynlik ook waarom die farao met soveel gemak die bevel aan hulle kon oordra. Maar dan lees ons die volgende:

Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe (Eks 1:17).

Die farao moes sy spioene gehad het, want hy het geweet dat die seuntjies nie doodgemaak word nie. Toe hy die twee vroue inroep, was hul verweer dat die Hebreeuse vroue sterk is – sterker dalk as die Egiptiese vroue onder wie hulle ook gewerk het. Voor hulle kon hand bysit, was die babas klaar gebore. En dit kon heel waarskynlik die waarheid gewees het. Dit was toe dat die farao besluit het om self in te gryp. Hy het eenvoudig sy soldate ingestuur om alle babaseuntjies dood te maak deur hulle in die Nyl te gooi, dieselfde Nyl wat vir Moses ’n poort tot lewe geword het.

Die dood van hierdie seuntjies herinner sterk aan die opdrag wat koning Herodes baie jare later in Jerusalem sou gee. Soos Moses, wat die volk in verlossing uitgelei het, hierdie moord op seuntjies oorleef het, sou Jesus as die Messias ook daardie massamoord oorleef. Ook interessant: Waar die Israeliete van Egipte na die beloofde land op pad was, is Jesus se lewe juis gespaar deurdat sy ouers weer met Hom in Egipte kon gaan wegkruip.

Wat leer ons uit Sifra en Pua se optrede? Die vader van die leuen, Satan, is altyd op die loer om te sien waar die mens kwesbaar is in sy gees. Hy sal ons tog nie aanval in iets waarin ons sterk is nie. Ook by Sifra en Pua het hy sekerlik ’n plek van kwesbaarheid gesoek. Die feit dat daar geskryf staan dat die twee vroue God gevrees het, laat ’n mens besef dat vrees die ding was waarop die bose se plan gemik was. Satan het waarskynlik geglo hul vrees vir die farao sou hulle aan hul koning gehoorsaam maak en dit sou die bose plan beklink.

As ’n mens aanvaar dat hierdie twee vroue wel Egiptiese vroue was, verleen dit net soveel meer betekenis aan die feit dat hul vrees vir God so groot was dat hulle die farao se opdrag geïgnoreer het. Hul vrees vir God was groot …

Dit is baie maklike woorde om te praat, maar wat beteken dit tog? Die begrip “vrees vir God” kan op twee maniere vertolk word. Begin by die gedagte dat hierdie twee vroue iets van hierdie God van die Hebreërs moes geleer het. Die Hebreërs sou vertel het dat Hy die Skepper van alle dinge is. O ja, en van Noag en die vloed; van Abraham, Isak en Jakob en die beloftes. Hulle moes iets van die grootheid van hierdie Almagtige God aan Sifra en Pua oorgedra het.

Op grond van dít wat hulle geleer het, moes die twee vroue gekies het om in hierdie God van die Hebreeuse volk te glo en hulle het Hom dan ook begin dien. Wanneer ’n mens God dien, gebeur daar veral twee dinge – jy aanbid Hom en jy leef in gehoorsaamheid aan Hom. Wanneer dít met jou gebeur, begin jy om God te vrees.

Hierdie vrees is nie die soort wat jou wil laat wegkruip en sidder van angs nie. Dít, die vrees wat jou angstig laat planne maak, die vrees wat jou uit jou dierlike brein laat optree, dít is die vrees wat die farao beleef het. Hierdie vrees-uit-angs-gebore is die teenoorgestelde van die vrees vir die HERE God. Vrees vir die HERE God lê meer op die vlak daarvan dat ek in gehoorsaamheid aan Hom wil leef, bedag daarop dat ek Hom nie in ongehoorsaamheid wil ignoreer nie.

Omdat Sifra en Pua gekies het om die Lewende God te aanbid, was hulle nie kwesbaar vir Satan se versinsels en planne nie. Hulle het ’n Godvresende lewe begin lei. Die tweede gedagte wat ’n mens daar kan byvoeg, is dat die twee vroue besef het die krag van God Almagtig is soveel groter as die krag van die farao. Hulle sou liewer aan die verkeerde kant van die farao beland as aan die “verkeerde kant” van God.

Kom ons volg in die voetspore van Sifra en Pua wat geweet het wie se mag en krag die grootste is.

Moenie skrik vir elke volgende bangmaakboodskap wat iemand op jou selfoon aanstuur nie, of al die negatiewe beriggewing in die nuus nie. Daar is deesdae soveel onheilspellende voorspooksels en waarlik slegte nuus in die media. Die vraag is egter, bestee ons meer tyd daaraan om die nuus van die lewe om ons in te neem as om die Woord van God te lees? Dien God Almagtig. Doen dit deur tyd af te sonder om in sy teenwoordigheid te verkeer met die Woord, in aanbidding uit jou hart en in gebed. Gehoorsaam Hom en vrees Hom, en jy kan weet dat sy beskerming altyd oor jou waghou. Selfs al moet jy soms deur donker tye gaan, gaan Hy nooit weg nie. Onthou, geloof in God beteken nie dat ons lewe met rose besaai word nie. Dit beteken dat Hy ons nooit alleen laat nie.

Die uiteinde van die verhaal is soos die spreekwoordelike kersie op die koek. Die volk het grootliks vermeerder. Ons Vader het vir die twee vroue groot gesinne gegee en sommige meen dat hulle met Hebreeuse mans getrou het.

Leef gehoorsaam aan God terwyl jy Hom vrees. Jy kan nie God én mense vrees nie. Jy vrees net een van die twee. Maak die regte keuse en beleef sy beskerming, selfs in die slegste situasies!

En Petrus en die apostels antwoord en sê; ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense (Hand 5:29).


Ons Vader wat in die hemel is, dankie dat U alles van my weet, dankie dat U my gedagtes ken voordat hulle by my opkom. Vader, ek begeer om aan U alleen gehoorsaam te leef. Vul my met die Gees van die vrees van die HERE soos U dit in Jesaja 11:2 aan ons Messias belowe het. Ek vra dit in die naam van Jesus. Amen.

Vroue van die Bybel 2

Подняться наверх