Читать книгу Vroue van die Bybel 2 - Esté Geldenhuys - Страница 8

Hagar, die ma van Ismael

Оглавление

Die mens wik maar God beskik

Lees Genesis 16;

Genesis 21:9-21; Genesis 25:12

Hagar het waarskynlik met Abraham se eerste besoek aan Egipte deel van sy geselskap geword. Lees gerus weer die verhaal in Genesis 16 en sien in jou geestesoog die jong meisie wat ’n slavin is. Die Bybel verwys na haar as ’n Egiptiese meisie. Was sy as slavin gebore of was sy ’n gevangene van die een of ander heerser wat haar saam met ander “artikels” as buit in ’n triomftog huis toe gebring het?

Sien die beeld van ’n tenger, mooi meisie met wie jy empatie wil hê. Soos ’n lam ter slagting word sy gelei in ’n lewe waarin sy geen sê gaan hê nie. Wat sou haar geaardheid wees? Verwese en onderdanig? Skielik verander die prentjie, want daarvan weet ’n mens nie so mooi nie. My ouma sou gesê het “sy het lewe in haar lyf gehad”, want dié kind het kans gesien om haar teenoor Sara rammetjie-uitnek te gedra.

Wat ’n verhaal van kontraste is dít tog! Abraham, die sterk man van geloof wie se geloof1 hom tot geregtigheid gereken is (Rom 4:3); hy is die man wat meer as een keer die belofte van die Skepper van die heelal ontvang het ten opsigte van ’n baie groot nageslag. Abraham het beleef hoe dié God van geregtigheid met hom in ’n ritueel ’n verbond gesluit het (Gen 15). Volgens die verbond is Abram se naam ook na Abraham (vader van ’n menigte van nasies) verander (Gen 17:5) en Sarai se naam na Sara (Gen 17:15). Lees gerus die hele deel in Genesis 17:1-21.

Later het die HERE aan dieselfde Abraham verskyn en hy ontvang die blye tyding dat hy en sy vrou binne een jaar ’n baba sou hê (Gen 18:10-14) – ’n kind wat hy later, steeds in opdrag van die God van die belofte, op die berg Moria as offerande moes vasbind.

Hierdie Abraham het twee keer gelieg oor die feit dat Sara sy vrou was. Hy het toegelaat dat sy vrou hom ompraat om by haar slavin in te gaan. Dit is ook hierdie Abraham wat twee keer toegesien het hoe die slavin by wie hy ’n kind verwek het so saam met haar kind, heeltemal op haar eie, die woestyn in vlug.

Die eerste keer was terwyl sy swanger was. Toe dit die tweede keer gebeur het, was haar kind oud genoeg om baie goed te verstaan dat hy ’n pa het wat hom en sy ma weggejaag het. Hoewel ons in Genesis 21:11 lees dat die woord van Sara ten opsigte van Ismael baie verkeerd was in Abraham se oë, het hy dit steeds gedoen.

En dan is daar die genade van die God van liefde wat, ondanks die hele rits kontrasterende gebeure, toegelaat het dat daar na Abraham verwys word as die vader van alle gelowiges (Gal 3:7).

Dit is goed om die gebeure in hierdie verhaal te oorweeg tesame met die hele kwessie van geloof en, daarteenoor, besluite wat toe nié in geloof geneem is nie. Besluite wat nie van God af kom nie, is tog nie geloofsbesluite nie. Ons neem besluite op twee maniere: óf omdat ons beleef dit is juis wat God wil hê ons moet doen, óf vanuit ons eie oordeel sonder om sy inspraak daarin toe te laat. Sulke besluite word vanuit ons sielsdimensie geneem – nie uit ons geesmens nie, maar uit ons vleesmens.

Besluite wat uit die vlees geneem word, baar nog meer vleeslike gedrag en die proses dra in sy momentum die moontlikheid dat baie mense seergemaak kan word.

In die verloop van die verhaal, veral met inagneming van Hagar, staan Sara sentraal. Toe die belofte kom dat daar vir Abraham uit die skoot van Sara ’n seun gebore sou word, het sy in ongeloof gelag. Maar sy was nie ál een wat gelag het nie. Genesis 17:17 onthul dat ook Abraham gelag het.

Ongeloof het die oorhand oor die twee mense gekry. Sou die belofte spanning veroorsaak het? Vanuit ongeloof het Sara besluit om sommer self ’n plan te maak. Sy het haar man oortuig om by Hagar te slaap. Hagar het geen sê daarin gehad nie en Abraham wat veronderstel was om ferm te staan, het Sara (in daardie stadium nog Sarai genoem) nie teëgegaan nie. Toe dit bekend word dat Hagar swanger is, het sy haar wangedra. Sy het haar meesteres geminag (Gen 16:4). Daarin het sy moeilikheid gesoek en dit is ook net mooi wat sy gekry het.

Het haar ongeloof en eiegeregtigheid Sara verder in ’n hoek gedryf? Sy kies om Hagar so sleg te behandel dat sy die woestyn in vlug. Dit is waar die Lewende God self die slavin besoek het. Hy verseker haar dat Hy háár sien, haar tóékoms en ook haar kínd se toekoms (Gen 16:11-12). Hy gee haar opdrag om terug te gaan en haar aan Sara te onderwerp.

Op grond daarvan dat Hy haar gesien het, gee die ongelowige meisie vir die Lewende God ’n Naam wat Hy waarlik laat opteken het. El Roi – die God wat sien, want Hy het haar, haar kind en hul toekoms gesien. Maar dit is hartseer dat al hierdie gebeure so vanuit die vlees plaasgevind het dat die ontmoeting met die Lewende God die slavin hoegenaamd nie in haar gees geraak het nie.

Toe Ismael 13 jaar oud was, is hy en sy pa, Abraham, op een dag besny. Die volgende jaar toe Ismael 14 was, is die seun van die belofte gebore. Toe Isak gespeen is, was dit weer Ismael se beurt om hom swak te gedra. Hy het Isak geterg op ’n manier wat tot gevolg gehad het dat Sara haar man gevra het om die slavin en haar kind weg te jaag (Gen 21:10). As dit ’n skildery was, sou ’n mens met ’n kwas hiér ’n bietjie kon vroetel en dáár iets kon byvoeg om behoorlik gestalte te gee aan die gevoelens van al die rolspelers in die verhaal. Maar dit is baie belangriker om te kyk na die keuses wat al die hartseer veroorsaak het.

Die soeke na die waarheid moet by só ’n geloofsvertrekpunt begin:

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Heb 11:1, 1983-vertaling).

As “om te glo” begin daarby dat ons seker sal wees van die dinge wat ons hoop, is die eerste vraag: Waarop hoop ons? Die vraag het net een antwoord: as gelowiges hoop ons in die eerste plek op die karakter en wese van ons Vader in wie ons glo. Solank ons nie verstaan wie die God is in wie ons glo nie, kan ons nie werklik op Hom hoop nie. Die karakter van God vorm tog die boustene van sy wese. Eers wanneer ons dit verstaan, sien ons werklik kans om ons volkome op Hom te verlaat.

Die natuurlikste uitvloeisel van hierdie kennis van sy karakter, en veral die verstaan daarvan, is om ’n verhouding met Hom te bou. Uit die verhouding kom gesprek. Die gesprek bied geleentheid daartoe om besluitneming voor Hom neer te lê, want wanneer ons bid, moet ons weet dat Hy ’n werklikheid is, dat Hy luister en antwoord (Heb 11:6). Ons moet God leer ken. Ons moet weet dat Hy direk met elkeen van ons wil praat en dat ons sy stem moet leer ken. Daarsonder sal ons ook in die strik van Sara se Ismael-plan trap.

Abraham was die een wat die een ná die ander direkte gesprek met die Skepper-God gehad het, nie Sara nie. Dit is waarskynlik waarom sy nie so sterk soos Abraham kon staan wanneer die Goddelike opdragte gekom het nie.

Vir ons vandag, om nie Sara se pad te stap nie, is om ons wese daarin uit te stort om te verstaan wie hierdie EK IS, die enigste Lewende God, is. Solank ons nie in ’n verhouding met God leef nie, sal ons besluite uit ons vlees kom. Besluite wat uit die vlees geneem word, baar meer vleeslike gedrag en die proses dra in sy momentum die moontlikheid dat baie mense seergemaak word.

Teenoor Sara is daar Hagar. Sy was net ’n slavin wat nie vir een van die dinge gevra het nie. Sara se besluit het vir Hagar in die bed van haar meester laat beland. Sara se besluit het veroorsaak dat hierdie slavin, met kind en al, in die woestyn ingestuur is. Hierdie kind se nageslag is vandag baie miljoene mense sterk. Enkelinge uit hierdie groep het al getuig dat hul grootste verlies gelê word voor die feit dat hul aartsvader deur sy bloedpa weggejaag is. Een van die grootste wêreldwye maatskaplike probleme tans is Vaderlose (en vaderlose) generasies.

Die uitvloeisel van Sara se besluit, en derhalwe Hagar se lot, is vandag steeds met ons. Dit is ook merkwaardig en hartseer dat Hagar se pyn so diep was oor dit wat Sara en Abraham aan haar gedoen het dat sy, selfs ná haar twee ontmoetings met die Lewende God, Hom nooit as haar persoonlike God gekies het nie.

Is dit vir ons ook bekend dat ons beloftes van ons Vader ontvang wat ons regtig nie kan dink vir ons bedoel is nie? Raak ons nie ook benoud en gee dan soos benoude katte benoude spronge nie? Benoudheid kom uit ongeloof. Jakobus leer dat geloof ’n gawe is. As ons weet dat ons geloof kortkom, moet ons daarvoor vra. Wanneer ons eie planne nie werk nie, raak ons nog meer benoud, sodat twyfel en selfs agterdog teenoor God en ons verhouding met Hom ons net verder verwar.

’n Besluit wat van God af kom, bring vrede in ons binneste. Hoe groot ook al die uitdaging, dit sal steeds verpak wees in innerlike vrede. Wanneer ons sonder God ’n besluit neem, kry hierdie planne dikwels koersaanpassings. ’n Plan van God af bly op koers. Vir ons eie planne moet ons baie hard werk. Goddelike planne kom gereeld met Goddelike ingrepe wat geen mens kon bewerk nie.

In die dae voor elektroniese navigasie was daar ’n hawe in Italië wat net deur ’n betreklik nou kanaal bereik kon word. Omdat baie skepe in hierdie kanaal op rotse vernietig is, is drie hoë pale in die kanaal, volgens spesifieke afmetings in die see geplant, elk met ’n sterk lig op sy bopunt. Inkomende skepe moes hulle koers so kies dat die drie ligte presies agter mekaar gelê het sodat net een lig sigbaar was, dan was hulle veilig. Die oomblik wat daar twee ligte sigbaar was, kon hulle op rotse beland.

Wanneer ons besluite neem, het ons ook drie “ligte” nodig vir ons navigasie.

•Bid dat ons Vader bevestiging sal gee uit die Bybel. Woord uit die skrif gee vir ons sekerheid en hoop en moed, dit stuur ons en hou ons op ons Vader se beplanning vir ons.

•Vertrou die Heilige Gees se leiding. Dit kom hoofsaaklik deurdat ons vrede beleef oor besluite – of dalk totale onvrede wat ons in ons spore moet laat vassteek. Moet nooit beweeg sonder vrede nie. Dinge sal in plek val of nie. As alles bly skeefloop, is dit tog ’n aanduiding van ’n “nee”. Daarteenoor is daar kere wat alles moeiteloos net bymekaar kom – dit is tog ’n duidelike ja.

•Wanneer ons aan Hom aanbid, soek ons sy aangesig … of sy hand?

Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor (Jes 65:24, 1983-vertaling).


Ons Vader, ek wil asseblief leer wat dit vra om op U te wag, om u stem te ken en slegs volgens u opdrag op te tree. Ek kies om gehoorsaamheid te leer! Ek vra dit in die naam van Jesus. Dankie, Vader. Amen.

1 Ongeregtigheid verhinder die mens om in God se teenwoordigheid te kom. Abraham se geloof in God was so sterk dat die stand van sy geloof vir hom geregtigheid by God bewerkstellig het.

Vroue van die Bybel 2

Подняться наверх