Читать книгу Kus vir die Kluisenaars - Esta Steyn - Страница 4

Twee

Оглавление

Fransie bly verslae sit voor die briewe van Elias van Egeren. Wie is die man? Die man wat Melissa liefgehad het met ’n liefde wat sy verdien het. En waar is Dorkasbaai? Kluisenaarskus … die plek van die skildery. Dit was dan die baai met die klippe wat Melissa geskilder het. En nou eers kan Fransie verstaan waarom al Melissa se vuur en hartstog in elke kwashaal daarvan gelê het. Want dit was ’n plek van liefde.

Dorkasbaai. En steeds wil die naam ’n bekende klank hê.

Sy kyk na die datum van die heel eerste brief en sien dat dit omtrent ’n jaar en twee maande gelede geskryf is. Melissa se uittogte in ou Jakes se geel kombi beteken dus dat sy vir Elias gaan opsoek het. Miskien, wie weet, het sy vir die eerste maal toevallig op die plek afgekom toe sy die platteland ingevaar het om nuwe plekke te gaan skilder.

Sou hierdie man, hierdie Elias, ooit weet dat sy geliefde Melissa dood is?

En meteens maak die skrikgedagte haar koud: lê die oorsaak van Melissa se selfmoord nie miskien op die vreemde Dorkasbaai nie?

Ja, Elias van Egeren, wie hy ook al mag wees, het baie gedagtes in haar kom loswoel. Dis asof sy nou impulsief haar pa se huwelik met Melissa teen hierdie man se liefde kom opweeg. Haar pa, en daardie troudag! Dit was ’n dag wat sy later wou opsluit. Apart van gisters en môres, apart, om nie weer opgerakel te word nie. Maar nou met die blou briewe van die man Elias, nou is alles oopgevlek en hoe onthou sy nie!

Dit was sewe jaar gelede op ’n warm dag in Januarie toe sy vyftien was. Kruisendal het ’n warm somer beleef en reeds vroeg die oggend was die hitte pakkend. Die geel rok het op haar bed gelê, uitgestryk vir die troue. Die sagte geel rok wat Melissa spesiaal vir haar in die stad gaan koop het. Dit was twee-uur die middag en sy moes bad en aantrek, maar sy het haar kamerdeur hardhandig toegetrek en by haar lessenaar gaan sit. Sy wou nie kerk toe gaan nie. Die minute het verbygetik en sy het gehoor hoedat haar pa stort en vrolik saam met die water se geruis fluit. Sy het tam opgestaan en die foto van haar ma op die spieëltafel in haar hande toegeskulp. Mamma!

Mamma, hoor hoe simpel fluit hy. Ek verstaan nie, Mamma. Hy is tog die prinsipaal en al die kinders kyk altyd op na hom. Maar nou lag hulle vir hom. Hulle noem hom “The merry master”. Dis oor haar dat hy so verspot is, Mamma. Oor Melissa. En ek hoor hoedat hulle hom beskinder en saggies in die gange lag sodra ek aankom. Dan kyk hulle kastig skielik weg nes hulle my sien. Dis alles oor Melissa. Mamma. Sy het alles verander. Sy het ’n paar maande gelede oom Pluimpie se wit huisie daar onder by die Kruisrivier gekoop en bedags sit sy daar en skilder met haar lang, los, swart hare en haar lang, dun vingers. Sy is nog jonk, die mense sê iets in die dertig. ’n Kunstenares. Toe stel die skool haar aan vir die kwartaal toe juffrou Bester met langverlof gaan. Mamma moet sien hoe sy skool toe gekom het! Haar hare nie eers ordentlik gekam nie. En haar klere is lang, bont rokke met gekleurde gordels en sandale. Ek weet dat meneer De Waal een aand lank by Pa in sy studeerkamer was en ek weet hy het kom praat oor haar, oor juffrou Von Meelis se kleredrag. Sy wil nie eers hê die kinders moet haar “juffrou” noem nie, net Melissa, want sy is nie eintlik ’n onderwyseres nie. Party kinders, soos Joey-hulle, noem haar op haar naam. Ek sê vir haar niks. Ek sê vir haar jy en jou as ek met haar moet praat. In die begin was sy vreeslik vriendelik met my. Dis oor Pa, het ek later uitgevind. Oor hom. Hy het een pouse met haar in die kunsklas gesit en gesels. Deur die venster kon ek haar swart hare sien saam met Pa se grys kop. Pa het skielik grys geword na Mamma se siekte, eers net so effens-effens en toe sommer skielik oral. Ek het op die skoolgrond gestaan en deur die kunsklas se venster sy hand op haar skouer gesien. Toe het ek geweet.

Later het sy na ons huis toe gekom. Pa het haar vir ete genooi. Ek was so skaam, Mamma. Ou Katriena moes allerhande spesiale kosse maak, want sy eet nie vleis nie. By die saalbyeenkoms het sy daar op die verhoog tussen meneer De Waal en juffrou Brink gesit. Meneer De Waal met sy donkerblou pak en juffrou Brink met haar groen tweestukkie en sy met haar lang, bont romp, swart bloes, kettings en kaal tone. En sy sit vir Pa en kyk voor al die honderde kinders. Sy sit daar en kyk met haar groot swart oë en geheimsinnige laggie. Selfs party matriekseuns is verlief op haar. Sy sal definitief beter by een van hulle pas. Maar Pa!

Toe kom juffrou Bester terug en Melissa hou nie meer skool nie. Dit was daardie tyd dat sy oom Pluimpie se huisie begin restoureer het. Pa het vir haar ’n bouer gekry en Pa het een Saterdag saam met haar gaan teëls uitsoek.

Saans het Pa haar stoele se vernis gesit en afskuur. Ek was verlig toe die Desembervakansie begin, sodat ek onder die kinders se oë kon uitkom en wegkom van die gefluister in die gange waar stukkies van gesprekke altyd na iets soos Von Meelis klink. Maar, Mamma, die vakansie was net ’n week aan die gang, toe kom Pa my een aand sê dat hy met haar gaan trou voordat die skool heropen. En dan kom sy by ons woon en oom Pluimpie se huisie kan hulle dan vir haar ateljee inrig. Mamma, en nou is dit vandag en die geel rok lê op my bed en Pa is klaar gestort en die badkamerdeur is oop en die seepwalms kom in die gang af.

Fransie onthou nou hoedat sy die geel rok in haar hande beetgekry en gefrommel het. Sy wou hê die ding moes kreukel. Sy het dit om en om gewring in ’n lang geel rol en toe op die vloer neergesmyt. Maar die syerige materiaal het kreukel-traag oopgevou op die mat.

“Francisca!” Dit was Pa. “Is jy al klaar?”

Sy het stilgebly en haar pa se stem het al hoe meer benoud geword en sy het dit geniet.

“Francisca! Asseblief, maak oop die deur.”

Ná ’n lang ruk het sy geantwoord: “Ek wil nie gaan nie.”

“Maak dan om hemelsnaam die deur oop dat ons kan praat.” Dit was meteens sy kantoorstem en sy het geskrik. Sy stem was ysig, die stem wat jou in die hoekie laat klein word.

Sy het die deur oopgemaak en hy het daar gestaan met ’n wit angelier in die knoopsgat van sy troupak. Sy grys kop was netjies gekam.

“Wat is dit met jou, Francisca?” Sy stem was sagter, half hulpeloos. Toe vat hy haar hand en gaan sit met haar op die bed. Geel son deur die venster op die geel rok op die vloer. “Francisca, ons was so lank alleen. Jy sal later sien dat dit nie so erg is nie. Melissa hóú van jou. Later sal jy miskien leer dat jy ook van haar kan hou. Sy sal nooit Mamma se plek inneem nie, want wie kan? Maar Melissa sal ons huis weer vol maak.”

“Ek gaan nie troue toe nie,” het sy steeds bly afkyk.

“Dan maak jy my baie seer, Fransie.” Toe staan hy op. En hy stap deur die gang tot by die voordeur en sy hoor die oop- en toeklik van die deur, die oopstoot van die motorhuis se deur en toe uiteindelik die motor wat wegbrom.

Toe sy in die spieël kyk, het sy gesien dat haar blonde hare wild en ongekam om haar kop staan. Haar oë was dik geswel van baie trane. Sy het na haar klavier toe gestorm en begin speel. Die besluit het soos ’n verwoesting oor haar gekom: sy moes klaarmaak en kerk toe gaan. Want hier kon sy niks doen om hulle te keer nie. Maar, as sy kerk toe gaan … miskien kon sy hulle stop. Sy het haastig onder die koel lafenis van die stort gaan staan. Sy het die geel rok oor haar halfnat liggaam aangepluk en die rits oorhaastig toegetrek. Skoene, hare kam, en af by die gang tot buite waar die hitte die koue stort onmiddellik ongedaan maak. Sy het gehardloop. Af in die stil Saterdagmiddag-strate, waar ooms met kaal bolywe sproeireën oor dor grasperke spuit en tantes op die stoepe sit en hekel. Iewers het die klanke van ’n radio ’n krieketwedstryd se hoogtepunt uitgebasuin. Links op in Joubertstraat, die bult op. Haar asem het gebrand en haar bene was moeg.

Kerkstraat, uiteindelik! Voor die kerk was ’n paar motors onder die bome geparkeer. Die bruidsmotor, haar pa se motor. Meneer De Waal. Die Du Toits. Oom Sybrandt en tant Bernice Cronjé.

Haar moed het haar begewe. Sy het in die kerktuin gaan staan met haar moeë liggaam en verwarde gedagtes.

Toe breek die geluid van die jubelende troumars die stilte van die tuin en dit weergalm binne-in die rouheid van haar gemoed.

Nou neem Pa Melissa se lang bruingebrande vingers in sy goed versorgde hande met sy kort geknipte naels. Sy kon elke woord van ou dominee Weyers se bekende stem hoor. Sy kon selfs die kuggies van die mense hoor, hulle opstaan en hulle sit. Sy het botstil bly staan en luister en geleidelik besef dat hier in die kerk se tuin waar oom Japie Kraai se netjiese blombeddings haar omring en die blare van die bome blou kolle na die hemel deurlaat, dat sy hier haar pa se troudag met veel meer ingeskerptheid beleef as wat sy dit waarskynlik binne-in die kerk saam met die bruilofsgaste sou kon doen.

Die ontsteltenis het begin losknoop. Miskien sal Melissa verander en ook soos hulle word. Miskien sal alles tog nie so erg wees nie. Miskien sal die kinders ophou saggies lag. En miskien sal Melissa ’n gewone dorpsvrou word.

“Andries Johannes van Zyl, beloof jy en is dit jou voorneme …”

Pa.

Sy het konsistorie toe gestap en hulle daar gaan inwag. Daar was ’n verf- en vernisreuk en sy het vaagweg onthou dat hulle besig was om die ou kerkgebou op te knap. Magteloos het sy die finale bevel aangehoor: “Gee nou mekaar die regterhand.”

Toe haar pa en Melissa saam met ou dominee Weyers die konsistorie binnestap, het sy skuldig opgestaan. Melissa het haar hande uitgesteek: “Cisca!” het sy saggies gesê. Dit was die eerste maal dat iemand haar só noem. In die skool was sy Fransie en haar pa noem haar op haar doopnaam, Francisca. Nou was sy Cisca …

Uit Melissa se mond het dit soos iets heel besonders geklink. Melissa was mooi. Haar swart hare was nie los nie. Dit was statig op haar kop vasgebind, sodat haar sterk profiel en hoë voorkop ontbloot was. Oomblikke lank het sy vir Fransie vasgedruk teen die wit kantvalle van haar rok. Melissa het soos rose geruik. En Andries van Zyl het bo-oor die kop van sy nuwe bruid vir sy dogter geglimlag: hy was openlik verlig.

Saam met Melissa het die roetine in die groot ou huis oorkant die skool baie verander. Etenstye is dikwels bepaal deur die vordering op ’n nuwe seildoek. Baie aande was daar net ’n haastige stukkie roosterbrood en roereiers. Dan, skielik op ’n aand, sou die lang tafel vrolik getooi wees met kerse en rose en wyn en het Melissa hulle met uitheemse disse en nostalgiese musiek betower. Sulke aande was haar donker oë vol vrede en haar bewegings rustig, tydloos. Dan kon Fransie sien hoe haar pa bewonderend na sy bruid kyk. Daar was die oggende dat die kombuis geen tekens van ontbyt getoon het nie, maar wel ’n esel met ’n halfklaar skildery en botteltjies, flessies en kwaste op die tafel. “Andries, hoe laat is dit nou? Moet julle eet?” Daar was middae dat Fransie ná skool ’n presentjie op haar bed ontdek het. ’n Boek of ’n fyn stukkie onderklere, toegedraai in handgemaakte papier. Dit was die teken dat Melissa ’n skildery verkoop het. Daar was ook die spesiale aande dat sy vir Fransie kom toemaak het en die komberse saggies agter haar rug ingedruk het soos vir ’n klein kind. Dan het sy op die bed kom sit: “Ons moet praat oor die dinge van grootword, Cisca. Want daar kom ’n tyd dat jy nóg kind nóg vrou is, en jou tyd is nou.”

Haar nuwe stiefma was nie meer vir haar ’n bedreiging soos in die begin nie. By Melissa het sy haar eie vermoëns ontdek en haar eie frustrasies leer verstaan. Daar was die rustige tye in Melissa se ateljee; middae wanneer sy daar met haar huiswerk gesit het, terwyl Melissa intens aan die skilder was met swaar barokmusiek op die agtergrond. Hulle het dikwels langs die rivier gaan stap of op die rotse in die son sit en gesels. Dit het duidelik geword dat Melissa altyd bly wonder het of die mense van Kruisendal haar ooit aanvaar het. Van haar kant af het sy probeer inskakel by die vergaderings, koekverkopings en fondsinsamelings. Soos dit die vrou van die prinsipaal betaam. Haar kleredrag het minder opvallend geword. Sy het selfs meer stiptelik en ordelik probeer wees. Maar diep in haar hart het Fransie gewonder of haar stiefma tog werklik gelukkig op Kruisendal was.

Die nuus van Andries van Zyl se dood in ’n vliegramp het die dorp soos ’n bom getref.

Hy was op pad Durban toe vir ’n konferensie. Dae lank was die skool en die dorp stil van die skok.

Hoe Fransie deur daardie matriekjaar gekom het, kon sy later self nie onthou nie. Al wat sy wel onthou het, was dat Melissa daar was vir haar. Wanneer sy in die nag wakker geword het van verdriet, was Melissa wakend langs haar bed in die groot stoel opgekrul, besig om sketse te maak. Ná ’n paar maande het hulle saam besluit om die huis regoor die skool te verkoop. Melissa wou Kaap toe trek om ’n kunsskool te begin.

Fransie het by haar pa se suster-hulle gaan inwoon. Oom Sybrandt Cronjé en sy vrou, Bernice, het haar in hul kinderlose huis verwelkom en sy het by oom Sybrandt begin werk. Hy was ’n rekenmeester en op Kruisendal bekend as ’n deeglike, hardwerkende man. Om langer as ’n jaar by daardie kantoor uit te hou, was ’n vuurdoop, want so saggeaard soos wat hy tuis was, so veeleisend was hy in sy beroep. Hy het geen nalatigheid geduld nie en sy personeel met ’n streng hand beheer.

“Fransie,” het tant Bernice gesê, “oom Sybrandt sal vir jou ’n goeie grondslag in boekhouwerk gee; jy moet net uithou en aanhou. Bly eers hier by ons vir ’n jaar of wat en as jy dan Kaap toe wil trek, sal oom Sybrandt sorg dat jy die regte werk kry.” Oom Sybrandt het haar persoonlik onder sy bekwame hande geneem en opgelei. Korrespondensie, tikwerk, kasboeke, grootboeke, joernale, proefbalanse het deel van haar daaglikse roetine geword. Een jaar het gerek tot twee.

Tot op ’n dag toe hy haar na sy kantoor laat kom. Daar was ’n wasigheid op sy bril. “Francisca, jy is ’n jong mens en op Kruisendal is daar min uitdagings vir jou. Ek het vir jou geleer wat ek kon en jy was regtig ’n staatmaker. Ek en Bernice voel dat ons jou nou met vertroue kan laat gaan. Ek weet van ’n ouditeursfirma in Parow wat iemand soek en ek sal jou daar aanbeveel.” Oom Sybrandt het sy bril afgehaal en die lense sorgvuldig begin blinkvryf. Sy stem was sag: “Ek is jammer om jou te moet verloor, maar een of ander tyd moet jy op jou eie voetjies kan staan. En ons weet hoe jy vir Melissa mis.”

Die Kaap was ’n nuwe begin. ’n Nuwe woonstel, ’n nuwe werk, nuwe kollegas en toe … Henry. Dit het vir haar gevoel asof haar hele lewe rigting begin kry.

Maar nou is niks meer soos dit toe was nie. Die hele Kaap voel leeg. Henry gaan trou. Melissa is heen. En sy het agtergebly met honderde vrae.

Wie is Elias van Egeren?

Sy bêre die blou briewe weer in die boks en dwaal onrustig in die woonstel rond. Sy gaan staan by die venster en kyk uit oor die nagliggies en onthou hoedat Melissa haar gehelp het om die meubels en die matte vir die woonstel uit te soek. Nou voel dit asof die plek haar wil uitdryf.

As sy net met iemand kon praat, soos oom Sybrandt. Maar hulle is met ’n bootvaart van vier maande Europa toe. Dis hoekom sy hulle nie kon bel met die tyding van die begrafnis nie.

Weer terug na die boks met die blou briewe, al voel dit asof sy op heilige grond oortree.

Ek moet weet, dink sy, ek moet alles weet.

Dorkasbaai

Posbus 10

RUSTHALT

04.04.80

Liefste Melissa

Die dag in die stad saam met jou was soos ’n droom. Dankie vir al die herinneringe. En tog, noudat ek gesien het waar jy woon en werk, is ek bang dat jy nie bereid sal wees om alles prys te gee vir ’n plek soos Dorkasbaai nie. Nee, Melissa, ek sal nie weer kom nie. Ek sal my belofte gestand doen en die keuse aan jou oorlaat. Ek het vanoggend lank gestaan en afkyk in die grys dieptes van die klipgroef. Daar is wit mote teen die granietwande waar die boorpunt sy merke gelos het. En ek het gedink dat my siel ook so lyk: wit gekerf, diep gemoot van verlange na jou.

Wanneer jy weer kom – as jy weer kom, moet jy die klipgroef skilder.

Elias

Fransie sit lank met die brief op haar skoot. Hierdie man het Melissa liefgehad. Hoekom het sy so ’n sotlike ding gedoen om ’n rewolwer teen haar kop te druk? Wat het haar tot by so ’n punt gedryf? Wat? Die speurders het dae lank na ’n leidraad gesoek, ’n briefie, ’n teken. Daar was niks.

Sy skakel die ketel aan, maar voordat die water klaar gekook het, is sy weer terug by die blou briewe.

RUSTHALT

23.10.80

Melissa,

Ek onthou jou soos jy gelyk het op die laaste aand by die Kluisenaarskus. Jy is ’n pragtige mens.

Alle sterkte met jou uitstalling. Sterkte met Kluisenaarskus. Dit sal die grootste geskenk wees wat ek nog ooit ontvang het. Ek weet waar ek dit sal ophang bokant die kaggel in die eetkamer waar ek elke dag daarna kan kyk.

Melissa, jy weet my hart brand om self die skildery te kom haal. Maar ek sal nie kom nie. Ek sal niks weer doen voordat jy nie self tot ’n finale besluit gekom het nie.

Liza kom nie weer terug Dorkasbaai toe nie. Haar suster, Louisa, het my laat weet dat sy tevrede is om daar te bly en sy het self gesê dat die plaas en ek en ons almal hier te veel herinneringe vir haar inhou. Maar ter wille van haar gesondheid sal ek eers wag met die egskeidingsaak. Dis nogtans vir my makliker dat sy self van plan is om die bande te verbreek. Op ’n manier sou ek skuldig voel om ’n geknakte riet soos sy verder te breek.

Ek sal vir Joac stuur om die skildery te kom haal. Hy wil ook sommer ’n draai by Simon in die hospitaal gaan maak. Simon se eerste operasie op die knie was toe suksesvol. Die tweede operasie word in Desember gedoen. Hy weet nog nie van sy ma se besluit om nie terug te kom nie. Hy was altyd baie geheg aan haar en ek wonder hoe hy dit sal opneem. Ek groet nou met liefde en liefde. Elias Ns. Dankie vir jou briefie. Dit het vanoggend tussen Dorkasbaai Vervoer en Steengroewe se pos en rekeninge gelê en ek was so bly om van jou te hoor. Ek het al die pad gestap tot by Kluisenaarskus en daar jou briefie gaan lees.

Liefde

Eli

Fransie vou die blou brief op. “Dorkasbaai Vervoer en Steengroewe …” sê sy hardop. Iewers het sy dié naam gelees. Dit was ’n toevallige verbyflits van die oë, sonder om doelbewustelik aandag daaraan te gee. Sy gaan lê moeg op die rusbank met klere en al. Sy weet vanaand nie of sy nog langer in die stad wil wees nie. Moet sy teruggaan Kruisendal toe? Sy sien nie kans daarvoor nie. Vir die eerste maal voel sy kwaad vir Melissa. Hoe durf Melissa vir haar so in die steek te gelaat het? En vir Eli … die man van Dorkasbaai.

Sy raak onrustig aan die slaap. Wanneer sy wakker word, spring sy vervaard op. Die ligte brand en die radio speel. Dis halfdrie in die oggend en sy is koud en verkreukeld. Dorkasbaai! Sy het die naam in die koerant gelees, weet sy skielik. Dit was die koerant waarin Melissa se doodsberiggies verskyn het. Dit was die aand toe sy toevallig na die “Vakante Betrekkings” gekyk het. Sy gaan haal ’n pak koerante en kry die een wat sy soek. Sy vlek dit met haastige hande oop en soek deur die advertensies.

KANTOORKLERK. DORKASBAAI VERVOER EN STEENGROEWE BEPERK. ONS VERLANG ’N BOEKHOUER MET AANLEG VIR SYFERWERK EN ’N GOEIE VERANTWOORDELIKHEIDSIN OM BEHULPSAAM TE WEES MET DIE DAAGLIKSE REKORDHOUDING EN INSKRYWINGS TOT IN PROEF-BALANSSTADIUM, SOWEL AS DIE HANTERING VAN KONTANT. BETREKKING NEEM AANVANG OP 7 JANUARIE 1981. GRATIS LOSIES BESKIKBAAR. AANSOEKE MOET GERIG WORD AAN MNR. E. VAN EGEREN, DORKASBAAI, POSBUS 10, RUSTHALT.

Sy bly doodstil sit. Dat dit sowaar dieselfde koerant is as waarin Melissa se beriggies was. Melissa sou gesê het dis ’n “teken”. Melissa het so dikwels gepraat van al die tekens op ’n mens se pad.

Die volgende oggend op kantoor tik sy ’n aansoekbrief en teken dit F.J. van Zyl. Sy pos die brief met ’n gevoel van opwinding. Tien dae gaan verby. Sy begin wonder of sy nie te impulsief opgetree het nie. Op die elfde dag kry sy ’n brief. Dorkasbaai Vervoer en Steengroewe stel mnr. F. J. van Zyl aan vir ’n proeftydperk van drie maande. Hulle sal sorg vir gratis losies, maar maan dat die lewe op Dorkasbaai baie afgesonderd en stil is en daar is nie moderne geriewe nie. Tog vergoed die ruim salaris en byvoordele daarvoor en is daar ’n toekoms vir ’n man wat bereid is om hard te werk.

Fransie skryf terug en verseker hulle dat die afsondering van Dorkasbaai nie ’n probleem is nie. F.J. van Zyl sal op 6 Januarie 1981 aanmeld vir diens.

Meneer Wentzel, geskok oor haar bedanking, praat lank en vaderlik met haar, bied haar ’n verhoging aan, maar aanvaar uiteindelik dat sy weggaan as gevolg van Henry se verlowing. Maar dis hoegenaamd nie Henry aan wie sy dink terwyl sy begin voorberei om weg te gaan nie. Sê nou Dorkasbaai Vervoer en Steengroewe wil nie ’n meisie in hulle diens hê nie, wat dan? Moet sy nie maar liewer weer skryf en vir hulle sê nie? Nee, besluit sy. Dit kan haar enigste kans om Elias van Egeren te ontmoet, beduiwel. Sy besluit om nie die woonstel op te gee nie. ’n Kollega by die werk is dankbaar om dit tydelik met meubels en al oor te neem.

Die dag voor haar vertrek ry sy Tamboerskloof toe om ou Jakes te gaan groet en dis ook net aan hom dat sy haar nuwe adres toevertrou. Sy gaan hou vir oulaas voor Melissa se woonstelblok stil en kyk op na die balkon. Hoe dikwels het sy nie Saterdae hier stilgehou nie. Dan het hulle Tuine toe gestap om die duiwe te gaan voer. Of hulle is museum toe of Kirstenbosch toe. Hoekom het Melissa nooit van Elias van Egeren gepraat nie? Daar is baie dinge van Melissa wat sy nooit geweet het nie.

Daardie aand kyk sy die blou briewe weer deur en sluit dit dan toe in ’n kas. Sy besluit dat die Van Egerens van Dorkasbaai nie van haar verbintenis met Melissa hoef te weet nie.

Sy pak haar rooi Mini met al haar persoonlike besittings en vertrek op die Dinsdagoggend van 6 Januarie. Ek is by omdraai verby, dink sy toe Tafelberg in die verre bloutes agter haar lê.

Dis driehonderd kilometer Rusthalt toe. Voor haar strek die Weskuspad uit in oneindige grysheid. Twee ure later moet sy van die breë teerpad afdraai in ’n grondpad. Haar moed sak in haar skoene en sy stop nie eers om die padkos te eet wat sy ingepak het nie. Sy ry voort en voel hoedat haar gedagtes stiller en stiller word kilometer na kilometer. Dis warm. En vaal.

Rusthalt se naam is baie beskrywend, besef sy toe sy tweeuur die middag daar indraai. Die klein plekkie is niks meer of minder as ’n halte nie. Sy ry die enigste stofstraat binne en bekyk die wêreld om haar met ’n gevoel wat aan paniek grens. Is dit Rusthalt? Die paar geboutjies is oud en wit en staan en bak in die son. Alles lyk doodstil en verlate. Daar is ’n poskantoor en regoor ’n kafee. Die stasie en die rangeerwerf is klaarblyklik die belangrikste plek op die dorp. Die bank se agentskap staan moedig in ’n klein geboutjie, sonder venster, met ’n bot toe houtdeur. Die enkele huise lê verspreid en stil langs die stofstraat en hoër op teen die koppie.

Fransie deurkruis die hele dorp binne twee minute en ry weer terug na die kafee met die hoenderhok langsaan. ’n Rooi haan lê bo-op ’n ou motorband en lyk verlep. ’n Paar wit hoenders drom agter ’n draad saam en pik-pik in die stowwerigheid. Die haan spring nuuskierig van die motorband af en flap-flap sy vlerke vir koel lug.

Die Halt Kafee het ’n hoë stoepie wat nerfaf gesit is en die deur is blou geverf. Bo-op die deur is ’n handgeverfde uithangbord: Proprietor C. J. Schoombee. Van Dorkasbaai Vervoer en Steengroewe was sover nog niks te sien nie. Van ’n baai nog minder. Die treintrokke stamp met ’n oorverdowende slag teen mekaar en ’n gefluit klink droewig deur die wit lug. Fransie se bene voel stram ná die lang rit en haar kop voel dronk. Sy vryf met haar vingers deur haar kort blonde krulle en haal haar sonbril af. Toe sluit sy haar motor en stap die treetjies na die kafee toe op. Dankbaar sien sy die paar tafeltjies en gaan neem plaas in die hoek. Die vrou agter die toonbank loer eers by die deur uit na haar motor en toe kom sy stadig nader met ’n skinkbord in die hand.

Die vrou se wange is rooi en rond en haar rok span oor haar boesem. Onder haar blaaie lê twee ronde sweetkolle. Sy dra ’n paar plat wit skoene. “Kan ek gehelp het?” vra sy en dit klink nie of sy juis lus het vir mense nie.

“Bedien u tee?” vra Fransie. Sy sien hoedat die vrou eers aarsel.

“Moet dan maar seker so wees.” Sy draai om en loop om die tafeltjie en kom eers weer terug. “Warm of koue melk?” Sy vee die sweet van haar voorkop af en kyk deur se kant toe.

“O, daar kom my Stienie nou! Goddank. Stienieeee!” Sy los vir Fransie net so en loop agtertoe na wat seker ’n kombuisie moet wees. Stienie is ’n opgeskote dogter met lang, dun haartjies.

“Waar was jy so lank? Wat sê Sarel, wanneer kom die brood? Hier is mense en alles en die meisiekind daar binne wil tee hê. Wat sê Sarel van die brood?”

Fransie kan elke woord hoor.

“Maar, Ma, oom Sarel sê die brood is eers vyfuur klaar. Hy sê hy’t ’n breakdown gehad en hy is hoeka agter.”

“Nou kom help vir my, moenie net so staan nie. Het jy vir oom Sarel gesê Pa is siek?”

“Nee, Ma.”

“Nou maar vir wat sê jy nie? Ek staan hier alleen van vanmôre af.”

“Oom Sarel was baie haastig, Ma.”

“Stienie, maar bly nou stil en maak die tee. Daardie meisiekind het wanneer nie al nie ge-order.”

“Wie is dit?” vra Stienie en werskaf met die breekgoed.

“Ek weet nie. Seker iemand wat op pad is Mareerus toe, wat weet ek?”

Ná ’n lang ruk kom die vrou in met die skinkbord tee. Sy plak die koppie op die tafeltjie en trek die suikerpot nader. “Is juffrou op pad Mareerus toe?” vra sy terwyl sy die rekening op die boekie skryf.

“Nee, ek wou u eintlik vra of u weet hoe ek by Dorkasbaai Vervoer en Steengroewe uitkom?”

Die vrou hou op met skryf. Haar warm gesig verander en sy bekyk Fransie met verskerpte belangstelling. Sy lek oor haar droë lippe. “As ek nou so mag vra, is juffrou op pad syntoe?”

“Ja, ek is. Is dit hier naby?”

Die vrou kyk eers oor haar skouer om seker te maak dat niemand intussen ingekom het nie. Toe trek sy ’n stoel langs Fransie uit en gaan sit breed en swaar. “Die pad Dorkasbaai toe is baie sleg. Dit vat dan nie ’n halfuur om daar te kom nie. Ken die juffrou iemand daar?” Sy hou vir Fransie dop, drink elke gelaatstrek van haar gesig in.

“Nee, mevrou. U sien, ek gaan daar werk.”

“Werk?” Die vrou se liggaam verslap in ongeloof. Sy sit ’n lang ruk op die blou tafeldoek voor haar en staar. Toe vee sy ’n paar los suikerkorrels op. “Wat se werk?”

“Ek gaan die boeke daar doen.”

Intussen het Stienie ook nader gekom en staan skaamteloos so ’n entjie weg en luister.

“O, juffrou gaan vir die Van Egerens die boeke doen? Nee, ek wil liewers niks sê nie, maar juffrou moet maar self sien hoe dit is.” Dis skielik doodstil in die kafee. Buite kekkel die henne. En Fransie weet self nie wat om af te lei van die vrou se gespanne gesig nie.

“Ken u die mense?” probeer sy tog.

“Ek weet van hulle. Wie weet nie van hulle nie?”

Die vrou staan op. Die koppie tee bewe toe sy met die opstaan effens aan die tafel stamp.

Fransie drink haar tee stadig en wens die vrou wil terugkom sodat sy haar kan uitvra. Sy hoor hulle agter in die klein kombuisie werskaf en hulle stemme is nou duidelik gedemp. Sy kry die gevoel dat hulle van Dorkasbaai se mense praat en sy wens sy kan hulle hoor. Toe sy haar stoel agteruit skuif en opstaan, kom die vrou weer te voorskyn. “Wou juffrou nie nog iets gehad het nie?” vra sy en kyk Fransie van haar kop tot haar tone deur.

“Nee, dankie, mevrou. Die tee was baie lekker.”

“Dit was ’n plesier gewees. Sal juffrou nou met die pad kan regkom? Dis nou net weer hier uit op die grondpad en dan so ’n entjie aan en dan is daar die uitdraaibord. Dis waar die pad so sleg is, baie gate. Maar hou maar net aan. Juffrou sal die plaas kry.”

“Is … is dit ’n plaas, mevrou?”

“Ja, hulle het mos die plaas en die vervoerbesigheid en dan is daar nog die klippe en die sementstene. Dis dié dat die pad so sleg is, van al die lorries.”

Die foon lui en ná ’n rukkie kom roep Stienie haar ma.

“Dan moet juffrou my maar verskoon, en ek hoop juffrou sal regkom.”

“Baie dankie.”

“Ons sal mekaar seker dan weer sien, as jy in die kontrei gaan bly. Hulle noem my ant Rissie.”

“Nou maar, ant Rissie, ek is Fransie van Zyl.”

“Fransie van Zyl …” herkou die vrou die naam en toe vee sy haar hande aan haar voorskoot af om die foon te gaan beantwoord.

Ná die genadige koelte van Die Halt Kafee tref die versengende hitte Fransie opnuut buite. Die motor het gestaan en bak en sy voel hoedat ’n hoofpyn broeiend begin. Al die hoenders drom by die draad saam. Ant Rissie het merkbaar veel meer geweet as wat sy te kenne wou gee. Sy sal nou maar self moet gaan uitvind wie die mense van Dorkasbaai is. Toe sy Rusthalt uitry, kyk sy in haar truspieëltjie. Dit sal ek vir ewig onthou, dink sy. Dat ant Rissie van Die Halt Kafee my eerste kennis op Rusthalt geword het.

Sy soek die uitdraaipad en kry dit maklik. Daar is ’n swart geroeste bord aan die linkerkant van die pad. Net hier en daar is nog ’n letter leesbaar. Die wit kalkpad is smal en stamperig en vol gate, net soos ant Rissie beduie het. Net nog erger. Fransie moet konsentreer om nie die Mini heeltemal gedaan te stamp nie. Sy ry in ’n westelike rigting en toe sy oor die eerste hoogtetjie kom, spoel ’n genadige vars luggie die ergste warmte weg. Om haar lê ’n dor en verlate landstrook. Die enkele manatokabome lê skuins, asof die wind hulle van kleindag af so gevorm het. Daar is ’n motorhek in die pad en sy hou stil. Sy klim uit en bak haar hand teen die son. Daar ver teen ’n hoogtetjie sien sy hoedat stofwolke teen die lug opslaan. Sy hoor vragmotors verweg dreun en sy word bly oor die tekens van lewe. Vir haar het dit al begin voel asof sy op pad is na die eindes van die aarde. Hier moes Melissa ook eens gery het met ou Jakes se geel kombi, dink sy. Die gedagte bring ’n mate van troos.

Sy ry verder op teen die volgende hoogte en trek haar asem hard in. Die uitsig oor die steengroef lê ver en wyd voor haar. Die pad vurk in twee. Sy hou stil en kyk om haar heen. Die paadjie links lei op na ’n kliprant en die vaal kliphuis lê daar asof dit deel is van die hele milieu. Die vensters is met ’n strook wit verf omraam. Voor die huis is ’n klipstoep en kliptrap. Daar is verskeie buitegeboue. Sy kyk af na die regterkantse paadjie wat na ’n plat laagte lei. Twee groot staalkonstruksiegeboue se dakke blink in die son en daar ry verskillende voertuie. Verder na agter is ’n sandgat waar ’n geel laaigraaf aan die werk is. Op die agtergrond lê hope der hope klip van verskillende groottes. ’n Stofpad klim teen die rante uit en heel bo-op staan ’n massiewe vergruiser. Vervoerbande loop kruis en dwars en wit stof maak wolke in die lug. ’n Swaar vragmotor daal brullend af na die laagtes met ’n vrag klip. Onder op die gelykte by die kliphope hys hy sy bak skuins in die lug en stort sy vrag neer met ’n geraas wat selfs van hier af hoorbaar is. Dan eers sien sy die breë sementplatforms regs van die staalgeboue waar rye en rye sementblokke uitgepak lê.

Sy sit nog ’n ruk lank en kyk na die bedrywigheid voor haar. Die see, besluit sy, moet seker daar iewers agter die rante lê. Sy bring die motor in beweging en kies die linkerpaadjie wat na die huis toe lei. Sy hou langs een van die buitegeboue stil.

Hier woon die Van Egerens, dink sy onrustig. Melissa se spore lê hier. Hoekom het ant Rissie se gesig gaan stilstaan toe sy van die mense van Dorkasbaai gepraat het?

Kus vir die Kluisenaars

Подняться наверх