Читать книгу Kus vir die Kluisenaars - Esta Steyn - Страница 5
Drie
ОглавлениеFransie bly ’n rukkie besluiteloos in haar motor sit voordat sy uitklim. Die ou vaal kliphuis lyk bot toe en leweloos. Die werf is verlate en wit gevee. Daar is geen teken van ’n blom of ’n tuin nie, behalwe die paar aalwyne langs die huis. Die stoep loop om die huis na die sykant en daar lê die droë lappie gras. Die enigste koelte is die paar ou bloekoms op die werf.
Sy klim onseker uit en toe sien sy die klein beweging by die hoek van die buitegebou. Sy draai om. Daar is hy: ’n klein seuntjie met vyf katte wat agter hom aanstreep. Hy dra ’n vuilerige wit broekie en ’n geel hempie. Sy wangetjies is rooi en sy ogies is groot en goudbruin. Goudgeel krulhare lê klam teen sy koppie. Sy mollige beentjies is bruingebrand.
Sy stap hom tegemoet oor die wit werf en hy kom na haar toe met die vyf katte op sy hakkies. Hulle ontmoet mekaar halfpad en hy bly onseker staan. Dis Fransie wat die laaste entjie na hom toe stap en voor hom neerkniel. So dankbaar om ’n mens te sien, was sy lank nie! Al is hy dan ook net ’n klein, klein seuntjie.
“Wat is jou naam?”
“Jokie.” Hees, maar vrymoedig.
“Is dit al jou katjies dié?”
“Nee, nie die mammakat nie.”
“Watter een is die mammakat?”
“Die een met die wit stert.”
“Hulle is baie mooi, Jokie.”
Hy meet haar en hou sy geelbruin ogies op haar. “Wie is jy?”
“Ek is Fransie.”
Hy frons effens. Toe skud hy sy koppie. “Is nie,” sê Jokie van Egeren, “want jy is nie ’n oom nie.” Hy prop die kleinste kat onverskillig onder sy arm in. Die kat is tevrede om so dwars te bly hang.
“Jy weet, Jokie, partymaal is Fransie ’n tannie.”
Op daardie oomblik swaai die swaar voordeur oop. “Joachim … pieee!” skreeu ’n yl stemmetjie oor die werf. Toe verskyn die ou vroutjie op die stoep. Sy is dun en maer. Haar swart hare is yl en gevleg en agter op haar kop vasgesteek.
Fransie loop oor die werf en klim die trappies van die stoep op. Die ou vroutjie bly asof versteend staan. Haar oë is klein en swart en los nekvelle skud toe sy praat: “Ek is Miss Mavis Viljee. Kan ek help? Soek jy iemand?” Haar eentonige stem kraak ongeduldig.
“Fransie.” Fransie steek haar hand uit in ’n groet.
“Fransie?” Die swart ogies deurpriem haar. “Fransie?”
“Dis reg.”
“Van Zyl?”
“Ja, meneer Van Egeren het my aangestel as boekhouer.”
Die vroutjie frons en bly ’n lang ruk stil. Toe bars sy los: “Moeilikheid, dis net moeilikheid. Joachimpie, loop in en loop was vir jou! Kyk hoe lyk jy. Waar was jy miskien?” Jokie vervat sy greep op die kat wat steeds skuins hang en waggel die stoeptrappies een vir een boontoe. Hy verdwyn gehoorsaam die huis in.
Toe wend Miss Mavis haar weer tot Fransie. Miss Mavis, sien Fransie, dra ’n swart langmourok en swart kouse in die snikhete warmte. Die rok het ’n vaal kragie. Haar bene is dun en sy dra ’n paar swart loopskoene waarvan die veters half los is. “Dan moet jy maar inkom,” sug sy en swaai om. Fransie volg haar die huis in en sy praat die hele tyd in haar eentonige stemmetjie. “Mister Eli sal dit nou net mooi niks lyk dat jy ’n meisiekind is nie. Hier is ek met al my moeilikheid en nou nog dit ook!”
Die voorvertrek is skemer en koel en die meubels swaar en donker. Die plafon is hoog en van massiewe balke. Hulle stap tot in die klipvloergang wat na die kombuis lei.
“Is meneer Van Egeren hier?” vra Fransie versigtig.
“Nee, hy en Joac is daar oorkant by die lorries. Simon is hier iewerste. Ek weet ook nie. Sit.” ’n Groot houttafel staan in die middel van die ruim kombuis. Miss Mavis trek ’n stoel skrapend oor die vloer. “Dan weet ek nou ook nie,” sê sy en gluur Fransie aan. “Mister Eli het my die kliphuisie daar anderkant laat uitvee en skoonmaak. Ek werk al van wanneer af om alles daar reg te kry. Want dis dan toe ’n man wat sal kom. Dis doer anderkant die veld in en daar is nie eens krag nie. Meisiekind-alleen sal jy mos nie daar kan slaap nie.” Sy klink erg ontevrede en vryf met haar maer, beaarde hande oor haar vormlose bolyf. “Vroumense,” sê sy, “hou dit in elk geval nie hier uit nie.”
“Hoekom nie?” vra Fransie en verkyk haar steeds aan die maer vroutjie. Dis loshand die lelikste mens wat sy nog gesien het. Sy is tandeloos en ouderdomloos, iets tussen sewentig en neëntig. Of dalk selfs nog ouer.
“Hoekom nie?” Miss Mavis klink onheilspellend. “Want hier is ’n vloek op Dorkasbaai. ’n Vloek, verstaan jy? Hier hou vrouens dit nie uit nie. Hier in onse baai het ou Dorkas die slag met haar weefstoel en al die see in gespoel,” sê Miss Mavis.
“Miss Mavis?” vra Fransie en voel hoedat sy innerlik opswel van die lag. Of dit histerie of humor is, weet sy self nie. “Wie is Dorkas?”
Miss Mavis suig haar tandvleise goed deur. “Dorkas,” kondig sy aan, “was ’n weefster en toe kom die fratsbrander. Dis nou meer as sestig jaar gelede, maar ou Dorkas se gees loop hier en sy los die vrouens nie uit nie. Ek,” sê Miss Mavis en druk haar wysvinger teen haar plat bors, “is al een wat dit hier uitstaan. Maar ek is oud en afgeleef en ek het al in my tyd en dae vrede met Dorkas gemaak. Koffie?”
“Dit sal lekker wees, dankie.”
Miss Mavis draai moeisaam om en begin werskaf met die koppies en die kan.
“Joachimpie … eee!” roep sy ná ’n rukkie in haar dun stemmetjie wat Fransie laat skrik in haar stoel. “Kom drink koffieeee! En loop soek vir Benjamin! Hoor jy my? Nou wat het van Benjamin geword?” wonder sy en kyk Fransie stip aan. “Het jy vir Benjamin gesien toe jy stilgehou het?”
“Nee, wie is Benjamin?”
“Dan het jy hom ook nie gesien nie. Hy bodder ook gedurig weg. Hy is mos die mongoolkind van Mister Eli. Jy sien self, hier sit ek met klein Joachimpie en met die mal kind en my senuwees is op. En nou is die kamtige bookkeeper wat sal gekom het toe glad ’n meisiekind. Alles kom altyd op Miss Mavis af, sê ek altyd. Alles.”
Miss Mavis verval in ’n selfbejammerende stilte. Jokie kom in; steeds met die gewillige kat onder sy arm. Hy kom staan langs Fransie se stoel en sy voel die warmte van die seunslyfie. Hy ruik na buitelug en veld. Sy voel sy warm asempie saam met die gespin van die kat teen haar bene. Die vertroosting wat daarin lê, word voelbaar.
Miss Mavis se bewegings is stadig, tydsaam. Uiteindelik is die swart, sterk koffie klaar. Sy skink vir Fransie in ’n koppie en vir Jokie in ’n blikbeker. “Moenie weer mors nie, Joachimpie! Die kind kan so mors. Waar is Benjamin? Maar lós nou die kat en sit! Kyk wat jy doen, Joachimpie!”
En toe, asof Fransie voel dat iemand vir haar kyk, draai sy haar kop en sien hom staan: Benjamin. Sy donkerbruin hare is kort geknip en hang in ’n oneweredige kuif oor sy wit voorkop. Sy oë is donker skrefies en sy ooglede effens geswel. Hy is kort en vet, sy maag kinderlik gerond. Op hierdie warm middag dra hy ’n groen sweetpakbroek en daarby ’n bruin oortrektrui met ’n rolkraag. Bo-oor het hy nog ’n rooi oopknooptrui ook aan. Hy dra ligblou sokkies en bruin sandale en klem ’n groot bruin sak onder sy arm vas. Hy lyk so skoon en tog so verwaarloos met die klomp onnodige klere aan. Volwasse en tog soveel kind. Die klein swart skrefiesoë hou haar versigtig dop. Sy donker hare, sien sy, is waarskynlik deur Miss Mavis geknip, want dis effens gaterig gesny en plek-plek potsierlik kort. Dis te hoog bokant die ore uitgerond waar sy kopvel blouwit bokant sy ore vertoon.
“Benjamin, kom drink jou koffie. Toe, kom. Nee, nou het hy weer vir jou geskrik. Ag, kom nou, Benjamin. Hy is nie gewoond aan vreemdes nie.”
Maar Benjamin het reeds weer verdwyn.
“Ag, loop in jou swernoot in,” sê Miss Mavis. “Hy kan vir jou beneuk wees, dié malletjie. Kry net sy stryk en dan is dit weer ek wat moet soek. Hy is vir jou vol geite en giere en kan ook nie ordentlik praat nie en dan moet ek so sukkel. Hy is mos nou Mister Eli se jongste kind. Al negentien jaar oud soos hy nie daar lyk nie. Maar wat, sy verstand staan op vier en kom ook niks verder nie.”
Fransie proe aan haar swart koffie en hou onderlangs vir Jokie dop. Hy het sy blikbeker onhandig aan die oor beet en kyk af vloer toe na sy kat.
“Joachimpie! Jy mors! Ek het geweet jy sal weer mors. Drink nou jou koffie om jemelsnaam klaar en loop. Vir wat moet ek so sukkel, sê my vir wat?”
Jokie knip-knip sy ogies van verleentheid en die blos op sy wange verdiep. Toe loer hy na Fransie oor die rand van sy blikbeker en net toe Miss Mavis omdraai, maak Fransie bolkieste vir hom en trek haar oë groot. Sy sien die verbasing op sy gesiggie en toe eers besef hy dat sy met hom speel. Hy glimlag effens, maar loer eers na Miss Mavis. Hy drink sy koffie klaar sonder om verder te mors en hou nie op om na haar te kyk nie. Toe hy sy blikbeker plegtig neersit, sê Miss Mavis ongeduldig: “Maar kom vee nou af jou mond en loop speel tog.”
Eers toe hy uit is, vra Fransie: “Waar is sy mammie dan, Miss Mavis?”
“Maar ek sê mos die vrouens hou dit nie hier uit nie. Sy pa, Joac, is nou Mister Eli se oudste seun, die ene Eli, glo my. Nou ja, toe loop trou hy mos die slag met Alexa en sy kom bly toe hier by Joac. Maar wat, lank het sy dit nie uitgestaan nie. Hulle het haar so verskreeu en verjaag dat sy toe mos aan drinke gegaan het. Nou woon sy hier anderkant op Mareerus. Dis nou al dan nie vyftien maande wat sy weg is nie? En tot skeie kan hulle ook nie kom nie. Dis nou oor die kind. Oor Joachimpie. Stomme bloedjie, en Miss Mavis moet maar uithelp. Sy wat Alexa is, het mos ook ’n ruk met die boeke uitgehelp, maar ag wat, dit was net altyd moeilikheid. Niks was ooit na Mister Eli se sin nie. Ja, ek, soos ek vandag hier staan, het ek Mister Eli se kinders vir hom grootgemaak. En nou tot glad sy kleinkind ook.” Sy sug diep. “As ek dit nie swaar het nie, het ek dit bitter.”
Fransie verluister haar so aan die ou vroutjie, dat sy amper vergeet om haar koffie te drink. “En het Mister … ek meen, meneer Van Egeren ook nie meer ’n vrou nie?” vra sy.
Miss Mavis trek ’n stoel uit en kom sit. “Twee vrouens gehad … ja, twee. Eers was dit Christella wat in die baai hier agter verdrink het. Sy was nou Joac en Benjamin se ma. Hulle was toe maar klein. Joac was maar omtrent elf en Benjamin net oor die twee. Ek het toe maar al die tyd so aangesukkel met die kinders. En later van tyd vat Mister Eli toe weer ’n vroumens. Liza. Ja, Liza. Sy was destyds ’n geskeide vroutjie en hy het haar met kind en al gevat. Klein Simon. Simon was vyftien toe Mister Eli met sy ma getrou het. Maar nou ja, soos ek mos vir jou sê, die vrouens wat hier kom, hou dit nie lank nie. Liza het kompleet ’n wrak geword. Opgedrink van al die pille en haar senuwees was op hol en waar beland sy? In die gestig. Sy was maande in die Kaap, onder die dokters in en uit, want hier het hulle haar vir goed opgeneuk. G’n wonder sy wou ook nie weer haar twee voete hier sit nie. En op die ou end het sy maar by haar suster in Seepunt gaan intrek. Geen mens weet wat van haar sal word nie. Laas toe sy hier was om haar ou goedjies te kom haal, was sy vel en been, uitgeteer en haar kop is glad nog nie reg nie. Simon, haar seun, het nog altyd hier gebly. Maar ek is nie een wat praat nie. Ek snoer my lippe.”
Fransie proe-proe weer aan haar koffie. Sy is jammer dat Miss Mavis ophou praat het.
Met gesnoerde lippe en al vervat Miss Mavis egter darem weer haar storie.
“Nou moet jy weet, ek het die drie seuns grootgemaak. Vir Joac en vir Benjamin en toe nog vir Simon ook. Dis nie maklik nie. Vandag is hulle uitgegroei, maar ek het oud geword. My bene verduur nie altyd alles nie, maar wie het genade vir Miss Mavis? Niemand nie. En wat sal van Joachimpie word as ek nie sorg nie, sê my, wat?” Haar gesig trek op ’n plooi en sy slurp ’n slukkie koffie deur haar tandelose mond. “Ek wil ook nie sien wat Mister Eli gaan maak as hy sien jy is ’n meisiekind nie. Hier was al twee boekhouers ná Alexa, maar lank het hulle dit nie kon uitstaan nie. Die eerste mannetjie is gou hier weg, sommer oornag. Die ander vent was darem ’n bietjie langer hier, maar dit was ’n gevloek en geskel en vandag lê die kantoor in ’n deurmekaarspul. Mister Eli kom nie by die boeke nie. Dis die lorries en die stene en die klippe en als brei uit.”
“Waar is die kantoor, Miss Mavis?”
“Hier aan die huis. Die agtervertrek daar by die systoep. Nog koffie?”
“Nee, dankie, dit was sommer baie lekker.”
“Nou weet ek self nie wat ek moet maak nie, want hulle sal nie voor sesuur by die huis wees nie. Dan moet ek jou seker maar deurvat na die kliphuisie toe, al slaap jy dan maar net vir die nag. Vat sal Mister Eli jou tog nie vat nie. Dan kan jy weer môre ry,” besluit Miss Mavis Viljee en deurgrond vir Fransie met haar swart slangogies.
“Miss Mavis,” sê Fransie kalm, “ek is nie van plan om te ry nie. Meneer Van Egeren het my aangestel vir ’n proeftydperk van drie maande.”
Miss Mavis se ogies trek op nou skrefies en sy maak haar mond daadwerklik toe. Sy is nou van stryk af gebring. Haar poging om vir Fransie van die plek af weg te praat, het misluk en sy bly nors en roerloos sit.
“Dan moet jy maar solank na die kliphuisie toe gaan, want ek het my werke en dinge om mee aan te gaan.”
“Dit sal gaaf wees,” stem Fransie saam, want wat sy nou nodig het, is om alleen te wees. Toe sy orent kom, staan Jokie meteens styf langs haar. Sy sit haar hand op die blonde koppie. Sy goudbruin ogies hou haar dop.
Miss Mavis haak ’n bossie sleutels van ’n hakie af. “Hier is die huisie se sleutels. Dis hier anderkant regs verby die stalle af met die paadjie. Jy sal sommer sien. Voor laas jaar het Mister Eli nog die shower en die lêwwie laat aanbou. Warm water is daar nie, maar daar is ’n gasstofie om water te kook. Ek sal jou laat roep as hulle kom, want om nou te bodder, sal Mister Eli net verder omkrap.”
“Ek sal regkom, baie dankie. Kan ek my motor daar parkeer?”
“As jy net nie in die sandwalle infoeter nie. Joachimpie, jy bly net hier. Die kind maak net ’n oorlas van homself.”
Toe stap Fransie deur die stil, skemer huis. Die mure is dik en stewig. Die balke aan die plafon is soliede swarthout. Daar is niks onnodigs in die vertrekke nie; geen blomme of tierlantyntjies nie, maar daar is enkele skilderye teen die mure. ’n Gevoel van totale somberheid oorheers haar, terwyl sy deur die groot woonvertrek stap. Buite op die stoep is die sonlig verblindend helder.
Op die randjie van die stoep sit Benjamin. Sy bene hang swaai-swaai by die stoep af. Hy sit en grawe in sy bruin sak. Toe sy nader kom, maak hy dit blitsvinnig toe en trek die ritssluiter vas. Hy kyk haar wantrouig aan. Sy hurk egter by hom, terwyl hy sy sak stywer teen sy bors vasdruk.
“My naam is Fransie,” sê sy sag. Hy kyk haar vas in die oë en verslap nie sy greep op die bruin sak nie. “Wat is jou naam?”
Hy kyk weg. Hy kyk na die laagte aan die linkerkant daar onder waar die vragmotors vragte neerstort en werksmense se uitroepe hoorbaar is.
“Mui naam us Bhun,” sê hy in sy dik stem.
“Hallo, Ben.”
Toe sy die stoeptrappies afklim, hoor sy hoedat hy ook opstaan. Sy loop na haar motortjie toe en klim in. Hy kom agterna. Hy druk sy gesig styf teen die motorruit vas, sodat sy neus plat word. Hy loer nuuskierig rond en staan dan terug dat sy kan ry. Sy ry om die buitegeboue na die klein paadjie toe. Wanneer sy in haar truspieëltjie kyk, sien sy dat die figuurtjie nog so bly staan het, sy bruin sak steeds styf onder die arm.
Die kliphuisie is aan die teenoorgestelde kant van die huis as die vervoersaak, weg van die geraas af, sodat die stilte ver oor die velde lê en net die geblêr van ’n enkele skaap hoorbaar is. Die huisie is van dieselfde klipstene gebou as die groot huis en staan verskuil agter ’n klompie bloekoms. Daar is ’n gelyktetjie en ’n paar garingbome en verder agtertoe is die kliprant. As ’n mens op die kliprantjie staan, kan jy seker die see sien, dink sy.
Sy ry versigtig met die Mini in die sandpaadjie en parkeer aan die agterkant van die klein huisie. Toe sy die houtdeur oopsluit, krimp haar hart ineen: Melissa. Hier het Melissa gebly …
Die huisie bestaan uit ’n kleinerige vertrek met ’n bed, ’n hangkas en ’n tafeltjie met ’n waskom en lampetbeker. Voor die venster hang ’n verbleikte gordyn en op die vloer ’n uitgetrapte mat. Bo-op die bed lê ’n lekker snoesige skaapvel. Uit die slaapvertrek loop nog ’n kleinerige vertrek wat nie meubels in het nie, behalwe ’n enkele houttafel met ’n gasstofie daarop. Buite, regs van die deur, is die toilet en die stort aangebou, waarvan Miss Mavis melding gemaak het.
Fransie gaan sit op die bed en weet nie juis wat om te verwag nie. Vanoggend nog was sy in die stad, ongelooflike gedagte! En nou is sy hier op die plek waar Eli vir Melissa liefgehad het. Sou Melissa ooit vir Miss Mavis ontmoet het? Was Melissa ooit deel van die eensame lewe van die klein blonde Jokie? En van die swygsame Benjamin met die agterdog in sy oë? Of het Melissa en Eli se ontmoetings apart van die somberheid van die groot kliphuis bestaan? Sy weet nie! Sy weet so min. Ná die lang ent se ry, was hier vandag geen welkomsgroet vir haar nie.
Alles voel vreemd en sy is honger. Daar was appels vir padkos, onthou sy. Sy gaan buitentoe en haal van die appels uit die stowwerige motor. Moet sy haar klere uitpak? Want Miss Mavis het haar deeglik laat verstaan dat sy net so in haar spore sal moet omdraai.
Sy klap die motor se deur toe en sien hom in die veldpaadjie aankom: Jokie met sy kat. Sy gesiggie straal van ver af en sy wag tot hy by haar is.
“Weet Miss Mavis waar jy is, jong?”
Hy skud sy blonde koppie heen en weer.
“Wil jy ’n appel hê?”
“Ja.”
Hulle gaan saam die huisie binne en sy laat hom langs haar op die bed sit. “Dis ’n lekker sagte velletjie, nè, Jokie?” Hy knik en sit die kat langs hom neer. Die kat lê tevrede en roer nie. Sy gee vir hom ’n appel en hy vryf dit naarstiglik blink teen sy hempie. Toe sit hy die appel neer.
“Gaan jy nie die appel eet nie?”
“Dis Pappa s’n,” sê hy en tel weer sy kat op.
Hulle hoor dit gelyk: Miss Mavis se stem wat oor die oop vlaktes aansweef, hoog en onplesierig. “Joachimpieeeee … eee!”
“Sy soek jou, Jokie. Kom ons sê haar jy is hier.”
“Maar ek wil op die sagte velletjie lê.”
“Nie nou nie, Jokie. Op ’n ander dag … as ek hier gaan bly.”
“Belowe belofte?”
“Belowe belofte.”
Hy is tevrede en staan saam met haar op. Miss Mavis se stem raak ongeduldig en sy roep weer, hierdie slag nader.
Jokie hardloop buitentoe en sy beentjies dra hom vinnig teen die vaal veldpaadjie uit. Sy kyk hom agterna totdat die geel hempie oor die bult wegraak. Hy was die enigste een wat my vandag op Dorkasbaai verwelkom het, dink sy wrang.
Sy gaan moeg op die bed lê. Dit was ’n lang dag. Die aanraking van die sagte skaapvel is strelend. Sy maak haar oë toe en dink aan hierdie eerste vreemde dag van haar nuwe lewe. Die lug wat by die deur inspoel, is ’n seebries. Die baai moet dus net daar agter die kliprant lê, dink sy en dis haar laaste gedagte voordat sy aan die slaap raak. Sy krul haar bene op en lê in ’n klein hopie soos ’n kind.
So kry Elias van Egeren haar. Dis reeds sterk skemer.
Hy staan in die deur van die kliphuisie en kyk na die slapende meisie op die bed. Haar blonde hare is krullerig en haar wange rooi van die slaap. Sy sug en roer. Net toe hy omdraai om te loop, maak sy haar oë oop. Haar oë is baie blou en verbaas. Sy kom orent.
Fransie weet nie dadelik waar sy haar bevind nie, maar die gebeure van die dag spring een vir een terug. Eli! Dis Elias van Egeren, besef sy met ’n skok.
Sy swaai haar bene van die bed af en staan op. Die man voor haar is groot en fors, gespierd en bruingebrand. Sy digte hare is plek-plek goudgeel en plek-plek silwergrys. Dis lank en krullerig. Sy oë is grysblou en sy wenkbroue ruig en grys. Sy skat hom in sy vyftigs.
“Goeienaand,” sê sy en kyk op in sy breë gesig.
Hy groet haar nie. Hy stel homself nie bekend nie. Hy knik net sy kop effens. “Daar was ’n misverstand,” sê hy in ’n dwars stem, “ek kan jou nie in diens neem nie.”
Toe stap hy uit.
Sy kyk hom verbaas agterna. Sy rug is breed en sy hemp bol in die aandlug wat oor die rante speel. Dit is amper donker. Wat moet sy maak? Dis al so laat; het sy dan so lank geslaap? Seker meer as twee ure.
Klein Jokie! onthou sy. Sou hy al slaap? Wie het hom in die bed gesit? Miss Mavis? Miss Mavis met haar ongeduldige stem. Wat moet sy nou eintlik doen? Wat dink die man moet sy maak? Moet sy net so terugry en hulle hier los? Vir Jokie, en die belofte aan ’n slapie op die sagte velletjie. Benjamin? Benjamin wat verwonderd by haar rooi Mini ingeloer het. Wat is in Benjamin se bruin sak?
Sy sal nie sommer net ry nie!
Sy borsel haar hare vinnig en trek ’n baadjie by haar wit langbroek aan en toe stap sy die skemerte in, in die rigting van die woonhuis.
Kort duskant die huis, teen die klipmuur van die buitegeboue, sien sy dat iemand vuur maak. Die vlamme dans teen die muur van die buitegeboue en die geur van gebraaide vis stuif die lug in op. Van ver af kan sy die figuur van ’n jong man uitmaak. Hy is doenig met ’n rooster en sien of hoor haar nie. Sy bekyk hom beter. Hy is seker goed in sy twintigs, van middelmatige lengte. Sy hare het ’n bronserige kleur in die lig van die vlamme. Sy een been is in gips en hy staan gebukkend by die kole en swets toe ’n stomp verkeerd val. Hy krap in die kole met sy een kruk. Toe swaai hy skielik om en kyk haar verstom aan.
“Ekskuus dat ek staar,” sê hy ná ’n oomblik, “maar ek dag ek sien ’n spook. Wie op aarde is jy?” En dan vraend: “Frans van Zyl?”
In die lig van die vuur kan sy nie sy gesig goed sien nie, maar sy stem dra ’n warmte, wat opmerklik is ná Eli se kilte.
Sy bly net so op ’n afstand staan. “Ek is Dorkas van Dorkasbaai. Bly te kenne.” Daar is meteens ’n roekelose lighartigheid in haar. Dis die warm lig van die vuur gemeng met die seebries. Dit word vir haar ’n oomblik wat uitstaan bokant al die gebeure van die dag.
Hy bly ’n rukkie stil. Toe hy weer praat, lê die lag onbedwingbaar in sy stem: “Waar is jou weefstoel, Dorkas?”
“In die see. Jy sien, die bearings van die een wiel het geroes.”
“Laat ek net môre daarna kyk.”
“Ons geeste is vandag hier en môre daar. Môre is ek miskien weer weg.”
“Dis jammer.”
“Wie is jy?”
“Ek is die man met die kruk.”
“Dan groet ek maar weer,” sê sy, “ek het net kom keer dat jy jou krukke nie totaal verbrand nie.”
“Goeienag, Dorkas, en as jy weer hierlangs kom, dan maak ons maar weer so.”
“Goed dan.”
Sy stap aan in die rigting van die huis, maar ’n paar meter verder roep hy haar weer: “Dorkas, jy het nie miskien daaraan gedink om ’n stukkie vis saam te eet nie?”
Sy is baie honger. “Ons geeste,” sê sy, “gebruik nie iets voor twaalf nie, dankie.”
“Ook nie by uitsondering nie?”
Sy huiwer. “Ja, wel by uitsondering.”
“Wees gerus my gas. Die vis is sappig en vars en ek het hulle self gevang. Ons gaan nou-nou aansit en dan kan jy die res van die gesin ontmoet. As jy miskien die pot vir ons kan hou, krap ek hulle solank uit.” Hy steek sy een kruk deur die hingsel van die swart pot en trek dit nader.
“Ek sien jou krukke is baie nuttig.”
“Ja, om die waarheid te sê, het ek spesiaal my kraakbene laat uitsny om krukke te kry.”
Weer hoor sy hoedat sy lag naby sit, maar sy stem bly doodernstig. Sy verwens haarself dat sy hierdie sotlike gesprek met die vreemde man aangeknoop het, maar tog geniet sy dit. Môre, môre is sy miskien nie meer hier nie. Dan sal sy die man met die vissies en die krukke onthou. Dan sal sy onthou dat daar ’n seebries was wat soos ’n asem deur haar hare beweeg het.
Hulle stap oor die werf huis toe. Sy met die groot swart pot vol vis en hy spring-spring agterna op sy krukke. Onder die stoep gaan hy staan.
“Dorkas, hoe lank vertoef jy nog?”
“Ek sê jou mos, ek is vandag hier en môre daar, wie weet? Maar op die oomblik verbrand ek my vingers.”
Hy kyk doelbewus na haar vingers om die hingsel van die swart pot.
“Frans van Zyl,” sê hy toe en sy stem klink swaar, “dis jammer, want dis die een ding wat ’n mens nie kan bekostig nie, naamlik om jou vingers te verbrand. Dorkas nog minder. Daar is die ou Germaanse spreekwoord wat sê ’n vrou met gebrande vingers se toekoms word duister as sy vis eet. Is dit so?”
“Dit sal ek moet uitvind.”
Hy grinnik.
Net toe roep Eli met ’n groot en ongeduldige stem uit die huis: “Simon! Simon, waar bly jy so lank met die vis! Is dit al gaar?”
“Ek kom, Pa!” Hy kyk af na haar toe. “Kom, ons gaan in.”
Die lig vanuit die voordeur skyn op Simon de Witt se gesig. Sy bruin oë kyk spottend na haar.
Eli se stem het haar tot die werklikheid van haar haglike situasie teruggeroep. Haar bravade van flussies verdamp in ’n stilte toe sy die huis binnestap.