Читать книгу Kus vir die Kluisenaars - Esta Steyn - Страница 6
Vier
ОглавлениеDie eetkamer van die ou kliphuis is ’n ruim vertrek wat uit die voorvertrek loop. Daar is ook ’n ander deur uit die eetkamer wat na die gang toe lei. In die middel van die eetkamer staan ’n groot geelhouttafel met riempiestoele. Hier en daar lê ’n bokvel op die vloer.
Anders as die somberheid wat sy vanmiddag in die huis ondervind het saam met Miss Mavis, voel sy nou ’n mate van geselligheid aan. Die tafel is gedek en die lamp skyn intiem oor die bruinbrood, goudgeel botter en die vyekonfyt. Aan die kop van die tafel sit Eli en aan sy regterhand ’n blonde man wat sy onmiddellik weet Jokie se pa, Joac, moet wees.
Sy sit die swart pot in die middel van die tafel neer en weet nie wat om te sê nie.
“Ek het Frans van Zyl vir ete genooi. Niemand dink ook daaraan dat die man honger kan wees nie,” sê Simon en maak sy krukke langs sy stoel staan. “Frans, dis my stiefpa, en hierdie is my stiefbroer, Joac. Kom sit,” nooi Simon ongestoord. Eli ignoreer Simon se grappie en Joac se “Naand” klink flou.
Die ete verloop in stilte en Fransie kan nie agterkom of dit maar hulle manier van doen is, en of dit haar teenwoordigheid is nie. Maar sy is honger en sy eet die vis wat Simon in haar groot wit bord skep. Sy eet ook van die vars bruinbrood en wonder of dit Miss Mavis se baksel is. Van Miss Mavis is daar niks te sien nie. Van Benjamin ook nie. Jokie slaap seker al teen hierdie tyd.
Eli bly stug sit en eet sy vis met sy hande. Hy pluis die laaste stukkie vis van die grate af en breek selfs die viskop oop. Hy doen dit smaaklik en sy kan amper nie help om openlik te sit en staar nie. Langs hom sit Joac en dis asof sy sy vyandigheid oor die breedte van die tafel kan aanvoel. Hy en Eli begin ’n gesprek oor die werk en sy sit doodstil en luister, afgesluit van die geselskap. Sy besef dat wanneer die ete verby is, sy seker nie weer tyd sal kry om met Eli te praat nie. Toe hy en Joac in ’n stilte verval, skraap sy al haar moed bymekaar:
“Meneer Van Egeren, u het netnou gesê dat u my nie in diens kan neem nie. Hoekom nie?” Langs haar sit Simon sy mes en vurk neer en kyk haar aandagtig aan. Joac eet onverstoord verder. Eli neem tydsaam sy servet en vee sy mond af. Hy skuif sy bord terug.
“Ons het gedink dat jy ’n man is, juffrou Van Zyl. Ek stel nie daarin belang om ’n meisie hier in diens te neem nie. Joac, skink vir ons koffie.”
“Beteken dit …” begin sy weer.
“Dit beteken dat jy môre teruggaan, dis al.” Sy stem is bars en ongenadig. Sy voel hoedat ’n rooi gloed oor haar wange sprei.
“Meneer Van Egeren, ek kan dit nie aanvaar nie.”
Eli kyk haar vir die eerste maal direk aan. “Jy kan dit nie aanvaar nie? Wat bedoel jy? Jy het my openlik mislei deur voor te gee dat jy ’n manlike klerk is. Wat jy aanvaar en nie aanvaar nie, het niks met my te doen nie.”
Toe gil Jokie. ’n Lang en angstige gil wat iewers agter uit die huis opklink en nie ophou nie.
Joac skuif sy stoel agteruit en staan op. Hy loop uit en Fransie hoor hom deur die huis stap. Dit word stil. Vaagweg klink die gekerm weer op. Sy dink aan die appel wat Jokie so liefdevol teen sy borsie blink gevryf het vir sy pa. Het hy dit toe ooit vir hierdie swygsame blonde man gegee?
Die skok van die gil het haar so ontsenu dat sy ook nie verder met Eli kan redeneer nie. Toe Joac terugkom, bly hy in die gangdeur staan. “Hy wil vir jou hê,” sê Joac en eers ná ’n paar sekondes registreer sy dat dit met háár is wat hy praat.
“O? Verskoon my …” Sy staan op en stap agter Joac aan in die donker gang af. Die gang is breed en in die middel lê ’n bont loper. Die huis is groter as wat sy gedink het. Aan die einde van die gang is daar ’n dwarsgang en heel aan die einde daarvan is die kamer waarheen sy Joac volg.
In die dowwe lamplig sien sy die groot dubbelbed en daar lê die kind, half oopgeskop. Die beddegoed is deurmekaar. Jokie begin opnuut huil toe sy nader kom. En Joac bly swygend in die deur staan. Sy voel hoedat hy haar bewegings dophou. Toe is sy by Jokie en haar arms gaan spontaan om die warm lyfie.
“Fransie is hier,” fluister sy en druk sy koppie teen haar bors. Op daardie oomblik, terwyl sy asempie in haar nek blaas, onthou sy haar pa en Melissa en die groot huis op Kruisendal regoor die skool. In haar verlede was daar nie klein kindertjies nie. Behalwe in die tyd, ná haar pa se dood, toe sy by ant Bernice en oom Sybrandt gaan inwoon het. Daar was die jong vroutjie langsaan met die twee klein dogtertjies wat sy soms opgepas het. Dan het sy vir hulle stories vertel en saam pop gespeel. Een aand moes hulle by tant Bernice slaap en toe het sy hulle help bad en aantrek en in die bed gesit. Daar was ’n soet kleinkindgeur van poeier wat vir haar aangenaam was. Nou is dit ’n vlietende verlange.
Sy wieg haar liggaam saggies heen en weer en voel hoedat Jokie geleidelik tot bedaring kom. “Ek is hier, Jokie,” sê sy instinktief oor en oor.
“Fransie, moenie weggaan nie … moenieee!” kerm hy. Sy neusie is toe en sy lippies is vuurwarm teen haar nek. In die deur leun Joac teen die kosyn en praat steeds geen woord nie. Sy bly op die rand van die groot bed sit totdat sy lyfie verslap. Hy slaap. Versigtig laat sy hom terugsak en skuif die kussing gemaklik onder die blonde haartjies in. Sy maak hom versigtig toe met die laken, buk vooroor en soen hom sag op die voorkop. Toe stap sy uit, verby Joac, in die lang gang af.
Aan die einde van die dwarsgang sien sy hom in sy slaapklere en met sy bruin sak onder sy arm: Benjamin. Hy staan verwese daar. Bo-oor sy slaapklere het hy ’n oopknooptrui aan en aan sy voete is sokkies en sandale. Sy stap tot by hom. Die kamerdeur is oop en sy loer vinnig binnetoe. Die vertrek het net die nodigste meubels. ’n Bed, kas en tafel. Op die vloer lê bondels en bondels klere, asof die hele inhoud van sy klerekas daar uitgegooi is.
“Gaan jy ook nou slaap, Benjamin?” vra sy. Hy kyk af op die vloer en knik gehoorsaam. Toe draai hy om en stap tevrede sy karige kamertjie binne.
In die eetkamer vind sy dat Eli nie meer daar is nie. Simon sit met sy elmboë op die tafel. Sy kop is tussen sy hande en sy koffie staan voor hom. Hy kyk op toe sy inkom. “Kom, ek skink vir jou koffie. Het Jokie bedaar?”
“Jokie het bedaar. Ek het nie.”
“Kom sit en bedaar dan.”
Hy trek die koffiekan nader en skink vir haar in. Hy kyk haar lank en ernstig aan. “Frans van Zyl, luister na wat ek sê, want ek weet waarvan ek praat. Slaap vannag hier oor en môreoggend ry jy terug na waar jy vandaan kom. Want hier gaan jy net seerkry. Dis die beste so, glo my. Ek ken my stiefpa. As hy eers hierdie trant ingeslaan het, word hy onverbiddelik en dan sal hy jou net verder verneder en krenk. Hierdie werk is nie vir jou nie. Dis hard hier, en ondankbaar. Dis nie vir iemand soos jy nie. Vergeet dat jy ooit hier was. Sal jy, Frans?”
Hy kyk na haar en wag op ’n antwoord.
“Ek weet nie. Ek het seker nie ’n keuse nie.”
“Ek wil jou nie verjaag nie …”
“Spoke laat hulle ook nie verjaag nie.”
“So kom ek agter.”
“Goeienag.” Sy staan op.
“Wag, ek loop ten minste saam met jou. Of wag, jy kan in my kamer slaap, dan slaap ek oorkant in die huisie.”
“Nee, dis nie nodig nie. My goed is alles daar en ek is nie bang nie.”
“Ek loop in elk geval saam om jou lamp aan te steek.” Hy kry ’n kruk en staan op.
“Wat makeer jou been regtig?”
“Ek het knie-operasies aan albei bene gehad. Eers die een, toe die ander, ’n lang proses. Kraakbeen verwyder en wat nie alles nie. Nou is ek nog nie juis veronderstel om op hierdie een te trap nie. Vandaar die krukke.”
Dis eers toe sy omdraai dat sy die skildery bokant die kaggel sien.
Melissa!
Kluisenaarskus hang in ’n groot vergulde raam in die middel van die wit muur. Dis die baai van die klippe, die stil see en die wolkelose hemel. My probleem is, Cisca, dat ek nooit weet wanneer ’n skildery klaar is nie. Melissa se donker oë met die vuur daarin; haar oorjas vol verfspatsels … die ateljee. Hemel! Sy het gekom om Melissa se verlede te ontrafel en wat kry sy hier? Die antwoord lê nie in ’n eenvoudige sin opgesluit nie. Die antwoord is ’n mengelmoes van baie dinge. Jokie. Benjamin. Miss Mavis. Joac, met sy vyandige houding en koue blou oë. Eli wat haar ignoreer asof sy nie bestaan nie. Simon wat pleit dat sy moet teruggaan. Wat is die antwoord dan? Om dit te weet, beteken om te bly, tot elke prys hier te bly. Maar hoe kan sy, as niemand haar hier wil hê nie? Sy is te suf om nou besluite te neem. Die nuwe dag sal nuwe antwoorde bring.
“Hou jy daarvan?” vra Simon langs haar en sy skrik. “Van die skildery?”
“Ja, ek …”
“Dis die Kluisenaarskus. Dis waar Dorkas meer as sestig jaar gelede verdrink het. Sy was ’n kluisenaar.”
Hulle stap buitentoe en met die veldpaadjie langs na die kliphuisie. Hy loop voor, spring-spring op sy een been. Sy volg. Die lug ruik nou vars en sout en die warmte van die dag het gewyk voor die seebries wat oor die kliprante kom. Dis selfs effens koud.
By die klein kliphuisie steek hy die olielamp aan en bly onseker staan. “Jy weet, Dorkas,” hervat hy sy ligter trant van vroeër die aand by die vuur, “daar is mos die ou gesegde onder kluisenaars wat sê: ’n Man wat lig maak vir ’n vrou, is gewoonlik ’n kenner van spoke.”
Sy dink ’n oomblik geamuseerd na. “Daar is ook die ou spreekwoord onder die Romeine wat sê: ’n Man met ’n wond strooi maklik kaf rond.”
Toe lag Simon de Witt. Hy lag lekker uit sy maag uit en sy kan nie anders as saamlag nie. En terwyl sy só lag, dink sy vir die eerste maal aan Henry: Henry het nooit so lekker gelag nie. En daar kom die tyd dat ’n goeie lag soos balsem vir jou wonde word. Soos nou.
“Nag, Frans,” sê Simon uiteindelik. “Sal jy regkom?”
“Ek sal regkom. Nag, Simon.”
Toe hy uit is, sluit sy die houtdeur. ’n Oomblik staan sy besluiteloos in die klein vertrek rond. Sy moet nou maar gaan slaap, voordat sy bang word in hierdie eensame klein huisie. Slaap voordat ’n duisend gedagtes haar oorval. Môre sal sy die koue stort aandurf.
Die bed is gerieflik en sag. Sy vou die skaapvel knus om haar lyf. Buite lê die nagstilte van Dorkasbaai.
Sy word nie wakker voordat die dag grys oor die vertrek kom lê nie. Toe sy haar oë oopmaak, voel sy wonderbaarlik uitgerus. Sy lê en wonder wat hierdie dag sal oplewer. Waarskynlik die terugtog Kaap toe. Of moet sy Kruisendal toe gaan? Miskien kan sy solank in oom Sybrandthulle se huis gaan bly terwyl hulle nog op toer is. In die verte hoor sy die vragmotors in hoogste versnelling brul.
Sy staan op en gaan was haar hare onder die yskoue water van die stort. Toe trek sy vir haar ’n gemaklike rok en sandale aan en vryf haar kort hare droog. Sy maak die vertrek netjies aan die kant en trek die deur dig. Buite in die veldpaadjie op pad huis toe, sien sy dat die oggend skoon en helder is.
Vier van Jokie se katte lê op die stoeptrappies en slaap en roer nie toe sy nader kom nie. Sy wonder of Jokie al op is. Dit sal nogal hartseer wees om weg te ry en hom hier te moet los. Sy bruin ogies vol verwagting; die warm lyfie teen haar, soos gisteraand. Kan ’n mens hom verkwalik dat hy haar aandag so geniet het? Want met Miss Mavis vir geselskap is enigiets of enigiemand sekerlik ’n verbetering.
Waar was Mavis gisteraand? Miskien slaap sy nie saans op die plaas nie.
Fransie maak die voordeur aarselend oop. Dis stil. Sy stap deur die voorste sitkamer na die gang en links af na die kombuis. By die groot kombuistafel sit Jokie en Benjamin elkeen met ’n groot bord pap. Miss Mavis is by die wasbak besig. Sy dra haar swart rok van gister en haar swart kouse en wit voorskoot. Haar dun hare is weer gevleg en in ’n ronde knoetsie teen haar kop vasgesteek. Jokie is klaar aangetrek in ’n donkerblou broekie en skoon wit hempie. Benjamin het weer, soos gister, heeltemal te veel klere aan. Sy grys broek is te groot in die middel, maar vasgegord met ’n groot swart lyfband. Hy dra ’n blou hemp en nog ’n oopknooptrui. ’n Gele wat verkeerd om aangetrek is. Langs hom, onder die tafel, staan sy bruin sak.
Hulle sien haar nie dadelik raak nie en sy bly so in die kombuisdeur staan.
“Ek wil nog suiker oor my pap hê,” kla Jokie.
“Bly stil! Jou tande sal vrot! Vrot, verstaan jy? En dan val almal uit. Éét nou!”
“Mus Mavus,” begin Benjamin stotterend, “vandag … wul ek … vur mui ook ’n lusensu gaan koop. Ek … wul ook … rui.”
“Benjamin, eet jou pap. Lisensie, verbeel jou! Wie sal vir jou ’n lisensie gee?”
Jokie gewaar vir Fransie in die deur. Hy begin sing: “Fransie het geko-hom! Fransie het geko-hom!”
“Sherrap!” skreeu Miss Mavis. “Mens sing nie as jy eet nie.”
“Môre, Jokie!” groet Fransie uitgelate. “Môre, Benjamin! Môre, Miss Mavis! Hoe gaan dit vanmôre, Miss Mavis?” Sy het meteens lus om die ou vroutjie se siel te versondig en gooi ongemerk vir Jokie nog ’n lepeltjie suiker oor sy bord pap. Benjamin hou haar dop en glimlag meteens. Die glimlag breek oor sy dik geswelde ooglede; dit raak aan sy wit lippe en kom lê in sy donker halfmaanoë.
“Hoe sal dit nou gaan? Sê my, hoe? My been is opgeswel vandag. Water, tot my enkels ook. Dis verskriklik. As ek dit nie swaar het nie, het ek dit bitter. Ek sê gisteraand vir Sakkie ek kan dit nie meer hou nie.”
“Wie is Sakkie?”
“Hy is mos my ou broer wat al die jare nog hier by die stene werk. Ek sê vir Sakkie, dis kompleet nou weer soos die slag met my miskraam …”
Fransie sluk haar lag so vinnig weg dat sy amper verstik. ’n Miskraam vir Miss Mavis klink ongehoord.
“… tóé het ek ook so geswel.”
“En Miss Mavis is seker dis nou nie weer dieselfde probleem nie?”
Miss Mavis is heeltemal van stryk gebring. “Maar moenie vir jou kom staan en stuitig hou nie! En dit voor die kinders. Ek praat van vyf-en-veertig jaar gelede. Wil jy pap hê? Die ander het al klaar gebrekfis.”
Jokie begin dadelik weer sing: “Fransie moe-hoet saameet. Fransie moe-hoet saameet!” Dit weergalm luidrugtig. Benjamin trek plegtig vir haar ’n stoel langs hom uit.
“Dankie, Benjamin. Jy is baie bedagsaam,” sê sy en gaan sit. Hy lag ingenome en kyk plesierig af op sy bak pap.
“Ja, Fransie moet pappies eet!” Jokie swaai sy lepel met kragtige hale deur sy pap.
“Ek … gaan … vur mui … ook uh kar koop,” sê Benjamin vir niemand in die besonder nie.
“Ag, nou is hy weer kar-verskrik vandat hy jou rooi Mini gister gesien het,” brom Miss Mavis en plak ’n bak pap voor Fransie neer.
“Waarheen wil jy dan ry?” vra Fransie aan hom.
“Ek … wul Kaap … toe rui,” sê Benjamin met erns.
Fransie skep ’n klontjie botter oor haar pap en dadelik sê Jokie: “Ek wil ook botter op my pappies hê!”
“Jy leer die kind heeltemal verkeerd,” mompel Miss Mavis. “Hy is alreeds so bederf, in die afgrond in bederf. Botter! Begryp jou aan, wat nog?” Sy raak weer doenig by die wasbak.
Toe Jokie klaar geëet het, begin hy sy kat soek. Hy kruip onder die tafel in.
“Ek is siek en sat van die ewige spul katte,” begin Miss Mavis toe sy hom sien, “net kathare heeldag deur. Ek kan dit nie meer uitstaan nie. Die goed lê net onder ’n mens se voete en vreet ’n spul kos op. Vyf katte. Waar het jy gehoor van vyf katte? Hulle is te onnosel om die gifgoed van die werf af te hou, die sleg goed. Die ou ma lyk al soos ’n uitgeremde stuk lap, maar kleintjies kry sy al om die ander nagmaal.”
Jokie en Benjamin verdwyn terwyl Miss Mavis nog so voorttier. Jokie met sy kat en Benjamin met sy bruin sak. Geen wonder hulle vlug nie, dink Fransie.
Sy is steeds in die luim om die ou vroutjie se siel te versondig. “Miss Mavis,” sê sy ernstig, “laas nag twee-uur, nee, ek jok, dit was net mooi vyf oor twee, toe …”
Miss Mavis vee haar hande aan haar wit voorskoot af en draai om. Haar oë is klein en gitswart en boor deur Fransie. Sy frons.
“… toe was ou Dorkas by my gewees …” Fransie se stem klink onheilspellend.
“Ja?” Miss Mavis se ogies rek oop van verbasing.
“Wel, sy het ’n boodskap vir my gegee, Miss Mavis.”
“Ek het gewéét sy sal kom. Sy duld nie vrouens hierso nie. Ek het jou dit mos gister gesê.”
“Nee, Miss Mavis, al wat ek kan sê is dat sy baie vriendelik met my was.”
“Vriendelik … Dorkas se gees?” Miss Mavis se hele gesig vou dwars in ’n vraag.
“Beslis een van die vriendelikste geeste wat ek nog ontmoet het. Sy het vir my ’n boodskap gegee.” Fransie begin haar storie geniet.
“Wat vir ’n boodskap?”
“Nee, Miss Mavis, die boodskappe van geeste ná middernag dra ’n mens mos nooit oor nie. Het Miss Mavis nie geweet nie? Dis ’n soort etiese kode tussen groot geeste.”
“Nee, hene,” sê Miss Mavis, “dit het ek wragtag nie geweet nie. Nie ná middernag nie, sê jy?”
“Nee, Miss Mavis, nooit ná middernag nie,” antwoord Fransie ernstig.
“Frans is volkome reg,” sê Simon van die deur af en Fransie skrik haar amper van haar stoel af. Hy staan daar, groot en breed en rustig in die kombuisdeur. Hy is geskeer en sy roesbruin hare is netjies gekam. “Miss Mavis moenie sukkel met Frans nie. Sy is ’n kenner van geeste. Het jy nie geweet nie?”
“Reken, sy lyk nie daarna nie,” sê Miss Mavis, heeltemal van stryk af, en kyk Fransie aan asof sy haar vir die eerste maal werklik sien.
“Nee, Mavis, vir my ook nie,” sê Simon, “veral nie vanmôre nie.”
Fransie sê niks, maar voel hoedat sy haar lag moet inhou.
“Nou ja, Frans van Zyl, kom kantoor toe. My pa wag jou daar in.”
“Vir my?”
“Ja. Kom.”
Sy staan dadelik op en volg hom by die kombuis uit. Hy spring vooruit met sy krukke. By die voordeur gaan hy staan en kyk haar aan. “Daar is ’n ou Germaanse spreekwoord wat sê dat ’n meisie wat klaar haar pap geëet het, altyd op haar mooiste lyk.”
“Dit,” sê Fransie, “geld natuurlik nie vir my nie, want ek het nie my pap klaar geëet nie.”
“Jy is verkeerd, want ’n halwe bak pap geld vir jou.”
“Wil jou pa my regtig in die kantoor sien?”
“Hy wil regtig, op dese oomblik. Ek neem jou soontoe. Ons loop sommer hier buite op die stoep langs. Dis net hier agter.” Hulle loop op die stoep om die huis na die noordekant. “Het jy geslaap oor wat ek gisteraand gesê het?”
“Ja, en nee. Ek sal eers hoor wat jou pa sê voordat ek weet. Is dit reg so?”
Hy bly haar ’n antwoord skuldig en stap deur die buitedeur die kantoor binne. “Hier is sy nou, Pa,” sê Simon en toe hy omdraai om uit te stap, hou sy oë hare ’n oomblik vas.
Daar heers volkome wanorde in die vertrek wat veronderstel is om die kantoor te wees. Daar is twee groot lessenaars wat besaai is met papiere. Teen die een muur staan twee staalkabinette. Die ander muur het breë ingeboude rakke. Masjienonderdele, kanne olie, skroewe en gereedskap lê rond tussen die stowwerige boeke en leggers. Weke se onoopgemaakte pos op die grootste lessenaar. Stapels boeke op die vloer, en op die kleiner lessenaar lê ’n klompie pype en spykers tussen ’n hoop rekeninge. Miss Mavis het een ding nie oordryf nie: die deurmekaar kantoor.
Sy bly in die middel van die vertrek staan. Eli sit by die grootste lessenaar waar daar ’n klein skakelbord en telefoon is. Sy kyk af na die verweerde mat wat vol oliekolle getrap is. Die verbleikte gordyn aan die venster is effens oopgetrek en gee haar ’n uitsig oor die werkwinkel waar ou voertuie en motorbande, konkas olie en geroeste onderdele die werf daar onder by die laagtetjie vol lê. Haar blik dwaal terug na Eli. Hy is onverstoord besig om die een of ander vorm in te vul en laat haar wag.
Eli van Egeren, dink sy. Eli van die briewe. Eli wat oor die liefde geskryf het en van ’n baai vol klippe wat kan praat. Oor ’n verlange wat ver oor die duine lê. En sy besef dat iewers onder hierdie uiterlike ongenaakbaarheid sy wonde oor Melissa rou en seer lê. Hoe anders?
“Ek het besluit,” sê hy onverwags, “dat, soos ek jou gisteraand reeds gesê het, ons jou nie in diens kan neem nie.” Toe eers kyk hy op na haar. “Ons omstandighede hier bied nie werk vir ’n meisie nie. Soos jy self sien, is die lewe afgesonderd en die werk veeleisend. Ons kan ’n man baie beter gebruik, want hy kan sekere ander werke by die werkwinkel en die steenmakery ook bybring. Ek sal in elk geval vir jou iets betaal vir die reiskoste wat jy aangegaan het.”
Sy weet nie wat om te sê nie. Dit voel of sy wil huil. Klein Jokie met sy warm lyfie. Benjamin met sy bruin sak. Simon. Kluisenaarskus. Waar is die plek van die skildery?
Toe sy praat, moet sy die trane keer. “Meneer, ek is jammer omdat ek u onder ’n verkeerde indruk gebring het. Ek wou graag wegkom uit die Kaap uit en … in elk geval, baie dankie vir alles.”
Eli luister. Daar is selfs ’n geringe sweem van genaakbaarheid in sy grysblou oë. Sy draai om en stap uit op die systoep en bly eers net so staan. Daar onder, verby die bloekombos, sien sy die vragmotors met hulle vragte klip.
Daar bo, by die oorkantste granietkoppe waar die stofpad teen steiltes uit klim, kreun die vergruiser met skommelgeluide.
Meteens kom daar ’n beroering oor die werf van Dorkasbaai. Miss Mavis se stem kom hoog en benoud aangesweef oor die stoep. “Mister Eli! Mister Eli! Kom tog gou! Dis Benjamin! Hy’t die meisiekind se karretjie aan die loop gesit!”
Eli kom haastig aangestorm uit die kantoor. “Wat het gebeur?” bulder sy stem oor die werf.
“Dis Benjamin, Mister Eli. Die meisiekind se rooi Mini, hy’t dit laat afneuk daar by die rotse anderkant die kliphuisie!”