Читать книгу Die paradysman - Ettie Bierman - Страница 3
1
ОглавлениеDie verkeerslig is oranje toe Tinka by die kruising kom. Sy gee vet, jaag oor en mis ’n brullende motorfiets rakelings. Dit het vinniger aangekom as wat sy verwag het.
“Jammer, ou, dis ’n krisis!” roep sy verskonend in die rigting van die skel toeter en woedend-wippende valhelm. Gelukkig kan sy nie die eienaar agter die getinte gesigskerm sien nie en dit maak die oortreding minder erg. Haar kersierooi mond blaas ’n soentjie en sy sit voet in die hoek straataf.
“Een en ’n halwe minuut gespaar,” bereken sy.
In die drie jaar dat sy oorsee was, het Pretoria baie verander. Oral is nuwe straatname en eenrigtings, sodat sy al ’n paar keer verkeerd gery het. Haar afspraak is sesuur en sy is bang as sy laat is, verhuur die mense die tuinwoonstel aan iemand anders. Die hotel waar sy bly, is peperduur en sy moet dringend ander woonplek kry.
Sy het na ’n paar plekke gaan kyk, elkeen met ’n skeet. Te duur, te ver uit die stad, te lawaaierig, te verwaarloos … Die tuinwoonstel klink ideaal: goeie omgewing en gerieflik naby haar winkel, redelike huur en gemeubileer, met onmiddellike okkupasie. Sy wou tant Olga om die nek val toe dié haar daarvan vertel het.
Tinka spoor Mispelrylaan op en dan nommer 67, op ’n dubbelerf. Toe sy voor die ou Victoriaanse dubbelverdieping stilhou, is sy net vyf minute laat. Sy steek haar bloes netjies in haar sigeunerromp, kam met haar vingers deur haar gladde swart kuif en lui die voordeurklok. Dis van koper, blouerig aangeslaan, met ’n Switserse beesklok se melodieuse klank. Warm en verwelkomend, asof die eienaar ’n omgeemens is.
Tant Olga ken hom blykbaar, maar sy was vreemd terughoudend. Het gesê dis beter dat Tinka haar eie mening oor haar toekomstige huisbaas vorm. Sy hoop nie die man is moeilik en vol verspotte reëls en regulasies nie. Op ses en twintig is sy gewoond daaraan om haar eie ding te doen; sy wil nie soos ’n koshuiskind behandel word nie.
Langs die huis staan ’n jakarandaboom en in die ligte bries ruik sy die heuninggeur van die blommetjies. Dís wat sy in Londen gemis het: die geur en kleur van Afrika, die son en ’n bries wat nie ysslierte onder jou jaskraag inwaai nie. Dit het selfondersoek, retrospeksie en trots sluk gekos om terug te kom, maar dit was die regte besluit. Daar was niks meer vir haar in Londen nie. Of in Parys. Haar wortels is hier. Al sal party mense haar skeef aankyk en agter haar rug skinder.
Toe sy haar hand lig om die klok ’n tweede maal te lui, hoor sy ’n gehyg. Die volgende oomblik storm ’n dierasie so groot soos ’n kalf volspoed om die hoek van die huis op haar af. Sy skrik. Haar eerste impuls is om na die veiligheid van haar motor te vlug, maar sy besef sy sal dit nie betyds haal nie – nie met haar lang romp en stewels nie. Sy hou haar skouersak voor en keer met haar arm vir haar gesig.
Die gedierte tref haar met ’n slag. Twee enorme pote land op haar skouers en ’n slobbertong begin lek haar grimering af. Dis ’n Great Dane. Oorgewig en oorvriendelik. Tinka skaam haar omdat sy so ’n lafaard was. Sy kon mos sien hy is nie kwaai nie, net oorentoesiasties om te groet.
Om vir haar wantroue te vergoed, streel sy die breë kop. Dit was ’n fout, want dit maak hom opnuut opgewonde. In reaksie spring hy teen haar op. Sy verloor haar balans, val vooroor en moet haar hande uitsteek om nie plat op haar maag te beland nie.
Agter haar gaan die voordeur oop. “Magrieta, af!” beveel ’n stem.
Tinka bly verstar handeviervoet staan. Dit voel asof ’n trein haar getrap het. Vir die tweede keer wil sy na haar motor vlug. Dit was net twee woorde, maar die stem was onmiskenbaar. Die hele tyd in Parys het dit deur haar gedagtes en gewete weerklink, sodat die klank daarvan in haar geheue gegraveer is.
“Goeienaand,” groet die stem nadat die hond teësinnig ophou groet het.
Dit ís hy. Onmiskenbaar hy. Sy kan dit nie glo nie. Wat op aarde soek Rheeder hier? Drie jaar lank het sy gewonder hoe dit sal wees as sy hom dalk weer eendag raakloop. Hy was destyds baie dwars en onredelik. Sou hy haar vergewe het, of steeds ’n wrok koester?
Op hierdie oomblik sou sy verkies het om veilig getroud te wees, met Eugene aan haar sy en gearriveer in die lewe: ’n rits trefferboeke agter haar naam, suksesvol en elegant in ’n Giorgio Armani-skepping. Pleks daarvan is sy ongetroud en alleen. Pleks van ’n rak vol blitsverkopers het sy ’n halwe, afgekeurde manuskrip êrens in ’n boks. En ’n gekreukelde vlooimarkromp vol hondespoeg en haar agterstewe onelegant in die lug …
Sy hoor hom kug en taktvol keel skoonmaak. Sy kan dink watse onvleiende prentjie sy skep. Daar is geen manier waarop sy grasieus uit hierdie posisie kan regop kom nie. En dis seker te veel gevra om te verwag dat dokter Rheeder Vermooten ’n jintelman sal wees en anderpad kyk. Inteendeel: hy sal natuurlik haar dilemma geniet en hom nie verwerdig om ’n helpende hand uit te steek nie.
Sy skuif haar voete ’n entjie uitmekaar om haar gewig te balanseer.
“Kan ek help?” bied hy aan en uit die hoek van haar oog merk sy ’n hand wat na haar voorkant mik.
Tinka is vies dat sy verkeerd bewys is, dis asof hy ’n ronde teen haar gewen het.
“Nee! Los!” roep sy uit.
Sy hou aan die kosyn vas en kom stuk-stuk orent totdat sy in haar volle lengte voor Rheeder staan. Laat hy dit net waag om te lag … Of ’n simpel opmerking maak.
Sy skud haar hare agteroor en kyk op. In teenstelling met haar lyk hy rustig en op sy gemak. Hy is langer en forser as wat sy hom onthou, en sy oë groener. ’n Grougroen, soos bloekomblare. ’n Kil en onvriendelike kleur. Sy donker hare is langer as wat hy dit in die verlede gedra het, sodat dit effens oor sy hempskraag krul. Net die mooi mond is nog dieselfde. Effe vol, sensuele onderlip, met ’n vertikale keep in die middel van sy ken en mondhoeke wat induik, asof hy maklik lag. En lekker soen, soos sy kan getuig …
Sy skrik vir die trant van haar gedagtes. Sy kom agter sy staar en haar gesig word warm. Rheeder het destyds ’n slag gehad om te weet wat sy dink. Sê nou dis steeds so? Sy skaam haar dood.
Watse soort mens is jy, Katinka van der Bijl? raas sy met haarself. Jy het die man destyds oorboord gegooi vir ’n ander ou. En hier staan jy met glasoë na sy mooi mond en staar en onthou hoe heerlik hy gesoen het!
’n Stilte hang swaar tussen hulle terwyl hy net so kliphard staar soos sy. Sy gesig toon ’n wisseling van uitdrukkings. Eers ongeloof, asof sy van die planeet Mars af geland het. Dan, kort op die hakke van die herkenning, volg ergernis en grimmigheid. Sy weet sy kan hom nie kwalik neem dat hy nie op en af spring om haar te sien nie. Sy is nie trots op die manier waarop sy hom destyds behandel het nie.
Tinka is uit haar vaarwater. Sy haal ’n keer diep asem. Rheeder pers sy lippe saam, en toe praat hulle albei tegelyk: “Wat maak jý hier?”
Hy is eerste om te reageer en haal sy skouers op. “Ek woon hier. Jy?”
“Ek ook … e … miskien.”
Sy kan nie helder dink nie. Is daar dan ’n tweede woonstel op die perseel wat hý huur? Sy sien nie kans daarvoor dat hulle bure moet wees en mekaar om elke hoek en draai raakloop nie.
“Dis my huis,” verduidelik hy. “Ek het die plek ’n jaar gelede gekoop, toe my praktyk gevestig was.”
“O, ek dag … jy is … e …” Sy verwens haarself omdat sy hakkel en stotter.
“Ek is wát?” vra hy toe haar stem verleë wegsterf.
“Nee, niks.”
Amper het sy ’n gek van haarself gemaak. Sy kon mos raai ’n dokter verdien genoeg om sy eie huis te koop.
“As dit jou huis is, is dit seker jou tuinwoonstel ook?” Nie vreeslik intelligent nie, maar sy is trots daarop dat sy logies en vlot geklink het.
Rheeder knik kortaf.
Hy wil haar nie hier hê nie, besef sy. Nie op sy drumpel nie, nie in sy woonstel nie en ook nie in sy lewe nie. Wel, sy het nuus vir hom: sy wil óók nie hier wees nie. Dis jammer van die tuinwoonstel, dit het perfek geklink. Maar nog ’n nag of twee in die hotel sal haar nie veel dieper in die skuld dompel as wat sy reeds is nie. Sy sal môre van voor af die advertensies in die koerant deurkyk, of ’n verhuringsagent probeer.
“Waar het jy van die plek gehoor?” wil hy weet.
Sy draai weg en soek haar motorsleutels. “Iewers is ’n misverstand. Jou ma het gesê sy weet van ’n geskikte woonstel wat my sal pas, maar sy het blykbaar deurmekaar geraak en die verkeerde adres vir my gegee. Jammer as ek gepla het. Ek sal jou nie langer ophou nie.”
Sy wenkbroue trek in ’n frons saam. “My má? Het jy met haar gepraat? Hoekom?”
Teen haar sin is Tinka op die verdediging. “Ons het deur die jare kontak behou, en toe ek terugkom in Suid-Afrika, het ek gedink dis goeie maniere om haar te bel om te groet.”
“Sy het my nie gesê dat jy terug is nie. Kuier jy net of is dit permanent?”
Wat het dit met hom te doen?
“Permanent,” antwoord sy kortaf.
“En my ma het vir jou gesê ek het ’n woonstel om te verhuur?”
Sy wil nie tant Olga by haar seun in die moeilikheid kry nie. “Dit het toevallig ter sprake gekom toe ek gekla het ek sukkel met huisvesting.”
“Sonder om te sê die woonstel behoort aan my?”
Hy klink skepties en Tinka is verontwaardig. “Natuurlik! Dink jy ek sou hierheen gekom het as ek geweet het dis jou adres?”
Hy bekyk haar op en af en sy frons verdiep terwyl hy nadenkend oor sy ken vryf. “Nóú verstaan ek hoekom sy so getorring het dat ek stiptelik sesuur hier moet wees as die ‘dametjie’ kom … Sy het haar eie duistere agenda gehad.”
Tinka is lief vir sy ma. In die tyd toe sy en Rheeder uitgegaan het, was tant Olga vir haar die ma wat sy kleintyd verloor het. ’n Ma, ’n vriendin, ’n maat. Naweke wanneer sy by hulle op die plaas by Dullstroom gekuier het, het hulle twee ure om gesels, saam in die kombuis gebak en gebrou en by vlooimarkte rondgesnuffel op soek na ou skilderye en boeke. Toe die verhouding tussen haar en Rheeder verbreek is, was sy ma verslae en hartseer, maar sy het by Tinka se besluit berus en haar nie verwyt of probeer beïnvloed nie. Haar deur het steeds oopgestaan en hulle vriendskap het heg gebly.
Nou wonder Tinka egter of tant Olga regtig daarin berus het dat haar en Rheeder se paaie geskei het. Het sy Cupido probeer speel en die situasie uitgebuit, gehoop dat dinge tussen hulle dalk weer sal regkom noudat Eugene uit die prentjie is? Sy voel sommer gegrief oor die ongemaklike situasie waarin tant Olga haar geplaas het.
“So jý is die arme platsak ‘dametjie’ wat kastig op straat sit, wat kamma so desperaat is vir ’n heenkome?” sê Rheeder sarkasties.
Hy hoef dit nie in te vryf nie … “Jou ma het dit goed bedoel,” antwoord sy verdedigend.
“Julle twee was altyd kop in een mus as dit by konkel kom.”
Waar kom hy daaraan? Sy vervies haar. “Ag, strooi! Ek erken dat ek blyplek soek, ja, maar ek was g’n besig om te konkel nie. Hoekom sou ek? Om wat te bereik?”
Hy lyk nie oortuig nie. “Met julle vroumense weet mens nooit.”
Hy bekyk haar ondersoekend. “Ek dag Parys was so wonderlik, jou droom wat waar geword het. Hoekom was jy dan skaars ’n jaar daar voor jy padgegee het Londen toe?”
Sy ma het hom seker op die hoogte gehou … maar hy het genoeg belang gestel om die tye en datums te onthou. Tinka weet nie of sy vies of gevlei voel nie.
“En nou is jy sak en pak terug … Hoekom?”
Sy wens hy wil ophou karring. Tant Olga ken net die basiese feite, maar sy sidder by die gedagte dat Rheeder die volle storie sal uitvind. Dit was pynlik genoeg om by haar pa te bieg dat hy reg was, sy vergifnis te vra omdat sy halsoorkop en verkeerd was. Maar Rheeder sal haar eerder verwyt as vergewe. Sy eerste woorde sal wees: “Ek het jou toeka se tyd mos gewaarsku, maar jy het gedink ek is kleinsielig. En dat jy beter weet as ek en jou pa en al die ander mense wat jou gewaarsku het jy is te liggelowig.”
Sy onthou sy het dit teen sy kop geslinger dat hy besitlik en jaloers is, dat hy Eugene swartsmeer omdat hy haar nie geluk saam met ’n ander man gun nie. Sy is skaamkwaad en haar reaksie kom skerper uit as wat sy bedoel het.
“Ek het beslis nie teruggekom om agter jou aan te loop nie – as dit is wat jy dink! Ek het dit drie jaar gelede duidelik uitgespel dat ek hoegenaamd nie belang stel nie.”
“Jy het, ja,” stem hy saam. “Vyf keer. Persoonlik, per telefoon én per brief, sodat daar geen misverstand kon wees oor die feit dat jy my op my oor uitgesmyt het nie.”
Só gestel klink dit koelbloedig. “Jy maak dit erger as wat dit was. Ek het tien keer verduidelik en gesê ek is jammer.”
“Jammer?” Hy snuif minagtend. “Ons het ’n verhouding gehad, Tinka. Verbrands ernstig! En jy dink een enkele woordjie – net ’n simpel ‘jammer’ – toor als reg?”
“Ek kon stilgebly en net eenvoudig my tasse gepak het,” herinner sy hom. “Dit sou makliker gewees het. Maar ek het moeite gedoen dat jy moes verstaan dis nie persoonlik nie, dis nie jou skuld of jý wat tekort geskiet het nie. Dat dit om meer gegaan het as net ’n ander man wat ek verkies het, dat daar buitefaktore was – omstandighede waaroor ek nie beheer gehad het nie en waarvan ek self ook die slagoffer was.”
“ ’n Onsamehangende gegorrel waarvan niemand kop of stert kon uitmaak nie. Ek was mal oor jou, Tinka, tot oor my ore verlief, en ek het gedink jy voel dieselfde oor my. Maar blykbaar was ek ’n gek in ’n droomwêreld. Dit was nogal ’n skok toe die borrel bars en ek met ’n pletterslag terugkom aarde toe.”
“Ons was jonk, studente … sentimenteel verlief. Te jonk om te weet wat ons wil hê.”
“Jý miskien. Ek was oud genoeg om presies te weet wat ek wil hê, en dit was jy. En jy het dit geweet, want ek het dit vir jou gesê. Ek het jou gevra om te trou, Tinka, of het jy dit gerieflikheidshalwe vergeet?”
Sy byt senuweeagtig op haar onderlip en verwens tant Olga van harte. Sy soek na die hond, hopend hy kan as afleiding dien, maar dié lê omgekantel in die son en het vrede met haar en sy baas se liefdesprobleme.
“Dit was ’n grap,” maak sy dit ligweg af. “ ’n Lawwe, studentikose geterg daardie aand toe julle die intervarsity gewen het en jy vol bier was.”
“Ek was g’n!” stry hy verontwaardig.
“Jy was! Julle het ‘kastele’ en ‘leeuplesier’ en ek weet nie wát als gedrink nie. Dit was ’n lawwe jol waar niemand ernstig was nie.”
“Behalwe ek,” hou hy koppig vol.
“Met ’n bierblik se ringetjie wat jy aan my vinger gesteek het?”
“Dis al wat ek byderhand gehad het, tot ek vir jou ’n behoorlike verloofring kon koop.”
“Franco het ’n hele sák vol blikringe bymekaargemaak vir al die meisies op die pawiljoen wat vir hom gecheer het. Joe wou met alle geweld ’n skootdanser huur, en jy wou trou. Dit was sommer rugbykoors omdat julle gewen het. Niemand het iemand ernstig opgeneem nie.”
Sy gesig is stroef. “Jy het ’n kort geheue, en jy plooi die omstandighede om jou te pas.”
“Nie ek nie, jý!”
Hy vryf moeg met sy hand oor die agterkant van sy nek. “Ek het ’n lang dag in die teater gehad en ek het beter dinge om te doen as om hier soos ’n kind te staan en stry. Wat verby is, is verby. Kom ons los die ou koeie in die sloot. Jy kan die woonstel kry as jy dit wil hê, ek gee nie om nie.”
Hy staan opsy en stoot die voordeur wyer oop. “Kom in, dan praat ons verder.”
Die koeie sal ’n manier vind om self weer uit te klim, weet sy. Die verlede is te rou dat sy en Rheeder normaalweg kan praat. Dit sal net weer in ’n argument ontaard waarin sy die vark in die verhaal is.
Sy bly op die stoep staan. “Nee, dankie. Ek wil nie inkom nie en ek soek nie gunste en gawes nie.”
“Ek bied dit ook nie aan nie. Jy sal mos huur betaal.”
“Dankie, maar nee dankie.”
“Waar gaan jy dan blyplek kry?”
“Ek sal wel regkom.”
Hy sug. “Jy het nie verander nie. Jy is steeds die koppigste mens wat ek ken.”
“Wanneer laas het jy in ’n spieël gekyk?” kap sy teë.
’n Oomblik lank sien sy ’n skewigheid aan sy mondhoek trek, asof ’n grinnik wou deurbreek. Die horlosie draai terug en hy lyk skielik soos altyd, soos toe hy die son en die maan en die sterre van haar heelal was. Daar is ’n onverwagte fladdering op die krop van haar maag. Sy moet haarself keer om nie haar arms om hom te sit en hom ’n spontane druk te gee nie, soos sy altyd gedoen het as hulle mekaar ’n tyd lank nie gesien het nie.
Tinka is geskok oor dié skielike impuls waaraan sy amper toegegee het. Genade, is sy dan heeltemal van haar sinne af? Of is dit die mag van die gewoonte omdat sy haar ná al die jare weer in Pretoria bevind, waar sy en Rheeder mekaar ontmoet en verlief geraak het?
Daar is deesdae soveel onstuimigheid in haar gemoed dat haar kop uithaak. Nou die dag was haar tjekboek ure lank soek. Nadat sy die hele winkel omgekeer het, kry sy dit so ewe in die yskas! Sy moet haar regruk. Sy was nog altyd ’n dromer en ’n onpraktiese idealis. Maar noudat sy ’n nuwe hoofstuk in haar lewe begin het, moet sy haar gedra soos die soort sakevrou wat sy graag wil wees: selfversekerd, bekwaam en met haar emosies onder beheer. Dis tyd om met haar kop te dink, nie met haar hart nie. Rheeder sit seker die hond op haar as sy dit durf waag om haar arms om sy nek te sit …
“Ek’s besig, ek het nie tyd om heeldag te staan en stry nie,” sê hy kortaf.
Hy haak ’n bos sleutels van ’n rak teen die muur af en gee dit vir Tinka. Maar voor hy verder kan praat, lui sy selfoon. Hy haal dit uit sy broeksak en lees op die skermpie.
“Dis die hospitaal, ek is op roep … Daardie is die woonstel se sleutels. Stap oor die patio, verby die swembad en met die paadjie tussen twee rye jakarandas deur. Gaan kyk self en besluit of die plek jou pas. Ek kom later.”