Читать книгу Die paradysman - Ettie Bierman - Страница 6

4

Оглавление

Tinka neem haar eie raad ter harte. Die hele volgende dag werk sy saam met die skrynwerker om die laaste boekrakke in die winkel op te sit. Sy sou graag ’n kabinetmaker wou gekry het, maar die kwotasies wat sy ontvang het, was buite bereik van haar tjekboek. So ook die professionele verwers en loodgieters wat geadverteer het.

Haar buurman wat die pasteiwinkel langsaan het, het haar die idee gegee om platsakstudente in te span en hulle te betaal met ’n nominale kontantfooi, vooruitgedateerde krediet, twintig persent afslag op studiemateriaal en as bonus: ’n king-size hoenderpastei van Pete’s Pies, met slaptjips en ’n Coke – ’n plan wat soos ’n bom gewerk het.

Sy het ’n advertensie op die kampus se kennisgewingbord geplaas, en die daaropvolgende langnaweek het sy genoeg hande gehad om die mure ougoud te verf, haar naambord op te sit, ’n tweedehandse kluis en wasbak te installeer en te begin om die kratte vol boeke uit te pak – ou voorraad uit haar en Elizabeth Sutherland se winkel in Londen. Kosbare eerste of genommerde uitgawes, handgetekende en leergebinde eksemplare uit beperkte oplae wat hulle op vendusies, bankrotveilings of uit boedels bekom het. Elizabeth het ’n neus vir winskopies gehad en Tinka het al die fyner kunsies by haar oudvennoot geleer.

Hulle het by die Sorbonne in Parys ontmoet, waar Elizabeth dieselfde nagraadse kursus in kreatiewe skryfkuns geloop het as sy. Ondanks die groot ouderdomsverskil het hulle van die eerste dag af hegte vriendinne geword, wat mekaar oor en weer met werkstukke, opdragte en navorsing gehelp het.

Elizabeth het ’n boekwinkel in Marble Arch gehad, met ’n dakwoonstel wat oor die Teems uitkyk. Toe Tinka een werksvakansie by haar gaan kuier het, was dit asof sy ná ’n lang reis tuisgekom het … Daar het sy geleer wat die woord “bibliomaan” beteken: iemand met ’n fanatiese, obsessiewe liefde vir boeke.

Dit was amper soos ’n dwelm in haar bloed. Sy het dadelik geweet wat sy eendag in die lewe wil hê: ’n antieke boekwinkel soos Elizabeth’s, met die muwwe reuk van perkament, drukkersink en ou leer … ’n Geur lekkerder as Chanel, Estée Lauder of Yves Saint Laurent. Só hemels lekker, dit behoort gebottel te word.

Die naam Katinka’s sal nie werk nie, het sy besef. Haar winkel eendag sal Yesterday’s heet en glanstydskrifte, vakliteratuur, kunsboeke, selfhelpboeke en al die jongste treffers aanhou, maar spesialiseer in skaars versamelaarsuitgawes.

“ ’n Utopie vir ’n bibliomaan,” het Eugene dit opgesom.

Al vals noot was dat Elizabeth nie van hom gehou het nie. “Die koning het nie klere aan nie,” het sy verklaar.

Tinka was nie seker wat sy daarmee bedoel het nie en diep in haar hart was sy te bang om te vra, bang vir wat sy dalk sou hoor. Die krake in haar en haar held se verhouding het toe reeds begin wys, al wou sy dit nie raaksien nie.

Haar ouer vriendin het haar stelling met ’n aanhaling van een van die groot meesters verduidelik: “Daar is baie in Eugene Letoit se filosofieë wat goed en oorspronklik is. Ongelukkig is dit wat goed is, nie oorspronklik nie en dit wat oorspronklik is, nie goed nie.”

Dit was selfverklarend. Daarna het Tinka met nuwe oë na haar held en mentor begin kyk.

Elizabeth was ’n bron van mensekennis waaruit Tinka baie geput het. Europa het haar ook lewenswysheid en visie gegee, sodat sy geleidelik self begin agterkom het dat die wyshede wat Eugene oor eindelose glase rooiwyn uitgeryg het, meesal geleende clichés was. Aanvanklik het dit haar nie gepla dat hy soveel tyd saam met sy boheemse vriende en familie deurbring terwyl die wyn vryelik gevloei het nie, later het dit haar begin hinder en uiteindelik erg geïrriteer. Veral toe sy agtergekom het daar is vroumense by betrokke: blinkoogmeisies wat net soos sy vroeër aan Eugene se lippe gehang het en gedink het hy is wonderlik.

Al het sy kleivoete begin wys, was die heldeverering egter nog steeds daar, want dit was Eugene wat haar skryfdroom vlerke gegee het. Al het die seepbel gebars en die krake groter geword, het die vlammetjie van hul liefde hardnekkig bly flikker. Sy het haar blind gehou vir sy foute en aan haar droom bly klou.

Elizabeth het haar emosies probeer ontleed. “Jy praat baie oor jou pa, Tinka. Oor hoe dikwels hy weg was op sakebesoeke en dan tuisgekom het met ’n wavrag presente: speelgoed vir ’n dogtertjie veel jonger as jy en duur partytjierokke wat drie nommers te klein was, asof hy nie kon onthou hoe oud jy is nie. Maar jy wou nie presente hê nie, jy wou hóm hê – ’n pa van vlees en bloed wat nie altyd op pad was lughawe toe, vergaderings toe, konstruksieaanlegte toe nie. Omdat jy ’n vaderfiguur gemis het, het jy vir ’n ouer man geswig en jou gevoel vir jou pa op Eugene geprojekteer.”

Sy het heftig geprotesteer: “Eugene is ses en dertig, g’n oud genoeg om my pa te wees nie! En hy lyk totaal anders. My pa is donker en Eugene blond. My pa het nooit lang hare gehad nie. Hulle verskil hemelsbreed in geaardheid.”

“Op pad veertig toe is nie bloedjonk nie; hy is dertien jaar ouer as jy. En voorkoms het niks daarmee te doen nie, ook nie persoonlikheid nie. Jy soek nie ’n replika van jou pa nie, net ’n plaasvervanger wat vir jou lief is en vir jou tyd inruim.”

Sy het aanhou teëstribbel, nogtans het dit haar tot nadenke gestem. Eugene was nie meer so betrokke by haar soos op universiteit nie. Hy was afsydig en onbetrokke asof hy – soos haar pa – sy vriende belangriker geag het as vir haar. Hy was ook altyd op pad. Na ’n bistro, ’n brasserie, ’n sypaadjiekafee waar hy en sy wingerdbroers hulle dae omgekuier het.

“Dis breinflos. Ons gooi idees rond, ruil temas uit, plagieer mekaar se koppe,” het hy verduidelik. “Hieruit gaan ’n Nobelprys kom, jy sal sien!”

“En die meisies?” wou sy skepties weet. “Gooi julle dié ook rond en ruil hulle uit?”

Eers het hy haar aantygings afgelag. Maar geleidelik het dit al meer tot bittere rusies tussen hulle gelei. En hulle het uitmekaargedryf.

Aan die einde van haar kursus by die Sorbonne was daar niks wat haar teruggejaag het Suid-Afrika toe nie. Toe haar vriendin se aanbod van ’n vennootskap in Elizabeth’s kom, het Tinka nie geaarsel nie. Dit sou wonderlike ondervinding wees om eendag op terug te val as sy haar eie boekwinkel in Pretoria wou oopmaak.

Eugene het onwelkom gevoel in Elizabeth se teenwoordigheid en het selde kom kuier. En die enkele kere wat Tinka die boottrein oor die Engelse kanaal gehaal het vir Kersfees of ’n feesnaweek, het sy ontuis gevoel in die kommune saam met Eugene se boheemse familie. Die rooiwyn het haar sooibrand gegee en hulle grappe was nie vir haar snaaks nie.

En Eugene het verander. Een oomblik was hy liefdevol, dan weer aggressief en op die verdediging, asof hy skuldig gevoel het. Asof hy ook aan hulle verhouding begin twyfel het.

Die vennootskap in Marble Arch het seepglad geloop, behalwe dat Elizabeth se gesondheid vinnig agteruitgegaan het. Op ’n dag, oor ’n koppie sterk Earl Grey-tee en griddlescones by die tafeltjie in die kombuis, het sy aangekondig: “Ek tree af. Almal dink ek is ’n ronde, vet, afgeleefde ou vrou en dis nie waar nie. Dis omdat daar ’n boek binne-in my is dat my midderif so uitbult. Daardie boek gaan nou geskryf word! En ek is g’n afgeleef nie. Catherine Cooksen het op dieselfde laat leeftyd begin skryf en Agatha Christie het op tágtig nog speurrillers soos ’n worsmasjien uitgeryg. Wat baat daardie kursus by die Sorbonne as ek niks daarmee máák nie? Nou is ’n goeie tyd om te begin!”

Elizabeth se aftrede het saamgeval met Brittanje se koudste winter in twintig jaar. Tinka het chroniese brongitis ontwikkel en haar hande en voete het permanent gevries gevoel. Dit was November, sy was siek en sy het na Koos du Plessis se “Helder Somerkersfees” verlang. Huis toe verlang … Haar pa het oor die foon en in sy briewe depressief geklink.

Toe kom die vliegtuigongeluk … en ’n tuiskoms veel anders as wat sy haar voorgestel het.

Hoe het sy gister vir Rheeder gesê? Die lewe loop sy eie draaie …

Sy sug terwyl sy met ’n terpentynlap verfspatsels van haar nuwe boekrakke afvryf. Daarna hang sy die geel-en-wit ruitjiesgordyn op om die winkel se mikroskopiese kombuisie af te skort.

“Mooi,” sê ’n diep basstem agter haar.

Sy hoef nie om te kyk nie. Niemand anders klink soos ’n groot, wollerige beer wat ’n rasper ingesluk het nie. Sy is altyd lus en druk hom tot hy “Uhgg-uhgg!” sê, soos die teddiebeer wat haar pa vir haar van oorsee af gebring het toe sy elf was.

“Pastei?” bied haar buurman aan en oorhandig ’n papiersakkie.

“Oe, dankie! Ek’s rasend honger. So besig gewees dat ek vergeet het om te eet. Bedoel jy die kombuisgordyn?”

“Eintlik jy … Maar dis ook mooi. Die plek lyk soos besigheid. Hoekom maak jy nie sommer vanmiddag al oop nie?”

Sy lag terwyl sy ’n ry boeke onder die Outobiografieë-bordjie rangskik. “Ek wag nog vir ’n besending skryfbehoeftes, en vanmiddag moet ek trek. My bokse en tasse en goed staan gestoor in die hotel se pakkamer.”

“Trek? Na daardie cottage waarvan jou aanstaande skoonma gepraat het?”

“Eks-skoonma,” korrigeer sy.

“Wat aan jou eks-verloofde behoort?”

“Eks-kêrel! Dit was sommer net studentelawwigheid, ons was nie ernstig nie. Dit sou nie tussen ons gewerk het nie. Ons belangstellings was te uiteenlopend en ons het gedurig gestry. Soos nou nog steeds. Ons kan nie twee woorde met mekaar praat sonder om te baklei nie. Hy is ’n nare, moedswillige vent en ek is bly ek is van hom ontslae.”

Methinks the lady protests too much, dink Pete by sigselwers, maar hy sê dit nie. Dis soos tamatiesous op chips om ’n buurvrou te hê wat soos Demi Moore lyk. Hy wil niks doen om sy saak by haar te benadeel nie.

“Hoe gaan jy die klomp bokse en goed trek?”

“Met my motor aanry. Twee of drie trips, dan’s ek klaar.”

“Ons kan dit in een trip met my bakkie doen. Jy weet ek help graag.”

Sy gee hom ’n druk. “Jy’s ’n skattebol! Ek skuld jou tonne … Sodra ek begin geld maak, koop ek vir jou die grootste kreef of biefstuk wat ek kan opspoor.”

“Sit dit op papier,” eis hy.

Sy speel saam, rek haar oë. “Alles wat ek jou skuld?”

“Nee, net die kreef, plus ’n fliek ná die tyd.”

“Twee flieks,” belowe sy.

Pete se fris beerarms maak korte mette van die berg bokse en skilderye en tasse. Hy vind die privaatingang in Mispelrylaan en trek die stertkant van die bakkie teen die voordeur, sodat hulle maklik kan aflaai.

Binne-in die woonstel gee hy ’n wolwefluit. “ ’n Stuk van Monaco! Hierdie aanstaande dude van jou het baie pitte.”

Tinka klap met haar hand op die ontbytblad. “Eks-dude!”

“Wat werk hy?”

“Hy haal galblase en blindederms uit. Vergeet van hom.” Sy kyk Pete takserend aan. “Foei tog, is jy gedaan en uitgeput?”

Sy kry die reaksie waarop sy gehoop het.

Pete bult sy spiere. “Van wat? ’n Paar ou boksies aandra? Ek is nie van jellie gemaak nie. Wat is daar wat ek nog vir jou kan doen?”

“Wel, siende dat jy so gaaf is om aan te bied … Sal jy gou die paar ou prentjies ophang?”

Pete gee nie om om gebruik te word nie. Hy wil graag hê dat sy mooi buurvrou hom meer as net ’n kreef skuld. Hy staan op ’n stoel, besig om die Constable-afdruk te hang wat Tinka vir hom aangee, toe Rheeder daar instap met ’n gesig soos ’n donderwolk.

Hy steek vas en sy oë vernou. Hande op die heupe staan hy en wag tot hulle klaar is. Hy ignoreer Pete en kyk stug na Tinka. “Ek het vroeër vanmiddag gekom om te help, maar jy was nie hier nie.”

Sy gee hom ’n breë glimlag. “Dankie, dit was onnodig. Pete en ek het reggekom.”

“Pete?” herhaal hy stroef.

Pete staan nader en steek sy hand uit. “Van Pete’s Pies, the best in the West!”

“Naand,” groet Rheeder kortaf.

“Die dude wat die blase en derms uitslag?” skimp Pete.

Tinka is seker dit was moedswillig. Sy voel hoe sy bloos. “Dokter Rheeder Vermooten,” stel sy hom teësinnig voor.

Pete kom staan besitlik langs haar. “Nice plekkie wat jy hier het, dok.”

Rheeder verwerdig hom nie om te antwoord nie en draai na Tinka. “Ek sal later die wasser kom vervang.”

“Wasser? Watse wasser waar?” vra Pete dadelik.

Tinka sien ’n situasie kom en omseil dit. “Ek gaan nie vanaand enige van die kombuiskrane gebruik nie; ek sal sorg dat hulle styf toegedraai bly. Ek merk dis al laat … Sjoe, ek’s kapoet en wil so gou moontlik in die bed klim.”

Sy het gehoop die twee manne snap die skimp, maar hulle bly staan.

“Nou ja …” sê sy met ’n onderdrukte gaap en gee ’n tree in die voordeur se rigting. “Nogmaals dankie vir julle hulp.”

“Het jy lakens en komberse?” vra Rheeder.

“Sy kan by my kry,” bied Pete aan.

“Ek sal môre my bokse uitpak, intussen gebruik ek ’n slaapsak,” keer Tinka vriendelik maar ferm. “Ai, ek is regtig uit op my voete …”

“En kos?” gooi Pete sy stuiwer in.

“Ek is nie honger nie.”

“Ek kan vir ons takeaways gaan koop?”

“Dis nie nodig nie.”

“Dis nie moeite nie.”

“My huis is nader,” bied Rheeder aan. “Daar’s volop kos.”

“Ek wil niks hê nie, dankie.”

Tinka verwens hulle albei. Uiteindelik stap sy aan die voorpunt, uit by die deur, met die twee manne sleepvoet agterna. Sy loop tot by Pete se bakkie.

“As ek nie nou in die bed kom nie, val ek om. Nogmaals dankie vir die leen van jou spiere en jou bakkie, buurman. Sien jou môreoggend?”

Dis so finaal, arme Pete kan aan niks dink om sy vertrek mee uit te stel nie. Hy klim onwillig in en klap die deur toe, maar draai nie die aansitter nie.

“Het jy vergeet waar die hek is?” verneem Rheeder koelweg.

Pete gluur hom aan. Met die wegtrek ry hy aspris oor ’n stuk grasperk, voor hy met ’n gebrul van die stukkende uitlaatpyp by die hek uit verdwyn.

“Nie die beste in die Weste wat bestuursvernuf betref nie,” merk Rheeder op. “Waar het die skepsel sy rybewys gekoop – by sy paai-winkel?”

Pete Watkins het al soveel vir haar beteken sedert sy terug is dat Tinka dislojaal voel om hom te kritiseer, al lê daar vier lelike bandstrepe oor Rheeder se gras.

“Ek sal môre kunsmis koop, dit oor die merke strooi en ’n graaf grond bo-oor hark,” bied sy aan.

“Dis nie die punt nie; my tuinier kan dit doen. Sy voertuig se uitlaatpyp het ’n gat in, dis jare laas gewas en die een remlig werk nie.”

“Wat is die punt wat jy wil maak?” vra Tinka.

Sy het verwag Rheeder gaan sê Pete is slordig en agterlosig, maar sy antwoord vul haar met verstomming.

“Dat ’n man wat nie sy voertuig kan versorg nie, net so swak vir sy vrou sal sorg.”

“Wat het dít met die saak te doen?”

“Alles,” antwoord hy kortaf.

“Vrou?” eggo Tinka. “Pete is nie getroud nie.”

“Des te meer rede waarom ek daardie punt onder jou aandag wou bring.”

“Hoekom?” Dan gaan daar vir haar lig op. “Rheeder, is jy laf? Dink jy ek gooi my flikkers vir die man?”

“Wel, jy nooi hom huis toe, staan ewe liefie-diefie styf teen hom, leen sy beddegoed en sien hom blykbaar môre vir brekfis.”

Wat het dit met hóm te doen? Hy is tog sekerlik nie jaloers nie?

“Al vier skote mis. As dit skyfskiet was, het jy die houtlepel gekry so ver is jy buite die kol. Maar oukei, dokter, jou punt is gemaak. Sal jy nou asseblief loop sodat ek kan gaan slaap?”

Hy is onverstoord. “Nou-nou. Simona het vir jou kouevleis en slaai ingepak – genoeg vir vanaand en môreaand. Dit spaar jou om kos te maak.”

So ’n eksotiese naam … “Wie is Simona?” Tinka kom agter sy hou haar asem op.

“My huishulp,” antwoord hy rustig, maar toe sy vinnig opkyk, is sy seker sy sien lagduiweltjies in daardie paar grysgroen oë van hom.

Hy weet presies wat deur my gedagtes gegaan het, dink sy vererg.

“ ’n Voorslagkok, sonder wie ek van honger sou omgekom het,” spot hy.

“Ek dag dan jou vrou kook?” vra Tinka voor sy kan keer en verwens haarself omdat dit klink of sy nuuskierig is.

“E … gewoonlik,” antwoord hy vaag. “Maar sy is partykeer by die haarkapper of sy speel tennis.”

“Ja, natuurlik,” stem sy saam. Selfs in haar eie ore klink haar stem onoortuigend.

Sy voel aan dat die gemaak ongeërgde, neutrale houding waarmee sy en Rheeder mekaar tot dusver op ’n afstand gehou het, besig is om te verander. Dit was ’n fout om by hom te kom plak. Sy behoort te geweet het dit sal nie werk nie!

Die paradysman

Подняться наверх