Читать книгу Die paradysman - Ettie Bierman - Страница 5
3
ОглавлениеRheeder maak die kombuisvenster toe en neem die sleutels wat op die eetkamertafel lê.
“Kom, ek gaan maak vir ons koffie, dan praat ons oor die woonstel.”
Tinka volg hom gedwee verby die jakarandas, die swembad en oor die patio. Hy kyk vlugtig na haar motor en sy wens dit was ’n blinknuwe model wat van welvarendheid getuig, maar hierdie verrinneweerde ou rammelkassie was die beste wat sy kon bekostig. Haar pa het ’n bankrotboedel en ’n swaar skuldlas nagelaat, en sy moes haar spaargeld gebruik om dit te delg. Selfs die huis het ’n derde verband op gehad, sodat dié op ’n veiling verkoop moes word, saam met al die meubels.
By sy voordeur staan Rheeder opsy sodat sy eerste kan instap. Tinka onthou hy het altyd goeie maniere gehad. Hy is nie die geduldigste man op aarde nie, maar al was hy soms woedend kwaad, het hy steeds hoflik gebly. Die enigste eienskap wat hy en Eugene gemeen gehad het.
“Sit,” sê Rheeder in die sitkamer. “Koffie?”
“Asseblief.”
“Sterk, met warm melk?”
Sy glimlag effens. “Jy het ’n goeie geheue.”
Op pad kombuis toe gaan staan hy. “Ongelukkig, ja.”
Sy snap die skimp. “Ek het dit vriendelik bedoel, as ’n kompliment. Dis nie nodig dat jy dit as ’n opening sien om weer die verlede op te rakel nie.”
’n Enigmatiese glimlaggie speel om sy mond en hy stap die gang af sonder ’n verdere woord.
Tinka gebruik die kans om in die sitkamer rond te kyk. Dis netjies en smaakvol, maar kaal. Strak en ongesellig. Sy mis ’n paar helderkleurige kussings op die leerbank, ’n sagte leeslamp en ornamente of potplante. Daar is een skildery teen die muur – ’n Adriaan Boshoff, as sy haar nie misgis nie – maar dit hang simmetries, presies in die middel van die muur. Asof dit uit plig gehang is eerder as plesier.
Sy soek na foto’s op die muureenheid se rakke, maar daar is net boeke en CD’s – al die rye netjies in gelid en onpersoonlik. Nêrens is ’n vrouehand te bespeur in ’n tafellappie, ’n paar tydskrifte of ’n pot met blomme nie. Rheeder se vrou is óf ’n sersantmajoor óf ’n kliniese tegnikus. Welkome afwisseling is Griet, wat bo verwagting in die huis toegelaat word. Sy maak haar tuis op die mat by Tinka se voete en gee haar hand ’n lek.
Tinka vryf haar ore. “Hoe lyk jou nooi?” vis sy uit. “Mooi of lelik? Vet of maer? Gaaf of kwaai?”
Die hond stel egter meer in die voorkoms van die vlooi belang wat sy op haar stert ontdek het.
Rheeder kom in met twee bekers koffie waaruit stoom trek. “Met wie praat jy?”
“Met jou vrou. Sy het ingeloer om my te groet,” antwoord sy sedig.
“Het my vrou ingeloer?” herhaal hy.
“Ja, ons het lekker gesels.”
Hy laat hom nie uitlok nie. Hy gaan sit in die stoel oorkant haar, neem ’n sluk koffie en kyk oor die beker se rand na haar met ’n uitdrukking op sy gesig wat sy nie kan ontleed nie.
Griet flap haar ore en snuffel nog ’n paar vlooie op haar ribbekas uit. Sy kort ’n bad en ’n goeie borsel, dink Tinka.
“Wanneer kom die babas?” verneem sy.
Sy weet nie waaraan Rheeder gedink het nie, maar sy hand ruk en hy stort kokende koffie oor sy broek.
“Dêmmit!”
“Oe, dit brand seker. Kan ek help?” bied sy aan.
“Hoe?” Hy vryf onbeholpe oor sy skoot en kyk vreemd na haar.
Sy besef ook die koffie het op ’n ongemaklike plek gestort en sy sal liewer nie waag om dit te probeer droogvryf nie. Sy onderdruk ’n lag en vra vroom: “Deur ’n lap in die kombuis te gaan haal? En sommer te kyk of die aartappels en pampoen nie dalk brand nie.”
Hy dink nie dis snaaks nie. Hy pluk sy sakdoek uit en vee sy broek droog. “Watse babas het jy bedoel?”
Sy frons, en dán eers kliek sy … Dis snaakser as netnou se koffie oor sy skoot. Haar giggel borrel oor in ’n skaterlag.
Hy lyk agterdogtig. “Wat is die grap?”
“Jy.” Sy neem ’n mond vol koffie. “Wat het jy gedink?”
Hy hou hom dom. “Waarvan?”
“Van die babas. Het jy gedink dis na joune en jou vrou s’n wat ek so voorbarig uitvra?”
Sy wange kry ’n kleur en hy lyk verleë. “Natuurlik nie. Natuurlik het ek geweet dis Magriet s’n wat jy bedoel.”
Tinka besluit om hom nie verder te treiter nie. “Má Griet … Slim van jou. Jy was altyd goed met woordspelings, ek onthou dit.”
Rheeder ontspan effens. Hy kelk sy hande om sy koffiebeker terwyl hy haar onderlangs dophou. Sy is drie jaar ouer as toe hy haar laas gesien het, en drie keer mooier. Met ’n tien keer erger uitwerking op sy hormone as toe hy destyds by die bib rondgehang het. Dêmmit en verbrands! En hy het gedink hy is oor haar en sy is geskiedenis …
Wat het hom besiel om te sê sy kan die woonstel kry? Hy was mal; hy weet mos dis seerkry soek. Net sodra hy nuwe drome begin droom, smyt sy hom weer oorboord vir ’n ander ou. ’n Ander casanova … Waar is die vent in elk geval? Hy wil nie weet nie en hy sal nie vra nie, neem hy hom voor.
Hy dwing sy gedagtes in ’n ander rigting. “Ek het in die koerant van die vliegtuigongeluk gelees, en van jou pa se dood. Ek is jammer.”
“Dankie.”
“Ons twee het goed klaargekom.”
“Julle het, ja.”
“Hy het my aanvaar as sy toekomstige skoonseun.”
Sy haal haar skouers op en speel met Griet se ore.
“Is dit hoekom jy teruggekom het – toe jy van die ongeluk gehoor het?”
“Deels, ja. Dit was ’n sameloop van omstandighede. My sakevennoot in Londen het uitgetree en ek was nie lus om alleen aan te gaan nie. Londen se weer het my ook begin onderkry. Toe gebeur die ongeluk – digte mis en die radar wat foutief was. Die vlieënier is op slag dood en my pa drie dae later.”
“Was jy betyds om nog met hom te praat?”
Sy byt op haar onderlip. “Hy was in ’n koma, waaruit hy nie wakker geword het nie. Maar ses maande tevore het ek vir hom uit Londen geskryf. ’n Lang e-pos waarin ek gesê het ek is jammer dat ek nie beter verduidelik het waarom ek destyds saam met Eugene weggegaan het nie. Vandag is ek dankbaar oor daardie dogter-pa-brief. Bly ook dat hy teruggeskryf het. Hy het gesê hy is ook jammer, en spyt dat hy nie meer geluister en minder veroordeel het nie. Hy’t erken dat hy ’n afwesige pa was in die tye van my lewe wat ek hom nodig gehad het … Daarna het ons gereeld vir mekaar geskryf en gebel en rustig gesels. Ek het gedink daar is nog baie tyd vir ons twee, maar die lewe loop sy eie draaie. Die lewe het hom hard gemaak, tog was hy ’n goeie pa vir my.”
“Dis jammer hy het nie weer getrou ná jou ma se dood nie.”
“My pa was met sy konstruksiemaatskappy getroud, daar was nie plek vir ’n vrou en kinders nie. Besigheid was sleg en die laaste twee jaar was dit ’n stryd om die boeke te laat klop. Die staalbedryf het in duie gestort en hy het ’n skelm makelaar gehad wat sy vertrouensposisie misbruik het.”
Sonder om te vra, gaan haal Rheeder nog koffie. “Hoekom het jy nie in die huis aangebly nie? Dit was ruim en gerieflik.”
“Die huis is op ’n bankrotveiling verkoop, maar dit was in elk geval te groot vir my.”
“En dis hoekom jy ’n woonstel wil hê? Jy kan dié een kry as jy dit wil hê, Tinka.”
Haar pa se dood was so ’n skok, en sy mis Eugene. Sy verlang na hom en wens sy kon die horlosie terugdraai … Nou het sy nog boonop vir Rheeder ook raakgeloop. Dit alles tegelyk is te veel. Sedert sy terug is, het sy min slaap gekry met die begrafnis, die winkel, die veiling en ander reëlings. Sy is suf en haar brein voel afgestomp.
“Ek sal laat skoonmaak. Jy kan môre intrek as jy wil,” bied Rheeder aan.
Dit sou makliker gewees het as hy aanhou verwyt het. As hy gaaf en vriendelik is, wil sy in ’n bondeltjie opkrul en huil. Sy is moeg gestry. Moeg gesoek en gesukkel …
“Reg so?” vra hy.
Sy aarsel, dan knik sy.
Dit was ’n fout! Sy skrik vir haarself omdat sy so maklik toegegee het. Waarin het sy haar begeef? In kookwater tot bo-oor haar kop. En sy gaan meer as net haar vingers verbrand …
Sy vee met die agterkant van haar gewrig oor haar oë, waar die trane vlak lê. Sy het vrede gemaak met haar en Eugene se verhouding wat in ’n droewige doodloopstraat beland het. Hoekom nou opeens verlang en wens hy was hier, wens hy was weer soos voor die seepbel gebars het? Soos toe sy in haar naïwiteit geglo het Parys is net ’n ander manier om Paradys te spel. Is dit Rheeder wat die herinneringe opgeroep het? Die skok om hom weer te sien, en die assosiasie met hul sorgvrye studentejare?
Rheeder sien haar handgebaar, soos ’n klein dogtertjie wat die huil wegvee. Hy wens hy kon haar troos. Nie troetel of liefkoos nie, want dit sal haar ontstel. Haar sommer net sag teen sy bors vashou en sê hy is hier vir haar as sy hom nodig het. Maar hy kan nie. Hy is nie meer haar kêrel nie, het nie die reg om haar in sy arms te neem nie. Al wat daar tussen hulle is, is miskien vriendskap. As so iets nog moontlik is.
Dis nie Rheeder nie, dis die suurlemoenboom se skuld, maak Tinka haarself wys – dís wat die deurslag gegee het. En die pragtige Bali-meubels, die uitsig oor die berge, Nigella se kombuis en die luukse badkamer. Niks te doen met Rheeder Vermooten nie. Sy moenie op hol raak oor hom nie. Hy het dalk nie gejok nie; hy is dalk regtig getroud. Hy was nie bly om haar te sien nie, en sy was beslis ook nie bly om hóm te sien nie. Genoeg redes om nie sentimenteel oor hierdie herontmoeting te wees nie en die huur van die woonstel suiwer as ’n saketransaksie te beskou.
Sy probeer terugkrabbel. “Dis net tydelik, net tot ek iets beters … iets meer vanpas kry. Net ’n maand, dan trek ek uit. Dan kan jy die plek verhuur aan wie jy wil.”
“Dan beter jy nou onmiddellik kennis gee,” lig hy haar in.
“Ekskuus?” Is hy kwaad omdat sy ondankbaar geklink het?
“Die wet op die verhuring van eiendom vereis ’n wedersydse kennismaand deur beide partye.”
“Maar ons is mos nie vreemdelinge vir mekaar nie, en die verhuring is sommer ’n mondelinge ooreenkoms.”
“Mondelinge ooreenkomste is ook bindend. En eintlik ís ons vreemdelinge vir mekaar. Ons het jare gelede bietjie ’n crush op mekaar gehad, dis al. Sedertdien het elkeen sy eie pad geloop. Ek weet nie meer wat in jou kop aangaan nie, watter soort mens jy geword het of watter soort huurder jy sal wees nie.”
Bietjie ’n crush … Sy is sprakeloos. Is dít wat hy dit noem? Netnou het hy gesê hy was smoorverlief, wou verloof raak en met haar trou.
Rheeder hou haar onderlangs dop. Daar kleef steeds ’n nattigheid aan daardie ongelooflike wimpers van haar, maar haar trane het opgedroog. Hy wil keer dat hulle weer begin, want hy sal dalk nie die versoeking kan weerstaan om haar vas te hou en te troos nie.
“Jy gooi dalk fuifpartytjies met luidrugtige musiek wat die bure steur. Of daar is ’n aanloop van mans. Ek moet my teen plakkers beskerm.”
“Plákkers?” Haar stem is skril. Sy kan nie glo wat sy hoor nie; kan nie glo dis dieselfde gawe, gemoedelike Rheeder van netnou nie. Die man wat destyds haar wêreld op sy kop gekeer het en saam met wie sy ’n tyd lank gedink het sy die res van haar lewe wil deel. Hy het ’n aaklige, verwaande drip geword. Seker vandat hy kamma “dokter” vooraan sy naam kan skryf.
“Noem jy mý ’n plakker?” konfronteer sy hom.
“Nee,” keer hy haastig. “Nee, natuurlik nie. Ek sê nie jy is een nie, ek bedoel net sommige huurders kan moleste aanvang. En die wet beskerm hulle sodat die eienaar nie van hulle ontslae kan raak nie.”
Tinka is steeds opgeruk. “Wat wil jy hê? Dertig dae skriftelike kennis, met ’n swart pen geskryf, in volledige triplikaat en beëdig deur ’n kommissaris van ede?”
Rheeder is bly om te sien die laaste trane is weg. Haar oë blits en die twee rooi kolle is terug op haar wange. Dis wat hy wou gehad het.
“Hokaai! Jy hoef nie hof toe te hardloop nie. Ek toets jou net, leer jou maar net van nuuts af ken.”
“Ek het nie lus vir speletjies nie.” Sy gluur hom aan, nog lank nie afgekoel nie. “Wat van jou? Dink jy nie ek het ook die reg om te weet met watter soort huisbaas ek te doen het nie?”
Hy grinnik. “Waarvoor is jy bang? Dat ek by jou sal aanlê? Vatterig raak of in die middel van die nag aan jou voordeur klop om ’n koppie suiker te leen?”
“Bang?” Sy lig haar ken. “Glad nie, want in daardie geval kla ek jou aan van seksuele teistering. Jy lyk of jy baie geld het. As ek die saak wen, kan ek aftree.”
Hy kyk haar takserend aan. “Die meisiekind het grootgeword, sy is nie meer die Tinktinkie van toe nie.”
“Dankie. Ek beskou dit as ’n kompliment.”
Sy merk dat hy op sy horlosie kyk en spring hom voor. “Ek moet waai, ek het nog ’n duisend dinge om te doen,” sê sy terwyl sy haar handsak optel.
“Ek sou graag nog wou gesels, maar ek het hospitaalrondes – ’n paar nasorgpasiënte oor wie ek bekommerd is.”
Hy stap saam buitentoe en oorhandig die woonstelsleutels aan haar. “Ek het duplikate, indien nodig. Trek in en maak jou tuis, ons sal mekaar wel een of ander tyd sien en die laaste reëlings finaliseer. As jy vrae of probleme het, my nommer is in die foongids.”
“Dankie. Môreoggend is ek vas by die winkel, maar ek sal graag in die namiddag my goed wil bring. Meesal tasse vol klere, bokse en skilderye.”
“So ’n trekkery is ’n groot storie.”
In die ou dae sou hy aangebied het om te help, dink sy. Nou voel hy seker hy is niks aan haar verskuldig nie, sy moet maar self aansukkel. Sy sál, neem sy haar voor. Sy is mos nie meer ’n tinktinkie met kanariespiere nie. As vroue gelyke regte wil hê, moet hulle leer om dieselfde dinge as mans te kan doen.
By haar motor maak Rheeder die deur oop en wag dat sy inklim. Dan leun hy onverwags deur die venster en trek met sy wysvinger ’n strepie oor haar wang. “Dit was goed om jou weer te sien.”
“Vir jou ook,” antwoord sy sag. Toe ry sy, voordat sy meer sê en ’n gek van haarself maak.
Eers toe die motor se enjin teen die afdraand snaaks begin dreun, kom sy agter sy sit droomverlore met haar hand teen haar wang gedruk, pleks van die ratte te verander. Sy skud ergerlik haar skouers. Ek hoop jy weet wat jy doen, raas sy met haarself. Selfs al het hy nie ’n vrou nie, stel Rheeder lankal nie meer in jou belang nie. Jy het hom afgesê, en hy is nie ’n vis wat twee keer aan dieselfde aas sal proe nie.
Tant Olga het gesê daar was van tyd tot tyd meisies. Hy was selfs ’n keer Mauritius toe saam met een van hulle. Fleur iemand … Hansen of iets, glo ’n fisioterapeut by dieselfde hospitaal as hy.
Dis net normaal dat Rheeder aanbeweeg het, so los jou wang en vergeet hom. Oor ’n maand trek jy uit en dan sien jy hom waarskynlik nooit weer nie. So, konsentreer liewer daarop om loopbaangerig te wees en ’n sukses van jou boekwinkel te maak.