Читать книгу Die vierde stem - François Bloemhof - Страница 4
ОглавлениеDaar is hande op jou lyf. Groot of klein hande, ’n man of ’n vrou s’n, jy kan nie seker wees nie want die gevoel is te onmiddellik en oral. Hulle vat aan jou hare, tas oor jou skouers en boarms, daar is asemhaling in jou nek en ’n streling teen jou maag af, tussen jou bene.
Te veel hande – ja, daar’s meer as een hierso, dis nie slegs twee van julle nie.
As dit net nie so donker was nie . . . maar dis deel van die opwinding. Nogtans raak jy benoud toe vingers met jou jeans se ritssluiter begin peuter. Jy klap die hand weg, maar ’n ander een het klaar begin om jou te verken, warm op jou binnebeen en meer beslis.
Jy breek weg.
So donker. Jy kan skaars onthou . . . en toe jy dít dink, weet jy nie meer hoe jy hier gekom het nie. Net soos jy nie kan onthou wie hierdie mense is nie, het jy geen sekerheid oor jouself nie.
Dis benoud hier binne, ruik sweterig. En dis al ’n paar minute sedert jy van ’n dowwe, kloppende geluid bewus geword het, nou is dit duideliker.
Jy kan amper nie onthou . . . jy weet nie wat nie.
Moet wegkom. As jy net seker kan wees waar jy ingekom het! Jy beweeg in ’n rigting, bang dat jy in van die ander gaan vasloop, maar hulle is iewers agter jou want jy raak aan ’n muur. Nee, lei jy af van die grinterigheid, nie ’n muur nie, ’n deur. Jy vind ’n handvatsel.
Jy is op die punt om dit te draai toe jy iéts onthou, genoeg om te weet daar is meer as een deur.
Regs is net ’n hoek en jy voel-voel na links, en ja, so twee meter verder is ’n volgende deur. En verder aan ’n derde. Daar is ’n geskarrel agter jou en jy beweeg vinniger en vind ’n laaste deur; dan is jy by die volgende hoek en jy dink nie daar is nog deure nie. ’n Oomblik lank sien jy jou wêreld as vol keuses, vertakkings binne-in vertakkings, maar vir eers het jy net hierdie opsies: vier paaie lê verby vier deure en wie weet waarheen lei hulle.
Jou vingers vind iets wat soos letters voel links bokant die handvatsel; ’n woord is in die hout gekerf. ’n Naam dalk? Jy weet nie hoekom jy só dink nie. Dis te klein om uit te maak wat daar staan, die insnydings is nie diep nie.
By die volgende deur gaan voel jy op dieselfde plek en vind ook daar ’n woord: ook dié een kan jy nie uitmaak nie, daarom beteken dit as leidraad niks, maar jy’s redelik seker dis ’n ander woord as die vorige.
Net so met die volgende twee deure: ander woorde.
Of name.
Wat beteken dit? Wie het dit geskryf/gesny? Is dit bedoel as kodes vir jou om die regte deur te kies? Die regte roete? Maar wie het geweet jy kom, en hoe?
Jy kan nie te lank vat om te besluit nie, die ander is nog hier agter jou. Jy is skielik nog benouder, want jy besef dat jy by een van die deure iets aangevoel het.
Die dood, of iets wat jou aan die dood laat dink het.
Maar – hoe is dit moontlik? – jy kan nie onthou by watter een nie.
Watter roete om te volg? Jy weet instinktief net een van die vier deure kan die regte een wees, vir jou, op hierdie oomblik.
Jy kan nie so bly staan nie. Agter jou kom nog ’n skuifeling, jy wil jou verbeel daar’s nou meer van hulle – moet wees, want jy hoor meer as een asemhaling. Jy moet hier uit en vinnig, daar’s nie meer tyd nie, paniek is op jou soos naarheid.
So, jy kies. Tree na vore. Jy is nie eens meer seker dis die deur wat jy bedoel het om te kies nie, maar jy vat die handvatsel vas en draai dit, en hoop.
Die deur is oop, en jy is deur.