Читать книгу Die vierde stem - François Bloemhof - Страница 8

3

Оглавление

Die skrywer knip sy oë. Die toneel was skielik so helder voor hom, maar hy weet nie hoe om dit verder te voer nie.

Dan is dit veiliger om vir eers niks te skryf nie.

Dis hoe dit die laaste ruk gaan. Goeie (of moontlik goeie) idees kom verby soos pyle geskiet deur ’n desperate muse wat hoop om iewers ’n teiken te tref, en hy weet nie hoe om haar te oriënteer nie.

Begin net, wil hy mos soms glo, maar so maklik is dit nie altyd nie. Hoeveel keer het hy nie al begin nie? En dan maar weer, van voor af? Select All gekies, die Delete-knoppie gedruk en nogmaals begin. Totdat hy tevrede was. En dan, met ’n latere lees, selfs nadat die boek verskyn het, was hy nié tevrede nie. Dan het hy soms gedink die oorspronklike begin, nog ongesif en net half bedink, het die naaste daaraan gekom om die inspirasie vas te vat.

Die skrywer knip weer sy oë, haal sy bril af en vryf oor hulle. Hulle voel ooreis, soos wanneer jy uit ’n donker vertrek in die lig kom. Noudat hy sy verbeelding wil oproep, retireer dit soos ’n skaam kind al verder terug in die nis waartoe hy op geseënde oomblikke ook maar net gedeeltelike toegang het.

Hy sit sy hande op die rekenaar se toetsbord.

Hulle bly woordloos daar lê.

Iewers tussen die voue van sy brein waar elektron-mikroskopiese sinapse in serebrale vloeistof baai, verrig ’n motorneuron tóg sy taak en word ’n impuls na sy vingerpunte gelei. En die skrywer tik.

Wat hy uiteindelik op die skerm sien, is egter, soos hy seker ook maar kon verwag het, ’n erg verwaterde weergawe van die idee wat hy aangevoel het. Die ontoereikendheid van woorde tog! Die onvaspenbaarheid van gewaarwordinge . . . Die idee was nuut, vars en vir hóm gegee, dan behoort hy mos die regte een te wees om dit te verwoord? Of hoekom is hy daarmee gestraf?

’n Verskoning kom: Dit is goed om alles te deurdink voordat jy begin skryf – al ís alles wat ’n mens maar kan skryf variasies op horingou temas. Al ís onoorspronklikheid ’n gegewe.

Dit is tyd vir iets anders, daarom klik hy regs boaan die skerm en laat die MS Word-venster verdwyn, klik op Internet Explorer, selekteer die webruimte wat hy soek en wag dat die raampie verskyn. Hy tik die wagwoord in en sy dosis afleiding is op pad.

Hy sal nie daaraan dink as verslawing nie. Hy klik op Favorites, dan op Chat . . . gaan na Man & Woman . . . en dan is hy in die kletskamer.

Die kuiergaste wie se name op linkerhand gelys is – Titbit, Pole Position, Horniguy, Bosom Buddy, Mandrake, Hotazhell, Woman On Top – is items op ’n spyskaart, opgedis vir verskillende smake.

* * *

Net ’n halfuur later – dit was ’n impulsiewe besluit – wag die skrywer by ’n tafeltjie in die restaurant binne loopafstand van sy huis. Dis voordelig om in die metropool te woon, want baie van die kletskamerbesoekers woon of werk ook hier rond en dus is nie alleen die versoeking nie maar ook opsies om dit te bevredig reg onder jou neus.

Waar bly die vroumens? Sy is al byna ’n kwartier laat. Dit sal nie die eerste keer wees dat iemand met hom ’n afspraak maak en dan net nie opdaag nie: jy kry nou eenmaal dié wat vuur en vlam is om te ontmoet, maar die gedagte laat vaar so gou soos wat hulle die internetverbinding verbreek. Hulle besluit dalk dat hulle slegte meisies sal wees deur aan ’n oerinstink gehoor te gee en nie eers deur die ritueel van twee of drie fliek-en-uitete te gaan voor hulle saam met ’n man tussen die lakens klim nie.

“Erm, are you waiting for someone?”

Sagte stem. Sy staan langs hom, sy moet by die sydeur ingekom het en kon hom al uitgekyk het. Hy wonder of sy dalk meen die ronde brilletjie is geaffekteerd, soos ’n ander skrywer dit volgens ’n gemeenskaplike vriend genoem het. En kan sy sien hy is vier of vyf jaar ouer as op die foto? I like slightly older men, het sy geskryf, maar hy is meer as net “slightly”. Die ander dag het sy gesig in die spieël vir hom vanuit sekere hoeke regtig soos dié van ’n omie begin lyk.

Hy glimlag en staan op. “In that case you’re my date.”

“That sounds delightfully old-fashioned.” Sy keer toe hy vir haar ’n stoel wil uittrek: “Don’t bother, Muse Master, let’s go. I just wanted to make sure you looked . . . well, trustworthy!”

Hy gaan betaal vir die koffie waarvan hy so min gedrink het.

“See you again soon,” sê die bestuurder en druk die kasregister toe. Hy lyk asof hy sy teleurstelling wil wegsteek, of dit kan verbeelding wees.

“Thanks.” En die beeld van sy vrou kom by die skrywer op, hier waar dié bestuurder die twee van hulle al ’n paar keer met daardie woorde huis toe gestuur het. Sy goed ingeligte vrou wat niks hiervan weet nie.

Hy moenie verder aan haar dink nie. Vir ’n uur of wat het hy ’n ander vrou in sy lewe, een van ongeveer ’n dekade jonger, to have and to hold. Hy kies altyd Engelses, dan is die kanse dat hulle hom sal herken (“Is jy nie die skrywer nie?”) soveel skraler.

Hy loop saam met dié naamlose vrou in die straat af. Dit is een van die reëls: Jy vra nie vir ’n naam as hulle dit nie gee nie, en jy gee nie joune nie, of nie jou regte een nie. Sy’t gesê sy woon hier naby. Hulle hoef gelukkig nie ’n kamer te huur nie. Een van sy eie reëls is: Nie by sy huis nie.

“So, should I take a guess about why you call yourself Woman On Top?” vra hy om iets anders te hoor as die verkeersgeluide en geklik van haar hakke op die sypaadjie.

“It’s as good a nick as any. Better than Muse Master, for one!” Sy kyk sydelings na hom. “And it got your attention.”

“Right . . .”

“Unless you chatted to other women first and they weren’t interested.”

“How could I not go for you at the outset?”

Sy knipoog. “Flattery will get you everywhere.”

Hy wonder hoe ver hulle van haar huis af is. Hy wil vra of sy alleen woon, maar dit kan skuldgevoelens oor ’n onwetende eggenoot of kêrel aanwakker, of haar herinner dat dit gevaarlik is om ’n onbekende in jou blyplek in te bring. Hy wil vra of sy getroud is, verloof, verlief, geskei. Het sy kinders? Sy lyk te jonk daarvoor. Hou klaarblyklik van ouer mans. Effens ouer mans.

Hy hou sy mond. Wanneer hulle oplaas alleen is agter ’n geslote deur, sal hulle alles kan doen waaroor hulle gefantaseer het, met respek vir grense wat versigtig getoets mag word. Dan weet hy alles wat hy hoef te weet.

Sy stop. “This is it.”

’n Oomblik lank het hy verwag haar voordeur gaan lyk soos een van dié wat hy hom verbeel het toe hy daardie skryfidee gekry het, maar dit is ’n deur nes ander in die straat, agter ’n traliehek. Geen name of woorde in die hout gekerf nie! Sy sluit die hek oop, dan die deur, en hulle gaan in. Sluit toe, sluit toe.

In die kletskamer het sy hom met haar woordspelings oortuig dat sy vandag vir hom die regte vrou is, maar hier in die ingangsportaal hou hy daarvan dat sy net sowel stom kon wees. Haar blik sê egter baie, dan loop sy na wat hy glo haar slaapkamer gaan wees . . .

En dit is. Die aanslag is meer gedemp as wat hy verwag het: beige en ligpienk. Sy keer haar rug op hom terwyl sy haar klere uittrek, iets wat hom altyd amuseer, want gaan hy nie binnekort elke sentimeter van haar lyf sien nie?

Toe sy haarself aan hom gee – cliché ofte nie, dit is wat gebeur – is daar geen sprake daarvan dat sy haar skuilnaam gestand gaan doen deur bo te lê nie. Sy is ook allesbehalwe die fantasie wat hy geglo het sy gaan wees. Terwyl hy die regte sekwens van bewegings volg, sukkel hy om entoesiasties te lyk. Op haar beurt lê sy bewegingloos terug. Sy soen hom nie, hy het ook nie gedink sy sal nie. Sy maak nie ’n geluid nie, hy het gedink sy sal. Hy dink daaraan dat die avontuur weer eens alles in die afwagting gelê het.

“Do you have condoms?” vra hy. Wil nie sy eie boksie oopmaak nie, dan dink (of weet) die volgende vrou hy doen hierdie soort ding gereeld.

Sy beduie na ’n kassie langs die bed.

Hy krap rond en vind wat hy soek: Arousal, staan op die boksie. Hy is styf genoeg dat dit lyk of hy lus is vir die ding, want op ’n spontane fisieke reaksie kan hy altyd reken.

Hy sukkel om die sellofaan af te kry. As dit reeds af was, kon daardie feit dalk sy verbeelding heraktiveer het: om te weet hierdie vrou het geheime in haar lewe. Soos sy hier lê, sonder om enigiets te gee en in dié stadium sonder om te neem, is daar niks waarby hy kan aanklank vind nie. Sy het geen verlede nie, sy’s net ’n lyf.

Wel ’n mooi lyf. Hy gaan lê bo-op haar. Woman On Top = missionary position, dink hy wrang terwyl hy by haar instoot, met die hoop dat dít ’n reaksie sal ontlok.

Al wat verander het, is dat haar oë nou gesluit is.

Hy maak die oorbekende bewegings. En hou aan daarmee.

En aan.

Die einde wil nie kom nie.

Hy het begin sweet. ’n Druppel beland op Woman On Top se wang en loop soos ’n traan tot in haar nek. ’n Deel van hom mag in haar wees, maar met haar oë toe hou sy die res van hom buite.

Hy is op die punt om te maak of hy ’n orgasme kry, toe hy ’n portret op die kassie gewaar. Nou eers sien hy dit raak, maar die man in die swart pak hou hom nog die hele tyd dop.

Sy staan ingehaak met daardie man. Trourok! Sy glimlag, lyk so gelukkig. Hy kan verskeie scenario’s aan die bruidspaar toedig, wat gelei het tot wat hier gebeur.

Steeds hou die jong bruidegom (die een wat haar verlaat het, die een wat deur haar verlaat is, die een wat in ’n ongeluk dood is, die een wat oorsee op reis is, die een wat hulle uit die vertrek langsaan afloer) hom dop. Hy kyk reguit vorentoe by die raam uit, sy lang arm om sy bruid se rug, koesterend en opeisend, sy regterhand op haar heup so groot dat hy jou daarmee alleen sou kon doodwurg.

Dit is terwyl die skrywer na daardie hand kyk, dat hy die oomblik voel nader kom – en hy vinniger begin beweeg om einde ten laaste ’n geluid uit die vrou onder hom te steel.

* * *

Tevrede op pad huis toe, wonder hy of almal uit sy manier van stap kan aflei hier is ’n man wat pas seks gehad het. Hy loop verby die restaurant, wat amper vol is vir middagete. Wat beplan die mense wat daar sit vir die volgende paar uur?

Die bekroonde skrywer, dink hy en spieël hom in ’n glaspaneel. Hier loop hy met sy verlugte idees en basiese drange. ’n Pal ontwikkelende mens wat elke nou en dan terugval in basiese behoeftes.

Alles bly variasies op ’n tema, maar hy herinner homself aan iets wat hy lankal besef het: dat die bevrediging om in bekende dinge ’n tikkie vernuwing te vind, soms amper net so groot is soos dit wat jy kry uit iets geheel en al nuut.

Behalwe dat niks op aarde nuut is nie, nie eens dié besef nie.

Daarmee saam kom iets wat hom vroeër voor sy rekenaar ontwyk het, en dalk kom dit omdat hy nie meer so hard probeer om dit te vang nie: ’n beter begrip van wat hy wil skryf. Hy sal nou kan gaan sit en wegval.

Hy loop vinniger, kan nie wag om by die huis te kom nie.

’n Meisie kom aangestap.

Sy asem verlaat hom.

Nie almal wat haar teëkom, sal haar eens oplet nie, maar daar is iéts . . . Haar hare is roesbruin en langerig en val oor haar skouers. Haar groot bruin oë kyk net ’n sekonde lank in syne, maar lank genoeg dat hy wens dit was by haar dat hy ’n rukkie gelede ingegaan het. Sy het ’n moesie op haar linkerwang. Haar neus is effens gepunt: dis nie ’n volmaakte neus nie en daarin lê die sjarme.

Sy is verby hom. Hy kom tot stilstand en staar haar agterna. Dan moet hy klap na ’n skielike skoenlapper wat dreig om in sy gesig vas te vlieg, en toe hy weer kyk:

Sy verdwyn om ’n hoek.

Sy is weg.

Maar hy het so pas een van sy karakters gevind – of ten minste wat haar voorkoms betref. Hy verbeel hom ook hy het al die eienskappe wat nodig is in haar gesien.

Hy versnel sy pas, nou amper angstig om haar te begin vasvang in die scenario wat hy bedink het, die een wat begin met die verskillende deure. Nou het die konsep ’n dryfveer.

Meteens oorweeg hy dit – die gedagte kom blitsig en dit blý – om homself een van die karakters te maak. Hy en die meisie was ’n paar minute gelede immers saam op straat?

Hy sal selfs dit wat hy en Woman On Top so kort voor sy en die meisie se “ontmoeting” gedoen het deel van die intrige maak, met die klassieke verskoning dat niemand kan sê dit is nié fiksie nie. Die ou tergspel. Hy sal nooit ware besonderhede gebruik om iemand by te kom of te beledig, soos wat party skrywers al gedoen het nie, maar wel om iets waarmee hy worstel letterlik af te skryf.

Sal ’n manier wees om te bieg ook.

Want altyd wanneer die seks verby is, kom die slegte gevoel.

* * *

Toe hy inkom en sy vrou sien waar sy in die sitkamer sit, en sy groet nie, weet hy. Dat sy weet.

Soos ’n kind wat ’n horlosie wil terugdraai, is daar iets in hom wat hoop dat dit maar net sy skuldgevoel is wat hom so laat dink, daarom vra hy: “Hoekom lyk jy so . . .”

“Jy weet baie goed.” Sy klink kalm, té kalm.

Die kind hou aan met hoop: “Wat weet ek?”

“Moenie my behandel asof ek ’n idioot is nie.”

“Wát?” wil hy nog bluf met ’n ongeduldige stem. “Ek verstaan nie wat jy vir my wil sê nie.”

“Jy het die ander kere ook nie verstaan nie. Ek kan nie glo ek het jou weer geglo nie. Ek het jou regtig geglo.”

“Maar –”

“Elke keer glo ek jou en elke keer lieg jy vir my.”

“Ek . . .” Hy raak stil. Dat sy weet, is onweerlegbaar. Die huis het koud geword, al die huislikheid is úit.

“Ek kan dit nie meer vat nie. As ek nie goed genoeg is vir jou nie . . .”

“Dis nie dit nie.”

“Nou wat ís dit dan!” Sy wag nie vir ’n antwoord nie. “Laas keer het jy gesê jy sal nie weer nie. Toe ek vir jou gesê het dalk moet ons maar ’n, watseding, oop verhouding hê. Jy wóú nie. En ek weet hoekom jy nie wou nie. Jy sal nie daarvan hou as ék iemand anders sien nie. Maar jy kan doen wat jý wil!”

“Ek het dit regtig bedoel. Dis net . . .”

“Dis net dat jy nie getrou kan wees nie. Jy is nie die tipe nie, dis al. As jy vir my gesê het . . . Die Here weet, ek is nie so konserwatief nie. Maar jy behandel my soos ’n moroon. Soos ’n absolute moroon wat . . .”

“Ek wou nie. Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie.” Hy praat vinniger, want sy mag nie nou huil nie. “Dis net, ek weet nie . . .” Die aanmekaarlasser van woorde haak vas. Wat wou hy tog sê? Dat hy dit nie weer sal doen nie? Soos sy hom herinner het, hét hy dit al gesê, en toe doen hy dit weer. Hy het geen krediete by haar oor nie, net skuld van toe sy hom by vorige geleenthede uitgevang het, eers per ongeluk (daardie slag het sy die huis verlaat) en die ander twee maal danksy speurwerk (waarna hulle elke keer ’n ruk van bed en tafel geskei was).

“Dis vir my die ergste – dat jy my nie deel maak van jou lewe nie.”

“Hoe kan jy só sê?”

“Jy sluit my uit. Ek verstáán. Dis moeilik, maar ek verstaan. Op ’n manier. Jy ís so. Jy het verskillende mense nodig. Ook verskillende sóórte mense. Een mens kan nie vir jou genoeg wees nie, so ek weet dis nie ék nie, dis nie ’n fout in mý nie.”

“Jy’s reg. Dit is nie.” Amper dink hy sy wil weer ’n oop verhouding voorstel, of dat hulle dalk threesomes moet hê, maar dit kan nie wees nie. Hy wens sy wil opstaan en nie bly sit soos ’n regter in die hof nie. Hy wens sy wil op hom begin skree, sodat hy ook kan ontlaai. Hy deure kan toeklap. Padgee.

“Ek wil nie jou oppasser wees nie,” verklaar sy. “Jy vertrou my nie met hoe jy voel nie. Na al die jare kan jy nie jou gevoelens, nee, jousélf met my deel nie. En ek vertrou jou nie meer nie, nie met my hart nie. Verdomp, dit klink so melodramaties! Dit klink beslis nie soos iets wat jý sou skryf nie. Nee, moenie my onderbreek nie. Nou luister jy net. Wat jy hier vir my bied, is nie genoeg nie. Ek het nou hard hieroor gedink. Dis nie wat ek in gedagte gehad het toe ek met jou getrou het nie. Die Vader weet wat het jý gedink. Ek het nie gedink ek sal eendag my man moet dophou soos ’n mens ’n gewoontemisdadiger dophou nie. Dat jy op die internet was . . . Dink jy ek wéét nie waarvoor mense dit gebruik nie? En as jy dit so, ek weet nie wat ek dit moet noem nie, as jy dit so gretig besoek en dan skielik sê jy gaan uit, kan jy dink hoe dit vir my is om te wonder of ek jou moet volg? Hoe ek voel? Vorige kere toe ek gewonder het, het ek nié. Ek het maar hier gebly en wonder of jy iewers is en . . . Vandag . . . Here, sy is nie eens . . . Ek het gedink sy gaan verskriklik mooi wees. Dan sou ek nog kon verstaan. Verdomp, hoekom moes jy haar by óns restaurant kry!”

Sy staan op en verlaat die sitkamer. Hy wil haar volg, maar steek in die deur vas. Hy gaan maar na sy studeerkamer en loop sit voor die rekenaar: sy plek van skepping en van sonde.

Hy skuif sy stoel terug. Hy gaan nie nou geskryf kry nie. Die helderte wat hy gehad het, is verdring deur die wete dat hy weer alles opgefok het.

Die vierde stem

Подняться наверх