Читать книгу Die vierde stem - François Bloemhof - Страница 7

2

Оглавление

Al weet Manrich iewers in sy agterkop dis nie regtig so nie, is dit so al asof hierdie vertrek donkerder is as die vorige.

Hoekom het hy paniekerig geraak waar hy was? Hy is amper lus en draai terug, want wat loop hy nie dalk alles mis in die vertrek wat hy verlaat het nie?

Hier verby die deur wat UNDERWORLD sê, is daar egter ook mense: hy hoor ’n geskuifel en asemhaling. Hopelik het hy deurgeloop na groter opwinding!

Iemand skuur teen hom verby, nie per ongeluk nie, want ’n hand tas oor sy bolyf. Die hand word teruggetrek, die persoon beweeg aan, soek seker ’n meisie.

So donker . . .

Stil ook. Die kloppende geluid van die vorige ruimte het verdwyn toe hy die deur agter hom toegemaak het.

Hy gaan dieper die vertrek in, bots teen iemand en skram weg.

Maar die persoon teen wie hy gebots het, is met ’n gladde beweging vas teenaan hom. Dit is ’n vrou of meisie, want hy ruik ’n parfuum wat onsubtiel moet gewees het om mee te begin en sy dra baie daarvan. Arms vou om sy bene; sy moet op haar knieë gegaan het. Manrich glimlag toe hy voel hoe sy begin om sy jeans se gulp oop te maak. Hy haat dit as hulle eers wil praat, jy kom mos nie hierheen om hartsgeheime te ruil nie. ’n Hand glip by die opening in en bring (hy glimlag ook by dié gedagte) die vergestalting van sy begeerte in die oopte; hy het nie ’n onderbroek aan wat dinge kon bemoeilik nie.

Die mond wat daaroor sluit, is ’n warm skok. Hy is weer bewus van ’n klopping soos in die vorige vertrek, maar dié keer is dit in sy kop.

Toe Manrich buk en aan die persoon se wang raak, voel hy ’n krapperigheid: dis toe nie parfuum wat hy geruik het nie, maar een van daardie soeterige naskeermiddels. Hy ruk opsy, bêre sy tools en beweeg in ’n ander rigting.

Hy vind haar skaars ’n minuut later, sy meisie vir die aand. Sy is moer mooi, want dis hoe hy haar sien. Vir al wat hy weet, het sy net die helfte van haar tande en pokmerke soos ander meisies porieë het. Sy kan enigiemand wees wat hy wil hê en hy wil haar juis só hê, sonder identiteit.

“Let me help you with that,” sê hy en trek haar bloes oor haar kop voor hy sy hemp se knope losmaak. Hy skop sy skoene uit en hoor sy doen dieselfde; hopelik sal hulle dit weer in die donkerte kan vind. Hulle is darem in ’n hoek waar niemand bo-oor hulle sal val nie. Hulle skil mekaar se langbroeke af; hare voel ook soos ’n paar jeans. Van naby hulle kom ’n steungeluid en die besef van die nabyheid van ander soekendes laat Manrich tuis voel, ’n lid van ’n groot familie wat hier tot hul reg kom. Hy is amper lief vir die hele lot van hulle. Voor hy dalk te hard na sy broek moet soek as hy dit eers laat val het, haal hy ’n kondoom uit die agtersak, byt die omhulsel vas en skeur dit oop, en kry die smaak van lateks voor hy dit aanrol. Hy het lube ook gebring, maar toe hy tussen die meisie se bene tas, voel hy sy is nat genoeg. Hy stuur haar agteruit asof hulle dans, tot teen die muur: só gestut, lig sy haar bene en hy moet hom net vinnig oriënteer voor hy met een stoot diep by haar ingaan.

Sy gil.

Om hulle gaan die donker lewe voort.

Toe hy die klub ’n kwartier later verlaat, sê die man onder by die deur met ’n laggie wat net smalend genoem kan word: “See you soon.”

Manrich sug. Só sal dit wees.

* * *

Helga is een van daardie vroue wat minder probleme sou hê as sy minder tyd gehad het vir dink. Heelparty minder welgestelde vroue sou wat wou gee vir haar ellendige lewe. Dít gebeur met haar en sy vererger dit, dát gebeur met haar en sy vererger dit. Sommige mense beland nie in situasies nie, hulle gooi hulself daarin.

“Dis dieselfde leë roetine oor en oor,” weeklaag sy.

Manrich knik.

“Pierre kom laat van die kantoor af en vroegoggend is hy al weer uit. Daar kan dae verbygaan dat ek en hy nie gepraat kry nie. Waar is die dae toe ons . . . Ek sal nie verbaas wees as hy ’n skelmpie het nie.”

“Is dit hoekom jý ander mense sien?”

Hy het al telling verloor van Helga se bedmaats. Ryk voorstedelike vrou. Voorslag by fondsinsamelings. Sosiale steunpilaar vir die gemeenskap. Slet.

“Ek weet nie. Seker nie. Ek het nog altyd die behoefte gehad om dit te doen. Lovers te hê. Ek bedoel, ’n paar van hulle. So, dat hy nie so baie . . . dat Pierre nie vir my beskikbaar is nie, is dalk nie die rede nie.”

“Sal dit jou hinder as jy uitvind Pierre sien wel iemand anders? Dalk meer as een vrou?”

“Nou klink jy veroordelend.” Sy trek haar voorkop op soveel van ’n plooi as wat die Botox toelaat. Sy strek en haar borste word nét deur die stywe toppie binnegehou; hierdie keer nog. Cleavage is een ding, spillage is iets anders.

“Is dit iets waaroor jy jouself veroordeel?”

“Nee. Glad nie. Of . . . Dit gaan nou simpel klink, maar dis nie hoe ek grootgemaak is nie. ’n Mens moet mos reg lewe. Dis hoe ek geleer is. Jy is nie veronderstel om jou man te verneuk nie.”

“As jy by die ander mans is, geniet jy dit?”

“Natuurlik.”

“Geniet jy dit genoeg om te vergoed vir hoe jy later daaroor gaan voel?”

Helga semi-frons. “Dink jy ek moet ophou daarmee?”

“Dit is nie vir my om te sê nie. Wíl jy?”

En Manrich glimlag.

As jy mense wil beïnvloed, dink hy, is ’n paar fundamentele tegnieke ewig geldend – en wie het ons om te bedank omdat hy ’n lysie van dié ooglopende waarhede gemaak het? Oppervlakkig ofte not, in How to win friends and influence people noem Dale Carnegie ses maniere waarop jy seker kan maak dat mense van jou hou: wys dat jy geïnteresseerd is in hulle; skep ’n positiewe eerste indruk, wat grotendeels daarop neerkom dat jy moet glimlag; onthou mense se name en gebruik dit dikwels; wees ’n goeie gespreksgenoot deur te let op jou luistervaardighede; interesseer mense deur te gesels oor iets wat vir hulle belangrik is, met ander woorde hulself; en laat die ander persoon belangrik voel.

“Hoekom moet die lewe so ingewikkeld wees?” tob Helga.

“Helga, soms maak ons dit meer ingewikkeld as wat dit hoef te wees.”

“In die paar minute wanneer ek . . . as ek in ’n man se arms is, het ek sy volle aandag. Amper soos hier. En dis nice. Jy’s ’n dish, jy weet. Maar ek betaal jou! Goed, daardie mans kry ook mos maar iets in ruil.”

“Sien jy intimiteit as ’n ruiltransaksie?”

Sy haal haar sonbedskouers op. “Seker. In ’n mate. As ek eerlik moet wees.”

Manrich glimlag. “Hier kan jy maar altyd eerlik wees, Helga.”

“Natúúrlik is die lewe vol ruile. Ek het geweet Pierre trou met my omdat ek mooi is. Ek was ook ’n aanwins vir sy besigheid. Ek is dit nog steeds. En hy . . . het geld gehad. Kyk, ek wás lief vir hom. Is nog altyd. Maar daar was ander mans vir wie ek ook lief kon geraak het. Ek weet nie of ek vir hom lief sou geraak het as hy nie geld gehad het nie.”

Só gaan sy voort. Sy is verkeerd: sy is nie mooi nie, want ’n sierlike gesig en lyf is nie genoeg nie, en dit grief hom dat sy haarself so oorskat, ’n padda op ’n buiteplaas. Wragtig, seshonderd-en-vyftig rand per uur vergoed nie vir wat hy hier deurmaak nie.

Tot Dale Carnegie se krediet moet bygevoeg word dat dié wyse man blykbaar geglo het die aanwender van daardie ses tegnieke sou edele motiewe hê. Anders kon sy boek net sowel geheet het How to become a psychologist and influence patients.

“Is die geheimhouding vir jou deel van die opwinding?” vra Manrich. Dít sal hy kan verstaan en dit sal hom wakker hou as hulle daaroor praat.

“Hoe bedoel jy?”

Vadertjie tog. “Is dit vir jou lekker om iets te weet waarvan ander mense nie weet nie?”

“Nee. Juis om te vertel daarvan, dís wat lekker is.”

“Om te skok?”

“Skok ek jou?”

“Dink jy dit behoort?”

Helga lag. “Ek dink nie ek skok enigeen nie! My vriendinne doen dit almal. Ek kan nie onthou by wie dit begin het nie. Die internet is ’n wonderlike ding.”

“Seker.”

“Ek het drie vriendinne vir wie ek alles vertel, en hulle vir my. Ons ruil selfs notas uit: die man se naam, ’n beskrywing van die seks, ’n punt uit tien. Ons sê vir mekaar waar ons dit gaan doen, en wanneer. Vir as iets met een van ons gebeur. Ag . . . Ek moet seker bieg.”

Manrich glimlag. “Dis nie nodig nie. Sê net wat jy dink jy moet.”

“Ek sien vandag weer iemand, oor bietjie minder as twee uur. By die Anderson Motel. Kamer 17. Halfses. Toe ek Ingrid daarvan vertel, kon ek hoor sy’s jaloers. Ek vermoed om dit te besef, was vir my beter as wat die seks gaan wees. En baiekeer is om daarná daaroor te praat die hoogtepunt – of die gevoel vóór die tyd is. Partykeer is die . . . die daad amper net ’n noodsaaklike deel om verby te kry.”

So ongeërg stel sy haar bloot, dink hy. Op ’n manier sien sy, die Helga wat so graag raakgesien wil word, hóm nie raak nie.

Sal hy dit doen, dit wat hy nou oorweeg?

In ’n wêreld wat in soveel rigtings vertak, is die enigste manier om te weet wat is bo en wat is onder, en waar jy hoort, soms om jouself te laat val.

“As jy jou lewe kon verander, waar sou jy begin?” vra hy vir sy pasiënt.

* * *

Manrich gaan sit voor sy rekenaar. Hy het vir een dag genoeg van praat gehad, of eerder van luister. Van mense wat net ’n oor soek om in af te laai.

Simptomaties van ’n eeu wat gekenmerk word deur ’n ooraanbod van inligting, sê Helga so maklik meer as wat sy behoort. Sodat hy boaan die voedselketting kon bly, het die mens die instink vir kommunikasie en kragdadige optrede gekry. In die ál harder geraas is toenemend minder stemme uitkenbaar en hoe minder mense wil luister, hoe meer wil hulle praat, want elkeen moet bly glo hy of sy het iets te sê in dié moderne, gewelddadige tyd. Die Middeleeue, wat ook geweld as hoeksteen gehad het, kon nie spog met soveel blootlegging nie.

Die deel van inligting kom met ’n prys: mense openbaar dinge omdat hulle vergoeding soek. Betaling, of liefde, enige vorm van aandag, dalk net tydelike erkenning van hul aandagwaardigheid. Só is bitter baie al prysgegee vir bitter min in ruil.

Manrich se hande huiwer bokant die toetsbord. Hoeveel moeilikheid het die rekenaar, een van die moderne mens se belangrikste hulpmiddels, nie al veroorsaak nie? Die bondgenoot en verraaier zoem soos ’n insek.

Hy gee dit vlerke, die regte bevele lei hom na sy bank se webruimte. Daar skil hy lae af – en kry ongemagtigde toegang. Die sleutels bied toweropsies vir vingers wat weet om die regte bevele te gee: dit is soos ’n klavier wat slegs deur sekere pianiste behoorlik bespeel kan word. Hy oorweeg wat sy plesier van die oomblik sal wees. ’n Elementêre e-pos-bomaanval? Nee, dis ’n beginner se werk. Net so killer ping, flood ping, syn flood en die ander listighede wat Windows NT moontlik maak.

Hy is nie blind vir parallelle tussen wat hy hier aanvang en sy dagtaak, veral die manier waarop hy teenoor sommige pasiënte optree nie.

Hy probeer ’n kode. Nou gee hy die pas aan. Die skeppers van sekuriteitsmaatreëls reageer bloot op wat hy en ander soos hy doen: teen die tyd dat ’n maatreël teen die een of ander vorm van aanval ingestel word, het iemand klaar ’n ander aanval bedink.

Hy vorder binne ’n halfminuut – hy wens sy rekenaar was vinniger – tot by die bank se intieme kern, waar kliënte se finansiële besonderhede in lang rye voor hom verby rol. Dit amuseer hom om só in hul lewens te kan ingryp: hier maak hy een ryker en daar een armer, na willekeur.

Om mee af te sluit, saai hy ’n bietjie strukturele verwoesting: die webruimte sal nie môre beskikbaar wees nie. Die bank sal waarskynlik weer ’n vae verskoning aanbied: groot organisasies bly dikwels stil oor die skade wat kuberkrakers aanrig, uit vrees dat kliënte en aandeelhouers se vertroue in hulle sal daal as hulle erken dat hul veiligheid so maklik gekompromitteer kan word.

Hy het al met ’n geweldige ompad ’n paar duisend rand na sy bankrekening oorgedra, net vir oefening omdat dit nie vir hom daaroor gaan nie. Dit gaan mos daaroor dat hy kán. Hy het nog nie ’n kode teëgekom wat hy nie kon kraak nie en soek pal nuwe uitdagings – hulle kan maar kom met hul antivirusprogramme, firewalls en secure passwords. Anders as party wat mede-krakers wil beïndruk met hoe hulle die tegnologie uitoorlê, ding hy slegs met homself mee en daarom sal hy nie môre, oormôre sy hand oorspeel nie.

’n Mens moet weet wanneer om op te hou, en dit is nóú, vir eers. Hy retireer, verlaat die bank se webruimte.

Wat sal hy doen vir ’n opvolg?

Jy moet tog weet tot watter mate jou land jou beskerm, dink hy. Wat van nasionale verdediging? Wie doen wat, en wanneer? En wat dan van buitelandse verhoudinge? Wat is die begrotings – die korrekte begrotings, nie dié wat aan koerante verstrek word nie? Wat, kortom, is daar wat regtig nog geheim is? Wat is die adres van die regering se amptelike webruimte? As jy eers die regte deur vind, kan jy begin boor.

Hy dink op logiese wyse, begin dan tik.

* * *

’n Rukkie later is hy verveeld. Sy inbrake op die internet was herhalings van suksesse wat hy reeds behaal het en daarom nie genoeg van ’n uitdaging nie.

Dit is die gedagte aan ’n aand vol leë ure wat hom laat besluit hy is dit aan homself verskuldig om tóg die oproep te maak.

Hy glo nie hy waag ’n kans nie. Helga het gesê daar is ’n paar mense wat weet wat sy doen, en hy kan beswaarlik al een wees wat haar ’n les wil leer. Dalk moes hy eers ’n ander SIM-kaart in die hande gekry het, maar daarvoor is daar nie nou tyd nie. Want daar is die gevaar dat die oproep nagespoor kan word . . . maar dit sal nie ’n verontregte eggenoot se grootste prioriteit wees nie.

Dit is presies halfses. Helga ontmoet nóú haar bedmaat vir die dag.

Dis maklik om die besigheid se nommer te kry, nog iets waarmee die internet help. Wat ’n vriend het ons in Google. Belangrike mense soos Pierre Krynauw is nooit ’n probleem om op te spoor nie, veral as hulle so graag laat werk.

Manrich skakel. Die noodlot moet besluit: as daar geen antwoord is nie, sal dit ’n teken wees dat hy dit nie moet doen nie. Dan kan Helga met sy seën voortgaan met kattemaai. Hy sal ’n verskoning vind om van haar as pasiënt ontslae te raak, voor hy haar op ’n dag verwurg. Dán sal sy behoorlik frons!

Die telefoon lui, lui. Eindelik ’n vrouestem, nog iemand wat laat werk: “Krynauw and Britz Limited, can I help you, kan ek u help?”

“As ek met meneer Krynauw kan praat, sal jy my help.”

Die vrou huiwer: “Dis na werktyd, ek sal eers moet kyk of hy . . .”

Sy raak weg.

Daar is nog tyd om neer te sit, dink Manrich.

Hy sit nie neer nie.

’n Manstem: “Pierre Krynauw.”

Hy kan nog steeds ophou hiermee. Is dit waar dat die tong die sterkste spier in die mens se lyf is? Met ’n swaard in elke hand kan jy nie soveel verwoesting aanrig nie.

“Pierre, jy ken my nie, maar ek ken jou vrou. Vir Helga. Baie goed. Ek was een van haar internet-pompe.”

“Wat.” Dit is duidelik dat die man niks verder kan uitkry nie. Manrich was bang hy sou sê hy weet reeds alles van Helga se dinge.

“Sy het my nie meer nodig nie, sy het iemand nuuts gekry. Hulle het mekaar so pas by die Anderson Motel ontmoet. Kamer 17. Het jy dit? Die Anderson Motel. Kamer 17. As jy gou maak, vang jy hulle.”

Hy druk die selfoon dood en sak stadig terug in sy stoel. Hy het weer iets gedoen wat ’n mens nie mag nie en dit voel onrusbarend goed, wat soveel beter is as bloot goed.

Al wat hinder, is dat Helga ’n vrou is. Dit pla hom dat hy diskrimineer: hy sal slegs met vroue so iets doen, hy het nooit die behoefte om teen irriterende manlike pasiënte op te tree nie.

Maar ag nou ja. Vir elke daad is daar ’n rede.

* * *

Skaars ’n halfuur later bel daardie rede. As jy weet wat of wie jou iets laat doen, beteken dit nog lank nie jy kan daarmee ophou nie.

“Hoe gaan dit met my groot seun?” Sy is heeltemal reg – hy mag groot wees, maar as sy met hom praat, is hy ’n seun.

“Goed, Ma. En daar?”

“Die huis is stil . . .”

“Is dit?” Hy moet toegee dit is ’n knap tegniek, oor soveel jare verfyn. Die verwyte is nooit so direk dat hy hom daarteen kan verdedig nie.

“Besige dag gehad?”

“Nogal.”

“Myne was maar stil.” Daar is dit weer. Dit is soos ’n roepnoot en hy moet inval vir die koor.

“Ma, ek dink ek hoor iets in die kombuis. Ek het goed op die stoof.”

“O, wat?”

“Dis . . .” Hy kry aan niks gedink nie. Hy behoort mos al te weet dat as hy vir sy ma gaan lieg, hy voor die tyd sy storie moet regkry. “Nee, ek onthou nou, ek het dit afgesit, dis orraait.”

“Maar wat maak jy?”

“Sommer . . . watsit, hoender. En aartappels. Sommer in een pot.”

“Het jy toe speserye gekoop? Jy het laas gesê jy gaan.”

“Nog nie. Daar was niks fout met die laastes nie. Dis net Ma wat nie daarvan gehou het nie.”

“Manrich! Skaam jou! Ek het nooit so iets gesê nie!”

Daarop volg ’n stilte.

Tot hy sê: “Seker nie.”

“Ek bel juis om jou vir ete te nooi. Dis my beurt.”

“Maar Ma hoef mos nie –”

“Maar ek wíl, Ouboet!”

Die aanspreekvorm waarteen hy geen verweer het nie. Die vertrek begin breër raak, die plafon skuif op. “Goed dan.”

“Tensy jy te besig is.”

“Nee.” Dis ’n yslike kamer van hier onder waar die kind opkyk. “Ek . . . sal loer wat in my dagboek aangaan, dan bel ek Ma en ons besluit op ’n aand. Dankie.”

“Ek sien uit daarna om weer ’n bietjie met jou te kan gesels.” Só sê die vrou by wie hy alles geleer het, behalwe hoe om haar te hanteer.

“Ek bel vir Ma.”

Hy is ’n goeie seun, hy sal bel. Net soos wat sy ’n goeie ma is. Niemand wat haar ken, sal ooit sê sy is nié.

Toe hy opstaan en homself in ’n spieël gewaar, is hy amper verbaas dat hy so lank is, langer as die meeste volwassenes. Asof in ’n toneel uit Alice in Wonderland, keer die vertrek bietjie vir bietjie terug na sy normale afmetings.

Die vierde stem

Подняться наверх