Читать книгу Die vierde stem - François Bloemhof - Страница 6

1

Оглавление

Annemi sit vervaard orent en weet vir ’n paar sekondes nie waar sy is nie, tot sy die matras onder haar voel en haar slaapkamer soos ’n opspringprent in ’n kinderboek voor haar verrys. Sy tas agter haar asof die deur waarvan sy pas gedroom het moontlik daar kan wees, en haar vingers vind net die letters wat netjies in die houtkopstuk gekerf is.

DREAMLAND

Dit was so werklik. So ís drome maar.

Dis vroeër lig as gewoonlik, dink sy, dan kyk sy op haar horlosie.

“Nee!”

Sy spring uit die bed. Sy gaan nooit betyds by die werk kom nie!

As sy iemand anders was, sou sy. Maar sy moet haarself soggens minstens twee uur gee om die woonstel te verlaat.

Vanoggend probeer sy harder as gewoonlik om die patroon te breek.

Sy kan nie.

Sy probeer, maar sy kan nie.

Sy maak die bed op, maar dis nie netjies genoeg nie. Sy pluk die duvet af, trek die paslaken reg en drapeer die duvet sodat dit presies ewe ver oor die kante hang: of dis wat sy gedink het, want toe sy mooi kyk, sien sy dit hang nié ewe ver nie. Sy gooi dit weer oor die bed en hoop dis hierdie keer perfek . . . Wel, dit is darem nader aan reg. Nog ’n keer probeer. Sy is nie heeltemal tevrede nie, maar sal dit maar so aanvaar omdat die tyd min is. Sy stryk die duvet mooi gelyk, pof die kussings netjies op.

Dít is die wêreld van Annemi Prinsloo, dink Annemi Prinsloo terwyl sy haar tande borsel, stadig, een op ’n slag, op en af en nie na weerskante toe nie. Soos wat sy geleer is. ’n Mens doen ’n ding reg.

Sy kan nie besluit wat om aan te trek nie. Hoekom het sy nie maar gisteraand haar klere uitgesit nie! Omdat jy net van plan sou verander het, antwoord sy haarself. Sy soek op só ’n manier in haar kas dat sy dit nie deurmekaar krap nie, en kies. Sy moet probeer om gou te maak, nou rêrig probeer, harder as ooit.

Die geel rok laat haar vel grys lyk. Eintlik is die kleur perfek, sal dit helderte verskaf op ’n oggend soos dié, maar sy voel nie reg daarin nie. Sy gaan gooi dit dus in die mandjie in die badkamer: sy kan dit nie weer dra nie, want sy het dit nou reeds aangehad. ’n Blou rok is volgende. Sy is nie tevrede nie, net soos sy eintlik met al haar klere ontevrede sal wees, of met hoe dit aan haar lyk – maar dit sal vanoggend moet deug. Of nee. Die ligblou skoene pas so mooi by die rok, maar die een se hak is stukkend. Geen ander skoene pas by die blou rok nie. Sy kyk in die kas vir ’n ander rok en kom agter sy haal te vinnig asem. Dalk moet sy eers besluit watter skoene, dan kies sy ’n rok wat daarby pas. Sy probeer om nie op haar horlosie te kyk nie, want sy wil nie sien hoe laat dit al is nie. Sy wens sy was anders, sy wens sy was iemand anders. Sy kies die paar wit skoene, want as jy twyfel, kies wit. Wie het dit nou weer gesê? Sy wil stilstaan om te dink, maar herinner haarself sy moenie. As die verkeer erg is, sal sy . . . Sy het nog nooit so laat by die werk aangekom as wat sy vanoggend sal nie! Sy hou die wit skoene op langs haar liggroen rok. Nee. Toe langs die donkergroen rok. Ja. Of sy dink so. Is nie seker nie. Maar daar is niks anders wat gangbaar lyk nie. Daar is nie tyd om eers weer ander skoene te kies, en dan ’n rok nie.

By die spieëltafel haak sy lank vas. Grimering. Sy kan nie daarsonder werk toe gaan nie, al doen van die ander meisies dit. Nie te veel nie, dit sal terterig wees. Nie te min nie, dit sal lyk asof sy nie respek vir die maatskappy het nie.

Voor sy hier uitgaan, moet sy darem ook seker maak die plek is sindelik, want wat as sy in ’n ongeluk is en mense kom hierheen en tref ’n varkhok aan? Gelukkig, gelukkig, al het sy skuldig gevoel die dag toe sy dié besluit geneem het, hoef sy slegs die grootste gedeelte van die woonstel se oppervlak smetloos, glimmend te hou: haar slaapkamer, die badkamer, die kombuis en oral waar sy moet loop om by daardie areas uit te kom. Sy kán eenvoudig nie die nodige standaard oral handhaaf nie, net in haar persoonlike beweegruimte. Weet nie wanneer sy laas in die sitkamer en tweede slaapkamer was nie.

Later, veel later, trek sy die woonstel se voordeur agter haar toe. Sy kyk nie op haar horlosie nie, wil steeds nie sien hoe groot haar sonde is nie.

Sy het pas by die hysbak ingeglip toe sy aan die stoof dink, en sy druk die knoppie wat die deur moet oophou. Sy het nie vanoggend die stoof gebruik nie, maar het sy nie dalk gisteraand nie? Sy kan nie onthou nie: alles voor daardie droom voel na baie lank gelede.

Sy hardloop terug woonstel toe. Natuurlik is die stoof af en sy skud kop vir haarself.

Terug hysbak toe. Sy is weer gereed om ondertoe te gaan, toe sy die nare vermoede kry dat sy nie die voordeur gesluit het nie. Sy het dit dalk net toegetrek.

En die stoof – toe sy seker gemaak het dis af, het sy dit nie dalk áángeskakel nie? Sy moet gaan kyk, die plek kan afbrand!

Sy gaan terug woonstel toe.

Dit is die tweede van uiteindelik sewe terugtogte.

Dít is die wêreld van Annemi Prinsloo, dink Annemi Prinsloo in haar motor terwyl sy die sitplek met ’n doekie skoon vee, al was dit skoon. Party mense kry nagmerries waarin hulle wil hardloop, maar stilstaan. In háár nagmerries wil sy stilstaan om dinge reg te ruk, maar word sy aangejaag.

Die droom . . . Nog nooit in haar lewe was sy op só ’n plek, waar sulke dinge gebeur nie. Dit was verskriklik om in die donker vertrek te wees, maar nie die helfte so erg soos toe sy tussen die vier deure moes kies nie. Dis asof sy weer al die hande op haar lyf kan voel, en sy ril.

Dis so amper of sy draai terug om ’n ander rok te gaan aantrek. En gou weer te stort.

Met moeite slaag sy daarin om deur te druk. Die verkeer is swaar.

* * *

“Annemi,” sê Joan van die werkstasie langs hare met die sameswerende gesigsuitdrukking wat sy altyd het wanneer sy slegte nuus oordra, “jy moet vir meneer Burger gaan sien sodra jy inkom, het hy gesê. Hy’t jou gesoek, hy was al ’n paar keer hier.”

“Dankie, Joan.”

“Jy moet sommer dadelik gaan, hoor. Ek dink nie hy wil nog langer wag nie!”

“Ek sal nou-nou. Ek wil net eers . . .” Maar Annemi keer haarself. As sy badkamer toe gaan, kan dit ’n hele ruk wees voor sy daar uitkom. “Goed, ek gaan.”

Dis ’n ver pad na meneer Burger se kantoor toe. Die werkstasies is ’n hindernisbaan waar almal na haar kyk. Sy verbeel haar dit dalk. Nee, tog, hulle kyk, hulle weet sy gaan na hom toe om uitgetrap te word.

Sy kom by die deur. Dis toe; sy kantoordeur is altyd toe.

Die gedagte kom by haar op dat as dit een van die deure in haar droom was, sy nooit dié een sou gekies het nie.

Hier is egter geen opsies nie en sy haal diep asem, klop dan saggies. Wag. Hoor niks.

Klop harder.

“Binne!”

Meneer Burger is iewers tussen veertig en vyftig en sit die ruim leerstoel vól.

“Môre, meneer.”

“Middag, sou ek sê. Juffrou Prinsloo, weet jy wat ons werkure is?”

“Ja, meneer.”

“Die probleem lê dus nie daar nie. Moet ek dan aflei dat jy eenvoudig nie van die ure hóú nie?”

“Nee, meneer. Ek bedoel . . .”

“Jy bedoel dis ook nie dít nie.”

“Ek is jammer ek is –”

“Jy is dikwels. Moet ek dan aflei dat dit van die werk is wat jy nie hou nie?”

“Nee, meneer . . . Ek is jammer, meneer. Ek sal nie . . .”

Haar pa het altyd gesê jy mag nooit leuens vertel nie, en leë beloftes is net so erg, daarom kry sy haarself nie so ver om die sin te voltooi nie.

“Juffrou Prinsloo, gee my één goeie rede hoekom ek jou nie ’n finale waarskuwing moet gee nie.” Sy oë is glurende swart steentjies in sy ronde gesig.

“Asseblief, meneer Burger.”

So hou dit aan. Toe hy haar uiteindelik laat loop, vermoed sy hy was nooit van plan om haar ’n finale waarskuwing te gee nie, hy wou haar net genoeg kere hoor asseblief sê.

Maar dis vir haarself dat sy kwaad is.

En vir haar pa. Mag die Here haar vergewe, sy is kwaad vir ’n dooie man. Dis sý skuld dat . . .

Toe is sy maar weer kwaad vir haarself – die kringloop eindig altyd op daardie punt. Haar pa kon niks aan haar gedoen het as sy dit nie toegelaat het nie. Haar oë brand en sy vee ergerlik oor hulle, al weet sy sy’s besig om haar grimering te ruïneer.

Sy is terug by haar werkstasie.

“Jy lyk vreeslik, jou arme ding,” sê Joan.

Fokof, teef. Vlieg in jou fokken moer.

“Dankie, Joan.”

“Jy moet aan die gang kom.” Met ’n laggie beduie die vrou na die lêers wat langs Annemi se rekenaar opgestapel is. “Dis nou te sê as jy voor middernag hier wil uitstap!”

Ek wens jy vrek, jou leedvermakerige sog met jou stink asem.

“Ek moet seker.” Annemi raak bewus van iets wat seer is, en kyk af: haar regterhand se rugkant bloei. “Joan, het jy ’n pleister of iets?”

“Genade, jou arme ding! Ja, ek dink dalk het ek.” Joan knip behendig haar handsak oop en soek-soek daarin. Annemi wens sy kon hare so netjies hou. “Hier, ja, plak dit toe, dit lyk lelik. Hoe’t jy dan nou gemaak?”

As ek geweet het, sou ek dit nie gedoen het nie, jou moroon.

Maar sy dink sy weet.

“Dankie.”

Die plek brand. Dis nie die eerste keer dat sy haar krap dat die bloed loop as sy ontsteld is nie.

Annemi skop haar handsak raak en dit gaan oop en die bakkie jogurt wat sy gebring het vir middagete, rol uit. Sy is nie meer lus daarvoor nie en moet buitendien gewig verloor. Dit het stukkies sjokolade in.

Sy skakel haar rekenaar aan en dit kom zoemend aan die gang. Toe sy ’n kind was in die dae voor rekenaars hulself onmisbaar gemaak het, was sy net vaagweg van die goeters bewus en het sy nooit kon dink daardie beige bokse sal mense se lewens só oorneem nie. Sy slaan die eerste lêer oop, skep ’n dokument en word deur haar werk ingesuig.

* * *

Twee uur en ’n bietjie later is dit tyd vir middagete. Die kantoor is amper leeg.

Annemi gaan badkamer toe en knap haar grimering op. Sy haat die moesie op haar wang, sy wens sy kon dit afkrap. Sy voel dit bepaal haar: die meisie met die moesie. Dit sit nie op ’n mooi plek, soos wie was daardie model nou weer, Cindy Crawford s’n nie – langs haar bolip sou sy daarvan kon hou, veral as die res van haar gesig gelyk het soos Cindy Crawford s’n. So in die middel van haar linkerwang maak dit haar te uitkenbaar. Mense kan sê: “Het jy gesien sy is al weer laat? Die meisie met die moesie.” Haar hare het nie genoeg van ’n rooi skynsel om opvallend te wees nie. Haar oë is bruin; dis beter as blou, want daar is meer mense met bruin oë. En haar lippe is veels te vol na haar sin, maar sy is gewoond daaraan om hulle in te trek. As dit net nie vir die moesie was nie.

Toe sy by die badkamer uitkom, hoor sy die bohaai.

“Wat de donner het hier aangegaan!”

Dis meneer Burger. Sy het hom nog nooit so kwaad gehoor nie. Hy praat nooit hard nie, is altyd so beheers. Sy het gedink dis so erg as wat dinge kan raak toe hy haar uitskel, maar nóú!

“Wat is dit?” vra Annemi vir ’n nuwerige vrou wie se naam sy vergeet het.

“Daar’s ’n klomp koffie oor sy papiere uitgegooi. Hy was ’n rukkie uit sy kantoor uit, net ’n paar minute, en toe hy terugkom, swem sy werk in die koffie!”

“Sjoe.”

“Nou sê hy iemand het aspris sy koppie omgekeer.”

“Maar . . .”

Die vrou lag. “Want dit kan mos nooit hyself gewees het nie! Hy wil weet of iemand in sy kantoor was, maar niemand het enigeen daar sien ingaan nie.”

Meneer Burger kyk op en sien hulle. Annemi beweeg vinnig weg van die ander vrou af sodat dit nie kan lyk of hulle oor hom praat nie, maar nou het dit juis so gelyk.

Toe sy badkamer toe is, het sy verby sy kantoor geloop. Sy probeer onthou: die deur was toe, dink sy. Sy is seker dit was toe. Maar sy het ook nie rêrig opgelet nie.

By haar rekenaar skep sy ’n volgende dokument.

Net ’n ruk, toe is Joan terug. Sy leun oor na Annemi toe en fluister: “Ek het gehoor wat gebeur het.”

“Dit was ’n groot storie. Hoeveel van sy werk is . . . bederf?”

“Weet nie. Dis seker ’n groot gemors.”

“O.”

“Kan nie sê ek blameer jou nie.”

“Ekskuus?” sê Annemi.

“Moenie vir my wil vertel dit was nie jy nie. Dit sal net te toevallig wees!”

“Maar . . .”

“Toe nou maar, ek sal vir niemand sê nie.”

“Maar ek . . .”

“Jy sal maak dat ek vir jou respek kry,” knipoog Joan.

Annemi kyk weg, na haar rekenaarskerm. Sy kan nie onthou wat sy wou tik nie en moet in die lêer kyk om haar geheue te verfris.

Sy lig haar kop en sien een van die ander vroue na haar kyk.

Die vrou kyk weg.

Daar was ’n glimlag.

As sy haar kop draai, gaan sy sien daar is nog iemand wat haar dophou.

Nog ’n páár.

Sy gryp haar handsak en staan op. Daar is net een uitgang en sy kies koers daarheen. Sy moet buite kom, lug kry, al het sy so baie werk. Sy kyk nie terug nie, want sy wil nie dalk meneer Burger se gesig sien nie.

Sy is buite. Sy loop deur die stad se strate. Die plek op haar hand brand. Sy wil die pleister aftrek en dit krap totdat dit beter voel, maar bedwing haar.

Wat as meneer Burger haar inroep en ondervra? Hy moet óók dink dit was sy. Hoe harder sy probeer om onskuldig voor te kom, hoe meer skuldig sal sy lyk.

Sy is skielik daarvan bewus dat ’n man na haar kyk, maar sy vermy sy oë – netnou dink hy dalk sy stel in hom belang. Sy vat haar handsak stewiger vas en besef hoe opmerklik die pleister op haar hand is. Die man moet wonder watter stupid vroumens dit is wat haarself so gekrap het.

Nee, hy kan nie weet wat gebeur het nie.

Maar hy kan raai.

Toe Annemi verby hom is, kan sy voel hy kyk haar agterna en sy is verlig toe sy om die hoek ontsnap.

Sy wens sy was nie so bly oor wat met meneer Burger se papiere gebeur het nie, nou is dit amper net so goed sy hét dit gedoen. Dit herinner haar ook te veel aan ander kere toe iets slegs gebeur het met mense wat naar met haar was, en sy bly was daaroor. Sy sou graag wou gedink het sy het al ’n beter persoon geword.

Sy wou wegkom in dié strate, maar dis raserig en vuil. Sy besluit om terug te gaan werk toe.

* * *

Annemi sit by haar werkstasie. Sy kyk nie in die rigting van meneer Burger se kantoor nie, sy is te bang hy roep haar in.

Sy dink aanhoudend aan die man by wie sy op straat verby is.

Sy wonder hoekom.

Sy moet seker nou die jogurt eet, maar op ’n manier geniet sy die hongerpyne omdat dit haar laat voel sy het beheer oor iéts. As sy drie of vier kilogram kan verloor . . . Nee, meer. As mense haar dan opmerk, sal dit wees as gevolg van iets wat sy bereik het.

Elke keer as Joan ’n oproep kry, sê sy vir die persoon in ’n harde fluisterstem: “Ons het ’n saboteur op kantoor! Dit kan nou net interessanter raak hier!” En dan sagter: “Ek het hopelik later meer te sê.”

Annemi tik.

Háár telefoon lui vir die eerste keer.

“Goeiedag, Annemi Prinsloo wat praat, hoe kan –”

“Hartjie. Wanneer kry jy eendag ’n selfoon?”

Sy sal nooit een kry nie. Dit gee jou breinkanker, het sy iewers gelees.

“Hallo, Mammie. Ons is baie besig, kan ek Mammie dalk later . . .”

“Laat hulle jou hard werk? Bel my dan vanaand. Dis belangrik.”

So ’n kort gesprek, maar soveel jare se goeters is daarby ingeroer. Sy betrap haarself dat sy in trane is.

“Jy moenie nou staan en sleg voel nie,” sê Joan en gee ’n snesie aan. “Ek sou dit ook gedoen het. Ek dink ek sou daai koffie oor sy ou vet kop uitgesmyt het!”

“Dis . . . Ag.”

“Jy’s almal se held hier rond.”

Ag, jou dierbare ding. Jou aanstootlike skepsel. Ag, kak ek.

“Dan het julle geen idee van wat ’n held veronderstel is om te wees nie,” sê Annemi. “Of ’n heldin nie.”

Dis waarskynlik nie die woorde waarop Joan reageer nie, eerder die stemtoon. “Ek wou net help. Party mense wil mos nie gehelp word nie.”

Nietemin leun sy tien minute later weer oor: “Jy onthou ek het jou vertel van Penny se seun?”

Annemi hou op met tik. “Penny se seun?”

“Die een wat die sielkundige gaan sien het.”

“O, ja?”

“Dit gaan baie beter met hom.”

“O.” Duidelik word daar meer van ’n respons van haar verwag. “Ek is bly.”

“Ek dink jy gaan deur ’n moeilike tyd. Wag nou, wag nou, moenie praat nie. Ek het die man se naam vir jou.”

“Joan . . .”

“Manrich. Snaakse naam. Nou weet ek nie meer wat sy van is nie, ek het nie dit ook afgeskryf nie. Maar ek het die nommer, ek het dit verlede week al gekry. Hierso.”

Dankie of fok jou?

“Dankie, Joan. Ek weet jy bedoel dit goed.”

Sy skuif die lêers reg. Skuif dit wéér reg. Sy dink aan hoe sy later die werkstasie sal opruim en opruim tot lank nadat die ander hier weg is, voor sy geregverdig sal voel om die kantoor te verlaat.

“Annemi, dis geen sonde om . . . iemand te gaan sien nie. Daai tye is verby, jare en jare al. Almal doen dit en almal is bipolar en almal is op ’n pilletjie. Dit sê niks slegs van jou nie.”

“Dankie, Joan. As ek hoor van iemand wat berading nodig het, sal ek vir hom of haar die nommer gee. Nou moet ek aangaan met my werk.”

“Ek verstaan.” Joan begin weer tik, met ’n egalige ritme.

Toe die telefoon nog ’n maal lui, ruk Annemi se skouers. Dit sal weer haar ma wees. Die kermende klankie in die stem sal haar nog . . .

Maar dis ’n verkeerde nommer.

So ongemerk moontlik herlei sy haar foon na die skakelbord. Sy sien nie kans vir nog een gesprek nie.

Sy loer na die papiertjie met die nommer op.

Manrich.

Sy sal die man móét bel; vir hom, of iemand soos hy. Joan sê hy het Penny se seun gehelp. Dalk kan enigiemand gehelp word?

Die vierde stem

Подняться наверх