Читать книгу Die Suid-Afrikaanse reg - François Smuts - Страница 10

1.5 PROSESREG – DIE REËLS VAN DIE SPEL

Оглавление

Die prosesreg is die reëls waarvolgens die spel van litigasie gespeel word. Hoekom wil jy as leek iets van die reëls weet? Omdat die reëls soms bepalend kan wees vir die sukses of mislukking van jou saak, en om min of meer dieselfde redes as wat jy nie vir Roger Federer as openingsbouler vir die Proteas sal inspan nie – hy mag dalk ’n woeste afslaan hê, maar jy speel nie krieket op ’n tennisbaan nie. Behalwe hiervoor maak die prosesreg ’n groot deel uit van die “regstaal” wat die regsproses so ontoeganklik maak vir die leek. Verstaan jy prosesreg, verstaan jy al ’n goeie stuk regstaal.

Te droog sal ek dit ook nie maak nie. Ek wil eintlik net hê jy moet ’n paar basiese begrippe verstaan wat uit my ervaring selfs geleerde leke pootjie.

In hierdie afdeling praat ek net oor die siviele prosesreg – daardie reëls wat op die siviele regspel van toepassing is. Oor die strafprosesreg – daardie reëls wat by strafsake geld – gesels ons wanneer ons oor die strafreg gesels. En wat die siviele prosesreg betref, begin en bly ons by die mees basiese onderskeid wat hier geld, naamlik dié tussen aksies en aansoeke.

1.5.1 Aksies en aansoeke

Aksies en aansoeke klink dalk vir jou soos dinge wat jy by Binnelandse Sake doen, maar dis een van die mees basiese onderskeide in die prosesreg. Kom ons praat eerste oor ’n aksie.

1.5.1.1 Aksies

’n Aksie begin met die uitreik en betekening van ’n dagvaarding. ’n Mond vol pitte, nè? Kom ons gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik: Sê nou jou Italiaanse prins daag op, maar hy’s tien jaar laat – jy is klaar getroud met Stefan Staatsamptenaar. Jy wil dus ’n egskeiding hê. Die dokument waarmee jy die hofproses begin, is die dagvaarding. ’n Deel van die dagvaarding is die besonderhede van vordering wat uiteensit wat jy wil hê – ’n egskeidingsbevel, die helfte van die huis en R15 000 per maand onderhoud; en hoekom jy dit wil hê – omdat jou huwelik in die pomp sit. Die dagvaarding met sy besonderhede van vordering gaan jou nooit ’n egskeidingsbevel besorg as hy in die laai bly lê nie. Dit moet “amptelik” word, en Stefan moet daarvan kennis neem. Amptelik word hy die dag dat hy by die hoë hof uitgereik word, wat beteken dat hy in ’n register opgeskrywe word, ’n nommer kry (die sogenaamde “saaknommer”) en ’n datumstempel opkry. Betekening gebeur wanneer die balju – die hof se bode en uitsmyter – die dagvaarding vir Stefan vat en hom laat teken dat hy dit ontvang het. Dan het Stefan kennis gekry van jou aksie teen hom en kan die sports begin.

Stefan sal waarskynlik sommer ná sy eerste besoek aan die prokureur reeds weet dat hy nie kan baklei teen die egskeidingsbevel self nie. Maar hy mag ander idees as jy hê oor jou eis vir die helfte van die huis en die R15 000 per maand onderhoud. Is dit so, dan moet hy jou aksie teenstaan. Dit doen hy deur ’n kennisgewing te laat liasseer. ’n Rukkie later sal hy pleit – wat, soos ons hierbo gesê het, ’n formele antwoord is – op die bewerings wat jy in jou besonderhede van vordering gemaak het, en dit doen hy met ’n dokument wat ’n pleit of ’n verweerskrif genoem word. Die pleit word “afgelewer”, soos alle ander dokumente wat ná die dagvaarding tussen die partye uitgeruil word, deur dit fisiek af te lewer by die opponent se prokureur, waar vir die ontvangs daarvan geteken word. Wie die aflewerwerk doen, maak nie juis saak nie en dit word gewoonlik deur ’n bode gedoen. Nadat dit afgelewer is, word alle dokumente ook by die hof ingehandig sodat daar ’n kopie in die lêer gesit kan word.

In ’n aksie word jy, wat die aksie begin het, die eiser genoem, en Stefan, wat die aksie teenstaan, word die verweerder genoem. Maar hoe verloop dinge verder tussen julle twee? Ek sit dit hieronder uiteen in min of meer die volgorde waarin dit normaalweg plaasvind. Ek beperk my tot die verloop van ’n “gewone” siviele saak, met die waarskuwing dat dinge lekker ou bokspringe kan maak en dat op elkeen van die stappe wat ek hier uiteensit ’n hele paar uitsonderings kan gebeur. ’n Mens moet ook onthou dat daar klein verskille is tussen die paadjies wat verhore in die landdroshof en die hoë hof loop, maar dis nie vir ons doeleindes belangrik nie. Wat volg, geld vir sowel landdroshowe as hoë howe.

1.5.1.1.1 Die prosedurele verloop van ’n aksie

Teeneis

Voel die verweerder dat hy eintlik ook ’n eis teen die eiser het, kan hy ’n teeneis instel. Dit gebeur heel dikwels in ’n egskeiding. Stefan kan byvoorbeeld voel dat hy eintlik die hele huis behoort te kry, én jou Maserati én dat jy eintlik vir hóm so R10 000 onderhoud per maand moet betaal. Sy teeneis liasseer en beteken hy saam met sy pleit, en op die besonderhede van vordering ten opsigte van die teeneis moet die eiser dan op haar beurt pleit.

Replikasie

Soms wil of moet ’n eiser antwoord op ’n pleit, en dit doen hy deur ’n replikasie af te lewer.

Eksepsie

Die teenparty kan beswaar maak teen die inhoud van ’n pleitstuk, gewoonlik deur die aflewering van ’n eksepsie, wat ’n dokument is wat uiteensit wat met die pleitstuk verkeerd is. As die verweerder byvoorbeeld ’n pleitstuk sou aflewer wat nie ’n regsgeldige verweer bevat nie of onnodig vaag of verwarrend is, kan die eiser eksepsie aanteken daarteen. Die eksepsie word dan in die hof betoog en die regter besluit dan of die eksepsie meriete het of nie. Was die eksepsie geregverdig, word dit gehandhaaf; was dit nie, word die eksepsie afgewys. Word dit gehandhaaf, beteken dit dat óf die hele pleitstuk óf ’n gedeelte daarvan geskrap word.

Wysiging van pleitstukke

Gewoonlik word die betrokke pleitstuk ná ’n suksesvolle eksepsie gewysig, wat maar regstaal is vir die verandering van die pleitstuk. Pleitstukke kan ook om ander redes gewysig word, byvoorbeeld as nuwe getuienis beskikbaar word. Hiervoor word kennisgewings oor en weer afgelewer.

Summiere vonnis

Wanneer die saak verdedig word en die eiser is van mening dat die verweerder nie regtig ’n verweer het nie, dan kan hy in sekere omstandighede aansoek doen om summiere vonnis. Dis ’n prosedure waardeur verweerders voor stok gekry word wat probeer om hulle verpligting om te betaal uit te stel, terwyl hulle eintlik nie ’n verweer het nie. Dit kom daarop neer dat van die verweerder vereis word om sy verweer in ’n beëdigde verklaring (die opponerende verklaring) uiteen te sit. ’n Hof beoordeel dan die verweer om te sien of daar regtig ’n verweer teen die eiser se aksie is. Is daar nie ’n verweer nie, word summiere vonnis toegestaan en dis die einde van die saak. Blyk daar wel uit die verweerder se verklaring ’n verweer te wees, word die saak gewoonweg voortgesit.

Voorlopige vonnis

Jy mag dalk ook al van ’n voorlopige vonnis gehoor het. Dit is ’n spesiale prosedure in gevalle waar die eiser in besit is van ’n dokument wat wys dat die verweerder ’n spesifieke bedrag aan die eiser verskuldig is. ’n Goeie voorbeeld is ’n tjek. Die eiser laat ’n spesiale dagvaarding uitreik waarby ’n afskrif van hierdie dokument aangeheg word. Net soos by summiere vonnis volg daar dan ook ’n verkorte proses en het die verweerder, breedweg gestel, nie ’n spesiale (gewoonlik baie tegniese) rede hoekom hy die geld nie verskuldig is nie, word voorlopige vonnis toegestaan en moet die verweerder die bedrag waarvoor gedagvaar is by die Hof inbetaal as hy wil voortgaan met die saak.

Blootlegging

Blootlegging (ons praat ook van die blootlê van goed) is die aflewer van ’n kennisgewing met ’n lys van dokumente, foto’s, planne, diagramme en videomateriaal wat die betrokke party van plan is om by die verhoor te gebruik. Voel die teenparty dat daar nog dokumente ensovoorts is wat relevant kan wees tot die saak en wat die party nie blootgelê het nie, kan dit deur ’n kennisgewing aangevra word wat spesifiseer waarvoor nog gesoek word. Uiteraard moet kopieë van alle dokumente wat blootgelê word aan die teenparty verskaf word.

Inspeksies en ondersoeke

Inspeksies en ondersoeke kan oor en weer aangevra word. Word jy byvoorbeeld in ’n motorongeluk beseer en jy eis skadevergoeding vir jou beserings, word daar feitlik sonder uitsondering van jou verwag om jou medies te laat ondersoek. Op grond van hierdie ondersoek word ’n deskundige verslag (regsgeneeskundige verslag) opgestel, wat ’n opsomming bevat van die deskundige se opinie en die gronde vir daardie opinie. Deskundige ondersoeke en verslae is nie net medies van aard nie; dit kan gaan oor werktuie, finansiële state, rekenaarprogramme, wrakstukke, rivierlope, grondtipes ... of wat ook al in ’n hofsaak ter sprake kom.

Nadere besonderhede

Nadere besonderhede, soms “verhoorbesonderhede” genoem, word oor en weer versoek oor goed wat nie uit die pleitstukke vir die teenparty duidelik is nie, maar wat benodig word om voor te berei vir die verhoor. Ek val byvoorbeeld in ’n supermark. Die supermark beweer dat daar ’n behoorlike kennisgewing was wat gesê het dat die vloer nat is. Ek kan nou vra hoe hierdie kennisgewing gelyk het, waar dit opgesit is, en so aan.

Voorverhoorkonferensie

Daar word in alle gevalle in die hoë hof, en dikwels ook in die landdroshof, ’n voorverhoorkonferensie tussen die partye gehou. Hiertydens word ooreengekom waaroor presies die partye in ’n geskil is en word verskeie praktiese dinge wat met die verhoor verband hou bespreek. Die partye kan byvoorbeeld besluit om ’n vraag wat deurslaggewend vir die een party se saak is, voor die res van die saak te laat verhoor. Baklei ek en jy byvoorbeeld daaroor of jy my skade berokken het en hoeveel daardie skade beloop, kan ons besluit om eers net te baklei oor of jy my hoegenaamd skade berokken het of nie. Bevind die hof dat ek jou nie skade laat ly het nie, dan hoef ons nie eers die moeite te doen om te baklei oor hoe groot die skade was nie.

Ek wil herhaal dat hierdie ’n baie breë oorsig is oor wat voor ’n siviele verhoor gebeur. Daar kan nog baie bokspringe in die proses wees, maar bogaande is die belangrikste hekkies wat jy moet oor voor jy by die verhoor kom.

1.5.1.1.2 Die verhoor van ’n aksie

Dit bring ons by die verhoor self. Die verhoor verloop gewoonlik só:

Die openingsbetoog

Hier verduidelik die eiser se regsverteenwoordiger aan die regter waaroor die saak gaan. ’n Mens moet onthou dat die hele verhaal van waaroor die partye baklei, gewoonlik nie vertel word in die dokumente en verslae wat die regter in sy lêer het nie. Dis hoekom die getuies kom getuig. In die openingsbetoog word ’n kort opsomming van die eiser se saak vir die regter gegee, om die regter “in die prentjie te plaas”, en soms ook om die regter net so effens ten gunste van die eiser te beïnvloed.

Die eiser se saak

Die eiser roep nou al die getuies wat nodig is om sy saak te bewys die een ná die ander. Die getuies kan op hulle beurt verdere bewysstukke soos dokumente, video’s, foto’s, wapens, ensovoorts aanbied, en vir elkeen van hierdie soorte bewysstukke is daar spesifieke vereistes. Alle getuienisse verloop soos volg:


 Hoofondervraging – waartydens die getuie sy storie vertel in antwoord op die vrae wat sy regsverteenwoordiger aan hom vra. Hierdie vrae is gewoonlik “oop” vrae wat die getuie toelaat om op ’n vrye en (redelik) natuurlike manier sy weergawe van gebeure te gee.

 Kruisondervraging – wat op hoofondervraging volg en die kruks is van die manier waarop ons in Westerse regstelsels in verhore na die waarheid soek. Dit word gedoen deur die “opponent” se regsverteenwoordiger en die vrae is normaalweg meer “geslote”, dit wil sê gerig op ’n spesifieke antwoord, dikwels ’n “ja” of “nee”. Die waarheid en waarskynlikheid van die getuie se weergawe word in kruisondervraging getoets.

 Herondervraging – wat die getuienis afsluit en die getuie se “eie” regsverteenwoordiger die geleentheid gee om vrae te vra oor dit wat in kruisondervraging gevra is. Die doel van herondervraging is om ’n verkeerde perspektief of ’n onduidelikheid wat deur kruisondervraging veroorsaak is, reg te stel.

 Vrae ter opheldering – wat die landdros of regter in enige stadium van die getuie se getuienis kan vra om duidelikheid te verkry oor die getuienis.

Aansoek om absolusie van die instansie

Die verweerder kan, nadat die eiser sy saak gesluit het, ook aansoek doen om die afwysing van die eiser se saak omdat daar eenvoudig nie genoeg getuienis is nie. Dit word “absolusie van die instansie” genoem. As dié aansoek suksesvol is, kan die eiser egter probeer om meer getuienis in die hande te kry, maar uit my ervaring gebeur dit nie juis nie.

Verweerder se saak

Die verweerder se saak word op presies dieselfde manier as die eiser se saak aangebied. Ná die aanbied van die verweerder se getuienis sluit die verweerder sy saak.

Verhore in die openbaar

Ons sal by strafverhore sien dat die verhore van minderjarige beskuldigdes altyd in camera gehou word, wat beteken dat net die hofpersoneel en die beskuldigde in die hof toegelaat word. In siviele verhore het minderjariges altyd ’n regsverteenwoordiger, maar dit gebeur baie selde dat siviele verhore nie in die openbaar plaasvind nie.

Spesiale getuies en getuienis

Dit is getuies en getuienis wat op enige stadium van die verhoor geroep en aangehoor kan word. Dit pas daarom nie logies in by die eiser óf die verweerder se saak nie – dié getuienis kan deur enige van die twee partye aangebied word:

 Deskundige getuies lewer opiniegetuienis. Opinies as getuienis is normaalweg nie toelaatbaar nie, omdat die hof self ’n opinie kan vorm oor dit waaroor ’n getuie ’n mening het. Deskundiges kan wel hul mening gee, omdat hulle op hul spesialisterreine beter as die regter gekwalifiseer is om ’n mening uit te spreek.

 Direkte en omstandigheidsgetuienis: Die verskil tussen die twee is ’n belangrike onderskeid. Direkte getuienis is iets soos: “Ek het gesien hoe die verweerder deur die rooi lig ry.” Omstandigheidsgetuienis is afgeleide getuienis, byvoorbeeld remmerke op ’n pad waarvan die snelheid van die motor voordat dit begin rem het, afgelei kan word.

Betoog

Hierna argumenteer die partye oor die getuienis om die hof te probeer oortuig om óf vir die eiser óf vir die verweerder te bevind. Die volgorde van betoog is eiser, verweerder, eiser.

Uitspraak

Ná die betoog moet die landdros of regter besluit of die eiser se eis toegestaan of van die hand gewys moet word. Interessant genoeg kan die hof ook in hierdie stadium bevind dat absolusie van die instansie ten opsigte van die eiser se eis beveel word. Om te verduidelik hoe ’n hof besluit ten gunste van watter party beslis moet word, moet mens eers weet wat ’n onus is.

 Onus: Die onus is die verantwoordelikheid om jou saak te bewys en dit is in die meeste gevalle die eiser, hoewel dit uiteindelik afhang van die reg waaroor die saak gaan. By siviele sake moet die party wat die onus dra sy saak op ’n oorwig van waarskynlikhede bewys. (Dis anders as by strafsake, waar ’n beskuldigde bo redelike twyfel skuldig bevind moet word.)

Hoe werk dit? Die hof moet die getuienis vir albei kante oorweeg, maar die proses is by ’n siviele saak baie soos die plasing van gewiggies op ’n outydse weegskaal. Die party wie se saak die swaarste weeg, wen. “Die swaarste weeg” beteken ’n kombinasie van die getuienis en die reg soos dit op die spesifieke feite toegepas moet word. Die hof oorweeg byvoorbeeld watter een van die weergawes wat die getuies voorgehou het die waarskynlikste is. Daar word nie sommer beslis of iemand gelieg het of nie – dit gebeur selde dat ’n hof so ’n sterk uitspraak lewer. As die hof nie kan besluit watter een die waarskynlikste is nie – en die skaal daarom in perfekte balans hang – word teen die party beslis wat die onus dra.

Hoe beoordeel die hof ’n getuie se getuienis? Dis vir die leek seker een van die onverstaanbaarste dele van ’n regter se werk en geweldig moeilik om eenvoudig te verduidelik. In die kortste en breedste terme moontlik gestel, kyk die hof na die volgende drie dinge:

(a) die geloofwaardigheid van die getuienis, met ander woorde of die getuie die waarheid gepraat het oor ’n spesifieke ding of nie;

(b) die betroubaarheid van die getuienis – dus die geleenthede wat die getuie gehad het om die betrokke gebeurtenis te ervaar of waar te neem, en die gehalte en onafhanklikheid van sy herinnering daaraan; en

(c) die waarskynlikheid of onwaarskynlikheid van elke deel van die getuie se getuienis.

Nou weet ek dat hierdie uiteensetting meer vrae laat ontstaan as wat dit beantwoord, maar nader aan die waarheid sonder om in tale te spreek, kan ek ongelukkig nie!

Vonnis

Ongelukkig word die bevel van die hof in sowel siviele as strafsake ’n “vonnis” genoem, wat dikwels verwarring by leke veroorsaak. Anders as by ’n strafverhoor, waar die skuldige gevangenisstraf of ’n ander straf opgelê word, moet die verweerder wat ’n siviele saak verloor meesal geld aan die eiser betaal, of hy word beveel of verbied om iets te doen. Gee die verweerder nie gehoor aan die bevel of die verbod nie, kan hy weens minagting van die hof aangekla word. Maar as daar beveel word dat die verweerder ’n bedrag moet betaal, is daar benewens die invordering van die geld niks wat die suksesvolle eiser kan doen nie. Die verweerder wat nie geld het nie, kan byvoorbeeld nie in die tronk gestop word nie. Dis hoekom ervare prokureurs weet dat die eerste ding wat hulle moet vasstel as ’n kliënt ’n saak teen iemand wil maak, is of die persoon of instansie teen wie daar ’n saak gemaak moet word, die geld het om ’n moontlike vonnis te betaal, of bates waarop beslag gelê kan word. Want ’n leë vonnis beteken niks nie, dit kos net geld. Hieroor praat ons volgende.


1.5.1.1.3 Die proses ná vonnis: koste en eksekusie

 Die koste: Die eerste skok wat jy gaan kry wanneer jy begin litigeer, is hoeveel dit jou gaan kos. Dit, en die feit dat regslui so vaag is oor wat die uiteindelike koste gaan beloop. Daar is baie wat ’n mens kan sê oor die feit dat regsdienste so duur is, maar die rede hoekom dit so moeilik is om te voorspel wat ’n spesifieke saak gaan kos, is eenvoudig: die feit dat die verloop van ’n hofsaak so moeilik is om te voorspel. Jy reik byvoorbeeld ’n dagvaarding uit, die verweerder opponeer nie die saak nie en jy kry vonnis sonder dat ’n skoot gevuur is. In dié geval sal jou rekening nie meer as R5 000 beloop nie. Maar as jou saak in die hof beland, kan jy bly wees as jou rekening minder as R150 000 is. Gaan die verweerder die saak opponeer? Wie sal weet? Die verskriklike ding is dat litigasie so duur is dat die bedrag wat jy uiteindelik van die teenparty kan kry dikwels verdwerg word deur die koste wat die verloorder gaan betaal. Baie sake het al in die Hoogste Hof van Appèl geëindig omdat nie een van die twee partye kon bekostig om te verloor nie, en ek weet van maatskappye wat hulle al met ’n enkele saak bankrot gelitigeer het. Wat min oningewydes besef is dat, selfs as jy suksesvol is, jy net omtrent 50 persent van jou kostes van die teenparty kan verhaal. As jy boonop onsuksesvol is, gaan jy 100 persent van jou eie kostes betaal, plus die helfte van die teenkant se kostes, en jy gaan nie eers ’n hofbevel in jou guns hê om daarvoor te wys nie. Kom ons gooi sommer nog ’n kinkel in die kabel, wat ek al dikwels gesien het. Jy prosedeer oor R250 000. Jy is in die hoë hof. Jy kry ’n swak of slaperige regter en uiteindelik ’n verkeerde uitspraak. Maar jou regskoste is reeds onbekostigbaar. Jy kán appelleer as jy wil om die regte uitspraak te kry, maar dit gaan jou nóg R100 000 uit die sak uit jaag, waarvan jy net so R50 000 gaan verhaal. Wat maak jy nou? Moenie vir my vra nie, ek’s net die advokaat ... Wat sê ek? Dat jy jou kanse op sukses so koud en klinies moontlik moet oorweeg en die besluit om te litigeer so rustig en onvervaard moontlik moet neem. Met ’n sompompie aan die elmboog. En dan moet jy kyk of die bank bereid is om jou ’n verdere verband te gee. Dit alles vóór jy besluit om te litigeer.

 Die eksekusieproses: Dit is die praktiese uitvoering van die hofbevel. Is die bevel om iemand uit sy huis uit te sit, sal die eksekusieproses behels dat ’n lasbrief uitgereik word wat die balju magtig om die persoon van die perseel af te verwyder. Die balju sal by die huis opdaag, die persoon in kennis stel dat hy die perseel moet verlaat, en as die persoon weier, word hy (indien nodig) met geweld uit die huis verwyder. Maak hy genoeg moeilikheid, sal die balju die polisie se hulp inroep. Maar meesal beteken die eksekusieproses dat die persoon teen wie ’n siviele vonnis vir die betaling van ’n geldbedrag gegee is (die vonnisskuldenaar – letterlik “die een wat die vonnis skuld”), ’n tyd gegee word om die geld te betaal, of reëlings te tref met die een in wie se guns die vonnis is (die vonnisskuldeiser – “die een wat die vonnisskuld eis”). Word die geld nie betaal nie en ’n aanvaarbare reëling word nie getref nie, kan die balju beslag lê op enige bate van die vonnisskuldenaar (“sy goed opskryf”) en dit uiteindelik op ’n veiling verkoop.

Dis min of meer wat jy moet weet van die proses van ’n aksie.

1.5.2 Aansoeke

1.5.2.1 Die prosedurele verloop van ’n aansoek

Die proses van ’n aansoek verloop heeltemal anders, en in regstaal word ook ander terme gebruik vir wat gebeur. In die plek van ’n dagvaarding is die sogenaamde kennisgewing van mosie. In hierdie dokument word, net soos in ’n dagvaarding, uiteengesit watter bevel jy wil hê die hof moet maak.

Weer ’n voorbeeld: Veronderstel jy wil van ’n staatsdepartement inligting hê oor ’n tenderproses waaraan jy deelgeneem het. Jy wil die inligting dringend hê, omdat jy wil appelleer teen die besluit om die tender aan ’n mededinger toe te ken. Daarvoor het jy nie baie tyd nie, maar die staatsdepartement weier om jou die inligting te gee. Hoe nou gemaak? Dit gaan nie help om ’n dagvaarding te laat uitreik en maande en selfs jare vir ’n hofdatum te wag nie. Teen daardie tyd is jou mededinger wat die tender gekry het klaar gewerk en betaal. Daarom laat jy in dié geval ’n aansoek uitreik en laat dit op presies dieselfde manier as ’n dagvaarding beteken.

Maar daar is ’n belangriker verskil tussen ’n aksie en ’n aansoek. In ’n aansoek word getuienis gelewer deur ’n beëdigde verklaring (of verklarings) wat die stawende of funderende verklaring genoem word, en nie deur ’n persoonlike verskyning in die hof soos met ’n aksie nie. In die reël word daar met ’n aansoek nie ’n “verhoor” gehou nie. In die plek daarvan sit die applikant sy volledige getuienis in sy stawende verklaring uiteen.

In ons geval sal jy litigeer teen die staatsdepartement en die ander tenderaar of tenderaars. Jy wat die aansoek bring, word die applikant genoem; die mense teen wie die aansoek gebring word, word respondente genoem.

Indien enige van die respondente jou aansoek wil teenstaan, laat hulle ’n kennisgewing van opponering aflewer. (“Aflewer” geskied presies soos ek hierbo by aksies verduidelik het.) Pleks van ’n pleit of verweerskrif sal hulle ook ’n beëdigde verklaring (of verklarings) laat liasseer waarin hulle getuienis volledig uiteengesit word. In hierdie verklarings, wat die beantwoordende of opponerende verklarings genoem word, sal die respondent elke stelling wat jy in jou funderende verklaring gemaak het, paragraaf vir paragraaf beantwoord en sê of hy daarmee saamstem, of hy hoegenaamd kennis dra van waarvan jy praat en of hy dalk heeltemal van jou verskil. In laasgenoemde geval sal hy presies sê hoekom hy van jou verskil en sy weergawe van gebeure uiteensit.

Hierop kry die applikant dan ’n kans om te antwoord, en hy doen dit met ’n repliserende verklaring. Die repliserende verklaring lyk baie soos ’n beantwoordende verklaring en werk op presies dieselfde manier. Dit is ook beperk tot antwoorde op bewerings wat in die beantwoordende verklaring gemaak word.

Daarmee is die getuienis (normaalweg) afgehandel. Die verhoor van die aansoek is, in teenstelling met ’n aksie, relatief eenvoudig en bestaan net uit argumente – hoewel die argumente lekker ingewikkeld kan wees!

Voor die verhoordatum ruil die applikant en die respondent betooghoofde uit wat bestaan uit ’n skriftelike opsomming van die argumente wat in die hof gevoer gaan word. Dit is hoekom ’n regter voor die verhoor van ’n aansoek dikwels ’n taamlik goeie idee het van wat hy gaan besluit, want al die getuienis en al die regsargumente is reeds voor hom op papier.


1.5.2.2 Die verhoor van ’n aansoek

In die verhoor van ’n aansoek betoog die applikant eerste, dan die respondent en uiteindelik antwoord die applikant. Die oorweging van die getuienis by ’n aansoek gebeur uiteraard anders as by ’n aksie, omdat die regter by laasgenoemde nie die voordeel gehad het daarvan om die getuies “in aksie” te sien nie en ook nie kruisondervraging aangehoor het om die verskillende getuies se weergawes te toets nie. Die beginsel is dat daar gekyk word na die getuienis waaroor die applikant en respondent saamstem. Hierdie getuienis word altyd getuienis genoem wat gemene saak is (ook in aksies). Waar die getuienis van die applikant en die respondent van mekaar verskil, word die respondent se weergawe aanvaar, tensy dit só onwaarskynlik is dat dit sonder meer verwerp kan word. Die getuienis wat gemene saak is, word gevoeg by die getuienis van die respondent (tensy dit natuurlik verwerp is, in welke geval die applikant se getuienis aanvaar word). Met hierdie getuienis word dan gekyk of die applikant sy saak bewys het.

Het die applikant sy saak op ’n oorwig van waarskynlikhede bewys, word die aansoek toegestaan. Het hy dit nie gedoen nie, word gesê dat die aansoek afgewys of van die hand gewys word.

1.5.3 Nog die een en ander oor aksies en aansoeke

Daar is ’n paar aspekte van aansoeke wat met aksies kan oorvleuel. Daar kan byvoorbeeld in albei gevalle deskundige getuienis gelewer word, en daar kan ook in aansoeke blootlegging van spesifieke dokumente gevra word. Hierdie aspekte is egter nogals tegnies van aard en jy kry dit nie dikwels nie.

Dan moet jy ook weet wat ’n teenaansoek is. In baie gevalle word ’n aansoek gebring waarin om regshulp gevra word. Dan antwoord die respondent gewoonlik deur nie net te ontken dat die applikant geregtig is op die bevel wat hy vir die hof vra nie, maar ook te versoek dat aan hom ’n ander hofbevel gegee word.

’n Voorbeeld sal help om bogaande te verduidelik: Buurman A oortree op buurman B se grond deur sy hek oop te maak en sy paadjie na die see te gebruik. Buurman B bring ’n aansoek teen buurman A weens betreding en vra dat buurman A beveel moet word om nie meer op sy grond te oortree nie. Hierop antwoord buurman A dat hy al vir meer as dertig jaar dié paadjie see toe gebruik en daarom ’n reg van weg op die paadjie gevestig het. Hy ontken daarom dat buurman B geregtig is op sy bevel, want hy sê dat hy ’n reg gevestig het op die gebruik van die paadjie. Maar hy gaan ook verder en bring ’n teenaansoek vir ’n bevel wat sal verklaar dat hy geregtig is op ’n serwituut op die paadjie af see toe.

Aansoeke en aksies kan soms hande vat, en dit gebeur op een van twee maniere:

 Aansoeke in aksies: Soms doen ’n party in ’n aksie nie wat van hom of haar verwag word nie, of ’n party kan nie wag tot die uiteinde van die saak voor die hof hom help nie, want dan kan dit reeds te laat wees. Dan word ’n tussentydse of interlokutêre aansoek gebring vir wat tussentydse regshulp genoem word. ’n Eiser vra byvoorbeeld vir die blootlegging van verdere dokumente, en die verweerder gee dit eenvoudig nie. Dan kan die eiser ’n aansoek bring wat die verweerder forseer om die dokumente te gee, en as daar so ’n bevel gegee word en die verweerder gee dit steeds nie, dan kan die eiser die volle saak wen net op grond van die feit dat die verweerder nie gedoen het wat hy moes nie. Dit kan ook wees dat ’n eiser ’n aksie teen ’n verweerder begin, maar dié sit met ’n geweldige hoeveelheid dokumente wat die eiser voor sy siel weet die verweerder sal vernietig as hy hoor van die eiser se voorgenome aksie teen hom. Die eiser kan dan ’n aansoek bring om daardie dokumente te bewaar vir die doeleindes van die aksie.

 Aksies in aansoeke: Soms bring ’n applikant ’n aansoek wat hy dink redelik eenvoudig behoort te wees – daar is nie veel oor die feite te stry nie. Maar wanneer die respondent antwoord, blyk dit dat daar wel baie dinge is waaroor hy wil stry. In sulke omstandighede kan die applikant vra dat die aansoek in ’n aksie omskep word, sodat die getuienis behoorlik in die hof aangehoor en daaroor beslis kan word. Die voorbeeld van die paadjie af see toe sal weer kan help: Het buurman A nie dieselfde perspektief op die paadjie af see toe as buurman B nie, en het hy getuienis dat die paadjie nie gebruik word soos buurman B beweer nie, dan kan die saak vir getuienis verwys word. Die verdere proses verloop in so ’n geval baie soos dié van ’n aksie.

Die Suid-Afrikaanse reg

Подняться наверх