Читать книгу Die Suid-Afrikaanse reg - François Smuts - Страница 4

INLEIDING

Оглавление

Dié boek is nie vir regsgeleerdes geskryf nie. Hier gaan jy nie ’n stowwerige uiteensetting van die teoretiese beginsels oor ’n spesifieke onderwerp kry nie. En jy sal oplet dat die boek nie geskryf is in die kadawerstyl van regs­handboeke nie. Want my doel met die boek is nie om ’n naam te maak as akademikus nie. Ek sal nooit die agterstand inhaal van al die klasse wat ek op universiteit gebunk het nie. In elk geval het ek in my praktyk agtergekom dat verreweg die meeste regsprobleme van die man op straat nie gaan oor subtiele onderskeide of verwikkelde argumente nie. Dis hoekom die doel van hierdie boek is om aan gewone mense ’n basiese gereedskapkissie te gee wat hulle in staat sal stel om ’n ietsie meer van die binnewerk van die reg te verstaan, en selfs om eenvoudige voorkomende regswerk te doen. Die rede hiervoor is dat die meerderheid van die probleme wat ek in my praktyk sien, voorkom kon word deur ’n paar eenvoudige voorsorgmaatreëls. Soos om jou kontrak op skrif te stel, en te weet wat om daarin te sit. Of om te weet watter prosedure om te volg vóór jy jou werker afdank. Of om ná ’n ongeluk ’n paar foto’s op jou selfoon te neem.

Dit is dus ’n boek vir gewone mense. Ek aanvaar wel dat jy darem ’n bietjie selfstandig kan dink, maar ek verwag nie dat jy ’n universiteitskwalifikasie in logika sal hê om die boek te kan verstaan nie. Ek verwys nie na hofsake nie, behalwe as dit ’n sappige storie is, of ’n belangrike punt illustreer. Latyn gebruik ek net vir die interessantheid (of as dit vir my baie mooi is), en dan sê ek elke keer in plein Afrikaans ook wat ek bedoel. Ek haal nie uit handboeke aan nie, hoewel ek aan die einde van die boek ’n lysie handboeke gee wat jy sou kon raadpleeg as jy meer sou wou weet as wat jy hier sal kry.

Die boek probeer nie volledig of baie gedetailleerd wees nie. Hier is dus niks in oor die lugvaartreg, die reg oor myne, of iets soos die exceptio non adempleti contractus of die Turquand-reël nie. Nee, ek het eerder probeer om ’n oorsig te gee van daardie onderwerpe in die reg wat die gewone leser baie waarskynlik sal teëkom.

Maar is dit nie gevaarlik om net ’n bietjie van die reg te weet nie? Wel, ja en nee. Ja, soos wat dit gevaarlik is om in jou kar se binnewerk te gaan krap as jy nie daarvoor gekwalifiseer is nie. Nee, soos wat dit nie gevaarlik is om te kyk of daar water in jou verkoeler, olie in die enjin en petrol in jou tenk is voordat jy die langpad vat nie. En waar lê die streep tussen die twee? Dis iets wat jy maar self moet besluit, maar ek hoop dié boek kan jou daarmee help.

Die Suid-Afrikaanse reg

Подняться наверх