Читать книгу Die Suid-Afrikaanse reg - François Smuts - Страница 8

1.3 MOEILIKE WOORDE MAKLIK GEMAAK

Оглавление

Hier is ’n lysie met terme wat jy nodig het vir die meeste gesprekke oor die reg. Nou weet ek die meeste mense hou nie van woordeboeke lees nie. Ek ook nie. Maar ek wil tog voorstel dat jy diep asemhaal en dit gou deurgaan, want dit gaan jou baie help om die res van die boek te verstaan. Of verwys terug na die lysie as jy iets in die boek teëkom wat jou tong of jou brein laat knoop.

aangeklaagde of beskuldigde – die persoon wat in ’n strafsaak van ’n misdaad aangekla word.

aansoek – een van twee maniere om ’n hofsaak te voer (die ander een is ’n aksie). In ’n aansoek word die hele saak deur die partye op papier uiteengesit en niemand getuig in die hof nie. Aansoeke word oor die algemeen gebruik in sake waar die partye nie veel verskil oor die feite nie maar wel oor die regsbeginsels wat daarop toegepas moet word. Die “verhoor” van ’n aansoek bestaan net uit argumente wat beperk word tot dit wat op die dokumente, wat “aansoekstukke” of kortweg “die stukke” genoem word, uiteengesit word. Aansoekstukke bestaan breedweg uit twee dele: ’n kennisgewing van mosie, waarin die een wat die aansoek bring, sê wat hy van die hof wil hê; en beëdigde verklarings, wat getuienis op papier is en waarin vertel word hoekom die een wat die aansoek bring, geregtig is op dit wat hy van die hof vra.

absolusie van die instansie – ’n hofbevel wat beteken dat iemand nie slaag met sy siviele saak nie omdat sy getuienis nie genoegsaam is nie. As absolusie beveel word, sou die eiser weer sy saak kon probeer bewys as hy beter getuienis sou kry – iets wat nie kan gebeur as ’n aksie afgewys word nie.

afgewys of van die hand gewys – ’n hofbevel wat sê dat die een wat ’n aansoek of ’n aksie gebring het onsuksesvol was. Dit verskil van absolusie van die instansie daarin dat as jou aansoek of aksie eers afgewys is, jy nie weer kan probeer nie. Sien ook toegestaan.

aksie – een van twee maniere om ’n siviele saak te voer (die ander een is ’n aansoek). ’n Aksie begin wanneer iemand in ’n dagvaarding sy saak in breë trekke uiteensit en ook sê watter bevel hy van die hof verlang, en die dagvaarding dan op die persoon teen wie die aksie gevoer gaan word, laat beteken. Hierdie dokument kry jy nie by ’n aansoek nie. Hierna word ’n verskeidenheid van dokumente tussen die partye uitgeruil sodat die dinge waaroor die opponente in die saak verskil, duidelik gemaak word en hulle oor en weer kennis kry van watter dokumente gebruik gaan word en of daar deskundiges getuig, en so aan. Die verhoor van ’n aksie bestaan uit die lewer van getuienis deur mense wat in ’n getuie­bank staan en ondervra word terwyl hulle onder eed getuig – anders as by ’n aansoek.

appèl – wat gebeur wanneer een van die partye in ’n saak van mening is dat die hof se uitspraak verkeerd is en daarom ’n proses volg om die uitspraak verander te kry deur ’n hof met hoër gesag.

applikant(e) – die party(e), onder meer mense en regspersone, byvoorbeeld maatskappye, trusts en so aan, wat ’n aansoek begin.

balju – die bode van die hof wat prosesstukke beteken en hofbevele uitvoer.

beantwoordende verklaring(s) – die beëdigde verklaring(s) in ’n aansoek waarin die respondent die applikant se funderende verklaring(s) punt vir punt beantwoord en sy eie weergawe gee van wat gebeur het.

beëdigde verklaring(s) of verklaring(s) – ’n verklaring is die verkorte vorm van ’n beëdigde verklaring, wat bestaan uit getuienis op skrif. Getuienis is die weergee van feite onder eed. ’n Beëdigde verklaring moet deur ’n kommissaris van ede beëdig word, wat aan die persoon wat die verklaring aflê, moet vra of hy die inhoud van die verklaring ken en verstaan, of hy die eed as bindend op sy gewete beskou en of die inhoud van die verklaring waar is.

belet – wanneer die tyd vir die aflewer van ’n pleit in ’n aksie verbygegaan het sonder dat die verweerder gepleit het, kan die eiser aan die verweerder ’n kennisgewing stuur wat hom beveel om binne ’n sekere tyd te pleit, en as hy dit nie doen nie, word hy belet om te pleit en kan die eiser aansoek doen om ’n verstekvonnis.

beskuldigde – sien aangeklaagde.

besonderhede van vordering – daardie gedeelte van ’n dagvaarding waarin die eiser sê wat hy van die hof vra, en die redes hoekom hy dit vra. As jy in besit is van my motor, sal my besonderhede van vordering sê wie ek is, wie jy is, dat ek die eienaar van die motor is en dat jy in besit is daarvan. Ek sal dan ’n hofbevel vra wat jou beveel om my motor terug te gee en dat jy die koste van die hofsaak betaal.

beteken(ing) – die proses waardeur die balju ’n dokument by ’n persoon aflewer en daarna aan die persoon wat die opdrag gegee het vir die aflewering verslag doen oor hoe hy dit gedoen het. Dis die regstelsel se manier om seker te maak dat iemand ’n dokument kry.

betoog of argument of submissie – aan die einde van enige saak argumenteer die regsgeleerdes om die regter te probeer oortuig hoekom hulle kliënt moet wen. Hierdie argumente word “argument” of “betoog” genoem. Submissies is die boublokke van hierdie argumente. In ’n motorongeluksaak sal ek byvoorbeeld betoog dat my kliënt se getuienis geglo moet word eerder as die ander kant se getuienis. Vir hierdie submissie sal ek dan redes gee en dit saam met ander submissies gebruik om te argumenteer hoekom my kliënt sy saak moet wen.

betooghoofde – ’n dokument met ’n opsomming van die submissies wat in argument gemaak sal word. Betooghoofde word voor die betoog aan die regter en die opponent se regsverteenwoordiger gegee om hulle kans te gee om dit te oorweeg en te bedink. Ook betoogshoofde genoem.

bevel nisi – ’n hofbevel wat jou opponent oproep om op ’n later datum te kom sê hoekom ’n bevel in jou guns (’n “finale bevel” genoem) nie deur die hof gegee moet word nie.

bewyslas – sien onus.

blootlegging of blootlê – die proses waardeur kopieë van dokumente wat in die saak gebruik word aan die teenparty gegee word. Aanvanklik sê elke party in ’n beëdigde verklaring vir sy opponent watter dokumente hy het. Hierop kan sy opponent reageer deur te vra vir spesifieke dokumente wat nie blootgelê (openbaar gemaak) is nie. Blootlegging word gebruik om te keer dat jou opposisie verras word deur die gebruik van dokumente in die verhoor.

bo redelike twyfel – die manier waarop in ’n strafsaak besluit word of ’n beskuldigde skuldig is of nie, en terselfdertyd is dit die balkie waaroor die staat moet kom om sy saak teen ’n beskuldigde te bewys. Is daar redelike twyfel by die regter of die beskuldigde se weergawe dalk waar is en/of die beskuldigde dalk onskuldig is, word sy weergawe aanvaar en/of word hy vrygespreek. As ’n beskuldigde skuldig bevind word, word hy met ander woorde bo redelike twyfel skuldig bevind. Vergelyk dit met op ’n oorwig van waarskynlikhede, die maatstaf wat gebruik word by siviele sake.

dagvaarding – die dokument waardeur ’n aksie begin word. Dit bevat die besonderhede van die eiser(s) en die verweerder(s) en die besonderhede van vordering.

debiteur – ander woord vir skuldenaar, die een in ’n transaksie wat geld skuld.

delik – ’n daad of versuim waardeur skade vir iemand veroorsaak is en waarby daar, volgens die reg, skuld betrokke is en wat nie op die een of ander manier verskoonbaar is nie (oor laasgenoemde word gesê dat dit “onregmatig” is).

derde party – iemand wat nie aanvanklik by ’n saak betrokke was nie maar deur een van die partye daarby ingesleep word, omdat die geskil tussen een van die partye en die derde party min of meer dieselfde is as die geskil tussen die oorspronklike partye.

deskundige getuienis of ekspert getuienis – getuienis deur ’n spesialis wat menings bevat wat die hof kan help om ’n beslissing te bereik – oor iets waaroor die hof nie self deskundigheid het nie. Goeie voorbeelde is mediese deskundigheid oor die gevolge van liggaamlike beserings, en deskundiges oor snelheidsmeters by vervolgings vir spoedoortredings.

domicilium citandi et executandi – ’n frase wat ’n mens baie dikwels in kontrakte sien. Letterlik vertaal beteken dit “die blyplek waar die party gesiteer kan word en eksekusie gehef kan word”. In gewone taal is dit die adres waar kennisgewings en hofstukke afgelewer kan word. (Eksekusie kan enige plek gebeur waar die persoon teen wie ’n hofbevel gegee is hom bevind.)

eiser – die persoon of instansie wat ’n aksie begin.

eksekusie – die proses waardeur ’n hofbevel uitgevoer word. As ’n hofbevel byvoorbeeld vir die betaling van geld gegee word, sal eksekusie beteken dat die geld van die persoon wat dit skuld, verhaal word. Dit kan gebeur deur óf die geld self van die persoon te kry, óf die bates van die persoon te verkoop. Dit word altyd deur die balju gedoen.

eksepsie – ’n tegniese beswaar teen ’n eiser se besonderhede van vordering of teen ’n verweerder se pleit, omdat dit óf sonder behoorlike gronde is, óf vaag en verwarrend is.

ex parte – die bring van ’n aansoek sonder dat aan die persoon teen wie die aansoek gebring word, kennis gegee word dat die aansoek gebring gaan word. Dit word gedoen as die aansoek baie dringend is, as die gee van kennis die doel van die aansoek sal fnuik of as dit nie sin sou hê nie, byvoorbeeld as die persoon geestesversteurd is.

feitestel – ’n groep feite wat ’n geheel vorm en betreffende waarvan vasgestel kan word wat die regsposisie is. Dikwels sal die toevoeg of wegneem van ’n enkele feit die regsposisie radikaal verander.

funderende verklaring(s) – die eerste verklaring of stel verklarings in ’n aansoek, waarin die applikant en sy getuies sy getuienis uiteensit. Ook “stawende verklaring(s)” genoem.

geloofwaardig(heid) – ’n oordeel oor of ’n getuie se getuienis geglo kan word of nie. Dit loop altyd saam met nog ’n oordeel, wat te make het met die waarskynlikhede van getuienis. Die twee is egter nie dieselfde nie, want om te sê ek het ’n leeu op duisend tree ’n kopskoot gegee, mag onwaarskynlik wees en daarom ongeloofwaardig. Het ek egter drie getuies wat dit bevestig, bly dit onwaarskynlik maar word dit meer geloofwaardig. Getuienis kan selfs waarskynlik maar ongeloofwaardig wees, hoewel dit maar selde gebeur.

gemene saak (getuienis) – getuienis waaroor die partye in ’n saak met mekaar ooreenstem en wat daarom nie deel vorm van die geskilpunte in die saak nie. Die term word ook gebruik wanneer die partye saamstem oor wat die regsbeginsel is wat geld vir ’n spesifieke deel van die saak.

geskilpunt(e) – dit waaroor die partye in ’n hofsaak verskil. As ek byvoorbeeld beweer dat jy alleen die ongeluk veroorsaak het en jy ontken dit, is dit ’n geskilpunt tussen ons. Geskilpunte word verdeel tussen feitegeskille, waar die partye se weergawes van wat gebeur het van mekaar verskil, en geskilpunte oor die reg, waar die partye van mekaar verskil oor watter regsbeginsels op die feite toegepas moet word en dikwels ook hoe dit toegepas moet word.

griffier – die klerk by die hoë hof wat die administrasie van hofsake hanteer.

grondwetlike reg – sien konstitusionele reg.

herondervraging – letterlik “die tweede ondervraging”. Dis die laaste stel vrae wat aan ’n getuie in ’n hofsaak deur sy eie regsverteenwoordiger gevra word en volg op hoofondervraging en kruisondervraging. Dis beperk tot vrae wat betrekking het op die vrae wat in kruisondervraging aan die getuie gevra is.

hersiening – die proses wat iemand volg wanneer hy van mening is dat daar ’n besluit geneem is wat sy regte raak en daar iets verkeerd was met die proses wat gevolg is om by die besluit uit te kom. Vergelyk dit met appèl.

hof – ’n woord met ’n paar betekenisse. Eerstens die fisieke hofgebou of hofsaal. Tweedens die hof as ’n instelling, in ’n algemene sin. Die belangrikste – en mees verwarrende – betekenis is vir ’n spesifieke hof wat bestaan uit regsverteenwoordigers en die regter of landdros.

hofbevel – die bevel van ’n hof.

hoofondervraging – die eerste gedeelte van ’n getuie se mondelinge getuienis in ’n hof. Dit bestaan daaruit dat die regsverteenwoordiger van die party wat die getuie geroep het aan die getuie ’n aantal vrae vra om die getuienis wat gunstig vir die betrokke party is uit te lok.

in camera – wanneer ’n hof nie, soos normaalweg, oop is vir die publiek nie. Net die regsverteenwoordigers, noodsaaklike amptenare, partye (of beskuldigde by ’n strafsaak) en die regter of landdros word in die hof toegelaat.

in forma pauperis – wanneer ’n armlastige litigant gratis regsverteenwoordiging kry.

interdik – ’n soort hofbevel wat iemand beveel of verbied om iets te doen.

kennisgewing – ’n dokument wat by litigasie gebruik word en iemand in kennis stel van iets wat gebeur het of gaan gebeur.

kennisgewing van mosie – ’n kennisgewing wat die eerste dokument in ’n aansoek is en waarin die applikant sê wat hy van die hof wil hê. As my buurman byvoorbeeld gereeld laat in die aand lawaai maak, sal ek in my kennisgewing van mosie vra vir ’n hofbevel dat hy moet ophou raas.

kennisgewing van opponering – die kennisgewing wat die applikant in ’n aansoek laat weet dat die aansoek teengestaan (geopponeer of verdedig) gaan word.

kennisgewing van voorneme om te verdedig – die kennisgewing wat die eiser in ’n aksie laat weet dat die aksie teengestaan (geopponeer of verdedig) gaan word.

klerk van die hof – die beampte in die landdroshof wat omsien na die administrasie van hofsake.

konstitusionele reg of grondwetlike reg – die regsreëls en -beginsels wat te make het met of voortvloei uit die bepalings van die Grondwet.

konvensie – word gebruik wanneer partye van mekaar iets eis in ’n aksie en jy daarom nie net ’n eiser het wat iets eis en ’n verweerder wat ontken dat hy daarop geregtig is nie. Jy het daarom ’n situasie waarin jy in een saak twee eisers en twee verweerders het, wat nogals verwarrend kan wees. Die aanvanklike eiser en verweerder word daarom onderskeidelik die eiser en verweerder in konvensie genoem. Wanneer jy praat van die verweerder se eis teen die eiser, word hy die eiser in rekonvensie en die eiser word die verweerder in rekonvensie.

koste – die geld wat dit kos om ’n hofsaak te voer. Kan ook verwys na die sogenaamde kostebevel wat deel is van die hofbevel wat uiteindelik gemaak word, wat sê wie moet betaal vir die voer van die hofsaak. Verloor die eiser byvoorbeeld sy saak, lui die hofbevel gewoonlik: “Eiser se aksie word met koste van die hand gewys.”

krediteur – beteken dieselfde as skuldeiser, naamlik die een vir wie geld geskuld word.

kruisondervraging – die tweede gedeelte van ’n getuie in ’n verhoor se mondelinge getuienis. Die getuie word deur die teenparty se regsverteenwoordiger vrae gevra om die getuie se getuienis af te breek, of gunstige getuienis vir die teenparty te ontlok.

kwantum (die Latynse quantum word ook gebruik) – die bedrag wat geëis word in ’n siviele saak. Dit word onderskei van die meriete van ’n saak en word dikwels afsonderlik verhoor.

landdros – die beampte wat as die voorsitter in die landdroshof optree. Sien ook regter.

liassering – die indien van ’n dokument by die klerk of griffier van die hof. Liassering gee daaraan amptelike status.

litigant – sien party.

litigasie – die proses van die voer van ’n hofsaak.

litigeer – die werkwoord van litigasie. Die ou term prosedeer word nog soms gebruik.

meester van die hoë hof – word meer dikwels net “die Meester” genoem. Dis ’n aparte kantoor van die hoë hof wat rekord en toesig hou oor boedels: insolvente boedels, bestorwe boedels, trusts en die boedels van geestesiekes. En, ja, daar is ’n spesifieke amptenaar wat “die Meester” genoem word.

meriete – die gronde waarop ’n party ’n hofbevel vra. As hy vir ’n geldbedrag vra, dan sluit dit die bewys van die bedrag uit.

misdaad – ’n daad wat deur die staat veroordeel en gestraf word.

mondelinge getuienis – getuienis wat in die hof aangebied word. Ook soms losweg “getuienis onder eed” genoem, hoewel laasgenoemde ook streng gesproke getuienis in ’n beëdigde verklaring insluit. Die getuie staan in die getuiebank, die eed word die getuie opgelê (“Sweer jy dat die getuienis wat jy sal aflê, die waarheid sal wees, die hele waarheid en niks behalwe die waarheid nie, sê ‘so help my God”?) en alles wat die getuie daarna oor die saak sê, is getuienis onder eed.

mosie – dieselfde as ’n aansoek.

nadere besonderhede of verhoorbesonderhede – besonderhede wat jy in ’n aksie van die teenparty vra om jou meer van sy saak te vertel sodat jy vir die verhoor kan voorberei.

nalatig(heid) – een van die dele van ’n delik wat sê dat ’n daad of versuim afwyk van wat die redelike persoon in ’n spesifieke situasie sou doen (of nie sou doen nie).

ontslag – as die staat se getuienis in ’n strafsaak klaar is en daar is nie genoeg getuienis om die beskuldigde skuldig te kan bevind nie. Vir ontslag word dan aansoek gedoen en as die aansoek slaag, word die beskuldigde vrygespreek sonder dat hy getuienis hoef aan te bied. Hierdie aansoek is nie ’n gewone aansoek nie, omdat daar alreeds mondelinge getuienis aangebied is. Daar word daarom nie op die gewone manier aansoek gedoen nie, maar net betoog.

onus – die las wat aan ’n party opgelê word om sy saak te bewys. Dit beteken dat as die hof nie kan besluit watter party se weergawe van die gebeure om te aanvaar nie, dan sal hy bevind teen die party wat die onus het. Word ook die bewyslas genoem.

onwettig – teenoorgestelde van wettig.

op ’n oorwig van waarskynlikhede – die bewyslas in siviele sake wat aan die party wat dit dra, die las oplê om te bewys dat sy weergawe meer waarskynlik is as sy opponent se weergawe. Vergelyk met bo redelike twyfel, die bewyslas in strafsake.

party –’n persoon of instansie wat direk betrokke is by litigasie. Word dikwels gebruik saam met teenparty of teenkant, wat “die party aan die ander kant” beteken. As ek ’n egskeidingsaak teen my vrou begin, is ons die partye in die geding, en sy is my teenparty of die teenkant. Ons kinders is ook betrokke by die litigasie, maar hulle is nie direk daarby betrokke nie en daarom nie partye nie.

pleit of verweerskrif – dokument in ’n aksie wat in besonderhede uiteensit hoekom die verweerder nie met die eiser saamstem nie en dink sy saak moet misluk.

pleitstukke – dokumente in ’n aksie wat die geskilpunte uiteensit.

prima facie – algemeen gebruikte Latynse term. Dit beteken verskillende dinge na aanleiding van die konteks waarin dit gebruik word, maar gewoonlik is dit óf “aanvanklike indruk” óf “sonder om die ander kant van die saak te oorweeg”.

privaatreg – daardie gedeelte van die reg wat te make het met die regte van en regsverhoudings tussen private individue.

pro Deo – Latynse term wat, letterlik vertaal, “vir God” beteken. Deesdae beteken dit gewoonlik “met die staat se geld”, want dit word gebruik wanneer die staat vir ’n armlastige beskuldigde in ’n strafsaak se regsverteenwoordiging betaal. Sien ook regshulp.

prosedeer – ou term vir litigeer.

prosesstuk – versamelnaam vir al die dokumente wat in ’n hofsaak gebruik word. Prosesstukke sluit pleitstukke in, maar is nie tot hulle beperk nie. Dit sluit byvoorbeeld ook kennisgewings in.

publiekreg – die gedeelte van die reg wat te make het met die staat en openbare (of publieke) liggame soos Telkom, hul verhoudings met mekaar en hul verhoudings met die burgers van die land.

redelik – in ooreenstemming met gesonde verstand, regverdigheid en billikheid. Dit word dikwels gebruik as ’n maatstaf van wat die samelewing dink “reg” is.

regsgeneeskundige ondersoeke en verslae – mediese ondersoeke wat ’n eiser in ’n aksie ondergaan sodat die omvang, geskiedenis en vooruitsig van sy toestand vasgestel kan word, en die verslae wat mediese deskundiges na aanleiding van sulke ondersoeke opstel. Sien ook deskundige getuienis.

regshulp – as algemene term beteken dit dat ’n privaat persoon regsverteenwoordiging verkry. Dit het ook ’n meer spesifieke betekenis wat meer gebruik word, naamlik dat ’n armlastige persoon regsverteenwoordiging van die staat kry. Regshulp is ook beskikbaar vir staatsamptenare wat aangekla word vir dit wat hulle in werkopset gedoen het, vandaar die eienaardigheid dat skatryk politici op belastingbetalers se onkoste hulle hofsake voer.

regsverteenwoordiger – iemand wat regsgeleerd is en namens ’n party in ’n hofsaak optree.

regtens – na regte, regmatig of volgens die reg, wat ’n baie wyer term is as wetlik, wat in regstaal net tot wette beperk is.

regter – die beampte wat as die voorsitter optree in een van die hoër howe, soos die hoë hof of die appèlhof.

rekonvensie – staan teenoor konvensie – sien die verduideliking daar.

repliek – die geleentheid wat aan ’n party gegee word om op sy opponent te antwoord, hetsy dit met ’n beëdigde verklaring in ’n aansoek, ’n antwoord op ’n verweerskrif (sien replikasie) of tydens argument in die hof is.

replikasie – ’n antwoord deur ’n eiser op ’n verweerder se pleit.

repliserende verklaring – derde stel beëdigde verklaring(s) in ’n aansoek. Dit is die antwoord van die applikant op die respondent se beantwoordende verklaring(s).

respondent – die party teen wie ’n aansoek gebring word.

saak – ook “geding” genoem. ’n Bakleiery tussen twee of meer partye wat deur die formele hofproses loop. Kan ook verwys na een party se kant van ’n saak.

siviele prosesreg – die formele reëls waarvolgens siviele sake gevoer en bereg word.

siviele saak – enige saak wat nie ’n strafsaak is nie. Hierdie definisie mag aspris klink, maar dit is nie. ’n Mens kan siviele sake voer oor meer onderwerpe as wat mens in een definisie kan inprop.

skik/skikking – wat met ’n hofsaak gebeur wanneer die partye ooreenkom oor wat die uitkoms daarvan moet wees. ’n Skikking is ’n kontrak en word omtrent altyd ’n hofbevel gemaak, en daarmee is dit die einde van die bakleiery (wel, omtrent altyd, behalwe by egskeidings).

skuldeiser – die een in ’n transaksie aan wie geld geskuld word.

skuldenaar – die een in ’n transaksie wat geld skuld.

sluit van pleitstukke – ’n belangrike tydstip in ’n aksie, wanneer dit uit die pleitstukke duidelik is wat die geskilpunte tussen die partye is. Daar kan dan gevra word vir ’n hofdatum vir die verhoor. Ook litis contestatio genoem. Moenie vra hoekom nie.

stawende verklaring – sien funderende verklaring.

strafprosesreg – die formele reëls waarvolgens strafsake gevoer en bereg word.

strafsaak – ’n saak tussen die staat en die persoon wat aangekla word dat hy ’n misdaad begaan het.

strafsanksie – wanneer ’n persoon se daad deur die staat gestraf kan word.

stukke/hofstukke – die dokumente wat tydens ’n hofsaak opgestel word. Dit omvat prosesstukke in aksies, en alle dokumente in aansoeke.

summiere vonnis – ’n verkorte prosedure wat in ’n aksie gevolg word (gewoonlik) wanneer daar ’n geldbedrag geëis word en die eiser van mening is dat die verweerder nie ’n verweer het nie. Die verweerder sit dan sy verweer in ’n beëdigde verklaring uiteen en dit word dan deur die hof beoordeel om te sien of die verweer steek hou. As die verweer soos uiteengesit nie steek hou nie, word summiere vonnis toegestaan, en dit is min of meer die einde van die pad vir die verweerder se verweer van die saak.

teenaansoek – wanneer ’n respondent in ’n aansoek sy eie aansoek teen die applikant bring, as deel van dieselfde aansoek. Jy bring byvoorbeeld ’n aansoek teen my om my te verbied om jou grond te betree. Ek bring dan ’n teenaansoek vir ’n hofbevel wat sê dat ek ’n reg van weg oor jou grond het.

teeneis – wanneer ’n verweerder as deel van dieselfde aksie sy eie aksie teen die eiser begin. Jy bring byvoorbeeld ’n aksie teen my vir betaling van die balans van die kontrakprys vir die bouwerk wat jy by my huis gedoen het. Ek stel dan ’n teeneis teen jou in weens die feit dat ek jou geknoei moes laat regmaak, wat baie meer gekos het as die balans van die kontrakprys. Die bakleiery is gewoonlik oor dieselfde feite, maar uit verskillende perspektiewe.

teenkant of teenparty – opponent in ’n aksie of aansoek.

toegestaan – ’n aansoek word toegestaan as dit suksesvol is. Sien ook afgewys.

tussenbeitredende party – wanneer ’n buiteparty wat nie deur een van die bestaande partye tot ’n aansoek betrek word nie, deel wil word van ’n aansoek. Die buiteparty doen dit omdat hy dink dat die aansoek ook sy regte raak. A bring byvoorbeeld ’n aansoek teen B, ’n staatshospitaal, vir ’n bevel om ’n aborsie aan haar toe te staan. C, die pa, kan dan tussenbeide tree omdat die kind wat afgedryf gaan word, ook sy kind is en hy teen aborsies gekant is.

tussentydse/interlokutêre aansoek – aansoek in ’n aksie, om iets te bewerkstellig wat verband hou met die voer van die aksie. As een van die partye byvoorbeeld weier om bloot te lê, kan sy opponent ’n tussentydse aansoek bring om hom te verplig om dit te doen.

tussentydse regshulp – ’n hofbevel wat gegee word hangende die finale uitslag van ’n saak.

uitspraak – die redes wat deur ’n regter of landdros gegee word vir die hofbevel wat uiteindelik gegee word.

verdediging aanteken – wanneer die verweerder in ’n aksie aandui dat hy die aksie gaan teenstaan.

verdere party – ’n party, soos ’n derde party of tussenbeitredende party, wat deel word van ’n aksie of aansoek.

verklarende bevel – wanneer twee partye onseker is oor wat hulle regte is, kan hulle die hof vra om uitsluitsel te gee oor wie se interpretasie van wat die regsposisie – en daarom hulle onderskeie regte – is, reg is.

verstekvonnis of vonnis by verstek – ’n vonnis wat in ’n aksie gegee word omdat die verweerder óf nie die aksie verdedig het nie, óf omdat hy nie betyds sy verweerskrif afgelewer het nie en onder belet geplaas is. By ’n verstekvonnis word die vonnis gegee asof die eiser sy saak sonder meer (dus sonder teenspraak) bewys het.

vervolging – die voer van ’n strafsaak deur die staat.

verweer – die rede(s) hoekom ’n verweerder dink ’n eiser in ’n aksie moenie suksesvol wees nie.

verweerder – die party teen wie ’n aksie gebring word.

vonnis (straf- en siviele) – by strafsake is ’n vonnis die straf wat deur die hof aan die beskuldigde opgelê word nadat hy skuldig bevind is, byvoorbeeld ’n boete of gevangenisstraf. By siviele sake is ’n vonnis die hofbevel van die hof ten gunste van die suksesvolle party en teen die onsuksesvolle party, wat nie ’n straf is soos by ’n strafsaak nie. ’n Hofbevel wat ’n eiser se eis van die hand wys met koste is ’n voorbeeld van ’n vonnis in ’n siviele saak.

vonnisskuldeiser – die party ten gunste van wie ’n vonnis gegee is en wat daarom die vonnisskuld kan opeis. Sien skuldeiser.

vonnisskuldenaar – die party teen wie ’n vonnis gegee is en daarom die vonnisskuld aan die vonnisskuldeiser verskuldig is. Sien skuldenaar.

voorlopige vonnis – ’n proses waardeur ’n aksie ten opsigte van dokumente waaruit die skuld van die verweerder onomwonde blyk, begin en gevoer word. Dit is ’n proses wat veronderstel is om die verloop van die aksie korter te maak.

voorverhoorkonferensie – ’n vergadering wat in ’n aksie voor die verhoor tussen die partye gehou word om volgens sekere vasgelegde reëls te probeer om die verhoor so kort as moontlik te hou en die geskilpunte tussen die partye te verminder.

vryspraak – as die staat in ’n strafsaak sy saak nie bo redelike twyfel bewys het nie, kry die beskuldigde ’n vryspraak. Ons sê die beskuldigde word vrygespreek en ontslaan.

waarskynlikhede – ’n oordeel oor getuienis wat aandui of dit in ooreenstemming is met algemene lewenservaring. Om te sê dat jy deur ’n blou hond met twee koppe aangeval is, is nie waarskynlik nie. Om te sê dat jou buurman se rottweiler jou hand verskeur het, is. Sien ook geloofwaardigheid.

wetlik – volgens die bepalings van ’n wet, ook “statutêr” genoem. Moenie verwar word met regtens nie. “Wetlik” is een van daardie woorde wat ’n regsgeleerde van ’n leek onderskei: Leke gebruik dit baie as hulle oor die reg praat, regsgeleerdes feitlik nooit.

wettig – ’n term wat dikwels verwarrend kan wees, omdat dit sowel ’n sinoniem vir wetlik kan wees as vir regmatig. Dit kan dus albei beteken, naamlik dat iets “volgens die bepalings van ’n wet” is, maar ook wyer strek en beteken dat iets “volgens die bepalings van die reg in die algemeen” is. ’n Mens moet maar kyk na die konteks waarin die woorde gebruik word as jy wil weet wat in ’n spesifieke geval bedoel word. En ja, slimmerd, as iets wettig is, is dit gewoonlik ook regmatig, maar nie noodwendig andersom nie.

wysiging – verandering, gewoonlik van ’n pleitstuk. Dit kan ook ’n verandering van ’n wet of ’n kontrak beteken, maar ek gebruik dit in hierdie boek net in die eersgenoemde sin.

Die Suid-Afrikaanse reg

Подняться наверх