Читать книгу Die Krag Van Middernag Gebed - Gabriel Agbo - Страница 9

Hoofstuk 6
Die Naam van Jesus

Оглавление

“Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam. Só sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig, en elke tong sal bely: ‘Jesus Christus is HERE!’ En só sal God die Vader verheerlik word!”

Filippense 2:9-11

“Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir ons wat glo. Dieselfde magtige sterkte was ook aan die werk toe God Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel aan Sy regterhand laat sit het. Nou is Christus hoog verhewe bo elke owerheid en gesag en krag en heerskappy, ja, elke noemenswaardige instansie, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom.” … “Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee.”

Efesiërs 1:19-21; 2:6

“Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo: Hulle sal duiwels in My Naam uitdryf, en hulle sal in nuwe tale praat. Hulle sal slange ongedeerd kan hanteer en as hulle iets giftig drink, sal dit hulle nie affekteer nie. Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.”

Markus 16:17-18

Die naam van Jesus is ʼn baie groot wapen in die hande van ʼn Christen, veral die gebedstryder. Dit is altyd dodelik vir die duiwel en die donker koninkryk wanneer dit deur ʼn gelowige, en selfs soms deur ongelowiges, genoem word. Die naam van Jesus maak die deure van die hemel oop en maak ook al die magte in die hemel, op die aarde, onder die aarde, en in die water onderdanig. Maar hoekom is dit so kragtig?

In die eerste plek, Jesus Christus is die Seun van God wie uit die hemel gekom het. Dit is ʼn baie eenvoudige bekendstelling van Jesus. Maar as jy die Skrif bestudeer, sal jy, sonder twyfel, by die onbetwiste feit uitkom dat Jesus God is. Hy is God, maar het in menslike vorm gekom. Vanaf die Ou Testament na die Nuwe, alles verwys na hierdie feit toe. Dus, as hierdie man God in die vlees was, waarom sou Hy (Sy naam) nie absolute gesag en invloed oor Sy skepping beveel nie? Vertel my.

In die tweede plek, voordat jy my beskuldig dat ek nie weet wat in my Bybel staan nie, Jesus het ook die hoogste gesag ‘verdien’ toe hy die prys vir sonde betaal het en uit die dood uit opgestaan het. Ek hoop jy het die verse aan die begin van die hoofstuk gelees? Hulle is selfverduidelikend. En dit is waarom ek nie veel kommentaar oor hulle lewer nie.

Jy kan die volgende skrifgedeeltes lees en jou eie gevolgtrekkings maak:

“Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig. En omdat julle één is met Christus deel julle in Sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag.”

Kolossense 2:9-10

“Die Seun (Christus) is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping, omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep. Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind.”

Kolossense 1:15

Wonderlik! Nou wat wil jy hê moet ek nou weer sê? As Christus hierdie aard en eienskappe het, hoe kan ʼn geskape wese (soos Satan en sy donker agente) ooit voor Hom staan? En dit is die dinge wat ons as Christene moet verstaan. Dat ons Verlosser, Jesus Christus, God is. Dat Hy alles in die ganse heelal geskep het en steeds beheer – of dit nou ʼn krag, owerhede, regeerders, owerhede, trone, heerskappye in die lug, in die water, op die aarde, op die berge, in die donker plekke, of in die dag en in die nag is.

So, wanneer jy Sy naam noem, hoor hierdie geskape wesens die naam van hulle Skepper en hulle het geen ander keuse as om te gehoorsaam, te buig, en om hulself aan Sy gesag te onderwerp nie. ʼn Skepping sal altyd onderhewig aan die skepper wees. Dit is eenvoudig!

Jesus het dit baie goed geweet dit is waarom Hy oor duiwels, siektes, die natuur, en situasies regeer het terwyl Hy nog op aarde was. En selfs op die punt van die dood moes Hy Homself gewillig oorhandig, want sterflinge kon Hom nie fisies in hegtenis neem nie, om nie eers te praat van Hom doodmaak nie. Kom ons kyk net die drama wat tydens sy inhegtenisneming plaasgevind het:

“Nadat Jesus dit gesê het, het Hy saam met Sy dissipels die Kedronspruit oorgesteek. Aan die oorkant was daar ’n tuin geleë. Hy en Sy dissipels het die tuin toe binnegegaan. Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook die plek geken omdat Jesus en Sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. Judas het op daardie oomblik die afdeling soldate en die wagte van die priesterhoofde en Fariseërs begelei en by die olyftuin aangekom met lanterns, fakkels en wapens.

“Jesus was egter deeglik bewus van alles wat oor Hom sou kom en het op Sy eie uit die groep na vore beweeg en vir hulle gesê: ‘Wie soek julle eintlik?’

“Hulle het Hom geantwoord: ‘Jesus van Nasaret.’

“‘Dit is Ek,’ antwoord Jesus. Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook daar tussen hulle rondgestaan. En toe Jesus vir hulle sê: ‘Dit is Ek!’ het hulle almal padgegee en op die grond neergeval. Jesus het Sy vraag aan hulle herhaal: ‘Wie soek julle eintlik?’

“‘Jesus van Nasaret,’ was hulle antwoord.

“Jesus se reaksie was: ‘Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is. As julle Mý dan soek, laat hierdie mense wat saam met My is, weggaan.’ Sodoende het die woord wat Hy vroeër uitgespreek het, waar geword: ‘Uit die mense wat U aan My toevertrou het, het niemand verlore gegaan nie.’

“Simon Petrus het ’n swaard by hom gedra. Hy trek toe sy swaard uit die skede, slaan daarmee na die slaaf van die hoofpriester, en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. Jesus sê toe dadelik vir Petrus: ‘Sit die swaard terug in sy skede. Sal Ek dan nie die beker drink wat die Vader aan My gegee het nie?’

Johannes 18:1-11

Sjoe! Jesus se inhegtenisneming was inderdaad ʼn drama. Daar is so baie om te leer uit hierdie skrifgedeelte. Ons het hierdie skrifgedeelte ingesluit sodat jy die gesag en karakter van Jesus terwyl Hy op aarde was kan waardeer. ʼn Bataljon van soldate met al hul wapens kon Hom nie in hegtenis neem nie. Toe Hy vir hulle gesê het: ‘Dit is Ek’, het hulle almal op die grond geval. Hy het Homself later vrywillig aan hulle oorhandig sodat Hy Sy goddelike sending om Sy lewe vir die mensdom te offer kon vervul. Anders sou dit onmoontlik gewees het vir mense om Hom dood te maak.

Ja, Hy was altyd in beheer van elke situasie. Dieselfde Jesus sê dat Hy vir ons daardie gesag gegee het in Sy naam om duiwels uit te dryf, Satan te weerstaan, die siekes gesond te maak, en om owerhede, magte en heersers van die duisternis aan te val. Die gelowige, veral die gebedstryder moet hierdie goed verstaan. Elke krag en elke situasie moet kniel wanneer die naam van Jesus genoem word.

Belydenis van ʼn voormalige okkult meester

Voordat ons verder gaan, kom ons kyk na ʼn belydenis van ʼn eenmalige kragtige en hooggeplaaste agent van Satan uit Nigerië – Evangelis E.O. Omoobajesu soos opgeteken in sy boek: ‘My Conversion’ (My Bekering). Dit sal ons help om die krag wat ons in die Naam van Jesus het te waardeer:

“Ek onthou ʼn vergadering van die kultusse wat by die Lagos Bar Beach gehou was. Al die hooggeplaaste okkultiste in Nigerië was teenwoordig en onder ons lede was ʼn paar van die tradisionele leiers van regoor die land. So, uit elke deel van die land het ons by die see bymekaargekom, geklee in demoniese regalia terwyl ons bose magte ons onsigbaar gemaak het. Ons was net besig om op die strand te sit om die vergadering te begin toe ʼn man gekom het om op die strand te bid. Alhoewel ons onsigbaar vir hom was, kon ons almal hom duidelik sien. Onwetend, het hy begin om op van die lede op die sand te trap.

“Ons was almal woedend en ʼn persoon in ons vergadering was beveel om hom te gaan uitsorteer. Hy het onmiddellik gegaan en die man ʼn harde klap gegee. Die man het begin duiselig voel. Toe hy besef het wat aangaan het hy hardop geskree. Hy het J-E-S-U-S geskree! Die eggo van sy stem het deur die stilte van die nag gebreek.

“Wat het gebeur? Onmiddellik [na] die naam van Jesus genoem was het ʼn straal van lig uit die man se mond gekom en in die hemele verdwyn. Ons het almal gaan sit om te sien wat volgende sou gebeur. Na ʼn paar oomblikke het die lig weer verskyn en was op pad terug aarde toe. Die lig het in die middel van die lug ontplof en in verskeie dele verdeel, maar dit was steeds direk na ons toe op pad. Hierdie lig het ons vergadering op die strand omring en het die hele omgewing baie helder verlig.

“Toe ons die lig beter bekyk het, het ons gesien dit was vergesel deur alle vorme [soorte] van wapens, waens van vuur en gevleuelde wesens, en al hierdie was besig om verwoed na ons toe te hardloop. Ons moes almal vlug; almal het weggehardloop, terwyl die strydwaens elkeen van ons huis toe gejaag het. Al hierdie [dinge] het in ʼn oogwink plaasgevind.”

(Losweg vertaal)

Dit is kragtig! My God is groot! Dit is ʼn ware belydenis van ʼn eenmalige kragtige en gevreesde agent van Satan. Dit is baie moontlik dat daardie gebedstryder (Christen) wat die naam van Jesus geskree het nie geweet het nie, en dalk nooit sal weet, wat daardie nag gebeur het nie; die oorlog wat die hemel namens hom verklaar het. Al wat hy sou sê is dat Jesus hom van ʼn aanval van die vyand by die Bar Beach gered het. Maar die Sataniste het alles duidelik gesien. Dit is presies wat gebeur elke keer as ons die naam van Jesus noem in ons stryd teen die koninkryk van duisternis. Hulle hardloop vir veiligheid. Hulle hardloop in verwarring en totale wanorde.

Alle magte, owerhede, en regeerders van duisternis buig en kniel wanneer die naam van Jesus genoem word. Hulle gehoorsaam wanneer Sy naam genoem word, want Hy het hulle by die kruis verower en verlaag. Christene, insluitende die middernag krygers, moet begin om die krag wat in die Naam van Jesus is te waardeer en eien.

Emmanuel Eni vertel ook hoe die Naam van Jesus Satan van sy stoel laat af val het by een van hul vergaderings in die water wêreld:

“Op ʼn dag het ʼn meisie met die naam NINA na my toe gekom. NINA, wie se ouers van die Anambra staat was, was ʼn baie mooi jong meisie, maar het meestal in die see gewoon, in die onderwater geesteswêreld. Sy was ʼn vurige agent van die koningin van die kus (godin van die see) en was baie boos. Sy het die Christene gehaat en het alles in haar mag gedoen om Christenskap te veg. Ek het haar vir die eerste keer tydens ʼn besoek aan die see ontmoet. NINA was daar met ʼn opdrag van die koningin van die kus.

“Ons het dadelik vertrek en toe ons daar aankom het ek geleer dat ons vergadering met Lucifer was. Satan het vir ons die volgende instruksies in die vergadering gegee: Om teen die gelowiges te veg en nie die ongelowiges nie omdat die ongelowiges reeds syne was. Toe hy dit gesê het, het een van ons gevra: ‘Hoekom’. Hy het gesê omdat dat God hom uit ‘daardie plek’ gegooi het, (hy het geweier om die woord ‘hemel’ te gebruik en vir die res van ons vergaderings met hom het hy nooit melding gemaak van die woord ‘hemel’ nie), en daarom was die visie dat geen Christen daarheen moes gaan nie. Hy het altyd woorde soos ‘daardie plek’ gebruik, as gevolg van trots.

“Hy het ook vir ons gesê dat ons nie teen die skynheiliges moes veg nie. ‘Hulle is soos ek’ het hy gesê. Hy het voortgegaan met sy toespraak en het gesê dat sy tyd naby was; daarom moes ons soos nog nooit tevore veg en seker maak dat niemand by ‘daardie plek’ in gaan nie! Een van ons het vir hom gesê: ‘Ons het gehoor dat God iemand gestuur het om die mensdom te red.’ Satan het gevra: ‘Wie is dit?’ Een lid het geantwoord: ‘Jesus!’ En tot ons verbasing het Lucifer van sy stoel af geval. Hy het op die man geskree en hom gewaarsku om nooit daardie naam in enige van ons vergaderings te noem nie, veral as hy sy lewe lief het. Dit is waar dat elke knie voor die naam van Jesus moet buig (Fil. 2:10), Satan ingesluit.”

(Losweg vertaal)

Die woord van God is waar! Elke knie, Satan ingesluit, moet buig voor die naam van Jesus. Wat anders wil jy hoor? Sy naam maak ook die deure van die hemel en seëninge vir ons oop. Dit was waarom Jesus gesê het dat enigiets wat jy in Sy naam vra sal aan jou gegee word. Dit is die sleutel om God se hart, Sy genade en skatte oop te sluit. Dit sluit ook die hekke van die hel, maar maak die hemel vir ons oop. Kom ons gaan oor na die bloed van Jesus en meer getuienisse.

Die Krag Van Middernag Gebed

Подняться наверх