Читать книгу Kelder - Gerda Taljaard - Страница 5

hoofstuk 1: geboorte

Оглавление

Sus

Sy sak af in die muwwe duisternis wat ruik na rotmis en aartappels en sluit die valdeurtjie bokant haar. Bang is sy nie, al het Floors vertel die duiwel en sy trawante hou hier; dat hy al ’n gelag onder die eetkamervloer gehoor het.

Die donkerte vou soos lanfer om haar. Dis nie vir haar nodig om die flitslig saam te bring nie. Haar lyf ken die pad oor stapels tydskrifte en kratte en bokse. Die harigheid op haar arms lei haar verby ’n lendelam paspop, tussen bondels ou gordyne en klere en diervelle en lampskerms deur. Sy voel-voel na die opgestopte diere­koppe, gebreekte armstoel en ingesakte bank, gaan sit teen die koel muur en knip die bruin skooltassie oop. Dadelik ruik sy dit.

Dis lank nie meer die reuk van verrotting nie, maar ’n soet, mosserige soort reuk soos van putwater of swamme. Die klam ruik van grond en blare onder herfsbome, dié van ’n ganshok of komposhoop. Sy kan die fyn piep van rotte hoor. Hulle is gewoond aan haar besoeke, haar stiltes en sugte en muskusreuk wat net hulle kan ruik. Soms skarrel hulle oor haar bene, kan sy die ligte aanra­king van snorbaarde voel. Die vlooie wat op hulle teer, kom byt haar ook.

Sus laat haar kop teen die poeierige muur rus, krap ’n bytplek en sit ’n bietjie spoeg daarop. Die klam donkerte beskut haar. Die stemme in haar kop raak stil.

Sy voel na die inhoud van die koffertjie. Soms vat sy dadelik die skedeltjie raak, maar sy verkies om eers die ander bekende dinge van haar kindertyd aan te raak – haar opgevoude springtou, kewpiepop, hoedjie, opwenpop. Partykeer, wanneer sy seker is niemand anders is in die huis nie, draai sy die sleutel van die ballerinapoppie. Al kan sy nie die kleur van die pop se wye rok in die donker uitmaak nie, weet sy dis blou porselein met wit kant oorgetrek.

Mary had a little lamb, little lamb, klink die deuntjie. “His fleece was white as snow,” sing Sus sag, net vir die rotte se ore bedoel. Die pop draai in die rondte, om en om op haar een voet, haar kop gekantel. Die pop pirouette, het haar ma haar geleer. Eers vinnig, dan stadiger, tot sy vashaak en die wysie wegsterf. Asof die mure dit insluk.

Sus vat die kopbeentjie in albei hande, laat haar vingers deur die holtes voel. Die klein spleetjies waar die neus was, oogkasse, oorholtes. Sy probeer onthou hoe sy gelyk het. Sy was volmaak gevorm, want Sus het haar die volle tyd gedra. Sy herinner haar die effense wipneus, oorskulpe nes gedroogde appelkose, vol lippies en donker donsveerhaartjies. Maar haar oë – dié het sy nooit gesien nie.

Wanneer sy haar vingers oor die fyn ribbebene laat gly, kan sy die roerende ribbekassie onthou. Klein hoenderkarkas met mens­vel oorgetrek. Die dag toe die kind in die perdestal gekom het, het sy haar ooglede gesoen en die naelstring met haar papierskêrtjie geknip. Sy het die boeke uit haar kartontassie geskud en die bloe­derige slap lyfie daarin gedruk. Die skoolboeke het sy onder die strooi ingeskop, haar kladboek en kuns-en-vlytboek, sommeboek en verseboek. Die tas het sy hier in die kelder onder die bank kom bêre.

Daardie nag kon sy sweer sy hoor die dingetjie kerm. Soos ’n boklam het dit geblêr, sodat sy die melk in haar kon voel kom. Sy was bang dat die ander van die gehuil sou wakker word, maar toe het dit opgehou. Twee dae later toe almal uit was, het sy gaan kyk.

Die lyfie het stil en koud en hard geword, die melk in haar borste het opgedroog.

Dit was Sus se tweede kind.

Esmeralda

Wie is die meisie wat snags agter my in die spieël verskyn? Wat bedees in die deur staan wanneer ek omkyk? Met gekartelde bruin hare, grysgroen oë en ’n treurige mond. Geklee in ’n wit bloesie met opslaankraag, wye geruite vuilpienk romp en plat skoene. Eers was die meisie se beeld onduidelik en het ek net ’n vinnige skaduwee agter die halfoop deur gewaar of haar oë op my gevoel. Partykeer slegs haar reuk gekry – rooswater gemeng met iets wat ek aanvanklik nie kon plaas nie. Maar toe ek saam met my vrien­dinne by die melkery buite die stad gaan koffie drink het, het ek besef: ’n bokreuk. ’n Wilde, soeterige mufreuk. Iets tussen gras en muskejaatkat.

Toe het my kop die besonderhede begin invul: die hoë voorkop, gevlekte tande wanneer sy verleë glimlag, die effens geboë skouers, lang nek en skerp ken. En daardie half patetiese houding. Die eer­ste keer het ek die meisie se gesig en rankerige lyf geïrriteerd met ’n glas whisky uit my gedagtes probeer kry. Toe met nog een. En toe dit nie werk nie, nog een. Maar hoe meer ek van die ingetoë meisie met die hangskouers wou ontslae raak, hoe helderder het haar beeld geraak.

Wanneer ek saans uiteindelik gaan lê, groei die meisie voor my aan. Eers as haasbek kind met boksterte, dan as inkennige jong­meisie met punttieties. Eindelik as jongvrou met die droewe mond en frons tussen die oë. Ek voel die groen oë op my en hoor haar asemhaling deur die kamer. Selfs een nag haar hees laggie gehoor, sodat ek die donskombers van my afgesmyt en die bedlampie aangeknip het. “Wat wil jy van my hê, jou klein trens?”

Die meisie het ingedagte met haar rug teen die kamermuur gestaan en haar aan alles in my slaapkamer verkyk. Die koper­kleurige gordyne met tossels, die Victoriaanse hangkaste, Art Deco-spieëlkas, dranktafeltjie met kristalkraffie, die rooi Persiese tapyt. En my sleebed met geborduurde wit linne waarop my skotties lê en slaap het.

Die meisie het haar wenkbroue effens gelig en toe vir die eerste keer reguit na my gekyk. “My naam is Sus,” het sy eenvoudig gesê. Toe het sy singend met swaaiende heupe by die deur uit verdwyn, haar skaduwee ’n oomblik nog uitgerek en donker oor die drumpel. “O, die kindergesiggies soos die sterre se liggies.” Die hoë stem met ’n effense vibrato in my kop. Die een of ander stokou hallelujaliedjie waarvan ek al vergeet het. “Al die pêrels, fraaie pêrels vir Jesus se kroon.”

My lyf het koud geword, my arms hoendervleis. My voete het oor die houtvloer na die spieëlkas beweeg. Ek het my notaboek uitgehaal, ongeduldig na ’n pen gesoek; ’n klomp goed uit die laai gesmyt, handskoene en sykouse en lekkergoedpapiere. Oplaas die laai omgekeer en ’n pen tussen ’n bondel serpe gekry. My linkerhand het sy weg na die onderste laai met die boks sjokolade gevind. Ek het drie gelyktydig in my mond gestop. Maar niks geproe nie.

Ek kon die pen oor die bladsy hoor skarrel, asof dit vanself skryf: Hoofkarakter: Sus. Ontwykende oë, skaam glimlag. Growwe beenstruktuur. Reuk van ’n bok. Donker geheim. Streng pa, sterwende ma. Milieu: bergplaas, vervalle plaashuis, rivier, begraafplaas, kelder. Ek het voor die spieëlkas neergesak en daar het ek amper die hele nag in ’n bondel bly lê. Here, is ek dan aan die mal word? Net so stapelgek soos my seun Benjamin altyd sê ek is?

Toe ek uiteindelik aan die slaap raak, het Sus uit my geskeur. Eers was dit vae geboortepyne wat gekom en gegaan het, toe fel pyn. Ek het uitgeroep en voor my het Sus in haar volle gestalte in ’n plaaskombuis gestaan: haar wange rooi van die hitte, rok by haar broekie ingedruk. Kaalvoet. Besig om in die koolstoof te karring. Dan weer in ’n buitekamer êrens op die verwaarloosde werf waar sy ’n stuk boerseep vir die beneukte wasmasjien rasper. Of op die voorstoep aan ’t fisante pluk, bloed aan haar voorskoot.

Benjamin

’n Donkerte het oor ons huis gekom. In die aande wanneer my keeshond by my kom lê, kan ek dit voel. Iets wat soos onweer oor ons dak hang, wat deur die mure sypel en oor die vloer kruip. Ek hoor dit in die stilte. In die kraakgeluide van die huis. Die houttrap wat onverklaarbaar knars, die dakbalke se gekreun en die waterpype se gerammel.

Vroegoggend wanneer ek gaan koffie soek, sit my ma met haar skotties by die kombuistafel. Dan kan ek sien dat iets in haar padgegee het. Wanhoop klou soos klitsgras aan haar. Sy praat nie, maar ek kan sien hoe die gedagtes deur haar kop trek.

Ek droom gedurig van haar. Hoe sy met ’n bos sleutels van die een vertrek na die volgende stap. Die een deur ná die ander oopsluit. ’n Kamer in ’n kamer in ’n kamer. Ek kan haar hoëhakskoene oor die vloer hoor, die geklik-klak deur die leë vertrekke soos sy van deur tot deur beweeg. Ek hoor sleutels wat klingel, deure wat agter haar klap. Dit lyk nie soos my ma nie, tog is dit sy. ’n Jong, skraal vrou in ’n plooirok wat regop en flink beweeg. Die huis is ook nie vir my bekend nie, maar ek kry die gevoel dat ek al daar was. Op langelaas sluit sy die laaste deur oop. Wanneer die deur oopswaai, is die vertrek gevul met ’n verblindende wit lig, sodat sy terugsteier en haar hande voor haar gesig druk.

Keer op keer word ek wakker met my hart in my keel.

Kelder

Подняться наверх