Читать книгу Kelder - Gerda Taljaard - Страница 7

hoofstuk 3: pennevrug

Оглавление

Esmeralda

Sus se storie het na my gekom toe Benjamin een middag aan die kombuistafel uit ’n Engelse koerant voorgelees het. Ek het deeg vir Skotse broskoek uitgerol, want ek gaan altyd aan die bak as ek nie kan skryf nie, dan kom die tonele en karakters en intriges by my op terwyl ek eiervla roer of filodeeg met botter smeer of eierwitte klop. As dit nie werk nie, gaan ek net daar op die kombuisvloer op my knieë en bid met my besmeerde voorskoot aan vir uitkoms. Wat ek inderdaad die vorige week gedoen het toe selfs ’n omslagtige Griekse melktertresep nie ’n storie uit my kon kry nie.

“Ag, Here,” het ek gekerm, “ek word deur ’n vreeslike woorddroogte geknel.” Buite kon ek duiwe hoor. “My uitgewer begin ongeduldig raak. As ek nie nóú iets skryf nie, gaan hulle my kontrak kanselleer en iemand anders kry om twee boeke ’n jaar op te dis.” Veraf kon ek Letta Mpya hoor sing terwyl sy buite wasgoed opgehang het. ’n Bittersoet, nootvaste stem: “Vela Vela.”

“Ek weet ek’s net ’n prulskrywer wat teer op die sondes van die vlees, maar, Here,” het ek gesmeek, “ek verskaf broodnodige afleiding in my lesers se onopwindende lewens.” Ek het Letta se voetstappe op die agterstoep gehoor, nou het sy ’n wiegelied geneurie terwyl sy die stoepteëls met die tuinslang afspuit. “Ontvlugting na plekke waar hulle andersins nooit sal kom nie, waar ook hulle vir ’n paar bladsye lank beeldskoon en verleidelik kan wees,” het ek myself probeer regverdig.

“It’s a dirty job, but somebody’s got to do it,” het ek my gebed afgesluit, en toe haastig bygevoeg: “Vergewe my, asseblief, Here, vir al die vroue wat ek oor die jare in die versoeking gestel het, wat ek tot owerspel genoop het …Wees my tog genadig.”

En Hy was genadig. Op sy manier. Hy het natuurlik ook sy tyd gevat en gewag vir die seldsame geleentheid dat ek en Benjamin een Saterdag saam in die kombuis is. Benjamin met sy voete uitgestrek op die kombuistafel aan ’t koerant lees. Ek by die kombuistoonbank besig met ’n koekiedrukker en ’n onwillige stuk deeg.

“Het Ma gehoor van die geraamtes wat hulle op ’n plaas in Magoebaskloof gekry het? Jissis, dis grusaam.”

Toe al het daar ’n vreemde lamheid oor my gekom, ’n kilte oor my ruggraat. Ek het oor sy skouer na die koerant gekyk. Daar was ’n foto van ’n tandelose skedeltjie. My kopvel het gekriewel en in my het iets donkers losgekom. Soos slik wat stadig na die oppervlak dryf wanneer ’n waterdier onder op ’n rivierbodem roer. Benjamin het ’n sluk van sy koffie gevat en gelees.

Die huidige eienaars het die eerste skelet ontdek toe hulle kind se speelding in ’n ou put beland het. Dit was die geraamte van ’n pasgebore kind. In ’n verroeste sinkemmer wat op die putbodem gelê het. Toe het ’n plaaswerker op ’n halfverkoolde kopbeen tussen bourommel afgekom. Ook dié van ’n kind. Die eienaars het die polisie laat kom wat hulle forensiese span en honde-eenheid uitgestuur het. Die polisie het nog twee geraamtes ’n hele ent van die plaaswerf in ’n droë rivierbedding ontdek. ’n Vyfde lykie is in ’n vlei gekry – byna perfek bewaar. Daar is bevind dat van die babas al ongeveer vyftig jaar gelede vermoor is. Die skelet in die put was selfs ouer.

“Vermoor?” het ek geskok gevra, “hoe weet hulle die kinders is vermoor? Miskien is hulle net doodgebore.”

Benjamin het aan sy beskuit gehap, gekou terwyl hy praat. “Daar was ’n spyker in een van die skedels en die nekwerwels van ’n ander skelet is vergruis.”

Ek het duiselig gevoel en ’n galsterigheid het in my keel gebrand.

“En as hulle nie vermoor is nie, sou hulle mos ordentlike grafte gehad het. Dis net ’n moordenaar wat sy slagoffers so sonder sere­monie sal dump,” het hy gesê.

Die geslag van al die geraamtes kan nog nie bepaal word nie, sulke toetse kan maande neem, het hy verder gelees. Terwyl hy lees, het Sus voor my verskyn. Eers vaag, net die buitelyne van ’n jong vrou. Toe al hoe duideliker.

Sus

Uiteindelik het die skurwe kombers haar daar op oom Jasper se agterstoepie warm gemaak. Sy het gewonder wat Dina toe daardie dag gedoen het met die varkentjie wat uit haar ma gekom het. Sou sy dit saam met aartappelskille in ’n toegevoude koerant weggegooi het, begrawe het? Miskien in die vuur gegooi het?

Sus het aan die slaap geraak. Sy het gedroom van die kind in haar. Van ’n ontkiemende boontjie wat opgekrul in haar skoot lê, wie se hartjie soos ’n toktokkie klop. Wat haar duim suig en suig, terwyl dit rooi om haar skyn.

Toe het Sus haarself in haar ma se rooi crêperok sien dans, ’n hibiskusblom wat onderstebo om en om op donker water dryf. Vinniger en vinniger het sy op die dansvloer onder kerslig gedraai, met die rok wat soos kreukelpapier om haar klok. “Mary had a little lamb, little lamb …” Maar die syerige rokstof het vlam gevat, vuur­tongetjies het aan haar begin lek en hoër en hoër teen haar lyf geskroei. So vinnig het sy getol dat sy haar balans verloor het en toe het sy geval en geval.

Sy het wakker geword van stemme en van haar lyf wat gloei. Dit was al skemer in die stoepkamer. Haar kussing was nat gekwyl. Langs haar op die matras het oom Jasper se boerboel steunend geslaap.

Ant Hildegard se stem uit die kombuis was hoog, half histeries. “Sy het my soos ’n hond weggejaag, Jasper. En nou wil jy hê ek moet haar invat terwyl sy só is, terwyl ek skaars genoeg kos het vir die vier van ons. Die mense gaan praat. Ongetroud en boonop nog self ’n kind.” Sus kon warm olie ruik, iets wat sissend braai. Iemand het haastig op ’n snybord gekap-kap.

“Dis Irma se dogter.” Dis al wat oom Jasper gesê het, daarna het ant Hildegard haar mond gehou.

Sus het bewus geraak van iemand in die kamer, iemand wat na haar kyk. Sy kon die figuur van ’n meisie teen die sifdeur uitmaak, toe ’n gegiggel hoor. “Is jy wakker?” het ’n stem gevra. Iemand het die stoeplig aangeknip. Sus het haar oë teen die lig van die kaal gloeilamp geknyp.

Haar niggies het by haar op die matras kom sit. Ella en Inge. Hulle het soeterig geruik, na lekkergoed en haarsproei. Albei se kake het beweeg soos hulle aan iets kou. Ella het ’n bruin papiersak onder haar jas uitgehaal. “Drop hê?” het sy gevra. Sy was die oudste van die twee, lank en puisierig. Sus het haar hand in die kardoes gesteek en die souterige lekkergoed op haar tong gesit.

“Hou jy van Matty O’Neil se musiek?” het Inge gevra. “Don’t sell Daddy any more whiskey,” het sy met ’n oordrewe Amerikaanse drawl gesing. Sy en Ella het uitgebars van die lag en aan mekaar geklou.

Sus het haar kop geskud. Nee, sy’t nog nooit van Matty O’Neil gehoor nie. “En wat van Nat King Cole?” wou Ella weet. “Hy sing nogals mooi vir ’n kaffer.”

“Is hy dan swart?” het Sus verskrik gevra. Ella en Inge het geskud soos hulle skater.

Ella het haar neus platgedruk en met ’n diep stem gesing: “Stay as sweet as you are …” Inge het geknipmes van die lag. Ella het op die vloer rondgekruip van lekkerkry. Die boerboel het geblaf en sy stompie geswaai.

“Ek hou van Elvis,” het Sus gesê. Haar niggies het haar aangegaap met iets tussen skok en bewondering.

“Elvis?” Hulle het nader aan Sus geskuif. Sy was skielik vir hulle iets aanlokliks, maar ook gevaarlik.

Sus het geknik. “Hy’t ’n goeie stem en hy dans fantasties.”

“Mag jy dan na hom luister?” het hulle gelyk gevra.

“Natuurlik, hoekom nie?” het Sus ongeërg geantwoord. Sy het nie vertel dat sy skelm in Kaptein se kamertjie op sy draadloos na Elvis Presley geluister het nie. Dat hy haar vertel het van hierdie wit mannetjie wat nes ’n kaffer kan dans.

“Maar hy maak sulke … stoute bewegings met sy heupe,” het Ella gefluister. “My ma sê dis sonde.”

“Juis,” het Sus gesê en haar niggies het met hulle gesigte in die kombers gegiggel, hulle oë blink.

Inge het aan Sus se hare gevat, versigtig, asof dit iets waardevols was. “Jy het mooi hare, so dig en glad.”

Ella het met die agterkant van haar koel hand aan Sus se wang geraak. “En jou vel …” Sus het haar kop weggedraai en haar oë selfbewus toegemaak. “Kyk haar vel, Ingeborg, amper deurskynend.”

Haar niggies het soos slingerplante om haar gedraai, hulle vin­gers na haar uitgestrek. Asof hulle iets van haar wou vat, ’n oorskulp of haarlok of kleintoontjie wou afknyp. “Is dit waar dat jy verwagtend is, Sus?” het Inge toe gevra.

“Ingeborg!” Ella was omgekrap. “Mutti het gesê ons mag nie …”

“Dis oukei,” het Sus gesug. “Dit is so.”

Inge het haar gesig byna teenaan Sus s’n gehou. Sus kon haar soet warm asem ruik. “Hoe is dit om by ’n man te slaap, Sus … maak dit seer?”

Sus het aan haar pa gedink, hom gesien terwyl hy rooi oor haar buk met die reuk van sweet en Springboktabak. Sy wou nie aan hom dink nie. Sy het haar oë toegeknyp tot sy hom nie meer kon sien nie. Haar niggies het na haar gekyk, Ella met haar lang bene onder haar ingevou, Inge op haar sy, hulle gesigte onseker.

“Het jy ’n mooi kêrel, hè, Sus? Is hy lief vir jou?” het Ella gevra. Sus se keel het dik geword. Sy het die kind voel beweeg.

“Voel hier,” het sy gefluister en Inge en Ella se hande op haar maag gelê. Hulle het hulle asem opgehou en haar met groot oë aangekyk.

“Ma sê jy gaan jou kleintjie laat aanneem, is dit so, Sus?”

Sy het geknik.

Esmeralda

Benjamin se stem het van ver af na my gekom: “Dis verstommend dat sulke broos skeletjies so lank bewaar kon bly, maar hulle sê dis die kalkerige grond en ideale klimaatsomstandighede in daardie vallei wat dit so behou het.”

Ek het my probeer voorstel hoe die persoon wat tot sulke dade in staat is, sou lyk. ’n Vrou. Baie jonk, eintlik nog ’n meisie. Blank. Agterlik. Ongetroud en ongeletterd. Maar slim genoeg om geslepe te wees. Ook onaansienlik. En op ’n vreemde manier tog aantreklik. Ek het die meisie op ’n plaaswerf sien staan. Ingedagte voor ’n kafhoop, groottoon borend in die grond. Wyerandhoed op die kop. Agter die hooimied, ’n verwaarloosde opstal met ’n ruim stoep waarop hoenders en boerbokke skuiling soek teen die middagson. Uitgerafelde rottangstoele onder ’n katôbaprieel. Agter die huis, ’n laning bloekombome en ’n klipmuur. ’n Afgeleefde Massey Ferguson waarin hoenders broei.

En die wind wat aanhoudend waai, oor alles waai. Oor die varkhokke. Die ganskampie en ’n modderige dam. ’n Agterkamer waarin ’n man ’n trompie speel. Die begraafplasie langs die grondpad. Dit was asof ek al daar was, asof ek die reuk van die varkhok en hooimied en bloekombos en raserige ganse kon onthou. Maar ek het die beeld van die meisie en plaaswerf probeer afskud, my aandag weer by die broskoekresep bepaal. Meel oor die koekroller gevryf.

Want, hemel tog, die hoofkarakters in my boeke lyk allesbehalwe só. Hulle is blond en lenig en bruingebrand. Met selfvertroue, intelligensie, fyn neuse en vol borste. Soms het hulle ’n imperfeksietjie soos ’n skewe glimlag of wipneus en sproete, ’n moesie in die nek of gleufie tussen die tande – maar dit maak hulle net nog aantrekliker en natuurlik onweerstaanbaar vir die jagse helde in my boeke.

Die vroue in my romans is mediese dokters en regsgeleerdes en rekenmeesters. Soms onderwyseresse, maar dit raak minder gewild. My lesers verkies deesdae heldinne wat groot geld verdien en in weelde woon, al is die meerderheid van Feniks-boeke se lesersmark waarskynlik huisvrouens, kelnerinne, verpleegsters, ontvangsdames, sekretaresses, winkelassistente of staatsamptenare.

Nee, Esmeralda Hamman, jou kop raas, het ek gedink en die koekroller vinniger oor die oorblywende stukkie deeg gerits. Vergeet daarvan, jy moet maar elders vir inspirasie gaan soek. Mense wil nie lees van swaarkry en armoede en agterlike vroumense nie. Hulle wil hyg.

Maar dit was te laat, die idee was reeds verwek. Ek het my daardie Saterdagmiddag laat beswanger deur die storie van Sus Niemand. Al het ek op daardie stadium nog nie geweet dis hoe die meisie sal heet nie. Ek het nie gekies om oor Sus te skryf nie, Sus het my gekies.

En in my sou die verhaal soos ’n kind groei. Ek sou dit in my dra, maande lank. Uiteindelik stuk-stuk daaraan geboorte gee. Pynlik en onwillig. My miserabele pennevrug. Want as ’n storie eers by my gevat het, het ek geweet, het ek nie meer ’n keuse nie, dan moet dit tot wasdom kom. Dit moet uit soos ’n kind, al maak dit my vrek.

Dis tog waarvoor ek gevra het, vir ’n storie. Was ek maar net meer spesifiek en minder onverskillig met my gebede. Want inderdaad, die Here het ’n rare sin vir humor.

Sus

Die volgende dag het Sus haar eerste vollengtekleurprent saam met haar niggies in die Capitol-teater gaan kyk, in technicolor, soos haar niggies verduidelik het. Ella het komplimentêre kaartjies gekry omdat sy vakansies by die bioskoop gewerk het. Hulle het Moby Dick met Gregory Peck en Orson Welles gaan sien. Eers moes hulle “God save the Queen” sing, nogal staande. Maar haar niggies het nie saamgesing nie. Hulle het kougom gekou en nou en dan ’n borrel geblaas.

Van die prent kon Sus nie veel verstaan nie, maar sy was nogtans bang vir Captain Ahab met sy been wat van ’n walviskakebeen gemaak is. Wat God uitgedaag het, en tot elke prys wou wraak neem op die wit walvis wat hom sy been gekos het. Toe die walvisvangers hulle harpoene in die walvisse gooi, het Sus se maag gekramp en die kind in haar eenkant toe gepluk, veral toe die see rooi word van walvisbloed.

Die mans het die dik walvisvelle uitgekook vir lampolie. Dit was hulle plig teenoor God en die mensdom, so het hulle gesê. Sus het gewonder of God regtig wou hê dat hierdie diere, so groot en mooi soos kerke, lampolie moes word. Sy het baie stil langs haar niggies gesit en aan die kind as ’n walvissie gedink wat in haar vrugwater swem. In die donker van die teater kon sy sweer sy sien die bult van ’n vinnetjie onder haar rok. Sy was verlig toe Moby Dick die walvisjagters se skip verpletter.

Sus en haar niggies het op die bus teruggery huis toe. Ella en Inge het weerskante van haar gesit en haar hande vasgehou. “Ons is bly jy’t kom kuier, Sus,” het hulle gesê, hulle koppe op haar skouers.

“Wat is pienk en verkreukel en lê op die bodem van die see?” het Ella skielik gevra, sy kon skaars haar lag hou.

Sus het haar kop geskud.

“Moby’s dick!” het Ella geskree. Sy en Inge het dubbeld gevou van die lag, maar Sus het nie geweet wat ’n dick is nie. Vir haar was dit net ’n naam. Toe hulle dit proesend aan haar verduidelik, het sy gebloos en gewens alle tottermans wil pienk en verskrompel op die seebodem gaan lê. Toe sy dit vir haar niggies sê, het hulle so hard gelag dat ’n ou tannie met ’n groen pildooshoedjie kwaai omgekyk het.

“Dink net,” het Ella gesê, “dan het inkvisse altyd iets om aan te peusel, hermietkrappe ’n rekbare woning en slakke nuwe maats.” Inge en Ella het gehuil van die lag. “Uiteindelik het peesters ’n edeler doel!”

Die tannie met die hoedjie het heeltemal in haar sitplek omgedraai. “Kring van die spotters,” het sy gesis. “Julle kan julle skaam …” Eers toe die kondukteur hulle kaartjies kom knip, het hulle bedaar.

Ella het gesê sy wil eendag ’n filmmaker word, of ’n radioomroeper. Sy het vertel dat sy al by die SAUK se klanknabootsing­ateljee in Johannesburg was, waar hulle klanke vir radioverhale opneem. Sound effects, het sy dit genoem.

“Was jy al in Johannesburg?” het Sus gevra, sy kon haar ore nie glo nie.

“Ag, al baie.” Ella het die busklokkie gelui. Hulle het op die hoek van Proesstraat afgeklim, in Bosmanstraat afgedraai. “Die klank van weerlig word met sinkplate nageboots, ’n naai­masjienenjin moet klink soos ’n vliegtuig en klapperdoppe word gebruik om die galop van perdepote na te maak,” het sy beduie.

“En julle sal my nie glo nie, die geluid van die wind én ’n gras­snyer word met ’n eierklitser gedoen!” Ella en Inge wou hulle al weer slap lag.

Hulle het sigarette by ’n kafee gekoop en agter die slaghuis gaan rook. Sus kon die bloederige reuk van karkasse en gestolde vet ruik. “Ciggy?” het Ella gevra. Sus het haar kop geskud. “Wat gaan jy eendag word as jy groot is, Sus?”

Jessica, ek gaan Jessica word, wou sy antwoord, maar sy het haar skouers opgetrek. “Ek weet nie.”

“Ek gaan ’n sirkusnooientjie word,” het Inge dromerig gesê, rook het uit haar neus en mond gekom. “Dan skiet hulle my uit ’n kanon: ‘Kapow!’ ‘Ladies and gentlemen, the human bullet!’ Of ek doen toertjies op ’n ponie, of swaai aan my bene, hoog bokant die mense se koppe, dan sien almal my broekie …”

’n Man in ’n roomkleurige Morris het naby hulle stilgehou en sy venster afgedraai. Sy elmboog het uitgehang, sy wange harig en kuif olierig. “Looking for a ride, ladies?”

“Get lost, grandpa!” het Ella gegil en haar sigaret tot in die straat geskiet. “Orige ou man.”

Sus kon nie verstaan hoekom Ella en Inge nie saam met die man wou ry nie, hy was dan so gemanierd. Hulle het bymekaar ingehaak, vinnig geloop en gesing: “I got a woman with plenty of money, she’s got the money and I got the ho-honey …” Sus het haar niggies bewonder wat so goed kon Engels praat.

Inge het ’n iris langs die pad gepluk, die klewerige pers blare oopgedruk en daaraan geruik. “Ella het ’n kêrel,” het sy verma­kerig gesê, stuifmeel op haar neus. Ella het rooi geword. “Sy naam is Blertsie, nè, El?”

“Sy naam is Bertie en hy’s g’n my kêrel nie.” Ella het die blom by Inge gegryp en die vlesige blare afgeruk. “Hy kuier by Pa, nie by my nie.”

“Blertsie is ’n square en hy lyk soos Tromp van Diggelen,” het Inge aanhou koggel.

Ella het die vernielde iris oor haar skouer gesmyt. “Sjarrap, Inge …”

“Ék sal my nie deur ’n square laat vry nie, mý boytjie sal ’n ducktail wees …”

Sus het saam met Inge gelag, al het sy nie mooi geweet wat ’n square of ’n ducktail is nie.

“Ma sal jou vrekmaak as jy met ’n gomgat by die huis aankom, Inge!” het Ella geskree. Die twee susters het resies gehardloop tot by hulle huis, en skaterend in die kweek voor die tuinhekkie geval.

Esmeralda

Benjamin het sy leë koffiebeker op die kombuistafel neergesit. “Twee van die geraamtes het ’n afwyking,” het hy uit die koerant voorgelees. “Een het net ’n gat waar die neusopeninge moes wees en die ander skelet het misvormde armpies.”

Bloedskande, het ek gedink, het ek gewéét. Dis die enigste rede waarom ’n vrou iets so verskrikliks sou doen.

Ek het agter Benjamin gaan staan, hy het die koerant omge­blaai. Toe sien ek dit. Die foto van die kind wat hulle in die moeras ontdek het. ’n Dogtertjie. My keel het toegetrek. Die kind was amper ongeskonde, asof sy maar die vorige dag in die vlei laat sak is. Daar het geelbruin lap aan haar lyfie gekleef, wat die oorblyfsels van ’n rokkie en broekie moes wees. In haar rooi hare was ’n lint. Sy het ’n slakneusie, lang wimpers en ’n hartvormige popmondjie gehad. Om haar enkel was ’n forensiese etiket. Aan haar voete, leerskoene met bandjies oor die voetbrug.

“Haar hare was blykbaar blond, nie rooi nie. Dis die grondwater wat haar hare so gevlek het,” het Benjamin gesê. “Die tannien van ontbindende plantmateriaal, boombas en blare.”

Ek het gesukkel om asem te kry en een van die kombuisvensters oopgemaak.

“Watse siek bliksem sou eers ’n kind aantrek en dan verdrink?” het Benjamin gevra. Hy het na my gekyk.

Ek het weggekyk en my kop geskud. Gesien hoe hadidas buite soos aasvoëls op die grasperk neersak. Hoe is dit moontlik dat die lykie ná vyftig jaar nie ontbind het nie? Dat selfs die vel, selfs die naels en ooghare behoue gebly het?

“Die moerasgrond bevat glo die regte samestelling van minerale om ’n liggaam vir eeue intact te hou,” het Benjamin gesê asof hy my gedagtes kon lees. “En so ’n vlei het mos ’n konstante tempe­ratuur – winter en somer.” Hy het die koerant op die tafel neergesit en die voue daarin met sy plathand probeer uitstryk. “Kalkagtige moerasgrond bevat ook min suurstof wat aftakeling belemmer.”

Ek het die deeghartjies en -klawertjies, wat ek al op die kombuistoonbank in oondpanne uitgepak het, weer alles inmekaar gedruk, sonder dat ek geweet het wat ek doen. Die deeg het deur my vingers gepeul. Ek was kortasem. Here, hoe kan dit wees dat selfs ’n rooikat of jakkals, nie eens ’n hond, haar daar gaan uitsleep het nie?

Sus

Toe Sus in die stoepkamer kom, het ant Hildegard haar ingewag, arms gevou, mond op ’n plooi. “Jy moenie dink jy kan hier op ons nekke kom lê sonder om ’n bydrae te maak of ’n steek werk te doen nie.”

Sus het haar koffer oopgeknip en drie pond uitgehaal. Ant Hildegard het dit smalend by haar gevat, dit in haar voorskoot gesteek. “Die welfare wil vir jou Vrydag sien,” het sy gesê. “Daar’s ’n paartjie wat glo bereid is om jou hoerkind te vat.”

Die kamer het om Sus gedraai; sy het op die matras gaan sit. “Waar is my oumagrootjie se orreltjie, ant Hilde?”

“Verkoop.” Ant Hildegard het die middeldeur hard agter haar geklap.

Sus het naar gevoel. Sy het na die puttoilet agter die huis gehardloop. Sy het oor die diep gat in die houtbankie gebuk en afgekyk. Haar niggies het vertel dat hulle vorige bediende haar kleintjie hier ingegooi het; dat die polisie die baba moes uithaal. As oom Jasper nie die dingetjie hoor skree het nie, het dit nou nog daar in die donker stank gelê.

Sus se maag het geruk, haar arms was hoendervleis. Die spookasem en springmielies wat hulle by die rolprentteater geëet het, het draderig uit haar mond gekom. Sy het bleek in haar niggies se kamertjie op die mat gaan sit en haar mond aan haar hand afgevee. Oral het bondels onderklere en sykouse en plaatomslae gelê. Ruby Wright en Patti Page en die Delmore-broers.

Teen een van die mure was ’n boekrakkie, saamgeflans uit twee planke en oorgetrekte bakstene. Daar was ’n paar uitgawes Naweekpos en stokou Duitse digbundels daarop. Heine en Freytag. Langs­aan, Die Meulenaar, Mikro se Koperkan en Die sprinkaanbeampte van Sluis. Op die onderste rak was The wind in the willows, The Great Gatsby en Arms and the man.

Voor die venster het geblomde gordyne gehang en op Ella se bedkassie was ’n stowwerige rubberplant, ’n wekker, die Bybel en ’n bottel hoesstroop. Van die hopie sykouse het ’n muwwe, suurderige reuk gekom, maar daar was ook die geur van gesigpoeier en laventel. Teen die mure was modeprente met kleefband vasgeplak. Mannekyne met dun middeltjies in aandtabberds, handskoene en pêrels. Party se monde rooi en pruilend, ander se wenkbroue gelig terwyl hulle koketterig oor ’n kaal skouer loer.

Agter die deur was ’n kleurprent van Paul Newman met sy blou oë en ’n kuiltjie in die ken. Sy smeulende blik het Sus skaam laat wegkyk. Op ’n lessenaar het ’n swart tikmasjien gestaan met ’n halfverkreukelde vel papier daarin. “Ek gaan nog eendag draaiboeke daarop skryf,” het Ella gesê toe sy Sus se oë daarop sien. “Give my regards to Broadway, Schatzi!”

Inge het blitsig opgespring en donderwetterdonderwetterdonderwetter op die tikmasjientjie geplets; so vinnig, die toetse het vasgehaak. Sy het hygend oor die lessenaar gelag, rondgetrippel asof sy ’n nood het. Ella het haar voor die tikmasjien weggestamp, die roller met ’n “ke-tjieng” teruggedruk en ingeborg is ’n drol getik. Hulle het mekaar gekarnuffel en hulle mae vasgehou soos hulle lag.

Al hierdie dinge in haar niggies se kamer het Sus getroos en die naarheid laat bedaar. Dis net die rubberplantjie wat haar gepla het. Dit was aan die kwyn, dit kon sy sien. Binnekort sou die blare vergeel en afval, uiteindelik sou dit wegkrimp en vrek.

“Jou plantjie moet buite kom, Ella, son kry,” het Sus angstig gesê. Sus se niggies het haar oopmond aangekyk.

Esmeralda

“Hulle doen nou navorsing oor die families wat die afgelope half­eeu op daardie plaas gebly het, natuurlik om genetiese materiaal te versamel en te vergelyk.” Benjamin het die koerant toegevou en opgestaan om sy koffiekoppie in die wasbak te sit. “Dem interessante storie.” Hy het deur sy tande gefluit. “Miskien spoor hulle die moordenaar nog op, ná al hierdie jare.”

Ek het siek gevoel. Maar ek kon dit nie vir Benjamin wys of sê nie. Want dan sou ek weer moes aanhoor ek is nes my breindood “leseresse” wat net mooi goedjies wil lees. My lesers vir wie ek mooi storietjies moet opmaak. Kluitjies moet bak. Fraai verhaaltjies met mooi mense, mooi plekke en nog mooier eindes. En natuurlik toegestrik met pragtige stofomslae van beeldskone meisies en smeulende helde. My lesers wat nie die werklikheid kan face nie. Wat anderpad kyk vir armoede en wreedheid en aardverwarming. Wat hulle eie mooiweerswêreldjies in hulle koppe wil skep omdat die lewe hard genoeg is. Nou wil hulle net spookasem lees.

Ek weet ook maar te goed wat Benjamin van my hygromans dink. Dis ’n klomp tos, het hy al eenkeer sommer prontuit vir my gesê. En ek is ’n ou hoer van ’n skrywer omdat ek enigiets sal skryf vir geld. Myself sal verloën net om iets gepubliseer te kry, al is dit flouer as akkedispis. Maar Benjamin het natuurlik nie ’n benul waar geld vandaan kom nie. Hy hoef nooit winteroggende met donker op te gestaan het om koerante af te lewer of om die kasre­gister by Checkers te gaan slaan nie, dis dié.

“Maar, Benjie,” het ek baie keer al teruggekap, “Ma gee mense plesier. Ek gee hulle bietjie opwinding en ontvlugting van hulle saai lewe.” Maar hy het voet by stuk gehou dat ek my skryftalent misbruik. Ten minste dink hy ek hét talent. Oor die jare het ek geleer hoe om ’n kompliment tussen sy spul beledigings uit te sif.

My hande het daardie Saterdagmiddag vanself kinderlyfies uit die olierige broskoekdeeg begin vorm. Koppe op dun nekkies en lomp ledemate. Ek het dit op die bakplaat neergelê en in die oond gedruk. Die oondliggie aangesit en vir twintig minute gesit en kyk hoe die kinderlyfies uitsit en skeeftrek, hoe hulle mae opswel. Soos liggame op ’n rivierbodem, het ek gedink. Met konfytflesse om die tenger nekke gebind, het ek my verbeel.

Ek het twee van die louwarm koekmannetjies geëet. Eers die koppe afgebyt, toe die arms. Gekou en gesluk. Gekou en gesluk. Die bevredigende gekaramelliseerde smaak van suiker en botter geproe. As Martine dié toneel sou skilder, sou dit soos ’n Goya-skildery gelyk het: Saturnus verslind een van sy kinders. So iets.

Hoe skryf ’n mens oor iets so gruwelik, het ek gewonder. Hoe klim jy in die lyf van ’n vrou wat ’n verroeste spyker deur haar pasgebore kind se kop druk? Hoe kom jy in die kop van ’n persoon wat haar kind verwurg en dan gaan aandete maak? Hoe verstaan jy die psige van ’n kindvrou wat haar baba verdrink terwyl sy wasgoed met blouseep was? Keer op keer op keer.

En tog is skrywers en reeksmoordenaars in baie opsigte dieselfde, het ek gedink. Albei het ’n vrugbare verbeelding. Albei kan soms nie tussen verbeeldingsvlug en werklikheid onderskei nie. Beide is alleendiere wat die trop vermy. Al twee was waarskynlik bleeksiele op skool. Wat in die biblioteek weggekruip het en deur ander kinders afgeknou is. Albei wreek hulle op ’n wêreld wat hulle verstoot het. En beide wil God speel, wil mag oor lewe en dood hê. Want het skrywers nie al meer karakters afgemaai as Jeffrey Dahmer, John Wayne Gacy, Rosemary West, Daisy de Melker en Moses Sithole nie?

Ek het een van die koekmannetjies in ’n beker warm tee gedoop. Die nekkie het slap geraak en geknak, die kop het vooroor in my tee geval en opgelos.

So min as sewentig jaar gelede was mense nie so van die dood vervreem soos vandag nie. Veral nie op plase nie. Hulle het daagliks met die dood saamgeleef. Hulle het dikwels hulle laaste asem uitgeblaas op dieselfde bed as waarop hulle kinders verwek is. Hulle het siekes tot die dood versorg. Die oë van dooies toegedruk en by lyke gewaak. Self hulle dooies gewas, uitgelê en begrawe. Lank voor hulle sterfdag het hulle doodskiste al op die solder gelê en wag.

Vrouens is dikwels aan kraamkoors dood. Kinders het gereeld van masels en kinkhoes en skarlakenkoors en pokke en witseerkeel omgekom. Mans het op slagvelde gesneuwel. Net die sterkstes het oorleef. Mense het die dood aanvaar as deel van die lewe. Self het ek as kind ’n tant Lalie Brits geken wat nie haar kinders teen Duitse masels wou laat inent nie, want met twaalf kinders, het sy gereken, kan twee of drie maar afsterf as dit moet. “Nee wat,” het sy gesê, “as ’n paar kjinners doodgaan, dan kry ek maar nog, ek gaan g’n al die pad dorp toe vir inspuitings nie.”

Plaasmense het self diere geslag. Hoenders se kop afgekap en skape keelaf gesny. Hoeveel meer sou dit vat om ’n ongewenste kind in ’n put te gooi?

Ek het geril. Ek het die koekroller en eierklitser en maatbeker in die wasbak gepak. Geruik hoe die laaste twee koekkindertjies in die oond verbrand. Rook het soos ’n donker teenwoordigheid in die kombuis gehang.

Nee, Here, ek kán nie, het ek gepleit. Ek is oud en verdomp moeg. Ek kan nie in my laaste jare ’n gesant van die dood word nie. Ek is ’n gesellin van Eros. Ek voel my nie tuis by die dood nie, wil nie daaroor skryf nie. Ek skryf oor die kléin dood, Here. Nie oor die dood wat jou wange laat insak, jou oë laat verdof en jou mond gruwelik laat oopval nie. Wat jou geliefdes ontydig van jou wegvat nie.

Maar die dood is ook genadig, Esmeralda, het ek in my kop gehoor. Geduldig. Tref nie onderskeid nie. Diskrimineer nie. Dis net die moderne mens wat die dood nie meer ken nie, daarom vrees hy dit.

Maar kindermoord? Vergeet dit. In die daaropvolgende maande sou ek my gedurig teësit. Verniet. Want die saadjie was geplant. Bowendien het ek nie meer beheer oor my gedagtes gehad nie, nie eens oor my tikmasjien nie. Wanneer ek saans voor my Olivetti gaan sit het, was dit asof iemand anders se hande bo-oor myne vat. Het die swart toetse vanself op en neer beweeg en het die woorde van Sus se storie op papier verskyn.

Benjamin

Ek het ’n U-turn gegooi en agter my ma aangery. Stadig langs haar gery waar sy op die sypaadjie gestap het.

“Ma, klim in!” het ek gesoebat. “Asseblief, Ma!” Sy het gemaak asof ek nie bestaan nie. Sy het oor ’n leë Cokeblik gestruikel, amper gat-oor-kop neergeslet, maar haar balans wonderbaarlik behou. “Sorrie, Ma!” Verbygangers het ons aangestaar. ’n Kar het agter my getoet. “Ek’s jammer ek’t gesê Ma’s kommin, dis net ...”

“Ag, gaan spring in die dam!” het sy gesnou.

“Whatever,” het ek toe my moer vir haar gestrip en begin wegry.

In my truspieëltjie kon ek sien hoe sy ’n kluit optel en dit in my rigting gooi, hoe haar boarms dril en die klonte grond oor die pad spat. Sy het haar skoene uitgepluk en iets onhoorbaars agterna gegil.

Ek het soos ’n hond gevoel en weer omgedraai, maar by die parkie het sy teen ’n wal afgeneuk en tussen ’n klomp struike ver­dwyn. Daar het sy seker bly sit tot ek weer my ry gekry het.

Ek het huis toe gery en twee uur lank op haar gesit en wag. Wat vreet haar tog so, het ek op die stoeptrappie gesit en wonder. Fókweet. Dis sweerlik vandat ons op die nuus gesien het dat vier van die geraamtes wat hulle op daai plaas in Magoebaskloof gekry het, dogtertjies is. Forensiese toetse wat op vyf skelette gedoen is wat in Februarie op ’n plaas in Magoebaskloof in Limpopo gevind is, het bewys dat vier van die kinders wat waarskynlik in die 1950’s dood is, vroulik was. Riaan Cruywagen se buikspraakpopgesig was uitdrukkingloos, selfs opgewek, asof hy ’n vrolike mededeling maak. Die vyfde geraamte, oor die afgelope paar maande in die media bekend as “die emmerkind”, se geslag kon nog nie bepaal word nie. Professor Willem Zeeman, forensiese patoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het gister op ’n mediakonferensie gesê dié skelet is aansienlik ouer as die ander, wat die onttrekking en toetsing van genetiese mate­riaal bemoeilik ...

My ma het langs my op die bank gesit en haar kop geskud en geskud, asof daar ’n mot in haar oor vasgesit het. “Meisietjies,” het sy gesê. Toe het sy opgespring en ’n klomp goed in die kombuis gaan eet. Ham en roomys en klappertertjies en biltong, alles deurmekaar. Vroegoggend kon ek hoor hoe sy in die badkamer katte skiet.

Kelder

Подняться наверх