Читать книгу Hartepad - Gerrit Rautenbach - Страница 6
Die ABC van Delta
ОглавлениеAs ’n mens hou van reis, is daar sekere name van sekere plekke wat soos towerwoorde op jou kom lê. Soos Zanzibar, Tahiti, Zambezi, Katima Mulilo. Die Okavango-delta. Maun, Moremi, Chief’s Island. En Oddballs.
Oddballs???
Ja, met so ’n aweregse, vreemde naam is dit maklik een van die heel mooiste kampe wat daar is in die Okavango-delta. Wat dit dan een van die heel mooiste plekke op aarde maak.
Maar van hoe mooi of bisar of wat ook al dit is, weet ek op hierdie oomblik nie veel nie terwyl ek op soek is na Delta Air by Maun se internasionale lughawe. Eintlik is dit niks meer as net ’n vliegveld nie, maar omdat baie toeriste hiernatoe vlieg vanuit Zimbabwe, Namibië, Zambië en Suid-Afrika, het hulle status.
Ek het net voor my vertrek Botswana toe by my goeie vriend en oudkollega Les Sharpe gekuier en met sy aanhore van my planne om die Delta te besoek het hy onmiddellik vir my ’n naam neergeskryf. Hennie Rawlinson. Hoofloods, eienaar en grootkokkedoor van Delta Air, die voorkeurredery wat die lugvervoer van die Delta hanteer. Les het belowe om vir Hennie te laat weet van my koms.
Ek stap net so voor vier by hul kantoor in en daar sit ’n stewige boerklong met donker krulhare. Hy kyk op en ek weet dis my man.
“Hallo, Hennie,” groet ek sonder huiwering.
“Jis, hoesit?”
“Ek is Gerrit Rautenbach.”
“En?” Blykbaar het Les toe nie laat weet nie.
“Ek is ’n vriend van Les,” verduidelik ek.
“A, ou swaer Les, ja. Nou onthou ek van jou. Les hét laat weet. Waarheen vlieg ons?”
“Ek wil graag Oddballs toe.”
“Dan vlieg jy nou. Is jy gepak? Is jy reg? Hoe swaar dra jy? Die Cessna is maar kleinerig.”
Ek wys na die rugsakkie wat oor my linkerskouer geslinger is.
“Jy’s in. Dis ek en jy en een van die mamas van Delta-kamp.” Oddballs en Delta-kamp is die enigste twee blyplekke op die 1 000 vierkante kilometer groot Chief’s Island, die grootste stuk aaneenlopende land in die Delta.
Vliegtuie was nog altyd een van my bestes. Ek weet nie, dis so ’n oortreffende vlak van onafhanklikheid; van avontuur; van beweeglikheid. Daarom is ek baie tevrede toe Hennie my voor langs hom laat sit.
Dit lyk alles so reg. So asof ons nou binne-in die een of ander Indiana Jones-fliek inbeweeg het. Voor my is ’n stuurstang. Al is ek nie die loods nie. Daar is ’n oordaad van meters en goeters. Dit lyk lekker en reg. Ek vra vrae. Hennie verduidelik terwyl ons taxi na die aanloopbaan. Hy praat met die beheertoring, hulle praat terug oor ’n krakerige eter. The Right Stuff.
Dan het almal al die regte goed gesê en die beheertoring reken ons kan maar laat waai. Mama Afrika sit agter my en eet raserig aan ’n koue skorsie en ’n gebraaide groenmielie gelyktydig. Sy is blykbaar ’n ou vlieger, want sy is g’n niks gesteur deur die vibrasies en skommelinge van die klein vliegmasjientjie nie soos hy regtrek op die aanloopbaan. Hennie loer oor sy skouer na haar.
“Mooi eet, Mama, en moenie jou hande aan die sitplekke afvee nie.”
“Hnjtj-hnjtje …” rammel sy instemmend dat die pitte spat. Hennie trek sy skouers op en gee vet. Mama vat doodluiters met ’n gebotterde hand aan die sitplekleuning voor haar. ’n Ander soort vetgee. Kort voor lank ratel ons rammelend teen ’n hoë genoeg spoed en Hennie trek die stang terug. Daai oomblik wanneer so ’n klein vlieër kontak met moeder aarde verbreek, bly een van die lekkerste sensasies wat daar is. Maak nie saak hoeveel keer jy dit al gedoen het nie, jou maag sweef.
Ek weet net nie waar om te kyk nie. Ek wil alles sien wat Hennie doen om die Cessna in die lug te hou en ek wil die goddelike mooi van die Okavago-delta onder my in my oë indrink. Oral onder my sprei die waterkanale soos lewensare uit tussen rietbos, jakkalsbessie, wildedadel en mopanies wat ál kleiner word. Eintlik is hierdie waterland onder my ’n stuk Kalahari van 15 000 vierkante kilometer waar die watertafel so versadig raak, dit stort 11 000 000 000 000 liter water die woestyn in. Terwyl ek asemloos uitkyk na hierdie waterwonderwerk, hoor ek onwillekeurig Karen Blixen se woorde in my kop waar sy praat oor Denys Finch Hatton wat haar in sy Gypsy Moth laat vlieg het. “He made me see the world through God’s eyes …”
Tog wil ek nie net kyk nie; ek wil vlieg ook. Ná nog ’n vraag of drie aan Hennie vra hy my of ek die stokke wil vat. Ek wil. Ek vat.
“Sien jy daai lesing op die kompas?” vra hy.
Ek knik.
“Sien jy die hoogtemeter se lesing?”
Ek knik.
“Sien jy die horisonmeter se horisontaal?”
Ek knik.
“Sorg dat dit so bly en praat met my as jy Chief’s Island se landingstrook kan sien,” voltooi hy sy vlieginstruksies en haal sy lêer uit om die volgende vlug se vlugplan op sy skoot te sit en voltooi. Ek kyk konstant van die een meter na die ander en na die delta doer voor my. Ek vlieg.
“Draai skerp links!” beveel hy skielik kliphard. En ek draai. Dalk effe te gretig. Mama spoeg my in die nek met ’n paar mieliepitte.
“Draai skerp regs!” Ek doen so. Man, nóú vlieg ek eers! Hennie koggel van die lag.
“Kry nou weer jou lesing op die kompas.” Ek sien ons is effe te noord van die lesing en pik-pik regs totdat die kompas weer op die regte lesing is. Toe sien ek dit. Die aanloopbaan lê penreguit voor my.
“Daar’s die aanloopbaan!” skree ek soos ’n groupie.
“Nou druk jou stuurstang vorentoe en verminder hoogte tot op 300 voet.”
Ek druk daai stang vorentoe en die êrrietjie gaan gedienstig agterna. Reguit grond toe. Mama hier agter my is skielik nie meer so koelkop oor vlieg nie. Sy gooi my met die stronk en gryp my om die keel. Sy brabbel desperaat in haar moedertaal. Wat sy te sê had, weet ek nie, maar ek is seker dit het iets te doen met hoekom kan Hennie nie maar soos gewoonlik die vliegwerk doen nie. Ek trek die stokke terug en kry vir Cessna weer op ’n horisontale horison en sien tot my ontsteltenis ons is nou al op 220 voet. Toe trek ek die stang so effe-effe terug tot ek weer op 300 is. Nou is die aanloopbaan aweregs van voor en ek krink totdat die strook reguit voor my uitlê. Tussendeur is Hennie onverpoos besig om in sy lêer te skryf. Hy steur hom nie aan my nie.
“Verminder hoogte tot op 180,” steur hy hom toe tog aan my. Genadetjie tog, gaan die man my nou die ding laat land? Dit lyk al vrek naby aan die grond. Hy karring aan iets en ons vlieg stadiger.
“Af 100 toe, asseblief.” Hy trek die versnellerhefboom nog verder terug.
Ek sluk, maar ek af.
Op pad 100 voet toe sien ek ’n ander ding. Reg voor ons op die aanloopbaan staan ’n olifant.
“Daar’s ’n olifant in ons pad,” sê ek en kan nie glo wat ek sê nie.
“Hmm,” sê Hennie net, maar toe maak hy darem die lêer toe, glimlag vir my en vat die stokke oor. My agterent los die sitplek uit. En hervat net so sy greep weer omdat Hennie verwoed op daai olifant afduik. Soos ’n wafferse Messerschmidt swiep Hennie oor die olifant sodat hy sy ore verwoed klap (dis nou die olifant) en ons uit die lug probeer ruk met sy slurp. Ná die derde swiep blaas Olie die aftog en Hennie gaan sit die Cessna grasieus neer.
Stof. Met die uitklim ruik ek Afrika se prima geurmiddel. Stof. Ek voel tuis en gelukkig. Tog nie heeltemal op my gemak nie. Ná alles het ek nou my eerste vlug en olifant-aanval gehad. Dit alles voor ek nog voet aan wal op Chief’s Island gesit het. Daar is ’n paar gidse wat ons ingewag het, elk met ’n stewige .458 Winchester Magnum oor die skouer; ’n goeie kettie vir ’n bedonnerde olifantbul. Hulle lyk ook nie heeltemal op hul gemak nie. Kommerwekkend. Een kom my kant toe gestap, glimlag breed met Afrika-wit tande terwyl hy die 458 van sy skouer afhaal om sy hand uit te steek. Hy is stewig groot met breë skouers, diep, donker oë wat skerp kyk, en toe hy my blad skud, sien ek sy hande sal ’n sokkerbal soos ’n gholfbal laat lyk.
“My naam is System,” deel hy my mee.
“Hallo, System, ek is Gerrit.”
“Dit is goed,” en hy knik plegtig sy kop op en af.
System … Daar is ’n man op hierdie aardbol met die naam System. Ek wonder daaroor en wil net vra toe hy verder praat.
“Ons moet liewerster gou loop. Oddballs is gewoonlik drie kilometer deur die bos, noord-oos. Maar dis verder vandag, want die wind waai oos.”
“En …?”
“Nou ja, kom ons leer van die olifant,” antwoord System. “Die olifant is meer regverdig as die mens. As jy eerste op ’n plek is, respekteer hy dit. Dan sal hy jou niks maak nie. Maar as hy eerste op ’n plek is, moenie hom pla nie. Dan gaan staan sy slurp regop en jy is plat. Hierdie olifant is ook so, maar hy is anderster ook, want ander mense wou sy wit vat. Nou is hy bedonnerd.”
Ná die verduideliking groet ek vir Hennie en staan en kyk eers hoe hy lugpad soek met ’n stofstreep. Soos sy lugkoetsie kleiner raak, wonder ek of ek die lekker mens ooit weer sal sien. Twintig minute saam en hy het ’n wending in my lewe veroorsaak. Hoekom is daar altyd ’n heimwee in ’n vervoerding wat sommerso in die niet verdwyn?
Terug aarde toe. Ons begin stap, reguit deur die veld. Met die wegstap hoor ek hoe System ’n patroon in die loop druk en besef dis nie sommer net praatjies om te beïndruk nie. Ons is nou in die bos. Afrika se bos. Lekker.
En die olifant is hier en hy is bedonnerd vir die mens wat sy tande wou vat. Ek hoop nie hy kruis ons pad nie, ek wil nie hê hy moet een van daai 458’s sluk nie. Dis sy plek dié. Blykbaar kom die stropers rivierlangs in, skiet ’n olifant en vat net die ivoor en gee pad. Ek raak sommer bedonnerd oor hulle gierigheid.
Nadat die vlieger se gerammel weg is, hoor ek sonbesies kliphard, voel droë graspolle onder my stewels en ruik steeds die stofparfuum. Ek proe die son op my lippe. My oë kyk hard deur elke bos en pol deur. Hier is alles. Maar ek sien niks. Later begin ek verveeld raak en besluit om met System te praat.
“Waar kom jou naam vandaan, System?”
“Sjjj …” is al wat hy antwoord.
Ons stap die res van die sowat vier kilometer in stilte terwyl die dag se krag minder begin raak. Met die ompad om die olifant kom ons toe heel skeef by Oddballs aan, maar dit hou ook ’n voordeel in. Ons stap in op die werksmense se sokkerveld waar ’n paar al besig is om warm te maak. Hulle skree almal geesdriftig vir System om te kom aansluit toe hulle ons sien.
“My naam is System, want ek verstaan sokker,” verklaar hy alles.
Oddballs is eenvoudig, maar Oddballs is mooi. Die groot jakkalsbessies, wildevye en vaderlandswilge oral op die rand van die water vorm die legkaart van die kamp. In die middel is die eetplek en watergat vir mensekele. Oraloor is houthutjies en staanplek vir tente weggesteek tussen dik lower en die diepdonker waterare van die Delta. Ek is baie bevoorreg en kry ’n boomhuis in ’n jakkalsbessie. ’n Boomhuis met ’n koningsgrootte-dubbelbed, en suite-badkamer met selfs warm water en ’n koffiemaker. ’n Boomhuis wat uitkyk oor die water van die Delta wat nagswart begin raak soos die son sy rus gaan soek.
Die nag het sy eie simfonie gebring. Eers het ek by die eetplek gaan sit en luister na die paar gaste se gemengde dialoog met die knetterhout van die vuur as ondertoon. Daar was Australies en Brits en Duits en Frans en Vlaams. Later het Jessy van Wellington – dis nou die ene in Nieu Seeland – ophou praat, haar kitaar nader getrek en een vir een snaar gestem. Een vir een het die mense ophou praat in afwagting. Sy het saggies ’n paar note uitgepluk. En met haar hees Maori-stem begin sing.
I see skies of blue, clouds of white
Bright blessed days, dark sacred nights
And I think to myself: what a wonderful world …
Die laaste note van haar godgemaakte stem het soos watersirkels oor die waters weggekring totdat net die paddas en krieke oorgebly het in hierdie wonderlike wêreld van die Delta. Ek was gelukkig. Ek was tevrede.
In hierdie plek kry jy voornag, dan nanag, dan diepnag en dan ounag voordat vroegoggend aanbreek net voor dagbreek. Voornag het die mense gepraat. Nanag het die leeus gegroet. Diepnag en ounag het net die krieke en paddas onverpoos gekras. Vroegoggend skeur ’n huislose hiëna sy hart vol heimwee stukkend. Ek is dadelik wakker en verlang. Na my ma. Na my pa. Ek wens die groot dubbelbed was nie so enkel beset nie.
Stadig het die son se onkeerbare naderkoms die swart verpers tot ’n dieprooi. Ek het die rietskanse van die boomhuis oopgelos deur die nag en deur die oopte begin kyk na die Skepping wat herrys. Wit wasemslierte het oor die swart water gehang. Voor my in die vlak water het twee langtone grasieus die dag van een lelieblaar na die volgende binnegestap. Swartkeelgeelvinke het kwetterend begin koer en rumoer. ’n Visarend het brekfis begin soek. Die ewigheid het weer lewe gekry.
Ná koffie het System vir my aan die onderpunt van die boom gewag. Ons is daar weg in ’n uitgeholde boomstamkano genaamd mokorro. System het ons sistematies voortgedu met ’n paal op die bodem van die rivier. Hamerkoppe, hoep-hoepe en hadedas het om ons gehang. Later het ons aangeland op ’n kleiner eiland en voetpad gevat. ’n Trop rooibokke het snorkend gevlug, neusvleuels oop in die wind en horings agteroor gegooi.
“Nou kom ons leer van die rooibok,” begin System. As ’n ooi dragtig raak en die weer bly verkeerd, kan sy haar lam tot twee maande langer binnehou en wag totdat die veld reg is.”
’n Entjie verder kry ons seekoeie wat wegwaggel, maar gou weer gaan staan om te wei. Hulle pluk-pluk aan die groen en ek sien dis maar net ’n verwerkingseenheid. Soos die gras ingaan, so word dit verteer totdat ta dit in honderde klein bolletjies agter uitplop. Of liewer uitswiep, want hy wikkel daai verspotte stertjie heen en weer dat die drolletjies so spat.
“Nou kom ons leer van die seekoei,” gaan System voort. Lank-lank gelede was hy net ’n landdier en het baie, baie warm gekry. Toe gaan hy na die Groot Skepper en vra of hy nie maar water toe kan gaan nie. Die Groot Skepper wys dit uit dat hy groot is en dat hy baie poef maak en dat dit nie goed sal wees in die water nie. Seekoei gaan toe ’n ooreenkoms aan met die Groot Skepper dat hy nooit in die water sal poef nie, maar altyd op land. Maar hoe sal ek weet? vra die Skepper. Seekoei onderneem toe om sy poef so wild en woes met sy stert te sprei dat Skepper kan sien. En tot vandag kan hy nog steeds water toe, want hy het by sy belofte gehou.
Om die volgende draai steek System vas. Hy wys voor hom in die sand. Dis nie nodig dat hy iets sê nie. Voor hom is ’n leeuspoor so groot hy pas nie op ’n A4-fotostaat nie.
‘Nou kom ons leer van die leeu,’ sê System. ‘Die leeu is ’n hond. Sommer ’n brak. Hy hou hom groot, maar hy is lui. Hy hou nie van weerstand nie. As hy jou uitdaag, moenie hardloop nie. As hy storm en jy staan stil, weet die brak nie waarheen nie. Dan gaan staan hy sommer.’
Ek hoop van harte ek hoef nie sy lering te beproef nie.
So het ons verder geleer van die koedoe se horings wat gedraai is en waar die stink van die muishond vandaan kom en hoe die maanhaar van die blouwildebees hom help trou het. Laatmiddag roei ons terug Oddballs toe en skielik kyk ek na die houtbootjie waarin ek sit en wonder oor krokodille.
“System, sal ’n krokodil hierdie boot hap?”
“As hy honger is, sal hy hom knak, ja, soos ’n vuurhoutjie.”
“En dan? Wat doen ons dan?”
System het met so ’n hele paar hale die mokorro verder vorentoe gedruk, toe die paal opgetrek en daarop geleun terwyl die druppels daarvan af drup-drup. Die mokorro gly op daai punt geruisloos verby ’n groot, dooie boom wat geplant in die water staan. System het die boom so sistematies op en af bekyk en toe oopbek geglimlag dat jy net wit Afrika-tande in die namiddagson sien blink.
“Dan dink ek dis tyd dat ons leer boomklim!”
Ek het gelag en laer afgeskuif in my sitplek. Dinge diep in die Delta is diep spesiaal.
“Dink jy daai olifant van gister is oukei?” vra ek hom later.
“Ek dink nie so nie. Ons dink hy is so bedonnerd, want die poachers het hom gekwes. Maar ons weet nie. Hy kruip weg.”
Die volgende oggend vroeg het System weer vir my gewag. Daar was iets anders in sy oë toe ek by hom kom.
“Ons het die olifant gekry,” is al wat hy sê.
“Gaan wys my.”
Hy het besef ek is ernstig en heel waarskynlik teen regulasies in het hy my gevat. Halfpad op pad terug vliegveld toe het die grootvoet onder ’n paar mopanies gelê. Onder agter sy linkeroor was ’n koeëlwond wat nog dik, donker bloed gelek het waar die brommers gemaaier het. Sy oog het verstar in die niet in gekyk. Maar van die lid teen sy wang af het die traanspoor dik gestol.
Nou kom ons leer van die mens. Hy is die laagste skepsel in die skepping van die Groot Skepper.