Читать книгу Hartepad - Gerrit Rautenbach - Страница 7
Italiaans is nie ’n grap nie …
ОглавлениеBenedetto D’Amatto sit en kyk voor hom uit met sy swartbruin oë sonder om regtig iets te sien. Of so wil dit voorkom. Hy skuif die moue van sy verslete woltrui op tot bokant sy knopperige elmboë. Die trui wat eens swart was, het nou al vergroen van die ouderdom. Sy seningrige, bruingebrande leervel-arms gaan rus dan weer op die growwe houtoppervlak van die kombuistoonbank. ’n Wysvingernael wat min geknip word en blougeslaan is deur ’n hamer, krap ingedagte aan ’n sonletsel op sy arm. Sy hande is verweerd gewerk.
Benedetto se dik slierthare is swart soos dit hoort, maar die grys slaan dik silwer deur langs die kante. Sy snor wat ewe dik bo-oor sy bolip dak maak, is heeltemal grys. Hy het ’n gewoonte om die snorbaarde met sy ondertande vas te byt-byt teen sy bolip. ’n Paar dae se stoppels blink in die vuur links agter hom in die herd. Sy gesig is donker en diep gekeep van jare se baie son vat. Hoë wangbene, oë diep in hul kasse, lang ore plat teen sy kop en ’n stel groot tande gevlek van sy ewige pruimpie, voltooi die prentjie. So sit hy daar woordeloos. Benedetto is stomgeslaan.
Benedetto D’Amatto is nie ’n karakter in ’n Federico Fellini-fliek nie; hy is Marco Paricelli se oom. En Marco is ’n grafiese ontwerper wat saam met my in Brussel werk. En my vriend. Hy het my saamgenooi om by sy oom en tannie in Gragnano in die suide van Italië te gaan kuier.
Dit is my vierde keer in Italië en ek is nog steeds teleurgesteld in een ding. Ek het nog nie ’n ordentlike, egte, regte pizza in die land van pizza geëet nie. Elke keer wat ek probeer het, het ek so ’n dikke amperse pasteibedryf gekry. Marco het net skalks gelag toe ek hom vertel het. Ek het later eers uitgevind dat hierdie pizza al taglio ook eg Italiaans en afkomstig is van die streek Lazio.
Vandat ek begin leer het van verskillende lande en nasies, het ek ’n lang lys dinge begin maak wat ek nog eendag moet doen. ’n Regte, egte pizza in Italië is al lankal op daai lys en die ander Italiaanse ding is ’n ware espresso-ervaring. Dit het ek darem al reggekry by Antico Caffé Greco in Via dei Condotti net onder die Spaanse Trap. Of so het ek gedink. Soos ek begin agterkom het wat om my aangaan, het ek besef dis ’n baie unieke ervaring, maar kosmopolitaans, nie Italiaans nie. Die trap is gebou om die Spaanse ambassade met die kerk te verbind, met geld wat gegee is deur die Franse regering, en Caffé Greco beteken letterlik die Griekse kafee (sien, dis nie net hier by ons waar die Grieke op elke straathoek ’n kafee oopgemaak het nie). Dié Griek in Italië was Nicola della Maddalena wat sy kafee in 1760 begin het. Vandag is dit een van die drie oudste kafees ter wêreld wat ononderbroke onder dieselfde naam smous. Die oudste is iewers in Irak en die ander een is sekerlik De Akker op Stellenbosch wat aan ’n Portugees behoort. Haai rêrig? Nee. Ek bedoel, nee, dis nie die derde oudste nie, maar ja, dit behoort aan ’n Portugees. Sedertdien het ’n paar mense al daar kom espresso drink. Dis nou in Antico Caffé Grecco. Soos Liszt, Stendhal, Wagner, Mark Twain, Gogol, D’Annunzio, John Keats, Rossini, Goethe en Valentino. Onder andere. Ek was ook daar. Ek was ook al in De Akker, maar dis ’n ander storie …
Om terug te kom na die regte storie. Ek en Marco het Napels toe gevlieg en ’n Fiat-karretjie gehuur waarmee ons om die Vesuvius-berg en -krater gery het voordat ons koers gekies het die berge in tot by oom Benedetto en tannie Lalea D’Amatto. Die ding is net, ’n mens kan haar nie ’n tannie noem nie. Sy is ’n Mama. Met haar gelukkige, diepdonker oë wat altyd lag uit haar volmaangesig met roosrooi bolwange omring deur gietswart hare vasgevat in ’n blombolla terwyl sy haar pofarmpies oophou om jou welkom te heet en styf vas te druk teen haar mollige ma-lyf. Sy ruik na roosmaryn, laventel en vars gebakte brood. Ek sien nog die pofvingertjies vol deeg terwyl sy die agterkant van haar hand gebruik om ’n sliert hare wat uit die bolla ontsnap het agter haar oor in te werk. Sy lewe net vir een ding: om almal met wie sy in aanraking kom gelukkig te hou. En hoe? Met kos. En liefde. ’n Mama, ja. Dis wat sy is …
Benedetto en Lalea boer op ’n kleinhoewe langs die grootpad naby Gragnano. Hulle verbou groente en kruie vir die mark. Hulle is opreggeteelde peasants wat ’n salige middelklas-bestaan in die suide van Italië voer.
Ons het so kort voor sononder opgery met die afdraaipad na die D’Amatto’s se kliphuisie. Nadat Mama ons warm verwelkom het, is ons in binnetoe. Jy stap direk in Mama se heiligdom in. Die voordeur en die kombuisdeur is dieselfde deur. Amper regdeur die langwerpige kombuis is die kombuistoonbank met ’n growwe houtoppervlak. Ek en Marco sit aan die buitekant van die toonbank terwyl Benedetto en Lalea aan die binnekant is. Die binnekant is nou die kant waar die vuurherd is. Die enjinkamer. Die hele lengte van die kombuis agter hulle is vuurherd. Ek sit omtrent in die middel van die vier meter lange toonbank met Mama aan my regterkant en Benedetto op die linkerkantste punt. Hy sit net daar en staar voor hom uit; spraak geen sprook. Stilstuipe eccelente. Stomgeslaan …
Maar Mama babbel onverpoos voort. Ongelukkig alles in Italiaans. Ek ken so tien woorde omdat ek onlangs La vita è bella gekyk het. (Daai flieknaam bevat 30% van my woordeskat.) Mama ken minder Engels. En nou ja, Benedetto kan dalk stom wees. Marco word dus die middelpunt van alles. Sy pa en Lalea is broer en suster, maar hy wat Marco is, het in Kanada grootgeword nadat sy ouers geëmigreer het voordat hy gebore is. Dus is hy vlot in Italiaans en Engels. (Sy Frans is ook uitstekend, maar dit het heeltemal niks met hierdie storie uit te waai nie.)
Mama Lalea hou haarself besig met die vuur, die potte en die spane terwyl Benedetto hom besig hou met … wel, met sy trui se moue. Sy tande. Die letsel op sy arm. Of staar in die niet. Hy is blykbaar stomgeslaan.
Mama swaai om van die vuur af, vee vuriglik die toonbank skoon, en dan met haar hande op haar ronde heupe, vadoek steeds in die regterhand, draai sy haar nek skuins, kyk my glimlaggend aan en vra:
“Non hai fame ancora, Jughad?”
Ek glimlag net terug vir haar. Ek besef Jughad is ’n Italiaanse poging (wel soorte van ’n Napelse dialek) vir my naam, Gerrit. Maar dis al wat ek weet. Wel, een uit vyf is nie te sleg nie, reken ek. In ag genome natuurlik hóé min tyd ek nog in Italië deurgebring het. Ek sug. Dit gaan ’n lang naweek word.
“Lalea wil weet of jy al honger is.” Marco! Natuurlik. Ons eie persoonlike tolk. Dis soos ’n bevryding. ’n Bemagtiging. Ek kyk vir haar en knik my kop op en af. Dit beteken ook “ja” in die suide van Italië, want Marco sê niks en Mama glimlag net breër, vryf haar hande gretig, klap hulle dan saam dat die meel op hulle deur die lug pof.
“Incominciamo con spaghetti napolitana,” sê sy en Marco verduidelik dat die Italianers pasta beskou as ’n voorgereg en dat ons met spaghetti en napolitanasous gaan begin. Dit klink vir my reg. Pasta by die huis was gewoonlik die enigste gereg. Ek hou al hoe meer van Italië. Marco noem toe ook vir my dat napolitana van Napels afkomstig is en bolognese van Bologna in die noorde. Die groot verskil tussen die twee is die vleis in spaghetti bolognese. Want die noorde is tradisioneel die ryk deel van Italië.
Ek maak toe die fout om vir Marco te noem dat ek gehoop het sy tannie gaan vir ons egte, regte pizza voorsit. Onmiddellik vertel hy dit vir haar en ook dat ek vertroue in Italië begin verloor het omdat Gino’s in Stellenbosch meer rasegte pizza maak as wat enigiemand in hierdie land, die land van pizza, kan maak. Sy los alles net so, kyk my aan met daai donker oë en die volgende oomblik knyp sy my liefderik aan die wang dat daar meelstrepe sit en sê:
“Se volete una pizza vera, vela faro subito!”
Marco tolk dat sy vir my nou egte, regte pizza gaan maak en verduidelik ook vir my dat ’n mens eers moet afkom suide toe voor jy regte pizza kry. Napels is nie net die geboortegrond van napolitana nie, maar ook van pizza soos ons dit vandag ken. Maar nes pasta wat ’n Chinese oorsprong het en deur Italianers beroemd gemaak is, het pizza – as pitta – ’n Griekse oorsprong, maar in 1889 is die egte, regte Italiaanse pizza gebore. Dis toe hul koningin Margherita Napels besoek het en hulle vir haar ’n pizza gemaak het met die drie kleure van die Italiaanse vlag daarop. Die rooi van tamatie, die wit van mozzarella en die groen van basilie. Presto en siedaar, die margherita-pizza word ontsterflik. En nou maak Mama Lalea een spesiaal vir my. Ek voel soos die koningin se agterkleinkind.
Intussen sit Benedetto net en staar voor hom uit. Steeds so stil soos kan kom. Hy is, lyk dit my, stomgeslaan …
Daai pizza se kors was papierdun. Die mozzarella was net-net daar en ingesmelt, die regte mozzarella di buffalo wat ’n bietjie droog geword het. Met opgekookte tamatiepulp daarop. Iewers sluip ’n skeutjie knoffel, sproeisels kruie en olyfolie in. Swart peper hang in die lug. Groen vars basilie sit ’n punt agter die Italiaanse sin. My byt daaraan is behaaglik. ’n Droom word waar. Pizza perfecto in Italië.
Mama sien die genot op my bakkies en in haar oë kan ek sien sy wil my sommer aanneem as ’n ekstra verlore wegloopkind. Intussen sit Benedetto net daar. Ten minste praat hy nie met ’n mond vol kos nie, maar kou net stadig aan ’n skyf van Mama se margherita. Daai maer wangbene werk ritmies op en af, en wanneer hy sluk, werk sy adamsappel verwoed soos ’n krom windpompsilinder. Andersins is hy stomgeslaan.
Mama is die bakker en Marco het self besluit hy is die skinker, want hy maak my glas vol met Fiano di Avelino, ’n witwyn uit die streek wat dalk ’n bietjie aan die soet kant vir my is, maar nou nie Laatoes of Muscat d’Alexandrie nie, eerder sauvignon blanc met ’n knertsie heuning in. Ná die derde sluk heel aardig, hoor. Solank hy koud bly. En hy het lekker geloop saam met Mama se spaghetti napolitana.
Intussen sit Benedetto net daar en slurp-slurp so aan sy glas Fiano en slurp-slurp sy spaghetti op sonder om ooit ’n woord te sê. Regtig, ek geniet alles terdeë, maar ek begin ’n bietjie wonder oor die maer omie wat net so stomgeslaan sit. Ek en Mama praat lekker deur Marco; ek en Marco praat lekker; Marco en Mama praat lekker. Onse omie seg nie boe of ba nie.
“E adesso per il primo piatto,” kondig Mama aan. Vir ’n oomblik sê Marco niks en ek wonder. Dan besef hy hy word benodig.
“Mama sê die hoofgereg is op pad,” antwoord Marco en ek hou al hoe meer van die Italianers.
“Ragù napoletano,” kondig sy aan en ná ’n tydjie se verduideliking van Marco verstaan ek dit is ’n beesvleisgereg gemaak van skenkel wat goed gekook word saam met die hoofbestandeel van die suide van Italië. Ja, dis reg, tamaties. Daarmee saam uie, rooiwyn, olyfolie, baie basilie, rosyntjies en geroosterde dennepitte, eenvoudig vervolmaak met sout en swartpeper.
My glas is leeg en Marco maak hom vol met Montesolae Taurasi van Campania, net so ’n klipgooi noordoos van waar ons sit. Dis vriende van die D’Amatto’s wat hierdie donker, amper swaar maar tog bessierige wyn maak. Dit proe so effe soos ons pinotage van die 1970’s; dalk net so ’n graad of wat vrugtiger. Framboos op die tong.
Benedetto D’Amatto sit net daar. Niemand is bekommerd oor hom nie, dalk net ek. Hoekom is die man so stomgeslaan?
Mama babbel voort. Ek verstaan driekwart nie, maar ek sit nou ook met ’n ander dilemma. Mama weet nie ek eet nie vleis nie. Daar is g’n manier hoe ek nie Mama se hoofgereg gaan eet nie. Nie ná al haar liefde en moeite nie. Dis snaaks, in die deel van Italië waar groente en seekos seëvier, sal daar nou wragtig op hierdie aand besluit word op een van omtrent drie vleisgeregte tradisioneel aan hierdie streek. Dit het my ’n tydjie gevat om te besef dis ’n spesiale bederf omdat belangrike mense kom kuier het. Dus, vanaand is ek nie ’n vegetariër nie.
Vir die oomblik besluit ek om nes Benedetto te raak. Ek sê niks en kyk maar net voor my uit. Mama skep op en sit die bord vol ragù en rys voor my neer met ’n fanfare, staan terug en wag met afwagting vir my om die eerste hap te hap. Ek hap. Hierdie vegetariër moet nou hier ’n erkenning maak. Ragù napoletano kan nou wel vleis wees, maar Mama Lalea! Is dit lekker!! Lekker genoeg om ’n vegetariër te bekeer. Maar hier teen die einde van Mama se groot porsie begin die beesvet dik op my binnewange lê. Ek smag na iets soos ’n suurlemoen om dit teë te werk. Mama gooi my toe met Struffoli, sulke heuningballetjies wat soetlekker is, maar nie regtig die beesvet van my binnebek wil wegvat nie. Inteendeel, dit bou so ’n ekstra suikerlagie bo-op die vet wat my laat voel ek gaan nou omkap. Versuikerde beesvet …
Intussen sit Benedetto net daar. Hy pop die Struffoli-heuningballetjies in sy kieste in, kou-kou langsaam-lekker en sluk-sluk dat sy adamsappel so hop-hop. Alles so stil-stil en stomgeslaan.
Ewe skielik is alles klaar. Die pizza, antipasto, secondo en dolce. Ek is dankbaar vir Mama wat my so dik gevoer het en laat huis kry het. Lanklaas het ek so tuis gevoel. Alles is klaar, ja, maar my koukamer is steeds vetvervat en ek wil hom skoonkry. Maar helaas.
Op daardie oomblik kry Benedetto lewe. Hy klap die houttoonbank voor hom met ’n seningrige hand dat die pote bewe en die vetvuil skottelgoed ratel. Almal sit versteen ek kyk vir hom.
Stadig lig hy sy regterhand en wys met ’n gekromde wysvinger na elkeen van ons. Hy stop by my en oor sy wysvinger soos ’n skewe geweerkorrel loer hy onder dik wenkbroue deur vir my. Die stilte hang swaar om ons. Hy staan op, loop na die hoek van die kombuis, en van onder uit ’n donker rak pluk hy iets uit wat hy dawerend op die houtoppervlak neerplak. Dan kraak stom Benedetto een woord. Kliphard en klokhelder.
“Grappa!”
Terwyl hy die proppie pluk, maak Mama drie klein dopglasies voor hom staan. Sy self vat nie.
“My Benedetto het die grappa self gemaak,” sê sy met dikke liefde en trots. Wat sy vanaand gemaak het, tel nie meer nie.
Benedetto skink drie maal. Ek en Marco staan nader. Ons drink elk een maal. Toe begin Benedetto praat. Onsamehangend. Praat en lag. ’n Ronde later praat ons almal saam in ’n Babelse verwarring. ’n Bottel later verstaan ons almal mekaar. Die vet op my binnewange is weg. Nee, dis nie ’n grap nie; dis grappa.
Ek is stomgeslaan.