Читать книгу Hartepad - Gerrit Rautenbach - Страница 8
’n Bygesleepte storie …
ОглавлениеJa-nee wat, daar is heelwat goeters wat vir ons ou volkie darem maar net totaal ononderhandelbaar lekker is. Soos nou byvoorbeeld potjiekos. Klippies en Coke. Bier, wyn, potbrood. En braaivleis. Selfs met ’n bietjie ertappelslaai, sousboontjies, slaphakskeentjies of dalk ’n hoender as groente om die gewete so tussendeur mee te sus. Maar wat ook al, moet nou net nie gaan staan en die braai bedonner nie, want braaivleis is net braaivleis as daar ’n beskaafde balans is tussen die groentes en die res. Die 80/20-beginsel. Met meer as genoeg tjoppies, boerewors en steak. Of enige ander liplek-lekker plak van ’n skaap, bees of vark. Soos ’n glimmende ribbetjie; vark of skaap, ongeag, solank hy lekker op sy kant hang langs die kole. En praat …
Maar om reg te laat geskied aan al hierdie lekkerte verg ’n ernstige mate van kennis en ervaring. ’n Kwalifikasie. Vir gewone goed in die lewe soos ’n loopbaan of ’n salaris gaan jy universiteit of kollege toe. Daar leer jy om ’n advokaat, dokter, prokerower, juffrou, argitek, loodgieter of wat ook al te word. Vir die belangriker goed gaan jy Universiteit van die Lewe toe. Om te kwalifiseer as byvoorbeeld ’n vuurmaker, vleisbraaier, broodbakker of tentopslaner. Dis baie intens geskoei op oorlewing. Van vader tot seun, moeder tot dogter, maar in moderne tye ook omgekeerd. Niks verder daaroor op hierdie oomblik nie …
Nou deel van Vleisbraai 101 en die ander hoofvakke is toerusting. Dit wat nodig is om te verseker jy word nooit ’n Smokey Robinson nie. Jy moet weet watter hout werk die beste vir watter vleis. Jy moet ook weet van gespesialiseerde roosters, braaitange en verskillende driehoeke om roosters op neer te sit en hake en grypers vir driepootpotte en hulle se deksels. Et nogal al.
Dis so ’n intree-ietsie oor die braaideel. Dan kom ’n mens by die drinkdeel en besef jy moet weet hoe om ys behoue te laat bly by die vuur en die regte drinkgereedskap en so. En skaduwee, o wee, hou tog net die koelerboks met ys onder die sambreel. Dis immers hoekom jy die ding het. En stoele wat reg sit vir groot kuier met ’n holtetjie in die lap-armleuning vir jou vlekvryestaal-glasie/beker/houertjie/dingetjie.
Ja-nee kyk, onse mense weet hoe om dit lekker te doen. Daarom het elkeen nou al lankal daai formidabele toerusting wat die lewe uniek maak by die huis. Alles en nog wat … Jou eie persoonlike voorkeure. En kom vakansietyd, dan wil ons nou hierdie groot lekkerte van braaivleis en kuier op ’n ander plek loop staan en doen. Soos wildtuin toe of langs die see. Maar om de dood toe kan ’n mens dit mos nou nie gaan staan en probeer aanpak sonder die toerusting wat jy uitgesoek en vervolmaak het nie? Dit moet saam, allemintig! Wat ’n ander baie belangrike eg Suid-Afrikaanse stuk toerusting ter sprake bring. Die Ventertjie …
As jy nou na die deursnee-Afrikanergesin en hulle voorliefdes en reisplanne kyk, kan jy verstaan hoekom dié stuk toerusting onontbeerlik is. Want as ’n reël is daar bitter min plek vir alles. Om mee te begin, ons boerseuns is nie dwergies nie. En daar is gemiddeld meer as twee per gesin wat agterin ’n kar moet pas. Pa en Ma hou mos van baie. En daai kar word net ’n Kombi as Pa vir die tweede keer trou. Want dan is die kinders mos “myne, joune en ons s’n”. Verder is ons ook baie familievas. As dit vakansietyd is, vat ons vir Ouma saam; dis nie reg dat sy in Pretoria in Oudehof agterbly terwyl ons see toe gaan nie.
So van Ouma gepraat, daar is mos die ongelooflike storie van die gesin wat met Ventertjie en al op pad terug was van Plet af. Ma, Pa, Ouboet, Kleinboet en Ouma in die Cortina. So kort ná sononder en net so ’n entjie voor De Aar begin Kleinboet kla dat Ouma nou ’n bietjie hard op hom begin leun. Eers probeer Ma en toe Pa, maar hulle kry haar nie wakker nie. So met die instoom in De Aar in trek hulle af by die pompe en Pa stel vas dat Ouma nie slaap nie. Sy het haar laaste seevakansie gehad.
Pa en Ma besluit hulle sal maar deurdruk huis toe. Ouma kan tog nou nie op De Aar ter aarde bestel word nie. Sy was immers altyd ’n Transvaler. Kleinboet was baie ongemaklik met die idee dat Ouma wat nie meer tegnies Ouma is nie steeds langs hom moes sit die hele pad huis toe.
“Sit jy ’n bietjie langs Ouma,” daag hy vir Ouboet uit.
“Nee,” weier Ouboet botweg.
“Hoekom nie?”
“Want ek is die oudste. Ek sit by die venster en jy sit in die middel. Altyd.”
Kleinboet doen wat net ’n kleinboet kan doen. Hy begin huil. Pa wil eers kwaad word, maar besluit dan hy sal liewer doen wat ’n pa veronderstel is om te doen. Maak ’n plan. Hy klim uit en kyk na die petalje. Hy krap kop en begin dan glimlag. Pa’s is tog so oulik. Skielik is hy baie bly hy het die nuwe, langer Ventertjie gekoop. En dat dit die einde van die vakansie is en die wa so te sê halfpad leeg is.
Van daar het hulle goed gery. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het Ouboet en Kleinboet se bobene nie teen mekaar geskuur nie. In Bloemfontein het almal uitgeklim om te piepie en Wimpy-koffie te kry. Stomende polistireenbekers in die hand stap die gawe gesinnetjie terug kar toe. Net om vierspoor vas te steek. In die kort tydjie wat hulle weg was, het iemand besluit om die Ventertjie te steel. Net so losgehaak en gelaatwaai.
Dis ’n waar storie dié. Dit het met die Smitte van Vanderbijlpark, die Myburgs van Pretoria, die Krugers van Randburg en die Bruwers van Koster gebeur. Vra hulle maar.
Njannieskoepella.