Читать книгу Inboekeling - Hans du Plessis - Страница 5

1

Оглавление

“Ek het heeltemal niks gesien nie, Oom, ek belowe Oom.” Verward, verwese en verdwaas; die donker oë dof van ’n bietjie verstaan en baie skrik.

Dis hoe die vreemdeling op ’n dag hier by ons op Hier aangekom het. Aan ’n riem. Van balans af op sy lomp voete, die slap­randhoed diep tot op sy bakore getrek, rooi in die gesig van die riem om sy nek. Sy swart baadjie uit lit uit geskeur, die driekwart­broek se soom hang, kuite en enkels wit, vuil en gekrap. ’n Groot­toon rus rooi soos ’n moeë tong agter die gebarste lippe van ’n velskoen.

Vir ons gemeenskap was hy tot op daardie dag in die warm hoog­somer ’n inkommer, ’n totale vreemdeling.

Laat ek net eers verduidelik dat vreemdelinge op Hier nie juis algemeen is nie, maar as hulle ons die dag wel besoek, word hulle soos vroeë reën op die werf verwelkom.

“’n Mens wis nooit of dit altemit ’n engel aan jou poorte is nie,” sê die sieleherder altyd.

Daarom was die riem om die seun se nek ongewoon.

Met die ander punt van die riem in sy linkerhand het die bulle­bak selfvoldaan op sy skimmel bly sit en meerwaardig afgekyk op sy gevangene.

Omdat die bullebak Niklaas Opperman is, was onraad natuurlik glad nie uitgesluit nie, al was die patriarg van Hier Niklaas se oupa. Ek moet ongelukkig erken, min van ons Hierders sou iets nega­tiefs oor die bullebak rapporteer. Uit agting vir die patriarg, beslis nie uit liefde vir die bullebak nie, want vir die patriarg was die oudste kleinseun ’n foutlose gawe van Bo, en sedert ons vertrek uit die kolonie onder die Engelse uit was die patriarg die leier van die trekgeselskap, en deesdae is hy die gesiene besitter van Hier.

“Ek het niks gesien nie, Oom. Niks, Oom, niks.” Die vreemdeling se lippe het al blouerig begin word, maar die bullebak het klaarblyklik regverdiging vir sy handeling uit die vreemdeling se misplaaste aanspreekvorm geput. Die vreemdeling was opsigtelik nie veel jonger as die bullebak op die perd nie, maar dit was die soort eer wat Niklaas vir homself sou toe-eien. Niklaas Opperman was nog lank nie ’n oom nie.

“Niks van wat gesien nie?” snou Niklaas en gee die riem ’n moeds­willige pluk. Die inkommer roggel effens.

Vir ’n minuut of wat bly die twee net so in die oop kol tussen die bome staan. ’n Duif koer in ’n hoë boom met groterige groen blare soos enige ander boom. Verder is dit net die eentonige getuit van sonbesies. Dit moet rondom twaalfuur wees, want die son skyn reg van bo af asof die hitte soos ’n medepligtige aspris gaan stilstaan het en moedswillig wag op iemand om die grillerige petalje in die oopte te skilder. Laer af, rivier se kant toe, bulk iets soos ’n seekoei.

“Dit is ons binneland dié, die beloofde land,” het die patriarg ’n jaar of ses gelede gesê, tevrede om hom gekyk, met sy velskoen se hak in die grond gekap, sy groot hand besitlik gewuif en die gebied tot sy eiendom verklaar: “Dit is ons laaste staning, ons het klaar getrek.”

Toe sien die patriarg dat dit goed was: digby vars water; volop hout vir vuurmaak, pale, wawiele en speke, en vir nuwe meubels. Tussen die rivier en die berge strek geil vlaktes vir saailande. Oordadige weiding op die vlak en in die klowe meer wild as wat ons gemeenskappie sou kon baasraak.

Toe span ons luidrugtig uit.

Dit was aand en dit was môre, en die patriarg het van die waens af ’n uur te perd in die vier windrigtings gestap, dorp toe gery en by die landdros Hier op sy naam laat aanteken.

“Maak hom los, jou boelie, jy wurg die vreemdeling. Los hom, nou, dadelik!” Sy buk vinnig onder ’n doring deur, té vinnig, en haar vaal manshoed haak vas. Met ’n argelose swaai van die kop en ’n grasieuse knak van die knieë loop die klein wipstert onder die hoed uit. Dit swaai nog ’n keer of wat soos ’n vlag aan die boom. Toe kom sy met hande op die heupe reg voor Niklaas se perd staan. “Hy het jou niks gedoen nie.” Die oë blits. Soos altyd as sy glo sy is reg, praat sy vinnig en hard. Dit weet Niklaas lankal, Maria Coetzee is nie ’n meisie wat trustaan nie, veral nie vir ’n man nie.

“Hy het julle afgeloer,” sê Niklaas. “Ek het hom self gesien.”

“Jy lieg, Niklaas, want dan het jy ook vir Engela afgeloer terwyl sy bad.”

“’n Mens kan mos sommer sien hy is ’n regte rondloper,” ignoreer die bullebak haar aantyging.

“Is jy nou skielik die landdros én die heemraad?” Sy gaan pluk haar hoed van die boom af en plak dit op haar kort, blonde hare.

Toe skuifel Engela Coetzee skoorvoetend die oop kol in. Haar hare nog nat slierte oor die skraal gesig, die neusie miskien net té skerp om vir almal mooi te wees. Die lang, groen rok kleef klammerig aan die lyf wat al soos dié van ’n vrou s’n begin kurwes kry.

Dit lyk of Niklaas vir ’n oomblik van sy prisonier vergeet, so staar hy na die Coetzee-susters. Hy weet hulle verskil net twee jaar van mekaar, albei tog aantreklik en hubaar. Engela se ligte hare hang tot laag op haar rug. Hy het nog altyd gewonder watter een van die twee hy uiteindelik gaan kies.

Agter Engela, soos ’n swart skaduwee, gaan die jong inboekeling uitdrukkingloos staan en staar met groot, wit oë van diep uit die swart kappietuit na die riem. Vir Niklaas is Patrys versigtig, nie vir die twee susters nie. Vir hulle ken sy al vandat sy wat Patrys Coetzee is ses jaar oud was. So het hulle haar vertel. Die Coetzees het haar ingeboek omdat haar ma en pa dood is in ’n strafekspedisie op hulle kraal. ’n Wees was sy gewees, sê hulle, maar self onthou sy niks daarvan nie. Sy praat soos hulle en trek soos hulle aan en bly van altyd af by hulle. Sy is geleer om soos hulle te dink. Van ’n kraal weet sy niks nie, behalwe wat hulle haar daarvan vertel het, en dat sy dankbaar moet wees sy het nie daar grootgeword nie.

“Hy het daar aangekom toe ek al uit die water uit was, Ousus,” sê die jongste sag en kyk na die vreemdeling. “Vra vir Patrys.”

Patrys knik.

Die bullebak antwoord nie dadelik nie, want hy sit openlik na Patrys en staar, soos wat hy pas vir die twee susters gekyk het.

’n Mens kan Patrys se ongemak aanvoel. Sy is nie gewoond aan mans wat haar aanstaar nie, veral nie as hulle wit is nie. Sy kyk grond toe – ’n mens moet jou plek ken as jy ingeboek is.

“Wat het jy in elk geval by die wasplek kom soek, Niklaas Opper­man?” vra Maria. “Jy weet mos dis die vrouens se wasplek, en mans mag nie daar kom nie.”

Dit is asof Niklaas uit ’n droom uit wakker skrik. “Ek het gesien hierdie vent sluip daar rond.”

“Jy lieg, jy was voor hom daar, ek het jou gesien toe jy van jou perd afklim.”

“Wie gaan jou glo? Jy is ’n meisiekind.”

Maria maak haar oë vir ’n oomblik toe, byt op haar tande en sis: “Die enigste verskil tussen ’n seun en ’n meisie is dat ons die mis­kruiers is wat julle deur die lewe moet rol – gelukkig agteruit.”

“Maak los die mens, Niklaas, asseblief. Ek vra jou mooi,” smeek Engela.

Niklaas bly sit met ’n grynslag op sy mond. Drie meisies se aan­dag vly hom. Hy weet hoe kwaad Maria kan word, en hoe kwater sy is, hoe mooier word sy vir hom. Engela, weet hy, raak net stil­ler. Patrys lyk vir hom skielik begeerlik in haar donker rok, maar dit kan hy nie hardop sê nie. In elk geval, ’n man wys nie vir meisies wat hy voel nie, het sy oupa hom geleer.

Engela kom nader, tot by die vreemdeling. “Ek weet jy het my nie aspris afgeloer nie.” Sy steek haar hand huiwerig na hom toe uit.

Hy kyk af grond toe. “Ek het niks gesien nie, ek belowe. Ek het mos nie geweet jy bad nie.”

“Dit is ons vrouens se plek. Dis vlak en daar is nie krokodille nie. Die seekoeie is ook ver ondertoe in die kuil.”

“Ek het nie lelik bedoel nie.” Hy kyk nie op nie.

“Wat is jou naam?” vra sy.

“Japie.”

“Japie wie?”

“Japie Niemand.”

“Waar kom jy vandaan?” vra Maria.

“Elders.”

“Waar is dit?” vra Niklaas.

“Dit is ons plaas, maar ek weet nie meer watter kant toe dit is nie.”

“Niklaas,” dreig Maria weer, “maak los die riem. Jy kan mos sien jy verwurg hom.”

“Ek kan hom nie los nie, hy is ’n gevaarlike rondloper, en jy weet wat rondlopers aan meisies doen.”

“Dis nie net die rondlopers nie.” Maria kyk die vreemdeling stip aan. “Hy lyk nie vir my gevaarlik nie. Was dit nou nodig om ’n riem om sy nek te gooi?”

“Ek moes keer dat hy weghol.”

“Wat van jou geweer?”

“Jy weet mos dit is gebreek.”

“Jou bloublaser het seker op die klippe geval toe jy wou vlug,” tart sy.

“Die kolf het gekraak, en my pa moet dit eers weer lym.”

Sonder om verder iets te sê, gluur die twee mekaar aan. Asof elkeen oorwoë na ’n woord soek wat die ander so sekuur soos ’n steekassegaai in die hart kan tref.

Totdat iemand van agter die bome besorg roep.

Inboekeling

Подняться наверх