Читать книгу Inboekeling - Hans du Plessis - Страница 7
3
ОглавлениеSoos wat ’n mens uit die noorde al met die wapad van die dorp af langs suid trek, doem Hier onverwags onder in die laagtetjie voor jou op. Jy is nie eintlik voorbereid op ’n blertsie beskawing nie, veral nie ná ’n paar dagskofte deur die woeste binneland nie. Onverwags, want die steiltetjie noord van Hier versper die uitsig suidekant toe. Eers as jy bo-op die hoogte is, sien jy skielik die opstalle voor jou, die verblindende halfkring wit geboue in die son net wes van die rantereeks aan die oostekant. Asof iemand ’n groot kol tussen die bome met moeite skoongeskoffel het.
Dis eers dan dat jy besef hoe diep Hier se bors in die waai van die rivier in lê; soos ’n blink arm wat die paar werwe omhels.
As jy met jou waens afsak tot onder by die kinkel in die wapad, moet jou touleier skerp links hou om in die grootpad te bly, want reguit vorentoe loop die dunner plaaspad soos ’n slagaar op die verste opstal af. Die ander werfies lê soos ’n hoefyster met sy oop bek wapad toe, binne die halfmaan van die rivier. Op die lip van die hoef is die hoofwerf met die groot woonhuis en die lang stoep.
Uit die reguit plaaspad lei nog smaller werfpaaie na die kleiner werwe, die skoolkamer en die smidswinkel heel voor weerskant van die plaaspad. Dan die waenhuise, melkkamer en die skure. Tussen die geboue voetpaadjies, soos are op ’n oumens se lyf.
Agtertoe waar kallers bulk, is die ronde veekrale met klippe gepak.
Eers as jy naderkom, begin jy besonderhede sien, en jy verstaan dat daar meer as een gesin op die groot werf moet woon. Vyf om presies te wees. Vyf opstalle, en as jy mooi kyk, dan nog die smidswinkel links voor en die klaskamer regs voor soos jy met die plaaspad van die wapad se kant af inkom. Alles witgekalk, spierwit gepleisterde blokke in die son. Soos ’n laer, ja, want meer as ’n eeu se laertrek, bly nie in ’n man se baadjie sit nie.
Agter in die middel, by die hoefyster se lip, lê die groot werf; die patriarg se lang huis met die stoep en die gekruiste houtreling – die enigste stoep met ’n dak oor. ’n Entjie regs daarvan die huis met die groen voordeur en die twee vensters weerskante, die muurhuis van die man wat ons die droëlewer noem, hy en sy vrou, die bullebak en die troppie kleintjies.
Links van die groot opstal die hartbeeshuis van die sieleherder en die skone Katrina, kleindogter van die patriarg. Dan die weduwee Coetzee se laertjie van twee waens, ’n tent en ’n netjiese kookskerm.
Links, heel voor die smidswinkel met sy groot waenhuisdeur. Oorkant die plaaspad, op die ander punt van die perdeskoen is die klaskamer met die vensters wat op alles uitkyk. Weggesteek agter die skooltjie is die eenvertrekhuisie.
’n Mens sal jou maklik kan misgis en dink dat jy skielik op ’n dorpie afgekom het. Soms ry ruiters of waens of perdekarre per abuis reguit met die plaaspad aan, net om agter te kom hulle moes eintlik in die wapad gebly het deur by die kinkel reg oos te swenk, want daarna kronkel die wapad verder deur die poort totdat jy agter die rante in verdwyn om twee uur op ’n klipperige pad later die drif deur te sukkel vir die groot trek terug kolonie toe. Dan eers is jy oor Hier se suidelike grens.
Byna in gelid stryk die klompie aan van die bome se kant af na Niklaas-hulle se huis toe. Die huis skuins wes van die groot opstal, die een met die groentetuin net duskant die oog van die fontein.
Dis die swerm ganse wat die optog se aankoms hees aankondig, en toe weer om die hoek van die huis vlug.
Niklaas heel voor, met Poon se teuels in sy hand, dan die perd, dan Susanna en Japie. Heel agter die drie dogters. Niemand praat nie, in elk geval nie voordat hulle onder die trap voor die witgekalkte huis staan nie. Die groen voordeur is oop en so ook die twee vensters weerskant daarvan.