Читать книгу Inboekeling - Hans du Plessis - Страница 8
4
ОглавлениеMartiens Opperman moes die optoggie sien aankom het, of hy het die ganse gehoor, want hy kom in die voordeur staan en leun teen die kosyn. Die smal stoep met die vaal kweek tussen hom en die ernstige afvaardiging.
Jakob die hond roer in die skaduwee onder die groot boom aan die suidekant van die huis. Maak eers sy oë oop, hap na ’n lastige vlieg en kyk lui na die mense wat aan’t komme is. Toe eers staan hy langsaam op, gaap en rek hom uit. Dis te warm om te blaf.
Martiens se manier van hang aan die kosyn is vir ons hier op Hier nie heeltemal so vreemd nie. ’n Mens moet darem ook in gedagte hou dat die laaste smous minder as ’n maand terug hier verby is. Gewoonlik hou Martiens se brandewynvoorraad so amper twee maande. Dit is ook al middag, moet ’n mens toegee. As die brandewyn op is, haal Martiens so drie-uur, miskien omdat sy gestel meer gewoond is aan die bessiebier wat hy by die krale ruil; dis nie heeltemal so sterk nie.
Hy sukkel nog om die stookketel op Hier aan die werk te kry, ondertussen doen die seningrige mens niemand ooit enige kwaad aan nie.
Omdat daar niemand in die hele distrik is wat ’n bees ken soos wat Martiens hom ken nie, word hy verduur. Eintlik is verduur ook nie die regte woord nie, want almal weet dat die droëlewer van Hier net vir die vee lewe. Hy is kapabel en pak enige ondier met sy kaal hande as dié sommer vir doodbyt onder die onskuldige vee infoeter. ’n Nuwe kalf het skaars grond geraak, dan weet Martiens al, sonder om regtig te kyk, of dit ’n vers of ’n bulletjie is, en hy sal dan al kan sê of ’n mens dit bul moet laat bly en of dit os moet word. Slagos of trekos selfs, Martiens Opperman weet.
“Kyk wat het ek vir ons in die bos gevang, Pa.” Niklaas vat die riem se punt by die weduwee en pluk die vreemdeling strompelend nader.
Martiens knyp een oog toe en korrel om te sien wat sy seun bedoel. Toe trek Niklaas Japie aan sy verflenterde baadjiemou nog nader. “Waar vang jy dié?” vra die droëlewer en hoes.
“Hy lyk vir my al na ’n weeskind, Pa.”
“Praat jy, ou seun.”
Japie glimlag net verdwaas met sy kop skuins soos wat die riem skaaf. Hy pluk darem sy hoed af en frommel dit in sy hande. “Middag, Oom.”
“Ons kan hom by die landdros op die dorp gaan inboek, Pa.”
“Nee, man, hy is dan wit.” Martiens versit die pruimpie in sy kies en spoeg ’n bruin straaltjie in die kweek net links van die voordeur. Hy sien nie sy vrou wat agter hom in die deur kom staan nie, totdat sy aan sy skouer raak.
“Met wie praat jy, Martiens?” vra sy. “Ek dag jy is aan die werk agter by onse voor?”
“Ek was net op pad, Vroutjie, toe kom pla hulle my. Jy weet ek is al twee dae aan die voor grawe. Trantaal help net so hier en daar, ek moet maar self die graaf gryp.”
Eers toe die vrou met die vol lyf by haar maer man in die deur verbyskuif, sien sy Susanna en die ander.
“More, Susanna,” groet sy. “Ek wis nie ons het mense nie, of is daar moeilikheid?” Haar stem is diep. Hulle sê sy sit by die es in haar kombuis en pyp rook as sy alleen is. Die rooierige hare krul partykeer, vernaam as daar reën aan die kom is.
“Nee, Liesbet, hier is nie moeilikheid nie. Dit lyk net of dié Japie-seun hier verdwaal het.” Die weduwee beduie met haar kop na die vreemdeling aan die riem. “Ons kom juis verneem wat ons met hom moet maak.”
“Kom jy om te werk te soek?” vra Liesbet en loop op die kweekstoepie uit.
“Ek het nou nie so gemeen nie, Tante. Ek was eintlik op pad niemandsland toe. Ek en Ouboet.”
“Nou waar is dié danige Ouboet nou; en jou slaapgoeterse?” vra Liesbet.
Japie sluk, kyk grond toe en vee met sy verfrommelde hoed oor sy oë. Hy sluk weer. “Hulle het ons voorgelê, vir Ouboet doodgeskiet en ons perde en als gesteel.” Hy sluk.
“Wie?” vra Martiens.
“Ek weet nie, Oom, dit was in die nag. Toe ek ligdag soek, het ek net Ouboet onder ’n ghwarrie gekry lê. Perde en ons gewere was weg.”
“En jou broer?” vra die weduwee.
Vir ’n oomblik kyk die vreemdeling op na haar; hy knip sy oë voordat hy weer grond toe kyk. Sy stem is skor toe hy byna onhoorbaar antwoord: “Ek het hom toegepak met klippe sodat die diere hom nie vreet nie.”
Net die sonbesies.
“Ek sal ’n kontrak met jou aangaan, kos en klere en ’n paar riksdaalders ’n maand,” sê Martiens simpatiek en staan ook op die stoep uit.
“Watse werk kan jy doen?” vra Niklaas.
Japie dink ’n rukkie, toe helder die gesig op. “Ek het my pa altyd in sy smidswinkel gehelp. Ek ken ysters.”
“Nou waar is dié danige smidswinkel?”
“Op Elders, Tante.”
“Waar is Elders?” vra Liesbet.
“Ek weet nie, Tante, ek weet regtig nie.”
“Hy staan sommer en lieg,” begin Niklaas.
“Ek dink nogal nie hy jok nie,” sê die weduwee.
“Jou oorle Pieter se smidswinkel het net so geloop staan, Susanna.” Liesbet byt op haar onderlip asof sy diep dink. “Ek wil nie uit my beurt uit praat nie, maar ons makeer ’n deetlike ystersmid.”
“Ek kort ’n kontrakwerker,” probeer Martiens tussenin, maar dit lyk nie of een van die vroue hom hoor nie.
“Dis ’n saak vir oom Hermaans. Hy moet sê,” besluit Susanna. “Ons sal met hom moet gaan praat.”
“Maak hom smid – dit is wat ons nodig het,” sê Martiens en moet na die stoepmuurtjie gryp toe hy die onderste trap mistrap.
“My geweer het juis gebreek, Pa,” sê Niklaas en dit is asof hy die riem bietjie skietgee.
“’n Geweerkolf se regmaak is nie ’n smid se werk nie.”
“Ek weet, Pa, ek is nie meer ’n kind nie.”
Om die hoek van die huis loer twee grys kappies en ’n rondebolhoedjie.
“Is hier kuiermense, Ma?” vra klein Liesbet nuuskierig, en Trienkie struikel giggelend agter die hoek uit toe klein Martiens haar vorentoe stoot. Die res van die droëlewer se kroos.
’n Hoenderhen skarrel kekkelend voor hulle voete uit toe die optog begin beweeg; die prosessie word al langer. Net Poon gaan nie verder saam nie, die perd het niks vir die patriarg te sê nie.